Ag Moeder

Ek kruip in die braaikamer weg. Dis tienuur in die aand en dis koud hier, maar dis verfrissend stil.

Dis Moedersdag vandag en ek is op hierdie oomblik besig om ñ reusagtige stuk sjokoladekoek te eet.

Mý eie moedersdag bederf.

Moedersdag was effens bleek die jaar. Q het trippel ‘longontsteking’ en lê die laaste twee dae in die bed, op die bed of naby die bed.

Ek was vyfuur vanoggend op met ons jongste en het vroeg honger geword. Ek het skelm ontbyt geëet voor my tradisionele verwagte moedersdag ontbyt..

Nege uur het ons tiener die slaap uit haar oë gevee en tien minute later het ek roereier op toast gekry.

Vyf minute later het ek opgestaan om roereier op toast vir die ander vier lede van my gesin te maak.

Gelukkig het ek hulle gister mall toe gevat om vir my ñ geskenk te koop. Mooi oorbelle en ñ kosbare hand gemaakte kaartjie met woorde wat my moederhart laat smelt het.

Moedersdag was hierdie jaar ñ gewone dag. Dit is immers die doodgewone wat my soos ñ moeder laat voel.

Laat ek terugkeer kamer toe voor die sieke my kom soek.  Siek mans. Dis nou ñ topic vir ñ volgende post.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

1019total visits,1visits today