Skryf oor skryf

Ek het so lanklaas geskryf dat ek amper my skryfstem verloor het.  Ek praat soveel stories in my kop wat verlore gaan, want ek skryf dit nie neer nie.  Soms maak ek ‘n afgerammelde nota op my foon, maar dit bly net ‘n nota. Ek het soveel voornemens wat net nooit ‘n realiteit word nie.

Ek kan baie verskonings hiervoor gee, maar die feit bly staan, skryf is harde werk en vat dedication. Dis iets wat geoefen moet word en as mens elke keer moet wag vir inspirasie sal daar baie min geskrewe woorde in die wêreld wees.

Ek het vanoggend die volgende foto op facebook raakgeloop en dit het my vreeslik laat dink aan my lewe.

Ek droom so baie keer oor goed, veral skryf, maar when push comes to shove dink ek die een verskoning na die ander uit hoekom ek dit nie kan doen nie. Moegheid, kinders, vrouwees, werk… ag sommer net lewe om te oorleef sluk my lewe en my drome in en laat my met ‘n terleurstelling in myself wat my ‘inner voice’ so negatief maak dat ek dit nie durf neerskryf nie. Een ding wat ek weet is dat wanneer jy jou woorde begin meet en begin dink aan wat mense wil hoor dan kan jy dit maar los. Ek blog want dit gee my ‘n druppel van die bevrediging wat ek nodig het in die lewe.  Soos enige passievolle mens het ek ‘n kreatiewe uitlaat nodig, want anders haal ek al my opgekropte frustrasies op die mense naaste aan my uit.  Skryf moet vloei soos bloed uit ‘n oopgesnyde wond.  As ek verder aan die vergelyking dink klink dit nie so goed nie.

Êrens moet jy seker die bloeding stop voordat jy leegbloei en doodgaan.

Ek skryf op my beste of eerder lekkerste wanneer ek dit laat uitstort.  Soos hierdie. Ek weet nie eens of ek sin maak nie, maar ek weier om te stop en te lees wat ek skryf.  My uitdaging vir die dag.  Ek gaan hierdie op my blog sit sonder om dit te edit, of te dink aan ‘n gepasde afrikaanse woord vir ‘n engelse een en sonder om te kyk of ek mal klink.

Soms moet ons bietjie ophou edit aan ons lewe terwyl ons lewe.  Dit klink ook nie heeltemal reg nie, want ons kan verseker nie edit aan ons lewe as ons opgehou lewe het nie.  Dis dalk die hele punt van die blog.  Hou op met edit en lewe, want eendag gaan die lewe verby wees en ek vir een weier om die stoep te sit met net regrets en wat asse.  Hopelik verstaan iemand my.  Dis tyd dat ek ophou om so baie te dink aan doen en hoe om dit te doen en dit net doen.

Nou maar toe, soos my tante altyd sê, nou maar toe.

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Ontmoetings

Ek is by die haarsalon. Ek was bang om hierheen te kom vanoggend. Bang en hartseer. Ek het hier my laaste face to face gesprek gehad met my vriendin Marianne. Drie weke daarna is sy gediagnoseer met breinkanker. Aggressiewe terminale breinkanker. 

Die laaste keer toe ek haar gesien het het sy rooi kleursel op haar pragtige bos krulhare gehad. Nou het sy geen hare nie. 

Ek het nie toe geweet dat sy gaan siek word nie. Dat sy alreeds siek is nie. Sy het ook nie. Ek het nie toe geweet dat ons nooit weer oor onbenullighede gaan gesels nie. Ek het nie toe geweet dat ons gesprek kosbaar en allesbehalwe onbenullig was nie. Ek wens ek kon weet. Ek sou elke woord en gebaar gememoriseer het. Ek sou meer opgelet het. Meer teenwoordig gewees het.

Dis die lewe.. Ons weet nóóit. Koester elke toevallige ontmoeting. Bel as iemand in jou gedagtes opkom. Kyk in die mense vir wie jy omgee se oë. Voel as hulle aan jou raak. Maak tyd vir liefhê en omgee. Maak tyd vir jou vriende, jou familie, want jy weet nooit.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Lewe

100_6811Toe beland ek in ñ maalkolk
ñ toestand van dronk word
ñ seesiek gemors
ñ toestand van stom word

In hierdie sinnelose gedraai
Verloor ek my kop
Oorverdowende lawaai
Dwing my om te stop

Terug te draai na my
Die spieelbeeld te ontleed
Tyd te vat om my te bevry
Van dit wat my lewend opvreet

Ek het vandag ñ dag vir myself gegryp. Nie gevat nie..GEGRYP.

Wanneer die stemme in ons kop harder praat as die stiltes, moet jy besef dat jy nader aan ingee is as wat jy glo.

Die punt is ons haal asem. So wat is die punt van asemhaal as jy dit nie eens meer agterkom en waardeer nie? Ons lewens bestaan uit soveel meer as werk, die mense wat ons liefhet, geld, prestasies. Ons lewens bestaan uit ONS. Hoeveel tyd spandeer ons aan ons?
Aan die dinge wat die dam waaruit ons omgee en liefde vloei, volmaak?

Ek is ñ werkende ma van drie jong dogters. Ek is ñ vrou wat moet werk om haar verhouding te laat blom. My werk bestaan uit gee. Vriendskappe vat moeite om in stand te hou as jy werk. My kinders het my nodig. Hulle het tyd nodig, moeite nodig om hulle te laat floreer. Die alledaagse sluk my in.

My dae bestaan uit jaag. Jaag na wat?

Ek weet nie, want soos ek hier skryf kan ek amper nie eens onthou uit watse goed gister bestaan het nie. Al wat ek onthou is dat dit soos alle dae voor dit ñ gejaagde dag was.

So gisteroggend het ek besef, ek kán nie meer nie. Ek moet herlaai. Ek moet ontlaai.
Vakansie tyd is ver. Die jaar is jonk en ek voel asof ek óp geleef is.
Die lewe is kort genoeg. Ek wil die oomblikke kan onthou. Ek wil kan agterkom as daar ñ oomblik is!

Ek wil lewe. Nie net bestaan nie.

So vanoggend het ek broos gaan lê dat ñ tingerige vroutjie met die naam Thandiwe my knoppe uitvryf.
Soos haar benerige hande meedoënloos oor my rug gegly het, het daar meer as net die knope in my rugspiere losgekom. Terwyl my kop en my lyf gestoei het, het my onderbewuste gewen.
Terwyl ek stoei om te ontspan het my lyf my gered en vanself begin ontspan. Soos die geur van aromaterapie olies my omgewe het ñ vreedsame hartseer my binnegedring. My lyf wat ek ñ paar minute vroeer krities in die onsimpatieke spïeel beloer het, het begin ontspan onder die aanraking van ñ wildvreemde. Die pyn wat ek gevoel het terwyl sy fokus op een van die talle spasmas, het my laat wonder hoeveel ñ lyf kan vat? Hierdie lyf wat die skuiling is van my kinders. Wat my siel en my hart huisves, my denke en my drome. Hoeveel tyd spandeer ek om my sintuie te gebruik vir my plesier? Wanneer ek in die oggend en aand stort of bad, let ek op na die sensasie van die seep op my vel? Wanneer ek my met room smeer, voel ek hoe glad dit op my vel voel? Wanneer ek afdroog, érvaar ek die growwe koestering van my vel? Wanneer my geliefde aan my hand vat, beleef ek sy nabyheid? Wanneer sy baard teen my wang raak, word my binneste stil en beleef ek die oomblik? Wanneer my kinders op my skoot kruip, voel ek hulle gewig? Beleef ek dit as ñ las of beleef ek dit as ñ tasbare bewys van hulle bestaan?

Voel ek die kielie van die wind deur my hare? Neem ek die warmte van die sonstrale op my vel in?

Mag die Here gee dat elkeen wat hierdie lees en ek wat dit skryf elke oomblik koester as ñ bewys dat ons asemhaal. Mag ek oomblikke van bewustheid hê selfs in die maalkolk oomblikke. Mag ek elke dag tyd maak vir dit wat my met vrede en krag vul sodat ek elke oomblik van my menswees lewe. Mag ek die wonder van die skepping inneem. Mag ek opnuut na mense kyk en hulle raaksien.
Moenie wag dat iemand vir jou toestemming gee om te lewe nie. Moenie wag totdat iemand raaksien dat jy besig is om te verdrink nie. Gryp oomblikke. Steel tyd. Nee EIEN tyd vir jouself. Vir jou. Nét vir jou.
Vat dit en geniet dit.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Nuwejaars voornemings en ander jazz

Ek wil meer skryf.. Ek moet meer skryf. Dit is altyd die eerste ding wat afgeskeep word as my lewe chaoties is. Die sleg daarvan is dat dit die een ding is wat ek broodnodig het om my lewe minder chaoties te maak! So nuwejaars voorneme nommer 1: Skryf, al is dit net een sin per dag.

2015 was ñ Wonderlike jaar. Op 6 Januarie 2014 het ek en my eksman in ñ onbeplande, vreemde whatsapp flirtasie betrokke geraak.

Om dít beter te verstaan moet jy eers verstaan dat ons egskeiding nie ñ gewone een was nie. Ons kon dit nooit heeltemal regkry om heeltemal koudbloedig te ‘skei’ nie. Hy was in ñ gekompliseerde verhouding met die flossie, maar ek en hy…wel dit was nooit heeltemal so verby dat ons kon verander in ekse wat net op ñ formele manier met mekaar kon kommunikeer oor ons kinders se reëlings en behoeftes nie. As ons langer as een minuut in mekaar se geselskap is het ons gekuier.

Die vriendskap band was sterk, maar daar was ook iets anders in die lug.. Ons verhouding was altyd anders as ander mense s’n. Ons het die pad byster geraak en alhoewel hy die een was wat ñ verhouding gehad het het ek geweet ek was ook skuldig in die verwaarlosing en verbrokkeling van hierdie huwelik. Ons het drie jaar gevat om by die punt te kom waar dit werklik verby was. En selfs toe was dit ek gewees wat hom gedagvaar het, alhoewel ons saam besluit het dat dit beter sal wees vir ons.

Hy het in die drie jaar telkemale gesê dis verby en uitgetrek, maar nooit kon hy op ñ punt kom wat hy wou skei nie. Ek was moeg baklei en het geweet dat ek ñ beter kans het om hom terug te kry as ek hom 100% laat gaan. Ek het geweet hy en Flossie sal nie uitwerk nie. Hy moes dit net sien. Ek het altyd met hom gespot en gesê Junie 2014 is ons terug by mekaar! Ek het dit geglo met my hele hart.

Hy het in Oktober 2014 saam met my hof toe gegaan om ons egskeiding te bekragtig. Dit was die slegste dag van my lewe. Ons het saam gehuil. Mekaar ondersteun. Vreemd.. Hy het gesê dit was ñ fout..Die drie jaar voor ons egskeiding was hel. Die onsekerheid. Die hartseer. Die woede. Die alleenheid. Die VREES!
Die dag van ons egskeiding was dit asof ek in ñ vuuroond gegooi is en gelos is om te brand totdat daar net as oorbly. Ek het gevoel asof ek wil doodgaan. Ek het geweet hy gaan nou openlik aangaan met sy drie jaar lange skelm verhouding. Ek het geweet my kinders gaan haar nou moontlik ontmoet. Ek het geweet dat dit verby is.. Ek het daardie aand langs my swembad op die grond gesit en huil..ek het geween vir dit wat ek verloor het en nogsteeds so graag wou hê. Ek het ñ bottel wyn opgedrink. (Die kinders was by hom) Ek was lief vir hom en ek het geweet dat dit ñ liefde is wat op ñ bonatuurlike wyse in my hart geplant is deur die Here. ñ Liefde wat nooit sal doodgaan nie en ñ liefde wat nooit vervang sal word nie.

Ek het gedurende die drie jaar baie sterker geword. Ek was naby aan my Vader. Ek het dit reggekry om te thrive en geluk te ervaar ten spyte van my hartseer en verlange. Ek het ñ doelgerigte lewe geleef en vasgehou aan die Here se beloftes.

Daar het ñ paar dinge na ons egskeiding gebeur..my geliefde eksman het tot bekering gekom. Dit waarvoor ek gebid het het waar geword. Sy en flossie se verhouding het deur ñ krisis gegaan..ek was glo die grootste probleem😋 dit het op ñ punt gekom waar hy haar ware kleure gesien het en self kon aanvaar dat dit nie gaan uitwerk nie.

Ons het gestry en baklei oor die kinders. Die 5de Januarie was so ñ aand..ek kan nie onthou waaroor ons baklei het nie. Ek weet die kinders was by hom. Dink dit het gegaan oor die nuwe meenthuis wat hy gekies het. Ek het gedink dit is nie veilig vir ons 2jarige kind nie..ek het hartseer gaan slaap.

Die volgende dag toe ek terugry van die werk af, het ek ñ jammer boodskap gekry van hom af, iets van jammer dat hy altyd die verkeerde knoppies druk…ek het by ñ petrol stasie gestop en braaf getik as ñ ‘ernstige’ grappie..jy kan enige tyd my knoppies druk. Dit was net daar verby..ons het begin met ñ grapperige flirtasie en wel later was dit nie meer grapperig nie..die res is geskiedenis.

Dit is vir my belangrik om terug te kyk na hierdie oomblik, more presies ñ jaar terug en daardie vreugde te onthou..daardie opwinding te onthou..daardie eerste pynlik mooi, seer lekker, eerste omhelsing en soen te onthou. Die sug van verligting wat hy gegee het, die oorgee aan dit wat ons al lankal geweet het, die samesmelting van twee verlore harte. Hoe ons na mekaar gekyk het en nie kon glo dat hierdie nagmerrie verby is nie.

2014 Was ñ wonderlike jaar, maar dit het ook sy uitdagings gehad. Ons kinders was jaloers op ons nuutgevonde liefde, ons moes deur ñ paar dinge werk en die belangrikste..ons moes tyd inruim vir romanse en gesels. Ek wonder hoe doen mense dit wat elkeen kinders van hulle eie het? Ons moes weer aanpas as ñ couple. Ek was baie onafhanklik en jaloers op my alleentyd..en hy het dit ook nodig gehad.

Nou lê 2015 voor en ons is altwee 10kg swaarder..Geluk het ñ prys! Ons is weer saam in ñ ratrace met drie demanding kinders, finansies wat moet klop, dinge wat breek, werk wat eise stel..ja mense die sprokie het so effens sy glans verloor.

Wat wel nie glans verloor het nie is my dankbaarheid en liefde. Elke oggend word ek wakker en as ek hom sien dan sê ek dankie Here.

So my tweede nuwejaarsvoorneme..is om te LEEF!
Die lewe is kort. Geluk is nie ñ given nie. Waardeer mekaar, flirt met mekaar, koester mekaar, soen mekaar, hou mekaar vas, gaan slaap saam met mekaar in die aand, wen mekaar elke dag, maak tyd vir mekaar en speel met mekaar. Wys jou liefde elke dag. Praat met jou hartsmense. Gryp elke oomblik. Sien die mooi raak en hou moed wanneer dinge nag raak. Ek glo in wonderwerke!

Happy 2015!

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Sandkasteel

sandkasteel

Wat is geluk? Geluk is..dit klink nou kompleet soos daardie sê goed van die sewentigs..liefde is..😁, maar wat ís geluk?
Vir jou? Vir my? Ek is seker dit sal vir elkeen van ons verskillend wees.

Ek sit weereens op die strand. Ek is in ñ vreemde bui vandag. Eintlik al ñ rukkie. ñ Kennis se man is twee weke terug skielik dood. 44 Jaar oud. Jonk. Dit het my meer geruk as wat ek verwag het. Dit is asof ek voel dat daar te min tyd oor is.
Dit is asof ek méér wil leef as wat moontlik is. Dit laat my wroeg oor hoe ragfyn, sag, kwesbaar ons is.
My geliefdes bou ñ sandkasteel. My hart neem die prentjie voor my in. Myne.
Hiérdie is geluk.
Geluk. Is. Tevredenheid. Punt.
Dis diep binne jou. In jou donkerste chaos kan jy die oomblikke oproep en jouself daarin verloor. Jare van nou af sal ek my oë kan toemaak en hierdie oomblik kan herleef. Sal ek weer die seer stekie van liefde in my lyf voel.
Ons lewens is soos hierdie sandkasteel. Dit kan binne ń oogwink platgevee word. Watse keuses het ons? Ons kan dit los en maak of dit nooit gebeur het nie, of..ons kan hoër teen die sandduin opkruip en dit herbou. Mooier, groter, sterker.
Ons is besig met die herbou van ons sandkasteel. Daar is geen waarborg dat dit nie weer platgevee gaan word nie. Om die waarheid te sê is daar ñ waarborg dat iets dit definitief van vorm sál laat verander. Ék is nie bang vir bietjie konstruksie werk nie.

© 2014 – 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share