Glo jy aan nuwe lewe?

glo-jy-in-nuwe-lewe

 

 

 

 

 

Ek sit onder ñ  boom wat besig is om te bot.  Van naby af kan jy dit nie eens sien nie.  Onder is die stam swart van twee jaar terug se byna vernietigende brand. As jy ñ paar tree terug staan sien jy die heldergroen nuwe blaartjies  aan die bopunt van die boom.

Soms moet ons ‘n paar tree terugstaan om werklik te sien.  Het julle al agtergekom hoe die dood ons altyd laat dink aan lewe? Ons sê dan met hartseer en spyt ‘Die lewe is so kort..dit kan in ‘n oogwink weggeneem word.’  en dan wend ons weer ‘n poging aan om die lewe te koester en te benut. Dis eintlik absurd, want hoekom laat dit ons dink aan lewe as ons klaar lewe?

Dis nie net die dood wat ons met spyt vul nie, dis ons huwelike ook.  Ons kom baie keer eers agter hoeveel ‘n persoon werklik vir ons beteken wanneer ons hulle verloor het.

Ons verloor nie iemand oornag nie.  Liefde sypel soos water  in ‘n dun straaltjie by ‘n gekraakte damwal uit en die watervlak daal stadig maar seker.  Daar is partykeer ‘n welkome donderbui wat die vlak laat styg, maar dit keer nie dat die watervlak weer begin daal nie. Dit lek uit, bietjie vir bietjie.  Ons kom baie keer eers agter dat die damwal stukkend is as die krane leeg is.  Dan kan ons verbysterd nie glo dit het met ons gebeur nie.  Dan wil ons vrek van die dors.

Op hierdie punt blameer ons baie keer die ander persoon wat ook verantwoordelik was om die wal te onderhou, want dit kan mos nie ons skuld wees nie.  Kan dit?

Die gevaar is dat wanneer ons op hierdie punt is, ons so bang raak dat ons werklik sal sterf van die dors, dat ons bereid is om enige water te drink om die dors te les.  Selfs die vuil  toiletwater uit ons eie of iemand vreemds se toilet.

Ons vreet op wat die een wat ons seermaak vir ons aanbied of ons gaan soek dit op ‘n ander plek.  Ons word bereid om besoedelde, stink water te drink.  Ons gaan soek dalk momentele geluk in iemand anders se bed of arms.  Dit voel goed om waardeer te word, aangeraak te word.  Dis opwindend en dit les die dors in ‘n oogwink.  Partykeer laat ons bloot net toe dat die een wat ons liefhet ons behandel asof ons niks werd is nie, want toiletwater is beter as dors wees.

Hier is die aaklige waarheid… een glas toiletwater is nie genoeg om die dors vir ewig te stil nie. Die aanhoudende gesuip van stink toiletwater het die potensiaal om jou so siek te maak dat jy vir jouself en vir ander sterf.  Dit kan ‘n selfhaat veroorsaak wat jou verteer en jou laat glo dat jy dit nie verdien om liefgehê te word nie.

Dit is ‘n leuen!

Ek wil dit skree, want ek was daar en ek sien dit elke dag gebeur.   Ek weet wat die prys is van té lui of té arrogant wees.  Geen huwelik is veilig as dit nie deur albei partye gekoester word en opgepas word nie.  Baie min huwelike verbrokkel as gevolg van die dade van een persoon. Baie mense sê hulle sal dit nooit kan vergewe as hulle mans of vrouens hulle verneuk nie.  Hoekom is ‘n affair die grootste sonde in ‘n huwelik?  Verwaarlosing is net so ‘n groot sonde.   Ons moet ophou om ons maats op subtiele wyses af te kraak.  Dit laat liefde sterf.  Ons begin dink ons is ons maats se eienaars.  Dat ons kan sê en doen net wat ons wil en dat ons kan wegkom daarmee. Ons raak jaloers op ons maats se suksesse en herinner hulle gedurig aan hulle mislukkings.  Ons vergeet dat die Here vir ons sê die liefde hou nie boek van die kwaad nie.

Ons maak nie meer van ons maats ‘n prioriteit nie en behandel hulle asof ons hulle ‘n guns doen om by hulle te wees.  Ons hou op om tyd te maak vir ons maats.  Ons maak van ander dinge afgode, ons kinders, sport, werk, geld, skoene.  Ons kan honderde verskonings uitdink vir hoekom ons nie meer werk aan ons verhoudings nie.  Hy verstaan my nie, sy sien my nie meer raak nie, hy is vervelig, sy is vet, hy is nie meer die man met wie ek getrou het nie, sy sien net die kinders raak.

Het jy dit al vir hom gesê of is jy te trots? Het jy haar al gehoor of is jy te arrogant?  Het julle al werklik iets daaraan gedoen of is julle te lui? Ek praat nie van woorde nie.  Ek praat van dade.  Liefde is dade.  Woorde word ‘n gewoonte en beteken niks as dit nie daadwerklik bewys word nie. Is jy bereid om jou ou self af te sterf  om jou huwelik te red of heeltemal van voor af te begin?  Is julle altwee bereid om alles in die stryd te werp, want 50% ís nie genoeg nie. Is jy bereid om na jou maat toe te draai en vir hom/ haar te sê ‘Al lyk hierdie soos een massiewe boggerop en al voel dit asof en nooit weer met ‘n tang aan jou sal wil raak nie, is ons dit aan mekaar en aan ons gesin verskuldig om alles in die stryd te werp om dit te probeer uitwerk?’ Wanneer gaan mense besef dat liefde meer is as ‘n gevoel!  Dis ‘n verdomde keuse wat jy dag na dag maak te midde van PMS, bankrotskap, impotensie, middeljare krisisse, kanker, rekmerke, selluliet, moeilike kinders, droogte en woede.  Een persoon kan probeer totdat hulle blou in die gesig is, maar as dit nie altwee se hartsbegeerte is om die verhouding te red nie stel jy net die onvermydelike uit.  Jy kan nie iemand gevange hou met skuldgevoelens en manipulasie nie.

Daardie gebarste damwal kán deur fyn beplanning en harde werk sterker word as wat dit nog ooit was.  Dit vat tyd, bloedsweet en trane, maar die beloning is so bitter groot.  Dit kan selfs heeltemal oorgebou word, maar daar is ‘n voorvereiste…altwee partye moet met alles wat binne hulle is dit wíl herstel. En ja, soms moet ons opgee as ons sien dat niks wat ons doen help om die dam te herstel nie.  As ons nie ten minste probeer nie sal ons nooit weet nie.

Ons kan nie ons wêreld beheer nie en ons kan nie beheer wat ander mense aan ons doen nie, maar ons kan beheer wat ons aan ander doen.  Soms moet ons stilstaan en luister en werklik hoor.  In ander situasies moet ons ons arms om onsself slaan en onsself toelaat om elke emosie te voel en diep te beleef.  Soms moet ons na mekaar draai en mekaar weer raaksien en besef wat jy het.  En soms moet ons iemand se hand vat en styf vashou en in geloof begin bou al kan julle nie nou sien hoe dit ooit moontlik sal wees om dit reg te kry nie.

Ons moet partykeer die onvermydelike keuse maak  om om te draai en weg te stap van iets wat eens jou hele lewe was, maar wat nou al die lewe in jou binneste  doof.

Selfs dan moet jy lewe, want ñ stukkende hart laat jou nie ophou asemhaal nie.

Ons kan dit nie self regkry om iemand wat ons diep seergemaak het te vergewe nie.  Dit kom van die Here af.  Ons moet wel kies om dit te doen.  Sewentig maal sewe keer.  Soms oor en oor.  Ek is so moeg daarvoor om te hoor dat vertroue nie herstel kan word nie.  As jy dit sê ken jy werklik nie die Here se krag en mag nie.  Vertroue kán herstel word en jy kán iemand vergewe wat jou bitter seer gemaak het.  Dooie bene kán weer lewend word en in vreugde begin dans.  Dit kán.  Dit vat tyd vir die nuwe blaartjies om sigbaar te word by ‘n boom wat oënskynlik dood is.  As jy die boom summier afkap gaan jy nooit weet of die boom nog lewe nie.  Daar moet partykeer ‘n seisoen van rou en twyfel verbygaan voordat jy terugstaan en dit raaksien.

Die vraag is meer eenvoudig as wat jy dink…wil jy of wil jy nie?

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

‘n Anderste Alleen

Ek het al so baie geskryf hoe ek nie weet hoekom ek voortgaan met my verhouding met Q nie.  Hoe  ek stoei en spartel met sy verraad, die seer en die gebrek aan vertroue.

Drie naweke terug was ek by ‘n vrouekamp.  

  
Ek was al twee keer vantevore by dieselfde kamp.  In 2013 en 2014.  In 2013 was ek oortuig dat die Here my en Q se huwelik sal red.  Ek was blind vir al die gevaartekens.Ek het die Here gedien in dankbaarheid vir die wonderwerk wat gaan gebeur.  In  2014 was ek oortuig dat ons verhouding verby is.  Ek het nog net nie die moed gehad om die stap te neem wat nodig is om dit te eindig nie. Ek het die Two Oceans se Half marathon wat twee weke na die kamp was, as maatsnoer gebruik om te kyk of ek sterk genoeg is om op my eie aan te gaan.  Ek was fisies sterk, maar wou weet of ek psigies sterk genoeg was.  En ek was..

Hierdie jaar was ek daar in ‘n total ander fase van my lewe.  Ek hèt my Man gedagvaar vir ‘n egskeiding.  Ek hèt van hom geskei.  Ons was drie maande na ons egskeiding weer in ‘n verhouding.  Verlief, verlore, eufories.  ‘n Jaar later was ons weer op die bodem en was ek weereens ontnugter en so bitter seer.  Vir ‘n hele jaar het ek gewroeg met my besluit om hom weer ‘n kans te gee.  ‘n  Hele jaar was ek halfpad verbind tot hom en halfpad los van hom.  Ek het hom getart en uitgelok om te sien hoe ver ek hom kan dryf totdat hy nie meer kan nie en my los. Dit het nooit gebeur nie.  Ek het my hart verhard sodat ek reg is vir ingeval ek weer seerkry.  Ek wou nie voel nie.  Ek kon nie liefde gee nie en ek wou dit nie ontvang nie.  Ek het deur die motions gegaan, maar ek was leeg..

Ek het emosieloos op die kamp gevoel.  Ek kon nie met die Here of met myself connect nie.  Nie eens die berge kon my inspireer nie.  Ek kon my lewensstorie deel, maar dit was asof dit ‘n ingeoefende teaterstuk was wat ek net resiteer, opsê.  Ek het redelik hard gevoel.  Ek het geluister na die ander vrouens se verhale en dit het my geraak, maar nie met my gepraat nie.  Ek. wou.VOEL.

Ek was kwaad. Kwaad omdat ek wat so passievol is, so passieloos  voel. Ek het so ‘n muur om my hart gebou dat ek nie meer suiwer emosie kon voel nie.  Ek het in my brein geweet ek is hartseer, maar kon dit nie beleef nie. Daar was twee vrouens wat my wel geraak het.  Die een, ‘n vriendin  wat ook deur ‘n egskeiding gaan.  Sy het my verlede gesimboliseer.  Die hartseer, kwaad, vernedering waardeur sy gaan het my terug gevat na 2013.  Die lig in haar wat al hoe helderder geskyn het soos die naweek aangaan het my herinner aan die vuur binne my op my eerste kamp.  Die Here het haar aangeraak en met Sy vrede en hoop gevul. Ek het dieselfde ervaring in 2013 gehad.

Die tweede was ‘n vrou wat al deur baie in haar lewe is.  Aan die begin kon ek nie agterkom of sy werklik alles verwerk het in haar lewe nie, en of dit net ‘n masker is waaragter sy skuil nie.  Haar man het haar verneuk, twee keer, maar sy hanteer dit nou asof dit net ‘n klein gebeurtenis was.  Ek kon aflei dat dit toe dit gebeur het, nie so klein gebeurtenis was nie, maar nou is dit in die verlede.  Net een van die vele dinge wat deel uitmaak van die legkaart van haar lewe.

Dit het my laat dink.  Ek wil nie weer wees waar die eerste vrou is nie.  Ek sien nie kans vir nog ‘n einde nie.  Ek wil nie weer daardie pyn oor my en my kinders bring nie.  Ek wil leef, voel, ervaar en waag in my verhouding met Quentin..

Ek weet nie of ek ooit sal wees waar die tweede vrou is nie.  Ek ervaar nog te veel woede teenoor die Flossies. Sy het my wel gewys dat tyd kan genees.  Dat aanvaarding, vergifnis en ware vreugde in ons verhouding wel weer moontlik is.

Hierdie waarnemings het my nogsteeds nie gehelp om te voel nie.  Dit het my wel laat dink.  Terug by die huis moes ons gereed maak vir ‘n ‘couples retreat’ vir die volgende naweek .  Ek het amper kop uitgetrek, maar Quentin het my gesmeek om dit saam met hom te doen.

Ons huiswerk voor die kamp was om terug te gaan in tyd en te dink aan dinge wat ons saam gedoen het voor ons troue.  Dit het my ‘n tydjie gevat, maar toe ons eers  begin praat was dit maklik om te onthou hoekom ons verlief was en hoe verskriklik verlief ons was. Herinnerings aan  kerse, wierook en Cranberries.  Herinnerings aan pieknieks in die botaniese tuine en yoghurt body paint.  Herinnerings aan toegewasemde bakkie vensters op Naval hill.  Ure se gesels, musiek luister.  Ons het die wêreld totaal en al  afgesny vir drie jaar.  Ons beste herinnerings was in die Drakensberge en nou was ons weer oppad daarheen.

Ons moes dink aan ons troudag.  Dit het my hartseer gemaak, want ons was so jonk en onskuldig en verlief en verlore.  Ons het nooit gedink dat ons ooit sou skei nie.  Ons het nooit eens baklei nie.  Ons wou trou vandat on 19 jaar oud was.  En toe het ons in ‘n grys hof geskei…

Hoeveel tyd spandeer mens ooit om terug te dink, saam terug te dink, aan die tyd toe ons op ons verliefste was? Van die tyd voor die lewe met ons gebeur het?  Voor werk stres, kinders, finansies?  Dit het my hart klaar ‘n bietjie oopgebreek sodat daar ‘n klein straaltjie lig kan deur skyn.

Ons moes collages maak van ons ‘ONS’ oomblikke.  Myne was somber, Quentin s’n was vol blommetjies en helder kleure.  My ‘ONS’ oomblikke en syne het obviously verskil.

Op die kamp moes ons praat oor voorgeskrewe onderwerpe en ‘n kursus handleiding volg.  Dit het rustig begin, maar ons gesprek het uitgerafel die eerste middag en ons het oor dinge gepraat waaroor ons nie moes nie.  Dit het emosies oopgekrap by my.  Ek het gevoel asof ek ‘n klip in my bors het. Ek kon net seer en hopeloos voel op daardie oomblik.  Die aand moes ons deel en ek kon nie ‘n woord praat nie.  Trane het wel gestroom.  Ek het geen beheer gehad nie.  Ek het skaam gevoel om soveel emosie te wys, maar tog verlig.  EK HET GEVOEL! Ek het Quentin seergemaak die middag met my harde woorde en hy het net in die verte gestaar.

Die aand moes hy vir my ‘n liefdeslied speel.  Hy het my voete onder my uitgeslaan met sy lied.  

You’ll be in my heart

Wat my nog meer geraak het was dat hy gehuil het terwyl ons saam na die lied luister. Ek het ook gehuil. Ons het mekaar vasgehou.  Dit was asof ek oopgebreek en uitgedop was.  My voel het terug gekom.  Die eerste keer in ‘n jaar was ons rou eerlik met mekaar.  Broos en weerloos.

Ek het soveel teerheid vir hom gevoel.  Ek het weer soos sy maat gevoel.  Ek het vir die eerste keer in ‘n jaar op gelyk op ñ emosionele vlak met hom gevoel.  Die res van die van naweek het my verder oopgebreek.  Dit het ‘n vlam in my aan die brand gesteek. Ek het anders na myself begin kyk.  Ek het hom anders begin sien. Ons moes beloftes aan mekaar maak op die laaste dag van die naweek.  Dit was skielik vir my maklik.  Ek kon aan hom belowe dat ek hom altyd sal kies.  oor en oor.  Elke dag vir die res van ons lewens. Sy beloftes het in my hart gaan sit.  Ek haal dit nou kort kort uit en kyk daarna.  Ek luister sy liefdeslied en dit vat my terug na daardie oomblik.. Ek voel weer verlief.  Ek VOEL lief.  Ek voel lewendig.

  
Die week na die kamp was ongelooflik.  Ons het as ‘n span begin funksioneer.  Ek en Quentin teen die res van die wêreld.  Dit was so eg en opreg.  Dit was glashelder vir my.  Ons twee kan en gaan uitwerk.

Ek het hierdie week my drie dogters op ‘n road trip gevat.  Dis een ding wat alleen wees my geleer het.  Ek kan dinge alleen doen. Dit was ‘n reuse avontuur.  Die oomblikke saam met my dogters is kosbaar.  Dinge wat hulle sal onthou  en dalk eendag die moed sal gee om hulle kinders op ‘n trippie te vat.   Dis herinnerings wat ‘n leeftyd sal hou.

Waar ek ‘n maand terug verligting sou ervaar om bietjie weg te breek is ek nou vreugdevol alleen.  Ek mis my Lief, ek mis sy teenwoordigheid en sy gesels.  Ek mis sy rustigheid.  Die verlange is anders, want daar is ‘n vooruitsig op ‘n weersiens.  Soos ek skryf is daardie weersiens more, na vyf dae sonder hom.

En gaan dit ‘n blye weersiens wees!  Ek moes al baie dinge sonder hom doen.  Nie omdat ek wou nie, maar omdat hy nie daar was nie.  Hierdie alleen is anders.  Twee en ‘n half jaar terug het ek ook ons dogters alleen op vakansie gevat  en ek het my aande omgesmag na Quentin.  Ek was toe alleen omdat alleen al opsie was.  Hierdie keer het die alleen my goed gedoen, want ek het Quentin gemis. Opreg en met afwagting.

Ek voel weer, ek beleef weer. En daarvoor is ek dankbaar.

 

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share