Sandkasteel

sandkasteel

Wat is geluk? Geluk is..dit klink nou kompleet soos daardie sê goed van die sewentigs..liefde is..😁, maar wat ís geluk?
Vir jou? Vir my? Ek is seker dit sal vir elkeen van ons verskillend wees.

Ek sit weereens op die strand. Ek is in ñ vreemde bui vandag. Eintlik al ñ rukkie. ñ Kennis se man is twee weke terug skielik dood. 44 Jaar oud. Jonk. Dit het my meer geruk as wat ek verwag het. Dit is asof ek voel dat daar te min tyd oor is.
Dit is asof ek méér wil leef as wat moontlik is. Dit laat my wroeg oor hoe ragfyn, sag, kwesbaar ons is.
My geliefdes bou ñ sandkasteel. My hart neem die prentjie voor my in. Myne.
Hiérdie is geluk.
Geluk. Is. Tevredenheid. Punt.
Dis diep binne jou. In jou donkerste chaos kan jy die oomblikke oproep en jouself daarin verloor. Jare van nou af sal ek my oë kan toemaak en hierdie oomblik kan herleef. Sal ek weer die seer stekie van liefde in my lyf voel.
Ons lewens is soos hierdie sandkasteel. Dit kan binne ń oogwink platgevee word. Watse keuses het ons? Ons kan dit los en maak of dit nooit gebeur het nie, of..ons kan hoër teen die sandduin opkruip en dit herbou. Mooier, groter, sterker.
Ons is besig met die herbou van ons sandkasteel. Daar is geen waarborg dat dit nie weer platgevee gaan word nie. Om die waarheid te sê is daar ñ waarborg dat iets dit definitief van vorm sál laat verander. Ék is nie bang vir bietjie konstruksie werk nie.

© 2014 – 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Oujaar aan die einde van die nuwe jaar

100_7169

2013 Was ‘n hartseer jaar, maar selfs in hartseer en pyn is daar altyd mooi en vreugde in oorvloed.
My grootste ontdekkings was:
Ek is deur die Here se genade en met die Here se krag sterker as wat ek in my wildste drome kon besef. Leef in die oomblik, want dit is waar jou vreugde lê..al lyk more donker is daar in die oomblik altyd iets wonderliks om jou of by jou. Waardeer dit wat jy het en koester dit. Selfs in buitengewone omstandighede kan ‘n gesin floreer, want liefde en sekuriteit begin by die wete dat God in beheer is en kinders is nooit te jonk om dit te leer nie.
Wonderwerke gebeur elke dag orals om ons. Daar het groot wonderwerke gebeur, maar ook daaglikse klein wonderwerke. Ek lewe met my oë oop en ek sien.
Vriende en Familie gee jou vlerke in swaar tye, lag saam met jou wanneer dit al is wat oorbly om te doen en raas soms wanneer dit nodig is..ek het hierdie jaar ongelooflike liefde ontvang.
Liefde moet verniet weggegee word, aan almal, want dis wat ons by Jesus leer.
Ek het ook geleer dat ek mag foute maak en mag verkeerd optree, ek is ‘n mens, maar ek weet ook dat daar nie oordeel is nie, want ek staan onder die bloed van Jesus. Hy het gekom vir gebrokenes. Dit is Vryheid!
Ek het ontdek dat ek ongelooflik mal is oor bergfiets ry..dit laat my soos ‘n kind voel.
Ek het ontdek dat ek oomblikke van absolute vreugde moet skep
Ek het geleer dat ek moet opstaan in die oggend..want selfs wanneer dit voel asof jy jou kop onder die kussing wil hou is daar ALTYD ‘n rede om op te staan
Ek het geleer dat die LEWE GELEWE moet word, met passie en dankbaarheid.
Ek is dankbaar vir soveel dingetjies, my kinders se gesondheid en lewenslus, my kinders se drukkies en soentjies in oorvloed, my huis, want dit is waar my hart is, mense wat oor my pad gestuur word, mense wat elke dag deel is van my lewe, voorregte, familie, asemhaal!
Die Here het vir my ‘n pad in die woestyn gemaak en ek stap dit in geloof en met opgewondenheid. 2014 gaan GREAT wees!

Ek kyk vandag terug na my woorde van 31 Desember 2013 en dank die Here vir my LEWE.
Elke belofte het waar geword. Hy is en was getrou.
Is die pad wat ons nou stap maanskyn en rose?
I wish.. dis wel ‘n pad van genade, want net soos die Here genadig was so het ek geleer om genade te leef.
Hy kan werklik ‘n pad in die woestyn maak.

 

© 2014 – 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Mure

Vandag was een van daardie dae.
Ek het verkeerd opgestaan. My kop dof. My oë onwillig om in die spieël te kyk.
Ek weet nie of dit hormonaal is, of net die tyd van die jaar is nie? Alles is verkeerd. Die skerpte van die lig buite, die reuk van die grond. Vanoggend selfs die geluid van reën. Dit bring verkeerde emosies na vore, verkeerde herinnerings.
Sulke oggende soos vanoggend wil ek myself oorgee aan die seer. Die seer van dit wat verkeerd gegaan het. Dit is asof my wonde stywe litteken weefsel gevorm het, stywe tendons, kontrakture. Die bom wat my vel afgestroop het het aaklige opgehewe littekens veroorsaak. Wanneer ek dit verwaarloos dan voel ek dit.
‘n Jaar later, ek het alles waarvoor ek gebid het, maar ek voel vandag asof ek gal kan braak. Hierdie seisoen waarin ons laas jaar geskei is sal altyd ‘n bitter smaak in my mond laat.

Ek haal dit uit op jou. Sê dinge wat my skaam maak. Ek vermy oogkontak en vlug selfsugtig weg van jou af. Ek weet ek is verkeerd, maar kan dit nie help nie. Ek is terug in die verlede. Ek voel weer die seer. Jy is vanoggend die vyand. Ek wil jou slaan, ek wil jou blameer, maar ek het nie die moed om eerlik te wees nie.
Nou hardloop ek weg. Werk myself nog meer op. Gee oor aan die irrasionele en kies doelbewus om die stem van rede te ignoreer. Jy maak ‘n fout. Ek verlustig my daarin, want nou het ek ‘n rede om kwaad te wees.

Nou, ‘n hele paar uur later, voel ek die gevolge van my optrede. Ek sit hier en jy is in ons kamer. Die MUUR is opgerig en ek voel ver van jou af.

En dan terwyl ek hierdie skryf gebeur daar iets.
Ons dogter praat in haar slaap. Ons stap saam na haar kamer toe. Ons oë ontmoet en ons lag saam vir haar gebrabbel. En skielik voel ek weer na aan jou. Die muur was ‘n prefab een. Maklik om om te blaas.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Geestyd

IMG_0750

Ek was vir amper ‘n jaar stil..
Na my laaste skrywe die 23ste Desember 2013 het daar soveel gebeur.
Kom ek begin by die 24ste

Ek was bang vir Kersfees. Daar was geen afwagting nie. Geen opgewondenheid nie. Dit was ‘n dag wat my met angs gevul het.
Die logistiek daaraan verbonde. Hoe laat gaan die kinders na Pappa toe? Wanneer moet ons geskenke uitdeel? Hoe gaan ek alleen dit regkry om hulle aandag af te trek en dan skelm die geskenke onder die boom laat verskyn? Wat maak ek om te eet? Doen ek baie moeite met kos of koop ons KFC?

Hoe kry ek dit reg om nie te huil nie? Dit was immers my eerste kersfees sonder my man. Al wat ek wou doen is huil as ek daaraan dink. Ek wou ween vir my verlies aan normaal. Ek wou ween en skree en ‘n poolnoodle teen ‘n boom stukkend slaan vir die onregverdigheid van die lewe!

Wat doen my eksman vir Kersfees? Gaan hy dit alleen spandeer of saam met haar? Wat gaan hy vir haar koop? (simpel, maar ek is immers ‘n vrou!). As hy dit alleen spandeer gaan hy hartseer wees? Ek kon dit nie verduur om aan hom te dink alleen en hartseer nie, maar ek wou ook nie hê dat hy saam met haar moet wees nie.

En dan, die grootste vrees van alles, my kinders. Hoe gaan hulle voel die Kersfees? Die verantwoordelikheid het so groot gevoel, want soos alles met die egskeiding, hang hulle reaksie af van my reaksie. Hulle hou my dop. Lees goed in my gedrag en gesigsuitdrukking.

So ek was bang vir Kersfees.

Ek het baie scenarios oorweeg. Prentjies en moontlike uitkomste in my kop laat draai. Ek het besluit om Kersfees oor ander mense te maak. My gedagtes weg te dwing van my swak en ellendige omstandighede na ander mense se ellendige omstandighede.
Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om Oukersdag na ons Kerk se ‘Miracles in the Park’ te gaan.
Dis ‘n pragtige projek waarvoor daar maande lank kos, klere en speelgoed ingesamel word.
Op die dag bedien hulle amper 2000 mense met kos vir ‘n week, klere vir die gesin en speelgoed vir die kinders.
Ek wou beleef dat ek baie rede het vir dankbaarheid. Ek wou my kinders hierby betrek en het hulle saam gevat.

Ek was skaars daar toe my foon lui. Dit was my eksman. Ek het onmiddelik aan sy stem gehoor dat hy kwaad is vir my. Ek het dadelik vir hom gesê dat hierdie dag, hierdie oomblik, moeilik genoeg is vir my en dat ek nie met hom wil praat nie. Hy het egter aangehou. Hy het my aangespreek omdat ek ‘n bybelvers op sy facebook blad gepost het. Dit het Flossie glo ontstel en dit bemoeilik sy verhouding met haar, want dit laat haar onseker voel.
WAT!!!!!!???
Selfs ‘n jaar later laat die herinnering my nekhare orent kom.
Ek het dit verloor. By die kerk se geleentheid, omring met my gemeentelede.
Ek het ‘n paar meter weggestap en op hom begin gil.
‘Hoor jy jouself?’ ‘n oktaaf hoër ‘Hoor jy die Flerrie?’ (ek is seker ek het ‘n minder vleiende woord gebruik)
ek het herhaaldelik vir hom geskree ‘JY IS BLIND!’
‘BLIND!!!!!’ Hy was vol berou en het oor die foon begin bid ‘Here help my om te sien’
Ek het die foon doodgedruk en bewend myself probeer kalmeer.
Ek het dit vir presies twee sekondes reggekry.
Ek het ‘n boodskap aan hom en Flossie gestuur. Venynig en vol haat.
Ek wou hulle seermaak.

Het dit my beter laat voel? Nee..
Ek het soos ‘n robot pakkies begin aangee vir die strome mense. Soos die dag aangaan het die woede my verlaat en het hartseer het van my besit geneem. Ek het dolleeg gevoel.
Die dankbaarheid van die mense om my en die armoede en swaarkry het my skuldig laat besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees. Die Here het ‘n pleister op my seerkry geplak en ek het dit reggekry om nie inmekaar te sak en in die bondel te bly lê nie. Ek het my kop weereens opgelig en ‘n tree vorentoe gegee.
Die aand het ek opgewonde saam met die kinders na tekens van Kersvader begin soek. Ons het geskenke oopgemaak, oorskiet pizza van die middag geëet en ek het popwaentjies aanmekaar probeer sit en rekenaarspeletjies probeer installeer. Daar was ‘n leemte en ek het myself toegelaat om my kussing nat te huil.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Oukersdag…facebook…en Marionette

Ps 37:3-6 ‘Trust, lean on and be confident in the Lord and do good; so shall you dwell in the land and feed surely on his faithfulness, and TRULY you shall be fed. Delight yourself also in the lord, and He will give you the secret petitions of your heart..’

Nou ja..die versie het aan my moeilikheid besorg. Wie sou dit kon dink?
Dit het my laat dink aan hoe oppervlakkig sommige mense na die lewe kyk. Hoe geestelik arm mense is en hoe naïef en kinderagtig hulle is. Ek broei bietjie in die seer en die onregverdigheid van die lewe. Dit was gister my eerste Kersdag as ‘n geskeide vrou. Ek het myself voorberei om die Oukersdag en Kersdag met iets positiefs te vul. Ek het ‘n plek bereik waar ek dit selfs kon regkry om weer in liefde na my eksman te kyk en ek het selfs probeer om uit sy Pappa hart na die aankomende Kersfees te kyk. Ek het ‘n prentjie gehad van hom alleen en hartseer. Geskenke gekoop, tyd spandeer om te dink wat hy spesiaal sou vind. Ek het hom genooi om deel te wees van oukersaand omdat ek hom jammer gekry het. En wat was toe die secret petitions van sy hart…wel nie die bybel wat ek gekoop het nie (wat hy in elk geval nie sal kan gebruik nie, want ek het daarin ook ‘n bybelvers geskryf en sy sal aapstuipe kry), nie vrede nie, nie liefde nie..net dit wat die laaste drie jaar sy begeerte was.

EK het ‘n oproep gekry oukersdag waarin hy my uitgetrap het omdat ek ‘n bybelvers op sy Facebook bladsy gepost het en fotos van ons kinders gelike het. ‘n Oproep oor so iets kleinliks op ‘n dag wat al klaar bitter moeilik vir my was. En dit nadat ek hom gevra het om nie vandag iets vir my te sê wat my ongelukkig sal maak nie.’n Oproep wat vreugde by my kinders gesteel het, want ek moes opgewondenheid fake die heel dag en hulle voel dit aan.

‘n Redelike skynheilige oproep, want ons het die vorige middag lank daaroor gepraat. Redelik emosioneel en vreugdevol. Ook honderde boodskappe en ‘n paar uurlange oproepe gehad die afgelope twee weke.

My grootste hartsbegeerte was dat hy die Here vind en ek het saam met hom gejuig oor dit. Op ‘n geestelike vlak het ons geconnect vir die eerste keer vandat ek hom ken. Wel, dit het nie lank gehou nie, want na ‘n gesprek met die object van sy desire het hy my beskuldig dat ek dinge vir hom moeilik maak met my ondersteuning en omgee. Dat hy haar verskriklik seer gemaak het en dat sy vertroue issues het oor MY. Bla bla bla! Die situasie is so bizarre dat dit eintlik ‘n lekker lag kan inspireer. Dit laat my dink aan wat sy dink die secret petitions van my hart is. Om hom terug te kry? Dalk dink sy ek het een of ander verskuilde boodskap na die wereld toe uitgestuur.. Nee wat jonge dame..dit is beslis nie dit nie. Liefde gaan nie dood in ‘n dag nie. 19 Jaar van jou lewe is ‘n baie lang tyd. Liefde het verskillende fasette en kleure. Ja, die ideaal sou gewees het dat ons as gesin bymekaar moet wees, maar die realiteit is dat ek en die kinders die prys van hulle ongoddelike, ongeoorloofde liefde was. Verraad het op so baie vlakke plaasgevind. Bekering is ‘n fantastiese belewenis, maar dit verander nie die effek van jou sonde nie. Dit verander nie die feit dat jy hoor hoe jou kind, vir haar nefie wat vir haar vra waar haar Pappa is, moet verduidelik dat Pappa nou in ‘n ander huis bly nie. Dit maak nie jou hart heel nie. Dit is nie ‘n miracle cure vir jou kinders se pyn nie.

Wat is die secret petitions van my hart? Dis reeds vervul. Ek sal nou maar net in stilte daaroor moet juig. Ek wonder net hoe die derde persoon dink ons vir die volgende dekades wat ons saam ouers is vir ons dogters reëlings moet tref. Soms deel jy jou kinders se vrese en hartseer met mekaar en ook hulle vreugdes en oorwinnings. Soms wil jy dit net met hulle Pa deel, want hy is die een wat verstaan. Haar jaloesie maak my bekommerd oor hoe sy na my kinders gaan kyk. Hulle sal tien teen een altyd as ‘n bedreiging gesien word. Sy gaan tien teen een ook drie wil hê net om op dieselfde vlak ‘n houvas op die arme man te hê…nou dit is ‘n prentjie wat my wil laat skaterlag! Hier kom ‘n laaaang Kombi.

Ek het gekies om bietjie in hierdie donker plek te dwell…dit klink soos selfsug, maar eintlik is dit ‘n goeie oorlewings meganisme. Die vreemde ding is dat ek eintlik nie soveel pyn en ellende ervaar het die laaste tyd nie, maar verbittering het na daardie oproep ingeskop en ek het kies om net so bietjie daar te bly. Ek was bietjie aspris en bitsig. En ek het dit so geniet.

Selfs dit gaan verby. Ek is in ‘n baie opwindende fase van my helingsproses. Ek huiwer effens op die drumpel van opgewondenheid, want ek weet dat daar ‘n toekoms vol opwinding, passie en liefde vir my wag. Nie net liefde wat ek in oorvloed al klaar ontvang by soveel wonderlike mense nie, maar liefde gee. En dit maak my vel kriewelrig van opwinding. En nie passie wat jou na jou asem laat hyg nie, maar ‘n passie vir die lewe.

Pyn, bitterheid, woede, depressie, angs, selfbejammering is alles normale reaksies op egskeiding. Ek voel nie skuldig oor een fase waardeur ek gaan nie, want dit is nodig. Ek lag baie oor prentjies wat ek in my kop kry oor die tweetjies saam. Ek kan baie humor raaksien in my situasie en dit help my om nie heeltyd te gaan na die prentjies wat ek in my kop kan sien wat pyn veroorsaak nie. Ek laat dit ook toe, want dit is nodig sodat jy die realiteit kan ervaar. Die prentjie van jou eksman wat op sy knïee in die stof rondkruip met toutjies aan sy ledemate, wat getrek word deur ‘n vrou wat hierdie speletjie wat sy besig is om te speel so geniet, is net ‘n soveel lekkerder prentjie om na toe te gaan. Hoop hy het allergex vir die stof en Dettol vir die modder. Wonder waste liedjie moet in die agtergrond speel? Ek gaan vandag gebruik om bietjie daaroor te dink.

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Dood sonder ‘n graf

image

Die dood sonder ‘n graf
Jy bou ‘n monument in jou hart
‘n geheime plek waar jy kan kniel
‘n Veilige plek waar jy kan ween en dankie sê
‘n Plek waar jy ‘n blom kan neersit
Herinnerings kan herleef
Waar jy in die lig kan bid
Vir ‘n lewe wat verby is
En lewe wat begin
Dooie bene wat lewend word
In jou hart en in jou gees
‘n beeld van ‘n nuwe mens,
want dit het die Here geweet
was jou grootste wens

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Nuut

03/08/2013
NUUT
image

Na elke nag ñ nuwe dag…
Iewers tussen die nag en die dag onderskep God jou drome
Iewers tussen die donker en lig word daar ñ belofte gebore van ñ nuwe begin
Elke begin het ñ einde
Of dit nou dood is of skei
Elke einde het ñ begin
Na die dood weer lewe
Na die dood van ñ huwelik baie keer die geboorte van ñ núwe self
ñ Herontdekking van vreugde en geluk
ñ Besef van hoe jou passie gedemp was, hoe dood jy in die binnekant was
Hoe afgetakel jou gees was, hoe jy jouself verloor het in jou desperaatheid om iemand anders gelukkig te hou
Dít is meer tragies as skei
Die dood is finaal…egskeiding ook
Jy kan nooit weer teruggaan na dit wat was nie, maar daar is àltyd hoop vir ñ nuwe begin

Passenger: Live until you die

And then I stumble down to the stomach of the town
Where the widow takes memories to slowly drown
With her hand to the sky and a mist in her eyes she said:
Don’t you cry for the lost, but smile for the living
Because life’s for the living so live it..or you’re better off dead

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Winter

Winter in die Vrystaat is koud en bar. Tog vind ek bekoring in die rustigheid, die natuur se stilstaan. Ek ry elke oggend werk toe in my ou skedonk en vrek letterlik van die koue. Termostaat is al jare terug gebreek en elke winter dreig ek om dit reg te maak en kom nooit daarby uit nie.

Tog herinner dit my ook om dankbaar te wees. Ek trotseer die koue vir ñ halfuur elke oggend, daar is mense wat elke nag in die buitelug slaap. Op kartonne, koerante, onder dun komberse. Daar is geen bekoring in die winter vir hulle nie, net ñ stryd om oorlewing en bestaan. Hulle bekoring vind hulle in bottels drank wat die koue tydelik verdryf en dan uiteindelik vir hulle die rus en slaap bring waarna hulle smag. Dêmmit, as ek in die winter buite moes slaap sou ek myself permanent in vergetelheid in gedrink het. Hulle staan saam om dromme vuur, ruil stories uit oor hoe hulle dag van bedel gegaan het. Watse upstêrs mense hulle teegekom het, watse vuil kyke hulle gekry het, wat hulle gescore het.

Ek lees nou die dag iets wat nie nuut is vir my nie, maar dit het my weer bietjie laat dink oor die lewe. ‘Practice random acts of kindness and senseless acts of beauty’. Dit vat nie veel om iemand se hart bly te maak nie. Die mooi ding van onselfsugtig lewe is dat vreugde jou soos ñ soet geur agtervolg. Daar is altyd iemand wie se storie meer tragies is as jou eie. Mág ék dit raaksien.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share