Lyf

My lyf is nie jou monument nie
My lyf is vel en spier
Ongedefinieerd en beweeglik
Alkalies en suur

My lyf is nie jou museum nie
My lyf is nou en hier
Onbetroubaar en bedrieglik
Vet en klier

My lyf is nie jou graf nie
My lyf is koors en vuur
Onbereikbaar en afstootlik
Siekte en kuur

Hierdie lyf is my monument
Van dit wat was
Dis my museum van gebeure
Verganklik soos gras

Hierdie lyf ís my
onvermydelike graf
Hier rus al my boos
En al my prag

In hierdie faalbare vlees
word die nou en hier
verminder tot nietig
deur koors en suur

Hierdie siekte het toe
inderdaad
geen wonderkuur

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Koffiemasjiene en ander addictions

Die koffiemasjien lees my gedagtes.  Elke keer wanneer ek dink “Ek is lus vir koffie” skakel die blerrie ding outomaties af. Ek dink aan die ding in ‘n manlike vorm.  Hy is aspris en hy weet waste houvas hy oor my het met sy verleidelike aromas en verslawende bestanddele.  Hy weet ek sal hom nooit weg gooi nie.  Baie soos die werklike man in my lewe.

Hy jaag aan.  Soms big time.  Hy weet hy kan maar.  My gedrag in die verlede het dit aan hom bewys.  Vergewe en vergeet.  Vergewe en bietjie langer gevat om te vergeet.  Vergewe en nou sal ek nooit weer kan vergeet nie.  Weet hy dit?  Ek dink so, maar soos alle mans kies hy om dit te vergeet.

Dis die effek van ‘n affêre.  In ons geval affêres.  Dit verhard jou.  En ontnugter jou tot op ‘n punt waar jy dink, Jou Bliksem!  Dis genoeg.  Dan kyk jy na sy bone.  Asem hom in en proe hom en dan vergeet jy momenteel van sy ontydige afskakel.

Jy kry jou fix en gaan maar aan tot volgende keer.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vrou van Staal

Agter die wasem voor die spïeel
Staan sy naak grotesk
Haar lyf simbool van leef en gee
haar siel beseer kompleks

Haar naam is Anna vrou van Staal
haar wêreld koud en grys
min mens verstaan en praat haar taal
haar oë is oud en wys

Sy ken ñ pad wat kronkel draai
deur donker woud oor klip
sy is veel keer vermink verraai
verloën met daad en lip

Haar stilte is ñ koue muur
ñ skans wat seer uithou
In haar woed die hel se vuur
geen tyd vir spyt berou

Onder al die pantser staal
skuil daar ñ vrou van vlees
Haar lyne vertel ñ stil verhaal
van haar verweerde gees

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Waansin

Die vervelige eentonigheid.
Die grysheid van my lewe.
Daar moet meer wees as hierdie?
Buite is ek besadigd en binne ñ orkaan. Die druk bou op en op, en my vel wil ontplof.
Is hierdie hoe waansin voel? Is ek besig om gek te word?
Woorde spoel deur my kop. Dit swem in my gedagtes. Woorde beelde, beelde woorde.
Dit moet uit.
Dit moet uit.
Helaas, spoel dit af in hierdie drein van eentonigheid en versmoring.
Dit gaan net verlore..
My stem word hees, rou geskuur teen die verset wat daarin vas steek.

Soms, is die drang om te vlug so erg dat my asem wegraak. Dat my handpalms sweet.
Dan verplaas ek myself na ñ plek waar daar stilte is. ñ Plek waar daar ñ berg is. En ñ boom.
Waar daar vrede is.
ñ Bietjie stilte en genade.
In hierdie plek, my plek, is daar net plek vir my. My en my woorde.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share