Lockdown lowdown

Ek het hierdie blog ‘n paar maande terug al geskryf, maar dit nooit op my page gesit nie. Ek het dit vanoggend ontdek en besluit, ag hoekom nie? Ons almal gaan deur sulke tye en let’s face it, skool suck op die oomblik. Nie net vir ouers nie, maar ook vir onderwysers en personeel.

31 Augustus 2020

Ek het nou die dag vir my man gesê om kinders in lockdown deur skool te kry, is soos ‘n highspeed car chase met polisie wat jou jaag met sirenes aan en helikopters wat oor jou kop sirkel.

Om ‘n kind met ADHD in lockdown deur skool te kry voel asof jy daardie high speed car chase in ‘n besige mall se parkeer area doen met taxi’s, kinders en stadige mense met trollies wat heeltyd voor jou inneuk.

Dit is ‘f’loekwoord uitputtend. Ek voel baie keer wanneer die drietjiies uiteindelik aan die slaap is asof ek na my hart moet laat kyk. Ek het hartkloppings en partykeer dink ek tot hartkrampe. Ek is lus om ‘n Urbanol met ‘n G&T af te sluk tien uur in die aand of dalk ‘n halwe glas Ponchos te drink net om die adrenalien rush ‘n bietjie teë te werk. Ek is verskriklik skaam om dit te erken, maar ek het al die Ponchos ding een Sondag aand gedoen, want dis mos altyd Sondae wat ‘n klomp nuwe huiswerk skielik ontdek word en die stresvlakke hemelhoog loop in die huis.

So hierdie week het baie goed begin….NOT.

My na-aan-perfekte oudste dogter, se skoolbaadjie het van die hanger afgeval in haar kas en haar bejaarde kat het op die ding gepiepie. So toe sy dit vanoggend wil aantrek stink die ding na katpiepie. Oukei, krisis nommer een, want dis winter en nou gaan sy koud kry.

Tweede krisis volg kort op die eerste, want my middelkind se NW taak is nie klaar nie en sy onthou natuurlik half sewe in die oggend daarvan. Sy kry glo nie die antwoorde in haar handboek nie, maar sy dink ook nie daaraan dat sy Google kan gebruik om die goed te soek nie! Ek google verwoed terwyl ek preek en skree en sy trane op haar werkboek laat drup.

Na ‘n moerse geskarrel, gehuil en geskree is almal by die huis uit en ek sak op die bank neer en doen asemhalingsoefeninge.

Vyftien minute later kry ek ‘n oproep van my man dat my oudste kind se ID tag by die huis agtergebly het in haar freakin natgepiepiede baadjie se binnesak en dat die skool weier dat sy ingaan. Hy moet nog die ander twee gaan aflaai en ousus skryf eerste periode Biologie toets so dit help nie hy jaag terug nie, hy gaan nie betyds by haar uitkom nie. Sy is histeries, hy is die moer in, en ek moet van die huis af ry om die ID tag skool toe te vat.

Ek lyk soos die hond se gat, my hare staan in tien windrigtings, ek het gister se gekreukelde klere vinnig aangetrek, daar staan 10 werkers voor my hek, maar ek besluit om net so te ry, want ousus mag mos nou nie by die skool ingaan nie,´so sy kan mos die ID tag deur die kar se getinte venster aanvat.

Ons bly 15 minute se ry van die skool af en ek lyk soos Geniel de Villiers op ‘n goeie dag, dis net stof wat trek. Die RAV raak sommer airborne soos ek oor die grondpad se bulte jaag. Toe ek uiteindelik na tien minute (nuwe personal rekord) voor die skool stop, kom daar ‘n boodskap van ousus deur. Hulle het haar laat ingaan. Ek hoef nie meer te kom nie.

Ek is skaars by die huis toe kom daar ‘n whatsapp van die laerskool af oor graad 7 Afrikaanse huiswerk. Ek weet van dit, want daar was die vorige week al baie kinders wat dit nie gedoen het nie en ek het myself voorgeneem dat ek sal seker maak dat my kind s’n gedoen is. Dit tref my soos ‘n dolk in die hart, want middelsus het my gevra om haar te help daarmee, maar dit het by ons gatte uitgewaai. Sy het eergister tydens ‘n WWE stoei sessie met haar jongste sussie van die trampolien afgebliksem en haar arm in die proses gebreek. Dit het ons aandag so bietjie van die huiswerk af weggevat.

Natuurlik, omdat ek die oggend soos ‘n viswyf op haar gegil en skree het en nou nog boonop vergeet het van die Afrikaans voel ek onmiddelik soos die wêreld se heel, heel slegste ma.

Ek stap kombuis toe om koffie te maak en daar lê my jongste, wat gewoonlik super georganiseerd is, se kosbliksakkie. Kakkerlak. Sy moes met al die chaos om haar vergeet het om dit in te pak. Sy eet nie ontbyt nie so ek moet dit vir haar skool toe vat. Ek stort en soek vervaard na my make-up. Dis weg, want met al die renovations wat om my aangaan is my huis so deurmekaar soos ‘n hoer se handsak. Ek is 45 en lyk halfdood sonder maskara.

‘n Paar minute later is daar ‘n boodskap van die skool op D6 oor ID kaarte en dat daar geen uitsonderings gemaak sal word nie, maak nie saak wie die kind is nie. My bloedjie was heel moontlik die oorsaak van hierdie boodskap, wat my toe laat wonder hoe ek ooit weer my oë by die skool sal kan wys. Toe dink ek, ek het anyway al klaar al my selfrespek verloor, so whatever the weather.

Ek was regtig so opgewonde oor hierdie Maandag, want kom ek is nou maar eerlik. Dit voel soos die hémel as al my kinders op een slag by die skool is. Dit is maandeinde en ek moet werk, want met die kinders by die huis raak alles agter. Dit voel die heeltyd asof iemand op my case is oor goed wat agter is en ek weet almal is al moeg vir my eentonige verskonings. Wel, ek het nie vandag gewerk nie. Ek het rondgejaag en toe daarna in ‘n fetale posisie op my bed gaan lê.

Ek dink wat ek wil sê is, ééndag sal ek weer make-up aansit.

© 2021, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

52026total visits,0visits today