My sonneblomkind met die ADHD

Daar groei ‘n blom in ons huis. Sy is klein, tingerig en lyk op die oog af broos. Sy is so mooi dat ek partykeer in verwondering na haar staar. Baie mense sal haar verwar met ‘n geel madeliefie, maar ons wat haar ken weet sy is ‘n jong sonneblom.


Facebook
Twiaar groei ‘n blom in ons huis. Sy is klein, tingerig en lyk op die oog af broos. Sy is so mooi dat ek partykeer in verwondering na haar staar. Baie mense sal haar verwar met ‘n geel madeliefie, maar ons wat haar ken weet sy is ‘n jong sonneblom.

Woorde is haar son en ons aanraking haar water. Ons liefde is haar grond.

‘n Klein blougrys pilletjie is die stutpaal wat haar tenger stingel beskerm teen onweer en wind. Ons sonneblom het ADHD.

In perfekte weersomstandighede bly haar kop na die son gedraai, maar soos die lewe gaan, bly die weer nie perfek nie. Sonder Concerta knak haar stingeltjie maklik as die wind waai.

Wanneer jy openlik praat oor ADHD is daar baie opinies en raad. Meeste mense minimaliseer dit en maak dit af as net bésig en verstrooid, swak dissipline of gebrek aan roetine. Hulle laat jou as ‘n ouer onbewustelik bietjie soos ‘n mislukking voel… Wanneer jy die woord medikasie noem, dan is baie vinnig om met geligte wenkbroue te vertel van die newe-effekte en raad te gee oor alternatiewe terapieë en aanvullings.

Bitter min mense verstaan werklik wat ADHD is en watse effek dit op jou kind en jou huisgesin het. Hulle weet nie dat hierdie klein pilletjie my kind se wêreld verander het nie, want sien… ‘n kind met ADHD se lewe is nie so eenvoudig nie.

Hulle weet nie hoe dit voel as mense die heeltyd aanmerkings maak oor hoe lewendig en besig jy is nie. Meeste mense vergeet dat jy nie doof is nie en dat jy hulle kommentaar kan hoor. Hulle plak daardie etiket regoor jou voorkop vir almal om te sien.

Hulle weet nie hoe dit voel as jy per ongeluk by die skool ‘n maatjie deur die gesig slaan omdat jy met jou arms uitgestrek in die rondte tol omdat jou sensoriese sisteem oorlaai is nie. Hulle weet nie hoe bang jy raak vir die gevolge van sulke gebeurtenisse nie en dat geen woorde, drukkies en gerusstelling die vrees wegvat nie.

Hulle weet nie hoe magteloos jy voel as jou kind in ‘n impulsiewe woede oomblik ‘n skêr vat en die helfte van haar pragtige hare afsny nie. Hulle weet nie hoe dit voel as jou agtjarige dogtertjie met haar blonde hare in haar hande voor jou staan en huilend vir jou sê, ‘Hoekom doen ek dit Mamma? Hoekom het ek nie gedink nie?’

Hulle weet nie hoe breek jou hart as jou kind vir jou sê ‘Ek wens ek kan doodgaan Mamma. Almal raas net altyd met my.’

Hulle weet nie hoe dit voel as jou kind op ‘n rondomtalie by ‘n speelparkie is en dit so vinnig in die rondte draai dat al die ander kinders haar smeek om op te hou en sy lag en lag nie… want vir haar is daar nie perke aan vinniger nie.

Impulsiwiteit maak vriendskappe moeilik, want sy speel rof en sê goed sonder om te dink aan die gevolge van haar woorde. Sy is soos kwik wat jy probeer vasvat, maar dit gly tussen jou vingers deur. Ek het al baie keer gesien hoe maatjies haar probeer bymekaar hou en dit nie regkry nie en uiteindelik omdraai en wegstap.

Hulle weet nie hoe dit voel om jou kind se wiskunde vraestel terug te kry en te sien hoe sy antwoorde agterstevoor en deurmekaar geskryf het nie, want so besig soos haar lyfie is, net so besig is haar brein.

Dan gee jy in en gee vir haar die pilletjie wat na toetse en aanvullings en terapieë voorgeskryf is, want jy is raadop en desperaat. Jy weeg twee slegte situasies teen mekaar op en kies die beste sleg.

Jy sien binne ‘n paar dae ‘n verskil. Sy bou ‘n legkaart klaar. Sy lê in die sonnetjie op die bank en lees ‘n boek. Sy sit so stil by haar ousus se klavier kunswedstryd dat ‘n goeie vriendin wat dieselfde pad met haar seun geloop het saam met my ‘n traan wegpink van dankbaarheid. Sy wieg saam met die musiek en jy moet jouself keer om nie die heeltyd na haar te staar nie.

Haar wiskunde punte verbeter met 23%. Sy kry meer positiewe terugvoer van die wêreld as negatiewe woorde en sy gedy in die son.

Jý mis haar soos sy was. Sy is getem en haar passie is gedemp. Dít is die ander sleg. In die aand wag jy vir dit, want dit kom elke aand as die medikasie uitgewerk het terug. Ons nar, ons wawielmakende, katjagende, sussietergende, warrelwind, grapjas liefste Sonneblom.

Sy doen niks op ‘n gewone manier nie. Sy bak koek met haar eie resep, want om resepte te volg is soooo boring… Sy maak vir haar sagte speelgoed rokke en mantels en kopbande met klere (wat sy nog dra!) wat sy opknip in haar impulsiewe oomblikke. Sy bou kunswerke met al die skatte wat sy opgaar. Sy gaar álles op. Haar kamer is chaoties. Haar kleredrag is uniek en flambojant.

Naweke gee jy vir haar ‘n breuk sodat sy kan eet en vrolik wees. Teen Saterdagmiddag sit jy met jou hande in jou hare, jy raas en keer en ignoreer haar tienersussie se verwytende kyke. Jy lag en gryp haar vir ‘n stywe drukkie as sy verby jou spoed.

ADHD is ‘n werklikheid in baie mense se lewens. As jy dalk ‘n kind ken wat soos myne klink, wees genadig. Sien hulle uniekheid raak. Pluk die labels af. Kyk met deernis na hulle. Hulle kan nie help nie.

© 2017 – 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

13273total visits,0visits today