Vat tog net ñ break!

In my kop het ek so baie dinge wat aangaan. Daar bruis ‘n onstuimige rebelsheid binne my wat wag om uit te kom.
Ek is werklik so bietjie moeg vir mamma snobisme en hoogmoedigheid.

Ons almal ken hulle.. Daardie mammas wat skynbaar met die minste moontlike effort alles heeltemal onder beheer het. Kinders is perfek. Huwelik is perfek. Finansies is perfek. Hulle volunteer en presteer op elke gebied. Hakke is heeltyd glad. Flip, alles blink.

Al hulle prestasies en hulle kinders se prestasies word op ñ perfek geoefende ‘understated’ manier oorgedra aan wie ook al naby is. Hulle het gewoonlik ook heelwat oor die res van die mensdom te sê op so bejammerende manier.

Hulle laat die res van ons wat werklik net ons heel beste gee, lyk asof ons die kursus gepluk het. (Dit is nou as jy nog glo dat daar iets soos ‘n perfekte ma bestaan)

Sewentien jaar terug het ek ook my moederskap droom met hierdie illusie afgeskop. My kinders gaan perfekte bloedjies wees wat presteer op akademiese gebied (hulle pa is immers ‘n genius) en sport gebied (hulle pa het immers die victor ludorum gewen).

As ek nie gegroei het tydens hierdie reis as ‘n ma nie, sou my drome teen nou al verpletter gewees het. My gemiddelde gene het blykbaar gewen. Toe skei ek en hierdie briljante pa ook nog (darem weer getrou) en crap kom ek sê dit nou sommer prontuit, ek sukkel met my hakke.

Ek is ‘n ma van drie dogters. Ek moet dit dalk oor sê. Ek is ‘n ma van drie wonderlike, talentvolle, partykeer horrible, meestal hardwerkende, soms katterige, sagmoedige, bakleigatterige, pragtige, moody, soms emosioneel totaal onstabiele, goedhartige, liefdevolle dogters.

Hulle dryf my teen die mure uit op ‘n goeie dag, want raai wat.. net soos hulle ma is hulle nie naastenby perfek nie.
Hulle weet genadiglik (dank die Here) hoe om hulle by die skool (ek hou duimvas vir die weerbarstige jongste) en by ander mense te gedra, maar hier in hulle veilige plek gaan hulle soms ‘n bietjie bos. En ek gaan soms meer as ‘n bietjie bos. (Ek is bevrees my bure kan hiervan getuig)

Ek kry nie die sielkundige aanslag aldag reg nie en soms rig ek beslis skade aan met my onsensitiewe ‘Life is tough, deal with it’ uitkyk.

Ek is oneindig lief vir my kinders, maar heng ek ken ook hulle tekortkominge. Ek kan beslis hulle warning labels skryf,

Fragile. Handle with care.

Sharp around the edges. Use at own risk.

Risk of suffocation and death. (true story)

Hulle kan myne ook skryf,
DANGER. Proceed with caution.

Lekker giggel ek nou..
Ek het hierdie onperfekte dogters met my hele hart lief en hulle meestal vir my ook.

My persepsie van suksesvolle moederskap het ietwat verander deur die jare.
Dit vat nie meer veel om my soos ‘n goeie ma te laat voel nie.

Om die waarheid te sê, as ek onthou om al my kinders betyds by hulle verskillende aktiwiteite op te laai voel ek soos ma van die jaar.

As my tiener uit haar kamer kom en met my praat sonder om daai ‘wat weet jy tog jy dateer uit die sewentigs‘ kyk op haar gesig te kry, voel dit asof ek ‘n boek oor suksesvolle ouerskap kan skryf.

As hulle almal ‘n appel saam met hulle two minute noodles of airfryer chips (vir die gluten intollerante) geëet het koop ek sommer self die trofee.

As hulle hard werk, onthou van toetse (met ADHD is dit nie ñ given nie), deurkom en die punte kry wat hulle verdien, voel dit asof ek ten minste ñ ere Doktorsgraad in opvoedkunde moet kry.

En dan die kersie op die koek.. As hulle almal hare gewas het en skoon, kort naels het (net vir ingeval die tiener so ver lees, ek praat nie van jou nie!) wil ek ñ cape koop, want ek is Super-Ma! (ek werk nog aan die jongste se skurwe elmbogies en knie-knoppe)

Vat dit nou van my, jy is genoeg en perfek as jy dáár is vir jou kinders. Of hulle nou strooi aanjaag, engeltjies is, suksesvol is of misluk.

Jy ís super-ma as jy dit meestal reg kry om hulle te laat voel dat wie hulle is, heeltemal genoeg is vir jou, al is hulle nie in die top 10 of die eerste sportspan nie. Wanneer jy deur stoutgattigheid en soeter as soet tye vir hulle die een is op wie hulle kan staat maak.

Ag, gee sommer vir daardie perfekte ma ‘n drukkie en ñ Kit Kat as jy haar sien, sê vir haar ons almal verdien soms ñ break.

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Doen dit net.

Hallo. Ek is Annalize en ek twyfel in myself.

Ek wou eintlik net die woorde in swart en wit sien. Ek moet begin met my skryfkursus, maar ek kom nie verby die eerste bladsy van die kursus materiaal nie. My brein haak vas by die woord roman.

Dit is ‘n droom, maar ek kan net op een manier skryf en dit is uit my hart uit sonder om the dink aan dialoog en leestekens.

O hel.. my man het duisende rande (in November 2018) aan hierdie kursus spandeer en nou het ek performance anxiety. Wilde angst.

Hulle sê mos om iets te erken is die eerste stap.

Ek reken daar is baie mense wat nie werk maak van hulle drome nie omdat hulle te bang is vir mislukking. Ons voel te klein vir die droom.

Ons het wel baie legit verskonings. Ons is immers besig, ons damme is leeg, want almal tap ons. Ons kinders het ons nou nodig, ons mans het ons volgehoue, lojale ondersteuning nodig

Ek is ‘n vrou so ek weet dat dit net ‘n halwe waarheid is.

Ons bak eerder ñ duisend koekies vir die koekverkoping voordat ons daardie drafskoene aantrek of weer begin swôt. Ons sê nee vir ons droomwerk, want ons voel skuldig teenoor ons mense. Ons sê ja vir die werk wat ons nêrens heen vat nie, want die ure pas die gesin. Daar is altyd nog ‘n Maandag, nog ‘n week, nog ‘n maand. Totdat daar nie meer is nie..

Ek is die koningin van regverdiging. Ek moedig eerder vreemdelinge in Australïe aan om hulle drome te vervul voordat ek dit self waag om te spring.

Maar vrek weet, met elke selftwyfelende ding wat ons vir onsself sê raak ons drome dowwer. Ons glo later hierdie nonsens wat ons vir onsself vertel. Ons raak valer, bleker en gaan bietjie vir bietjie dood in die binnekant, want ons onderdruk elke bietjie passie en begeerte wat ons het. En ons doen dit aan onsself!

Kyk nou vir my, ek skryf eerder ‘n blog oor my vrees om te skryf voordat ek verby bladsy een, paragraaf drie van my kursus vorder.

Ek het darem nóg ‘n verskoning. My rekenaar battery is op agt persent..heeltemal te laag om myself nou te verdiep in die kursus. Dit help mos nie jy kom net lekker in die zone en dan kan jy nie verder gaan nie. Die kat lê op my skoot en slaap en ek wil haar nie wakker maak om die kabel te gaan haal nie.

Dêmmit julle, kom ons help mekaar om die bul by die horings te pak. Ons as vrouens wat dieselfde stryd stry moet daar wees vir mekaar. Ons moet mekaar se cheerleaders wees.

As iemand wat hier lees my later vandag sien, sê vir my ek kan dit doen. (Behalwe jy Liefie, bly eerder stil..of nee sê iets. Anders gaan ek dink jy het nie my blog gelees nie en dit is ook nie goed vir jou nie.)

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die seerste seer

Ek bly in die Vaaldriehoek en die Driehoek tragedie het my hart diep geraak. Ek het vriendinne met kinders daar op skool. My sestienjarige dogter het vriende en kennisse in die skool.

Ons dorp is verslae, bedroef. Ek hoor eerstehands van kinders se vrese en hartseer en ek lewe met ‘n innige dankbaarheid vir my lewendige, gesonde kinders.

My dogter het die middag van die tragedie vir my met trane in haar oë gesê ‘Sê nou net daardie kinders is die oggend weg by die huis sonder om vir ‘n laaste keer te sê ek is lief vir Mamma. Sê nou net hulle ouers was kwaad vir hulle of het baklei met hulle… hoe gaan hulle nou voel?’

Sy het my laat dink, want oggende is partykeer so ‘n dolle gejaag in ons huis. Ek eindig meestal met hartkloppings verlig op die bank as hulle by die huis uit is. My middel kind se ADHD maak oggende chaoties en ‘n geskree van een of ander aard is redelik die norm in die oggende by ons. Die ding van ADHD is, dit sluk jou as ma heeltemal in en die ander twee kinders in die huis moet meestal vir daardie uur in die oggend op hulle eie aangaan. Ek soen en druk hulle, maar meer uit gewoonte as ‘n werklike bewuste en innige groet. Ek wil nooit weer op daardie bank in die oggend neersak en wonder of ek hulle gegroet het of nie..

Die ding wat my totally onderkry van die tragedie is die nuuskierigheid van die publiek. Ek lees vanoggend op ‘n gebedsgroep hoe iemand die volgende oor die ouers van een van die oorledenes sê:

Die boodskap is goed bedoel, maar klankbord in die media?

Ek kan my nie indink hoe dit moet voel om ‘n kind te verloor nie. Die Here weet, dit moet die seerste seerste seerste pyn wees. Wat verwag sy moet die ouers doen? Op facebook vertel hoe seer hulle harte is? Sal dit hulle laat beter voel om die media as ‘n klankbord te gebruik?

Daar is nog vele sulke boodskappe op hierdie groep. Mense wat kwaad raak as daar gebed gevra word, maar geen details gegee word nie. Hierdie ouers en kinders het publieke besit geword.

Mense wil die presiese detail hê, want hulle wil vir hulle bid. Weet julle wat? Die Here weet klaar wat fout is met hulle. Jy het nie nodig om vir die Here in detail te vertel wat fout is terwyl jy bid nie.

Vandag is ‘n grys, reënerige dag en die Driehoek kinders en onderwysers is vir die eerste keer terug skool toe. My hart gaan uit na hulle en hulle ouers. Toe my oudste in graad 3 deur ‘n moeilike tyd met maatjies gegaan het, het ek een pouse my kar onder ‘n boom naby die speelgrond parkeer om te kyk of ek haar kan sien. My hart was swaar en seer vir my kind en ek het onder daardie boom gesit en bid dat sy asseblief nie alleen is pouse nie.

Ek dink daar is vandag honderde ouers met swaar en seer harte wat naby die skoolgrond wil bly om naby hulle kinders te wees. En dan is daar die ander gesinne wat vir altyd ñ gat in hulle harte gaan hê..

Mag ons elke oggend en elke aand ons kinders en ons geliefdes met bewustheid groet. Druk hulle net vir daardie oomblik ‘n bietjie langer vas as wat nodig is. Kyk vir hulle in die oë en sê ‘Ek is lief vir jou.’

Hulle sê altyd die lewe kan in ‘n oogwink verander, maar nou glo ek dit.

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Ek is klaar met jou 2018!

stressed mom

Dit is daardie tyd van die jaar…
Onderwysers het spesiale ‘advent’ kalenders wat die slapies tot die einde van die kwartaal aftel waarin daar skoon shots tequila weggesteek is in plaas van cheap no-name brand chocolates. Hulle wil nie meer cope met ons bloedjies nie en ek neem hulle nie kwalik nie.

Ma’s gaan sien hulle huisdokters skelm vir benzodiazepien voorskrifte of sluit hulleself in die badkamer toe. Rescue drops se verkope styg drasties. Ons is nie meer lus vir gluten-vrye kosblikkies pak wat in elk geval net so terug kom nie. (Maar behoede nou jou lot die dag as jy besluit jy is keelvol en net ‘n droë ryskoekie en ‘n appel ingooi. Dan wou sussie kwansuis vrek van die honger.) Ons is keelvol van rondjaag van een aktiwiteit na die ander. Ons is moeg om kinders te smeek om huiswerk te doen. Ons is moeg om jong mammies met perfekte lywe 14h00 in die middag in hulle freakin gym klere by die skool te aanskou. Hallo! Stort ‘n slag en trek klere aan.
Ek wil nou by die huis kom na werk en op my bed onder die waaier gaan lê en House Hunters International in vrede kyk. Ek wil nie meer Spar of Chinese winkel toe jaag vir last minute kuns projekte en strooi nie. Ek wil nie meer ‘n mondeling help skryf nie. Ek wil nie meer kos maak nie (mens kan mos droom)
Pa’s, wel pa’s gaan aan met hulle lewe.
Dis eksamentyd vir die sonneblom en ek het nou al subtiel begin uitvis wat is die minimum slaagsyfer in graad 5. My moed het die pad gevat en my lus is by ‘n retreat ingeboek.
Hierdie jaar was ‘n genadelose koei en ek is nou oor dit. Ek kan nou doen met ‘n miljoen en ‘n eiland vakansie met bottomless gin en tonics.
Wie gaan saam met my?

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Sad en lonely

Net toe ek dink dat ek oukei is
As jy weg is
As jy hier is maar ver is
Is jy weg en jou leë kwart van ons queen size bed voel sad en lonely
Die reuk van jou kas gee my ñ hol kol
Die kinders ignoreer my en ek voel leeg en kaal
Sonder jou arms en presence en die hitte van jou lyf
Die waarheid is dat jy, die siel is van my huis
So kom terug en maak my warm met jou alledaagse vuur.
Ons moet praat, want die hemel weet, sonder jou hier
praat ek met spoke wat soms as ek stil is terug praat
En dit my Lief is self vir mý so effens worrying.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Drome, koetse, wit perde en groot diamante

Net nadat ek en haar pa geskei het, het my oudste dogter een oggend vir my gesê ‘Mamma, Jesus het met my gepraat in ‘n droom en ek voel nou beter, want Jesus jok nooit nie. Ek het gedroom Mamma en Pappa trou weer. Mamma het in ‘n koets gery wat deur wit perde getrek word en pappa het vir mamma ‘n nuwe ring met ‘n baie groot diamant gekoop.’

Ek het op daardie stadium nie geweet wat om vir haar te sê nie en kon net sluk aan die knop in my keel en vir haar ‘n drukkie gee. Sy was 11 jaar oud en het werklik met die geloof van ‘n kind onwrikbaar geglo dat haar droom gaan waar word.

Dit het waar geword, net sonder die koets en perde en die groot diamant. (Egskeidings is bekend daarvoor dat dit ‘n mens finansïeel uitroei.)

Dis nou ñ bietjie meer as ñ jaar later en die werklike lewe saam met my eerste tweede man is vir mý ñ sprokie. Daar is verseker ñ draak of twee, maar ons is genadiglik ñ stiefma gespaar.

Ons saam wees is elke dag ñ happy ending. Moet nou asseblief nie hierdie te letterlik opneem nie.. Ons is immers nie meer spring chickens nie.

Die lewe is goed en ons is dankbaar.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Leef

Vandag was een van daardie dae wat ek voel ek het elke stukkie leef wat ek kon leef vandag geleef.

Ek het mooi dinge gesien, die son op my voel skyn, my asem het gejaag, my hart het te vinnig geklop en ek was sommer net sorgvry en vry.

Ek was omring deur mooi en liefde. Ek was saam met die mense van my asem. Ek het fotos met my oë geneem en dit veilig in my hart gebêre. Ek weet ek gaan dit oor en oor uithaal en weer leef.

Vandag was ñ genoeg dag.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share