Die oomblik wanneer alles onnatuurlik stadig verby jou vloei.
Wanneer die werklikheid so onwerklik voel dat jy wag voor jy asem haal. Wanneer die werklikheid so seer is dat jy te bang is om asem te haal, te bang is om te lewe.
Koue garage vloere raak jou ontvlugting. Die plek waar jy kan skree totdat jou asem wel opraak. Die een plek waar jy kan huil totdat jou keel en neus rou is.
Verder lewe jy in stilte. Sit jou glimlag op vir die res van die wêreld, want jy is skaam en bang. Versorg jou kinders. Vryf oor jou uitbultende maag met die kosbare lewe binne in. Hoop dat die skade nie permanent is nie. Hoop dat jy kan regop bly met al hierdie pyn in jou binneste, want
Wie het geweet dat ‘n
hart wat breek
voel soos kanker
‘n pyn wat aan jou binneste vreet
wat jou beroof van asem
Wie het geweet dat dit
voel soos ‘n dolk wat steek
met elke verraad seerder
met elke leuen dieper
Die lem word stywer gedraai
Wie het geweet dat hartseer
jou platslaan, al jou verweer
wegskil sodat jy met jou bebloede
geraamte alleen staan?
Wie het geweet dat vrees jou
mal maak
dat jy stemme in jou kop hoor
koggel en smaal
Wie het geweet dat jy
my so sou seermaak?
Nie ek nie, my Lief.
Nie ek nie.
© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.
1304total visits,0visits today
You must log in to post a comment.