Lewe

100_6811Toe beland ek in ñ maalkolk
ñ toestand van dronk word
ñ seesiek gemors
ñ toestand van stom word

In hierdie sinnelose gedraai
Verloor ek my kop
Oorverdowende lawaai
Dwing my om te stop

Terug te draai na my
Die spieelbeeld te ontleed
Tyd te vat om my te bevry
Van dit wat my lewend opvreet

Ek het vandag ñ dag vir myself gegryp. Nie gevat nie..GEGRYP.

Wanneer die stemme in ons kop harder praat as die stiltes, moet jy besef dat jy nader aan ingee is as wat jy glo.

Die punt is ons haal asem. So wat is die punt van asemhaal as jy dit nie eens meer agterkom en waardeer nie? Ons lewens bestaan uit soveel meer as werk, die mense wat ons liefhet, geld, prestasies. Ons lewens bestaan uit ONS. Hoeveel tyd spandeer ons aan ons?
Aan die dinge wat die dam waaruit ons omgee en liefde vloei, volmaak?

Ek is ñ werkende ma van drie jong dogters. Ek is ñ vrou wat moet werk om haar verhouding te laat blom. My werk bestaan uit gee. Vriendskappe vat moeite om in stand te hou as jy werk. My kinders het my nodig. Hulle het tyd nodig, moeite nodig om hulle te laat floreer. Die alledaagse sluk my in.

My dae bestaan uit jaag. Jaag na wat?

Ek weet nie, want soos ek hier skryf kan ek amper nie eens onthou uit watse goed gister bestaan het nie. Al wat ek onthou is dat dit soos alle dae voor dit ñ gejaagde dag was.

So gisteroggend het ek besef, ek kán nie meer nie. Ek moet herlaai. Ek moet ontlaai.
Vakansie tyd is ver. Die jaar is jonk en ek voel asof ek óp geleef is.
Die lewe is kort genoeg. Ek wil die oomblikke kan onthou. Ek wil kan agterkom as daar ñ oomblik is!

Ek wil lewe. Nie net bestaan nie.

So vanoggend het ek broos gaan lê dat ñ tingerige vroutjie met die naam Thandiwe my knoppe uitvryf.
Soos haar benerige hande meedoënloos oor my rug gegly het, het daar meer as net die knope in my rugspiere losgekom. Terwyl my kop en my lyf gestoei het, het my onderbewuste gewen.
Terwyl ek stoei om te ontspan het my lyf my gered en vanself begin ontspan. Soos die geur van aromaterapie olies my omgewe het ñ vreedsame hartseer my binnegedring. My lyf wat ek ñ paar minute vroeer krities in die onsimpatieke spïeel beloer het, het begin ontspan onder die aanraking van ñ wildvreemde. Die pyn wat ek gevoel het terwyl sy fokus op een van die talle spasmas, het my laat wonder hoeveel ñ lyf kan vat? Hierdie lyf wat die skuiling is van my kinders. Wat my siel en my hart huisves, my denke en my drome. Hoeveel tyd spandeer ek om my sintuie te gebruik vir my plesier? Wanneer ek in die oggend en aand stort of bad, let ek op na die sensasie van die seep op my vel? Wanneer ek my met room smeer, voel ek hoe glad dit op my vel voel? Wanneer ek afdroog, érvaar ek die growwe koestering van my vel? Wanneer my geliefde aan my hand vat, beleef ek sy nabyheid? Wanneer sy baard teen my wang raak, word my binneste stil en beleef ek die oomblik? Wanneer my kinders op my skoot kruip, voel ek hulle gewig? Beleef ek dit as ñ las of beleef ek dit as ñ tasbare bewys van hulle bestaan?

Voel ek die kielie van die wind deur my hare? Neem ek die warmte van die sonstrale op my vel in?

Mag die Here gee dat elkeen wat hierdie lees en ek wat dit skryf elke oomblik koester as ñ bewys dat ons asemhaal. Mag ek oomblikke van bewustheid hê selfs in die maalkolk oomblikke. Mag ek elke dag tyd maak vir dit wat my met vrede en krag vul sodat ek elke oomblik van my menswees lewe. Mag ek die wonder van die skepping inneem. Mag ek opnuut na mense kyk en hulle raaksien.
Moenie wag dat iemand vir jou toestemming gee om te lewe nie. Moenie wag totdat iemand raaksien dat jy besig is om te verdrink nie. Gryp oomblikke. Steel tyd. Nee EIEN tyd vir jouself. Vir jou. Nét vir jou.
Vat dit en geniet dit.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

1007total visits,2visits today