Brief aan Geskeides

Dit het net gebeur.
Rerig? Jy het gestruikel en in haar arms geval en haar mond was per ongeluk oop en jou tong het toevallig daarbinne beland.
Hoe gebeur enige iets net? Ek is ‘n mens. Ek het beheer oor die keuses wat ek uitvoer. Niks gebeur vanself nie. Is jy ‘n mens?
Hoe maklik is dit om as eerste verweer te sê: “dit.het.net.gebeur”?
Hoe kan dit net gebeur dat jy van jou vrou en kinders vergeet? Hoe kan dit net gebeur dat jy doelbewus iemand anders se geselskap opsoek?
Daar is niks wat jou, mnr Egbreker, die reg gegee het om haar te verneuk nie.
Al is jy hoe ongelukkig. Al het jou vrou gewig opgetel na jou kinders se geboorte. Al het sy rekmerke oor haar maag wat padkaarte vorm van julle geskiedenis. Al verstaan sy jou klaarblyklik nie meer nie. Niks het jou die reg gegee om haar, jou vrou, so seer te maak nie.
Ek weet jy wil nou opspring en skree ‘Sy het ook nie haar deel gedoen nie. Hierdie is nie wat ek gedink het dit gaan wees nie. Sy is ook skuldig!’
En ja, dit is dalk so, maar jy is die een wat hierdie keuse gemaak het. Jy het gekies om die situasie so te hanteer. Jy is die een wat skuldig is aan egbreek.
Weet jy wat is egbreek? Nee, kom ek vra eers weet jy wat is ‘n huwelik?
Die huwelik is ‘n verbond tussen Man en Vrou. Heilig. Kosbaar.
Weet jy hoe voel dit as jou man vir jou sê hy is nie meer lief vir jou nie? Weet jy hoe vernietigend die nuus is? Hoe geweldadig die effek van daardie woorde is?

Jy wil sterf. Ophou bestaan. Verdwyn.
Dìt is hoe dit voel.
Ek was daar.

Die beste is dat elke egbreker dink sy situasie is uniek. Ek het gesprekke gehad met baie slagoffers van egbreek. Elke man dink sy gevoel vir die ander vrou is uniek. Dit het so reg gevoel. Rerig? As dit so reg gevoel het hoekom het jy nie al lankal jou vrou daarvan vertel nie? Hoekom het jy dit weggesteek? Weet jy dat Suid Afrika die land is met die hoogste egbreek syfer? (gaan google dit maar!) Hoe uniek kan jou situasie dan wees?
Die effekte van jou keuses is nie so uniek nie. As mense meer navorsing doen oor iets voor hulle dit doen sal die wêreld ‘n baie beter plek wees. Soos ek dit tik lag ek effens vir myself. Navorsing oor egbreek voor jy dit doen.. Miskien moet iemand so boek skryf!
Daar is baie effekte en navorsing wat deur baie geleerde mense gedoen is, maar die beste navorsing resultate is nie op papier en in joernale gepubliseer nie. Jy kan dit nie google nie. Dis gepubliseer in die lyne op mense se gesigte. Die geboë skouers van oorwonne mense. Die trane van kinders, die bed natmaak, die nagmerries, die agressie en die eindelose wense en gebede van mense wat nie meer die pyn van hule omstandighede kan aanvaar nie. Dis in die verlange sigbaar wat mense laat kwyn. Dis in die hulpeloosheid sigbaar van familie en vriende.

My broer het my oor baie bulte gesleep en uit baie riviere uit opgediep en hy het altyd gesê..’Life is tough’. As ek huil oor my kinders..’Life is tough’. As ek ween oor my verlies ‘Life is tough’. As ek skree oor die onregverdigheid..’Life is tough’
Life is inderdaad tough.
Is dit nie aaklig nie? Is dit nie om van te braak nie? Die lewe opsigself is moeilik genoeg. Dis ‘n reis met opdraendes, droogtes, sterftes, maar ook afdraendes, pragtige sonsondergange en beeldskone landskappe. Hoekom moet dit nog moeiliker gemaak word deur iemand anders se keuses?
En as dit gebeur, wanneer die bom ontplof, wanneer ons seerkry ontbloot word en ons pyn ons verlam, wat moet ons doen?
Hoe moet ons weer regop kom? Waar sal ons hulp vandaan kom? Wie gaan ons red?

Ons lewe in ñ gebroke wêreld. Dit word so baie gesê dat dit al soos ñ cliche klink.
Dit is duidelik sigbaar orals om ons. Gesins geweld, verkragting, moord, egskeiding.
Ons veg ons oorloë op heilige grond. Ons veg met die doel om te vernietig.

As ons maar net mekaar vernietig het.. Maar, in die middel van hierdie oorlogsfront is die onskuldiges. Ons kinders..dan wonder ons wat gaan aan met ons wêreld. Ons selfsug en swak keuses vernietig hierdie onskuldige slagoffers se drome. Dit steel hulle sekuriteit. Egskeiding is erg genoeg, maar as jy mooi om jou kyk sal jy sien dat siek mense genot daaruit put om mekaar seer te maak en hulle dodelikste wapen is hulle kinders. Dit maak my siek, want besef jy nie dat JY hulle toekoms in jou hande jou nie?

In ons gebroke wêreld is egskeiding ñ hartseer realiteit. Dikwels is dit ñ keuse wat uit jou hande geneem word. Hoe jy na die tyd optree is wel iets waaroor jy beheer het. Kies om jou kop hoog te hou. Kies om onvoorwaardelik jou kinders te beskerm ongeag van hoe moeilik dit is. Kinders het liefde, aanvaarding en koestering nodig. Kinders wat deur egskeiding gaan het dit 10 keer meer nodig. Hulle het nodig om te voel dat hulle nie hoef te kies nie. Hulle het nodig om te sien dat al het hulle ouers hulle verhouding vernietig hulle nogsteeds logies en regverdig kan optree. Dat hulle hulle kinders se geluk bo hulle ellende en haat kies. Dat hulle saam nogsteeds hulle ouers is en dat hulle saam vir hulle kinders se geluk sal baklei.

As ons dit kan regkry sal ons wêreld al klaar ñ beter plek wees. Hel, egskeiding is geweldadig seer, maar om ons kinders se seer erger te maak, dít is soos om jou kinders vir die wolwe te gooi. Dít is wat maak dat hulle liefde en aanvaarding op ander plekke soek. Dit is wat maak dat hulle verwerping ervaar. Dít is wat maak dat hulle nie vir jou vertel as daar iets by hulle ander ouer gebeur wat hulle seermaak nie.

Ek weet. Ek was daar. My pyn was my dogters se pyn. Hulle pyn was my hel. Dankie Here dat ek en hulle Pappa gekies het om hulle veiligheid en geluk eerste te stel. Dit was soms moeilik, (BAIE moeilik..)maar ons liefde vir hulle en ons respek vir mekaar as hulle ouers het oorwin. Met genade en bonatuurlike krag van die Here af. Soos ons middelste dogtertjie gesê het.. ‘Pappa het geskuif, maar julle is nog lief vir mekaar’ Dis hoe hulle dit ervaar het.

Ek haal my hoed af vir elke ouer wat dit so doen. Soms kry net een ouer dit reg.. Die res, kies dit my magtag! Dis hoe maklik dit is. Kies dit.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Geestyd

IMG_0750

Ek was vir amper ‘n jaar stil..
Na my laaste skrywe die 23ste Desember 2013 het daar soveel gebeur.
Kom ek begin by die 24ste

Ek was bang vir Kersfees. Daar was geen afwagting nie. Geen opgewondenheid nie. Dit was ‘n dag wat my met angs gevul het.
Die logistiek daaraan verbonde. Hoe laat gaan die kinders na Pappa toe? Wanneer moet ons geskenke uitdeel? Hoe gaan ek alleen dit regkry om hulle aandag af te trek en dan skelm die geskenke onder die boom laat verskyn? Wat maak ek om te eet? Doen ek baie moeite met kos of koop ons KFC?

Hoe kry ek dit reg om nie te huil nie? Dit was immers my eerste kersfees sonder my man. Al wat ek wou doen is huil as ek daaraan dink. Ek wou ween vir my verlies aan normaal. Ek wou ween en skree en ‘n poolnoodle teen ‘n boom stukkend slaan vir die onregverdigheid van die lewe!

Wat doen my eksman vir Kersfees? Gaan hy dit alleen spandeer of saam met haar? Wat gaan hy vir haar koop? (simpel, maar ek is immers ‘n vrou!). As hy dit alleen spandeer gaan hy hartseer wees? Ek kon dit nie verduur om aan hom te dink alleen en hartseer nie, maar ek wou ook nie hê dat hy saam met haar moet wees nie.

En dan, die grootste vrees van alles, my kinders. Hoe gaan hulle voel die Kersfees? Die verantwoordelikheid het so groot gevoel, want soos alles met die egskeiding, hang hulle reaksie af van my reaksie. Hulle hou my dop. Lees goed in my gedrag en gesigsuitdrukking.

So ek was bang vir Kersfees.

Ek het baie scenarios oorweeg. Prentjies en moontlike uitkomste in my kop laat draai. Ek het besluit om Kersfees oor ander mense te maak. My gedagtes weg te dwing van my swak en ellendige omstandighede na ander mense se ellendige omstandighede.
Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om Oukersdag na ons Kerk se ‘Miracles in the Park’ te gaan.
Dis ‘n pragtige projek waarvoor daar maande lank kos, klere en speelgoed ingesamel word.
Op die dag bedien hulle amper 2000 mense met kos vir ‘n week, klere vir die gesin en speelgoed vir die kinders.
Ek wou beleef dat ek baie rede het vir dankbaarheid. Ek wou my kinders hierby betrek en het hulle saam gevat.

Ek was skaars daar toe my foon lui. Dit was my eksman. Ek het onmiddelik aan sy stem gehoor dat hy kwaad is vir my. Ek het dadelik vir hom gesê dat hierdie dag, hierdie oomblik, moeilik genoeg is vir my en dat ek nie met hom wil praat nie. Hy het egter aangehou. Hy het my aangespreek omdat ek ‘n bybelvers op sy facebook blad gepost het. Dit het Flossie glo ontstel en dit bemoeilik sy verhouding met haar, want dit laat haar onseker voel.
WAT!!!!!!???
Selfs ‘n jaar later laat die herinnering my nekhare orent kom.
Ek het dit verloor. By die kerk se geleentheid, omring met my gemeentelede.
Ek het ‘n paar meter weggestap en op hom begin gil.
‘Hoor jy jouself?’ ‘n oktaaf hoër ‘Hoor jy die Flerrie?’ (ek is seker ek het ‘n minder vleiende woord gebruik)
ek het herhaaldelik vir hom geskree ‘JY IS BLIND!’
‘BLIND!!!!!’ Hy was vol berou en het oor die foon begin bid ‘Here help my om te sien’
Ek het die foon doodgedruk en bewend myself probeer kalmeer.
Ek het dit vir presies twee sekondes reggekry.
Ek het ‘n boodskap aan hom en Flossie gestuur. Venynig en vol haat.
Ek wou hulle seermaak.

Het dit my beter laat voel? Nee..
Ek het soos ‘n robot pakkies begin aangee vir die strome mense. Soos die dag aangaan het die woede my verlaat en het hartseer het van my besit geneem. Ek het dolleeg gevoel.
Die dankbaarheid van die mense om my en die armoede en swaarkry het my skuldig laat besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees. Die Here het ‘n pleister op my seerkry geplak en ek het dit reggekry om nie inmekaar te sak en in die bondel te bly lê nie. Ek het my kop weereens opgelig en ‘n tree vorentoe gegee.
Die aand het ek opgewonde saam met die kinders na tekens van Kersvader begin soek. Ons het geskenke oopgemaak, oorskiet pizza van die middag geëet en ek het popwaentjies aanmekaar probeer sit en rekenaarspeletjies probeer installeer. Daar was ‘n leemte en ek het myself toegelaat om my kussing nat te huil.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die groter prentjie

21/06/2013
Jy kuier nou by die kinders…ek sit in mugg and bean..
My hart breek vir jou…die vreugde wat op jou gesig was toe jy hulle groet..
Die hartseer en alleenheid wat jy vannaand gaan voel.
Ek kan jou nie red nie..net liefhê..van ver af, op ñ emosioneel onbetrokke manier.
Ek is lief vir jou…ek sê dit altyd..my liefde vir jou is deur die Here geplant in my hart. Niks kon dit nog ooit blus..
Ons moet hierdie pad stap..pad van self ontdek, vergifnis, heel word.
Ek het jou op die altaar geplaas met volle geloof..die Here sal sorg.
Dis al prentjie wat my deur hierdie hel kry…die prentjie van ons in die Hemel saam…saam met ons kinders.
Jy voel alleen, verwerp, koud, bang…ek voel ook so. Nie omdat ek nie ons kosbare kinders by my het nie…maar omdat ek jou nie by my het nie. My lewensmaat, my eense sielsgenoot, my liefdes maat…my beste vriend.
Hierdie is soos ñ droom..ñ nagmerrie…ñ bittere aaklige werklikheid.
ñ Pad vol kole nou, my voete brandend…ek wil oor dit spring..maar ek kan nie..jy kan nie. Ons moet dit stap..die eindpunt gaan onbeskryflik mooi wees. Ek visualiseer ons op ons knieë voor die Here..die Engele wat juig.

En nou moet hulle van alle musiek in die wêreld Cranberries speel…you know I’m such a fool for you…you know you got me wrapped around your finger…do you have to let it linger…
Ek onthou kerse en wierook en liefde..

12/2013

Ek sit onder ñ boom met die wind wat deur my hare waai en my hart juig, want jy het die Here gevind…

20131215-145844.jpg

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Lewe

24/08/2013

Ek sit onder ñ boom wat besig is om te bot.  Van naby af kan jy dit nie eens sien nie.

Onder is die stam swart van twee jaar terug se byna vernietigende brand. As jy ñ paar tree terug staan sien jy die heldergroen nuwe blaartjies aan die bopunt van die boom.
Soms moet jy ñ paar tree terug staan om die volle prentjie te sien.

Wat is dit aan dood wat ons laat dink aan lewe en hoekom dínk ons aan lewe as ons klaar lewe?

Ons is so broos, kwesbaar, nietig en ménslik.
Ons het die vermoë om te kies wat ons doen met dit wat ons het. Ons kan nie altyd beheer wat met ons gebeur nie, maar ons kan kies hoe ons optree.
Die pad tussen ons gedagtes en ons hande is soms te kort en ons kies verkeerd.
Daardie keuses het soms hartverskeurende gevolge.
Ons kan kies om dit wat kosbaar is te koester.
Soms moet mens terugstaan en kyk.
Soms moet mens stilstaan en luister.
Soms moet ons ons arms om onsself slaan en voel.
Soms moet ons net na mekaar toe draai en weer sien.
Soms moet ons iemand se hand vat en vashou.
Soms moet jy kies om oor te gee en soms moet jy kies om om te draai..
Soms moet jy kies om iets wat kosbaar is agter te laat, want dis ál wat oorbly om te doen..Al breek dit jou hart, maar jy gee nie op nie..jy gee net oor aan die Here.
Selfs dan moet jy lewe, want ñ stukkende hart laat jou nie ophou asemhaal nie.
Liefde is veronderstel om verniet te wees, nie ñ sinnelose spel nie.
Wanneer liefde gemeet word aan verdienste..is die prys te duur.

20131215-141611.jpg

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Honger

Ek is honger. Al wat ek begeer is om ñ peanut botter en konfyt broodjie te eet voordat iemand Mamma! roep..
Of om die broodjie te eet sonder dat iemand met sulke begerende oë daarna kyk dat ek dit aan hulle oorhandig, of sonder dat hulle ook vir een vra.
Of om ñ koppie koffie te drink sonder dat iemand sirkelpap soek, of ook koffie..
En dis nie dat ek hulle nie voer nie..hulle is soos ruspes..
Ek is HONGER!

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

BITTER

Elke dag was ek bitter

Bitter van die gal wat jy braak

In my land, in my veld

Het my blomme verwelk

Die grond te suur

Die kompos van jou liefde te duur

Elke dag was jy ‘n wolk

Het die skadu van jou donker

Voor my son en voor my maan

Die lig laat weggaan

My wêreld koud van jou ys

Jou stilte ‘n té groot prys

Nou het ek jou laat gaan

Het jy net stilweg verdamp

Uit my landskap uit my veld

Die stryd nou oor toegang en geld

My blomme probeer

In flou sonskyn floreer

Die kaal takke van jou boom

Vernietig die droom

Elke akker omgespit

Skerp dorings uitgepluk

Die son wat weer skyn

Laat die koue verdwyn

Nuwe seisoen gebore

Met die belofte van reën

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die Dans

image
Sy het gedans
Arms omhoog
Sy het gedans
Met blinde geloof
Sy het gedans
Om haarself te vind
Sy het gedans
Met niks wat haar bind
Sy het gedans
Met haar oë gesluit
Sy het gedans
En vergeet van tyd
Sy het gedans
Alleen gedans
Op die ritme
Van ‘n nuwe kans

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Terg

03/06/2013

Jou vingers stap ‘n pad

oor die letsels van my hart

streel saggies oor my pyn

totdat my vrees verdwyn

die palm van jou hand

voel warm teen my lyf

stroop my van verweer

laat vergeet my van die seer

jou liefde so naby

en tog so bitter ver

sonder woorde om te sê

ontneem jy my van dit

wat my hart wil hê

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Leeg

10/06/2013
Die siende blind
ñ weggooikind
Pyn wat ruk
Vel afpluk
ñ hart wat breek
ñ tong wat smeek
ñ brein wat weet
jou liefde is wreed
Die seer te erg
Vir hierdie berg
Bloed en geen
Drie keer geseën
Brose siel
Wat ons verniel
Weg gesmyt
Op gebruik
Leeg gehuil
Leeg gegee
Leeg getap
Plat getrap

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

WIND

image

As daar wind was het ek weggevlieg daar na waar vlaktes so ver soos die horison strek. Ek sou op die gras langs jou gaan lê en my kop op jou skouer sit. Net soos in die dae toe ons mekaar nodig gehad het soos asem.

As daar wind was sou ek my vlerke sprei en jou saamvat na ‘n plek waar ons mekaar se rus was en ek en jy kon verdwyn tussen goudgeel sonneblomme.

As daar wind was sou ek jou wou abba op my rug en vir jou al die mooi langs die pad wys. Vir jou,  my Lief, sal ek al die seer en kommer wil dra en begrawe in ‘n ongemerkte graf. Ek wil vreugde en geluk om jou drapeer soos ‘n bloedrooi mantel.

As daar wind was sou ek saam met jou wou vlieg na ‘n toekoms waar daar stilte is sodat ons weer mekaar se hart sal hoor sonder onnodige woorde.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share