Voelgoed Blog: Hoese, Proese en Dankbaarheid

Hierdie laaste twee weke was nie rustig of goed nie.  Griep het vier uit die vyf platgetrek en raai wie staan regop?

Ek is ’n versorger in my hart en gewoonlik meer empaties as meeste, maar ek is net ‘n mens en ek kán net nie meer nie. Ek slaap te min, mense. Heeltemal te min.

My gebrekkige geduld het vir die kinders nóg ’n rede gegee om eendag op ’n rusbank in ’n  spreekkamer te lê en sinne te begin met: “my Ma..” .

Ek het ’n paar dae terug met my hande in my hare vir die span geskree: “Ek voel soos die enigste nugter mens tussen ’n spul dronkes!” (drie swangerskappe en maande se borsvoeding het veroorsaak dat ek met outoriteit oor die onderwerp kan praat).

Al reaksie wat ek gekry het was ’n histeriese hoesbui wat oorgegaan het in asemnood, twee huilbuie wat oorgegaan het in histeriese hoesbuie en een hoesbui wat oorgegaan het in iets wat ek nie in detail hier kan beskryf nie.  Ek kan wel sê dit het ’n emmer betrek.

Gisteraand klim ek in die bed en ek weet nie of ek uitsien na die slaap of opsien teen die wakker word nie.  Ek maak Facebook oop en lees van ’n Ma met ’n tweejarige seuntjie wat baklei teen kanker.  Hy het ’n operasie gehad en sy beskryf haar lang wag voor die toe teaterdeur.  Sy vertel van haar angs en moegheid en sy ondraaglike pyn.

As ’n ma kon ek haar seer in my binneste voel vreet..  Op die fotos sien jy pype, masjiene en pleisters en ’n klein kaalkop seuntjie op ’n groot wit bed, en my hart bloei vir hulle, want vannaand sit sy in ICU en niks wat sy doen kan sy pyn vir hom beter maak nie.

My selfbejammering het verdamp.  Ek het my kinders vir ’n tweede keer gaan nagsoen (op die wang natuurlik, ek kan nie kanse vat nie), want ons het eintlik maar net vandag, en my goorste dag klink vir iemand anders soos ’n fantastiese een.

Dankbaarheid. Ons voel dít beslis nie genoeg nie.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

989total visits,7visits today