Sonskade

Wanneer die son jou verbrand in plaas van verwarm is dit tyd om in die skadu te gaan sit.

Wanneer die skadu jou koud maak in plaas van koelte gee, is dit tyd om ñ trui te gaan haal.

Dit wat op die oog af goed vir jou lyk kan baie keer skadelik wees.
Daar was al baie sulke situasies in my lewe.

Die son lyk aanloklik, maar ervaring het al te veel keer geleer dat dit jou kan verbrand. Die brandskade herstel grotendeels, maar nie heeltemal nie. Daar is ñ lewenslange effek.

Hoe vermy mens dit?

Jy kan vir kort rukkies die son opsoek sonder om te verbrand. Jy kan sonskerm aansmeer vir kunsmatige beskerming. Of jy kan die skadu soek.
Die keuse is tog sekerlik myne?

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vuur

image

Ons het vanoggend met sonop die nuus gekry.

Jy is weg..

Sommer so is jou vuur geblus, jou vlam gedoof, jou uurglas leeg..het jy klaar geleef.

Jy, my vriendin met die vuur in jou hare, die vuur in jou hart.  Jy was vuur, wind, grond en water. Passievol, rustig, sterk, diep.  En op die ou einde so oneindig broos.

Sommer so het jy gegaan.  Pynlik finaal, met geen basuin of fanfare.

Ek sien jou in die vuur, ek hoor jou in die wind, ek voel jou in die grond en ek proe jou in die water.

Ek dank die Here, wat jy lief gehad het, vir jou lewe, jou vriendskap en vir jou.

Steek ‘n vuur aan, skink ‘n glas wyn.  My vriendin, Marianne, het verdwyn.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Ontmoetings

Ek is by die haarsalon. Ek was bang om hierheen te kom vanoggend. Bang en hartseer. Ek het hier my laaste face to face gesprek gehad met my vriendin Marianne. Drie weke daarna is sy gediagnoseer met breinkanker. Aggressiewe terminale breinkanker. 

Die laaste keer toe ek haar gesien het het sy rooi kleursel op haar pragtige bos krulhare gehad. Nou het sy geen hare nie. 

Ek het nie toe geweet dat sy gaan siek word nie. Dat sy alreeds siek is nie. Sy het ook nie. Ek het nie toe geweet dat ons nooit weer oor onbenullighede gaan gesels nie. Ek het nie toe geweet dat ons gesprek kosbaar en allesbehalwe onbenullig was nie. Ek wens ek kon weet. Ek sou elke woord en gebaar gememoriseer het. Ek sou meer opgelet het. Meer teenwoordig gewees het.

Dis die lewe.. Ons weet nóóit. Koester elke toevallige ontmoeting. Bel as iemand in jou gedagtes opkom. Kyk in die mense vir wie jy omgee se oë. Voel as hulle aan jou raak. Maak tyd vir liefhê en omgee. Maak tyd vir jou vriende, jou familie, want jy weet nooit.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share