Vuur

image

Ons het vanoggend met sonop die nuus gekry.

Jy is weg..

Sommer so is jou vuur geblus, jou vlam gedoof, jou uurglas leeg..het jy klaar geleef.

Jy, my vriendin met die vuur in jou hare, die vuur in jou hart.  Jy was vuur, wind, grond en water. Passievol, rustig, sterk, diep.  En op die ou einde so oneindig broos.

Sommer so het jy gegaan.  Pynlik finaal, met geen basuin of fanfare.

Ek sien jou in die vuur, ek hoor jou in die wind, ek voel jou in die grond en ek proe jou in die water.

Ek dank die Here, wat jy lief gehad het, vir jou lewe, jou vriendskap en vir jou.

Steek ‘n vuur aan, skink ‘n glas wyn.  My vriendin, Marianne, het verdwyn.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Rou en ñ awkward verhouding met pool noodles en Jack Parow

Daar was ñ tyd toe ek pool noodles, wyn en Jack Parow nodig gehad het om deur die dag te kom…en urbanol..en slaap pille

Net soos goeie herinnerings kom die donker ook maklik terug. ñ Song op die radio, ñ reuk..die sien van ñ sekere flossie in Spar.
Ek lees wat ek geskryf het in daardie tyd en dit help my onthou. Dit help my herstel.
Ja ek luister nogsteeds Jack. Ek is ñ closet fan. Kan dit nou nie juis in my kar speel terwyl ek carpool nie. Ek drink nogsteeds wyn, maar net omdat dit lekker is en nie omdat ek dit nodig het nie. Ek het die aand van my egskeiding ñ bottel uitgedrink. Uit die bottel. Terwyl ek op my knieë langs die swembad sit en skree. Ek het die swembad gehaat.
Ek het die pille gelos. Die slaap pille was moeilik, ek kon vir drie jaar nie slaap sonder dit nie.
Pool noodles is nou veilig in my geselskap. Ek het nie meer die drang om die wit waks uit dit uit te slaan teen ñ boom nie.
Ek het my vrese in ñ bonfire verbrand..ek is vry..

#Ek oorleef in ñ waas met kaffïene en bezodiazepiene.
My kop voel nooit meer werklik helder nie, my hart klop altyd te vinnig op ñ ritme van angs en moegheid.

My oë voel dik, my ooglede spring. My kop ñ maalkolk van wat ek moet doen, my ore moeg geluister na ander mense se probleme. Ek wil my vel afstroop ek wil my pyn ontbloot, maar vannaand moet ek glimlag, sterk lyk, in beheer wees vir my kinders. As nog iemand vir my sê ek moet sterk wees..weet julle nie dat om op te staan in die oggend terwyl jy lus is om te sterf ñ daad van ongelooflike bonatuurlike krag en moed vat nie?!!

Dom mense verwag dat as die formalitieite verby is jy net moet kan aangaan. Jy is mos immers van die man ontslae. Hulle verstaan niks van die pyn van jou verlies nie. Die finaliteit van die daad. Die bewustheid in jou hart dat jy nie meer deel is van iemand anders nie. Die hartseer wat aan jou kleef. Die gevoel van mislukking wat jy diep probeer weg bêre. Dis soos ñ amputasie, die ledemaat is weg, maar jy bly bewus van dit wat daar was.

Ek mis my man. Dit is soos wanneer iemand dood is. Die hartseer laat jou net die goeie onthou. Skielik kan ek nie meer onthou hoekom ek so ongelukkig was nie. Ek onthou net dit wat goed was.

Wie sal dit ooit verstaan. Ek is te moeg om eers te probeer. Hoe hou mens op liefhê? Hoe hou mens op mis? Hoe hou mens op hoop? Ek wens alles wil net ophou. Ek wens alles kan net normaal wees. Hoe hou mens op wens?#

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

DIE BOM

Soms het ek nodig om hierdie te lees om te onthou hoe ware pyn voel.
Hoe rou ek was.
Dan vergelyk ek dit met nou en dán ervaar ek dankbaarheid in die suiwerste vorm.
Voorheen sou my lewe nou normaal gevoel het. Nou beskryf ek hierdie vervelige gewone bestaan van my as hemels.
Mens weet nie hoe lekker boring is voordat jou lewe ñ rollercoaster van op en af, drama en intrige word nie. nuclear-explosion

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Geestyd

IMG_0750

Ek was vir amper ‘n jaar stil..
Na my laaste skrywe die 23ste Desember 2013 het daar soveel gebeur.
Kom ek begin by die 24ste

Ek was bang vir Kersfees. Daar was geen afwagting nie. Geen opgewondenheid nie. Dit was ‘n dag wat my met angs gevul het.
Die logistiek daaraan verbonde. Hoe laat gaan die kinders na Pappa toe? Wanneer moet ons geskenke uitdeel? Hoe gaan ek alleen dit regkry om hulle aandag af te trek en dan skelm die geskenke onder die boom laat verskyn? Wat maak ek om te eet? Doen ek baie moeite met kos of koop ons KFC?

Hoe kry ek dit reg om nie te huil nie? Dit was immers my eerste kersfees sonder my man. Al wat ek wou doen is huil as ek daaraan dink. Ek wou ween vir my verlies aan normaal. Ek wou ween en skree en ‘n poolnoodle teen ‘n boom stukkend slaan vir die onregverdigheid van die lewe!

Wat doen my eksman vir Kersfees? Gaan hy dit alleen spandeer of saam met haar? Wat gaan hy vir haar koop? (simpel, maar ek is immers ‘n vrou!). As hy dit alleen spandeer gaan hy hartseer wees? Ek kon dit nie verduur om aan hom te dink alleen en hartseer nie, maar ek wou ook nie hê dat hy saam met haar moet wees nie.

En dan, die grootste vrees van alles, my kinders. Hoe gaan hulle voel die Kersfees? Die verantwoordelikheid het so groot gevoel, want soos alles met die egskeiding, hang hulle reaksie af van my reaksie. Hulle hou my dop. Lees goed in my gedrag en gesigsuitdrukking.

So ek was bang vir Kersfees.

Ek het baie scenarios oorweeg. Prentjies en moontlike uitkomste in my kop laat draai. Ek het besluit om Kersfees oor ander mense te maak. My gedagtes weg te dwing van my swak en ellendige omstandighede na ander mense se ellendige omstandighede.
Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om Oukersdag na ons Kerk se ‘Miracles in the Park’ te gaan.
Dis ‘n pragtige projek waarvoor daar maande lank kos, klere en speelgoed ingesamel word.
Op die dag bedien hulle amper 2000 mense met kos vir ‘n week, klere vir die gesin en speelgoed vir die kinders.
Ek wou beleef dat ek baie rede het vir dankbaarheid. Ek wou my kinders hierby betrek en het hulle saam gevat.

Ek was skaars daar toe my foon lui. Dit was my eksman. Ek het onmiddelik aan sy stem gehoor dat hy kwaad is vir my. Ek het dadelik vir hom gesê dat hierdie dag, hierdie oomblik, moeilik genoeg is vir my en dat ek nie met hom wil praat nie. Hy het egter aangehou. Hy het my aangespreek omdat ek ‘n bybelvers op sy facebook blad gepost het. Dit het Flossie glo ontstel en dit bemoeilik sy verhouding met haar, want dit laat haar onseker voel.
WAT!!!!!!???
Selfs ‘n jaar later laat die herinnering my nekhare orent kom.
Ek het dit verloor. By die kerk se geleentheid, omring met my gemeentelede.
Ek het ‘n paar meter weggestap en op hom begin gil.
‘Hoor jy jouself?’ ‘n oktaaf hoër ‘Hoor jy die Flerrie?’ (ek is seker ek het ‘n minder vleiende woord gebruik)
ek het herhaaldelik vir hom geskree ‘JY IS BLIND!’
‘BLIND!!!!!’ Hy was vol berou en het oor die foon begin bid ‘Here help my om te sien’
Ek het die foon doodgedruk en bewend myself probeer kalmeer.
Ek het dit vir presies twee sekondes reggekry.
Ek het ‘n boodskap aan hom en Flossie gestuur. Venynig en vol haat.
Ek wou hulle seermaak.

Het dit my beter laat voel? Nee..
Ek het soos ‘n robot pakkies begin aangee vir die strome mense. Soos die dag aangaan het die woede my verlaat en het hartseer het van my besit geneem. Ek het dolleeg gevoel.
Die dankbaarheid van die mense om my en die armoede en swaarkry het my skuldig laat besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees. Die Here het ‘n pleister op my seerkry geplak en ek het dit reggekry om nie inmekaar te sak en in die bondel te bly lê nie. Ek het my kop weereens opgelig en ‘n tree vorentoe gegee.
Die aand het ek opgewonde saam met die kinders na tekens van Kersvader begin soek. Ons het geskenke oopgemaak, oorskiet pizza van die middag geëet en ek het popwaentjies aanmekaar probeer sit en rekenaarspeletjies probeer installeer. Daar was ‘n leemte en ek het myself toegelaat om my kussing nat te huil.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die oop deur

Ek mis jou

Al is jy hier

Ek soek jou

Al staan jy reg voor my

Hoekom staan jy in die donker?

Alles wat jy nodig het

Is in die lig

Laat my toe om jou lief te hê

Laat my toe om jou weer te ken

My arms is oop

My hart vir altyd joune

My Lief, stap die steil pad huis toe

Ons wag vir jou

 

Party keer voel dit asof daar ‘n ewigheid verloop het vandat ek hierdie gedigte geskryf het. 

Daar het verseker ‘n leeftyd se leef plaasgevind.

Nou die dag iets gelees wat so mooi hierby aanpas..

Hoekom staan jy buite as die deur wawyd oop staan.

Wel, partykeer is dit te warm binne, partykeer het jy nodig om vars lug te voel, partykeer is jy net nie lus om in te kom nie. Partykeer lyk dit wat buite is meer aanloklik as dit wat binne is.

Dis alles goed en wel, maar moet dan nie ‘n agterdeur soek as jy die voordeur van die hand gewys het nie.  Moenie deur ‘n venster probeer klim as die agterdeur toe gegrendel is nie…en moet beslis nie deur die skoorsteen probeer klim nie, want daar wag ‘n pot vol kookwater..

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Donkermaan

26/07/2013
Die nag het die maan ingesluk
Die donkerte my vel afgeruk
My hart ontbloot
My bloed laat loop

Die stilte het my vlam geblus
Die lewe verdoof en uitgewis
My siel verkoop
Vir brood en hoop

Die hitte het my land laat bars
Die masker dun onder verf en hars
My hartseer groot
My drome dood

Die beelde in my kop geplant
Ons huis was net gebou op sand
Ons lande droog
Ons onkruid hoog

Wat sal dit vat om om te draai
Wanneer sal die haan weer kraai
Jou altaar brand
vat tog Sy hand

Gee net oor
Kyk in jou hart
Kan jy hoor
Voel jy verward
Kan jy sien
Wat’s op die spel
Weet jy nou wat ons verdien
En is dit rerig hierdie hel

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Leeg

10/06/2013
Die siende blind
ñ weggooikind
Pyn wat ruk
Vel afpluk
ñ hart wat breek
ñ tong wat smeek
ñ brein wat weet
jou liefde is wreed
Die seer te erg
Vir hierdie berg
Bloed en geen
Drie keer geseën
Brose siel
Wat ons verniel
Weg gesmyt
Op gebruik
Leeg gehuil
Leeg gegee
Leeg getap
Plat getrap

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

GEBREEKTE BENE

Breek my bene, slaan my met ‘n stok..woorde maak die seerste. Skop my eenkant, rol my weg…woorde breek die meeste..

Wie gaan my vang as ek val? Wie gaan my troos as ek huil?
Ek staan by ‘n kruispad. Voel rigtingloos, maar moet kies. Die pad van minste weerstand haal my in..gebreekte beloftes, gebreekte gees. Ek kies die moeilikste pad, die een wat my knak. Ek staan op en val weer. Ek verloor rigting, ek loop in die rondte. Ek mis my vriend, ek moet hom laat gaan. Ek draai my rug, kyk ‘n paar keer terug. Is jy hartseer en alleen? Sal dit help as ek jou bel? Jy is my held èn my swakheid. Wie gaan my vang , want ek is besig om te val.

Afgebreek, nie goed genoeg. Ek is te bang om te sink, te bang om te swem. Ek groet vriende ek voel seer. Jy draai terug en doen dit maar weer. Is ek besig om my kop te verloor. Hoe kan die seer my so bekoor? Hoe kan ek so bang wees om te verloor… dat ek bly vasklou aan ‘n droom.

Jy is my swakheid my teer punt. Die seerste is, jy weet dit. Jy stoot my weg en trek my in. Elke gety ‘n nuwe bui. Staar my aan, paai my met woorde, as jy my het draai jy jou rug en die koudheid deurtrek my bloed, want hierdie spel is vir jou net ‘n klug.

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Stilte

Die oomblik wanneer alles onnatuurlik stadig verby jou vloei.

Wanneer die werklikheid so onwerklik voel dat jy wag voor jy asem haal. Wanneer die werklikheid so seer is dat jy te bang is om asem te haal, te bang is om te lewe.

Koue garage vloere raak jou ontvlugting. Die plek waar jy kan skree totdat jou asem wel opraak. Die een plek waar jy kan huil totdat jou keel en neus rou is.

Verder lewe jy in stilte. Sit jou glimlag op vir die res van die wêreld, want jy is skaam en bang. Versorg jou kinders. Vryf oor jou uitbultende maag met die kosbare lewe binne in. Hoop dat die skade nie permanent is nie. Hoop dat jy kan regop bly met al hierdie pyn in jou binneste, want

Wie het geweet dat ‘n

hart wat breek

voel soos kanker

‘n pyn wat aan jou binneste vreet

wat jou beroof van asem

Wie het geweet dat dit

voel soos ‘n dolk wat steek

met elke verraad seerder

met elke leuen dieper

Die lem word stywer gedraai

Wie het geweet dat hartseer

jou platslaan, al jou verweer

wegskil sodat jy met jou bebloede

geraamte alleen staan?

Wie het geweet dat vrees jou

mal maak

dat jy stemme in jou kop hoor

koggel en smaal

Wie het geweet dat jy

my so sou seermaak?

Nie ek nie, my Lief.

Nie ek nie.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Wie het geweet?

Wie het geweet dat ‘n

hart wat breek

voel soos kanker

‘n pyn wat aan jou binneste vreet

wat jou beroof van asem

Wie het geweet dat dit

voel soos ‘n dolk wat steek

met elke verraad seerder

met elke leuen dieper

Die lem word stywer gedraai

Wie het geweet dat hartseer

jou platslaan, al jou verweer

wegskil sodat jy met jou bebloede

geraamte alleen staan?

Wie het geweet dat vrees jou

mal maak

dat jy stemme in jou kop hoor

koggel en smaal

Wie het geweet dat jy

my so sou seermaak?

Nie ek nie, my Lief.

Nie ek nie.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share