Winter

Winter in die Vrystaat is koud en bar. Tog vind ek bekoring in die rustigheid, die natuur se stilstaan. Ek ry elke oggend werk toe in my ou skedonk en vrek letterlik van die koue. Termostaat is al jare terug gebreek en elke winter dreig ek om dit reg te maak en kom nooit daarby uit nie.

Tog herinner dit my ook om dankbaar te wees. Ek trotseer die koue vir ñ halfuur elke oggend, daar is mense wat elke nag in die buitelug slaap. Op kartonne, koerante, onder dun komberse. Daar is geen bekoring in die winter vir hulle nie, net ñ stryd om oorlewing en bestaan. Hulle bekoring vind hulle in bottels drank wat die koue tydelik verdryf en dan uiteindelik vir hulle die rus en slaap bring waarna hulle smag. Dêmmit, as ek in die winter buite moes slaap sou ek myself permanent in vergetelheid in gedrink het. Hulle staan saam om dromme vuur, ruil stories uit oor hoe hulle dag van bedel gegaan het. Watse upstêrs mense hulle teegekom het, watse vuil kyke hulle gekry het, wat hulle gescore het.

Ek lees nou die dag iets wat nie nuut is vir my nie, maar dit het my weer bietjie laat dink oor die lewe. ‘Practice random acts of kindness and senseless acts of beauty’. Dit vat nie veel om iemand se hart bly te maak nie. Die mooi ding van onselfsugtig lewe is dat vreugde jou soos ñ soet geur agtervolg. Daar is altyd iemand wie se storie meer tragies is as jou eie. Mág ék dit raaksien.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

808total visits,0visits today