Proe My

Die potte waarin ek vir my gesin kos kook is 22 jaar oud.  Die handvatsels is van die deksels afgebreek en ek het al allerhande kunsies aangeleer om nie my hande te brand as ek die deksel oplig nie.

My potte pas glad nie by my blinknuwe stoof nie. Maar ek gee nie ‘n flenter om nie.  Dis my potte en ek voel sentimenteel oor hulle.  En nee, ek steek ook nie ‘n blinknuwe stel AMC Classics êrens weg nie.

Die reënerige, koel weer laat my na my moeder verlang en ek besluit om my gunsteling kos uit my kinderjare te kook.  Boontjiebredie.  Ek hoor in my gedagtes my kinders se stemme as hulle by die huis kom en dit ruik.  Net een van die drie sal opgewonde wees daaroor, die ander twee sal verseker kerm.

Die reënerige weer tas my kop aan en skielik maak my potte die filosoof in my wakker.  

Ek is ook maar ‘n gekrokte pot.  Ek trek nie vreeslik mooi aan nie, my hare kort baie keer dringend ‘n kleur, ek hou van plakkies dra en my kar is altyd vuil.  Sommige mense sal my een kyk gee en my summier in die asblik smyt.  Vir die mense wat my liefhet sal ek altyd waarde hê al lyk ek nie op my beste nie.  Die mense wat bereid is om van die kos te eet wat in my potte gekook is sal dalk verstom wees oor hoe lekker dit proe. Dis immers nie die pot wat die kos lekker maak nie.  Dis die bestanddele en die kooktyd.  Die mense wat liries raak oor kosmaak sal dalk self sê die liefde waarmee dit gemaak is speel ‘n rol.

My kinders sal ook nie skielik van boontjiebredie hou net omdat ek dit in ‘n fancypot maak nie.  Nee…hulle sal nogsteeds hulle neuse optrek vir die inhoud. 

Net so is ons.  Dit maak nie saak hoe blink of mooi iemand is nie, as die persoon se innerlike nie lekker ‘proe’ nie, wil ons nogsteeds nie daarvan wil eet nie.

Ek klink nou vir myself soos ‘n kannibaal. 

Ek probeer op my onsamehangende manier sê ons moet soms van die kos eet wat uit die gekrokte potte kom voordat ons besluit dis nie goed genoeg nie.  Gee alle mense ‘n kans.  Blink is nie altyd lekker nie en gekrok is nie altyd sleg nie.

Vat ‘n kans en waag dit om iemand beter te leer ken voor jy oordeel.

Kapish?

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

6101total visits,3visits today