Kamp

Kamp

So kamp ek solo..ek het amper nie.

Die paniek het my 30 km voor Bela Bela getref en ek het op die grond langs die snelweg gesit en huil. Is ek mál?? Hoekom doen ek sulke goed. Dit voel vir my nou in dieselfde klas as om kaalvoet, alleen oor die drakensberge te stap. Wat gaan die mense dink?

Toe ek aanvanklik beplan het om te kom kamp het ek Mahai in my gedagtes gehad. Staanplekke ver uitmekaar, net ek en die natuur, maar geld is ñ blikskottel en dit was te duur.

My eerste keer by Klein Kariba..my eerste keer van alleen kamp..

ñ Paar snaakse goed wat ek altyd sal onthou..

My tent..gebreek.

My matras té groot vir my tent.

Ek was skaars 5 minute hier toe kom die eerste man na my toe. Hy sê vir my dat hy en sy vriende ñ weddenskap het oor hoe duur my tent is. Interessante gesprek…brannas en coke geïnduseerd.

Tien minute later kom bied twee mans hulp aan.

Dieselfde mans se vrouens sit dikbek op hulle kampstoele. Ek kan hulle gedagtes lees…watse tert kom kamp alleen?

Ek staan eenkant toe terwyl hulle stry oor waar die pale kom..hoe styf die seil moet wees ens. Elke keer as ek wil help sê hulle, ‘Toemaar! Ons het dit!’ Te oulik.

My verlengingskoord is te kort.

Ek kies ñ staanplek tussen ñ karavaan vol sepie liefhebbers en tussen ñ tent vol jonger, brandewyn en coke drinkende, metalheads cum Techno Frikkies.

Ek probeer die natuur indrink, maar al wat ek wil doen is om myself in die warm swembad te probeer verdrink..en gaan wend toe maar ñ poging aan.

Toe ek daar kom tref die stilte my, ek dryf op my rug in die water en kyk na die aandster, die maan ñ magiese prentjie…fyn sekelmaan agter ñ vlieswolkie. Ek voel kalm en deel van die skepping.

Dis pikdonker toe ek terugstap. Orals brand vure, gesinne sit saam en braai. Pappas jaag kinders rond terwyl die ma’s kos maak, verliefdes stap hand aan hand, oud en jonk. Ek stap alleen, alleen, alleen. Ek voel alleen.

Ek is alleen.

Net om myself verder te martel gaan haal ek my vars egskeidings bevel uit die kar en lees dit deur..die woorde slaan my soos ñ hammer.

Ek steek ñ vuur aan…ñ maoerse vuur vir my 200gram steak en een braai broodjie. Ek gooi vir my ñ glas wyn in, ñ maoerse glas vir die pyn wat ek voel.

My bure se musiek is stil. Hulle gesels en lag, iemand snork…19h30 in die aand? Hulle gebruik ñ woord wat met ñ F begin redelik los..ek sit op my blou kampstoel en staar na my vuur.

Ek mis my kinders, my man, my lewe. Ek visualiseer my huis, slaaptyd. My hart is stukkend. Hoe lank vat dit om heel te word na ñ egskeiding?

Voel vir my of nooit die regte woord is.

Ek kom kamp alleen omdat alleen is wat ek nodig het nou. Ek is doodmoeg. My lewe is ñ jaagtog tussen kinders en mense help. Ek is leeg, ongeduldig, emosioneel, irrasioneel.

Ek braai, drink my wyn en eet. Ek begin myself te geniet. My buurman kom haal my om iets ‘wat met ñ F begin’ snaaks te kom kyk…die snorker is sy nefie wat uitgepass het..hy lê op ñ stretcher met kwyl wat by sy mond uitloop…woorde soos lover, lelik, op sy wange geskryf…hy gaan hulle slat more. Ek druk ñ laggie uit en sê dankie Here dat ek alleen is en nie saam met hulle nie

HALLELUJA!!

My buurman vra of hy vir my ietsie kan gooi..ek mompel vinnig ñ verskoning en kies die hase pad. My voet haak aan ñ tenttou vas en ek val amper op my gesig.

Met die hulp van medikasie raak ek vinnig aan die slaap…ñ kind skree…dis 04h00..sy skree en kerm, skree en kerm. Ek wonder naderhand of sy dalk ñ weeskind is want, niemand reageer op haar skril stem nie..dis die sepie liefhebbers…wat de dinges. Waar is die TV nou? Sit vir haar Barney aan dat ons kan slaap!

Later die oggend, 06h00 om presies te wees, kom ek agter dat die sepie liefhebbers eintlik Honey Booboo en haar familie is. Hulle lyk soos hulle, praat soos hulle…die Here was my genadig..hulle is besig om op te pak.

Ek trek my drafklere aan, draf totdat ek nie meer mense sien nie en stap toe rustig om die dam. Ek sit Casting Crowns aan en laat toe dat ek ontspan. Ek sit op die damwal en haal rustig asem. Dis wat ek nodig het Here. Dit is al hoe ek nou U stem kan hoor.

Om alleen te wees is nie vir sissies nie. Om alleen te wees is soms broodnodig. Ek is alleen.

 

 

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

2082total visits,0visits today