Mure

Vandag was een van daardie dae.
Ek het verkeerd opgestaan. My kop dof. My oë onwillig om in die spieël te kyk.
Ek weet nie of dit hormonaal is, of net die tyd van die jaar is nie? Alles is verkeerd. Die skerpte van die lig buite, die reuk van die grond. Vanoggend selfs die geluid van reën. Dit bring verkeerde emosies na vore, verkeerde herinnerings.
Sulke oggende soos vanoggend wil ek myself oorgee aan die seer. Die seer van dit wat verkeerd gegaan het. Dit is asof my wonde stywe litteken weefsel gevorm het, stywe tendons, kontrakture. Die bom wat my vel afgestroop het het aaklige opgehewe littekens veroorsaak. Wanneer ek dit verwaarloos dan voel ek dit.
‘n Jaar later, ek het alles waarvoor ek gebid het, maar ek voel vandag asof ek gal kan braak. Hierdie seisoen waarin ons laas jaar geskei is sal altyd ‘n bitter smaak in my mond laat.

Ek haal dit uit op jou. Sê dinge wat my skaam maak. Ek vermy oogkontak en vlug selfsugtig weg van jou af. Ek weet ek is verkeerd, maar kan dit nie help nie. Ek is terug in die verlede. Ek voel weer die seer. Jy is vanoggend die vyand. Ek wil jou slaan, ek wil jou blameer, maar ek het nie die moed om eerlik te wees nie.
Nou hardloop ek weg. Werk myself nog meer op. Gee oor aan die irrasionele en kies doelbewus om die stem van rede te ignoreer. Jy maak ‘n fout. Ek verlustig my daarin, want nou het ek ‘n rede om kwaad te wees.

Nou, ‘n hele paar uur later, voel ek die gevolge van my optrede. Ek sit hier en jy is in ons kamer. Die MUUR is opgerig en ek voel ver van jou af.

En dan terwyl ek hierdie skryf gebeur daar iets.
Ons dogter praat in haar slaap. Ons stap saam na haar kamer toe. Ons oë ontmoet en ons lag saam vir haar gebrabbel. En skielik voel ek weer na aan jou. Die muur was ‘n prefab een. Maklik om om te blaas.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

895total visits,1visits today

2 thoughts on “Mure

  1. O tyd, ek het nog nie alles gelees wat jy al gese het niemaar daardie gevoel van ontnugtering ken ek ook baie goed. Jy spreek gedeeltelik my gevoel ook uit. So, moenie alleen voel nie. Dit is baie swaar en tog kom daar wel verligting. (Het self ook sekere tyd van die jaar waar herinneringe nie wil verby gaan nie!)

  2. Dis so hectic! Ek is so bly ek het jou raagelees. Jare gelede het ek ook weggestap, almal om my het gereken ek sal daardie dag berou en gereken ek is besig om die grootste fout van my lewe te maak. Daar was al daardie soorgelyke donker dae, wanneer jy al jou woorde opweeg, al jou dade in stadige aksie oorspeel en jou keuses oor en oor skommel en herbereken. Tyd is ‘n geduldige pleister, Als wat swaar in jou hart is sal veerlig word. Al daardie skerp hoeke wat vassteek en wrede gerinneringe oproep in jou brein; sal afstomp. Tyd sal jou nou by gedagtegang by tye versmoor, maar eendag wikkel jy soos ‘n nuwe vlinder uit jou papiedop en vlie jy wyser en vryer as wat jy ooit kon droom van…