Kies Sterker

My oudste twee kinders het nie prefekte geword nie en hulle is werklik oukei.

My oudste was op die kortlys en my middelkind nie. Nie een van die twee het ineengestort nie. Nie een van die twee was kwaad oor onregverdigheid nie. Nie een van die twee het minderwaardig daaroor gevoel nie.

Dit is dalk hulle totaal en al nie-kompeterende persoonlikhede, dit is dalk omdat hulle al albei met baie teleurstelling moes deal in hulle lewe of dit is dalk omdat ek hulle nie beskerm teen teleurstelling en ontnugtering nie en geen verwagting by hulle geskep het dat hulle prefek wees verdien nie.

Met my middelkind het my man wel gesê as awesomeness die enigste kriteria was was sy president van die land.

Sy is so awesome dat sy werklik hartseer was vir haar maats wat graag wou word en dit nie gemaak het nie. Sy was nie vir een liewe oomblik hartseer vir haarself nie. Sy wou bly tot die einde van die prysuitdeling om te sien wie die hoofleiers is en sy was ekstaties oor die keuses.

Nou dít maak my trots.

My kinders is pragtige, goedhartige, goed gemanierde kinders. Daar is niks fout met hulle nie. Ek dink ons as ouers moet daarteen waak om ons ongelukkigheid met ‘n situasie op ons kinders te projekteer. Kinders kom baie gouer oor ‘n situasie as wat ons daaroor kom. Ons sit ons in ons kinders se skoene en voel die pyn wat ons dink hulle moet voel. Sommige kinders ervaar werklik pyn en hartseer in sulke situasies, maar moet ons nie dan omdraai en hulle herinner aan wat werklik saakmaak in die lewe sonder om lelik te praat van die skool en die onregverdigheid van die skool sisteem nie?

Elke mislukking in die lewe is tog ñ geleentheid om te leer. Ons kinders se generasie is al klaar entitled genoeg, ons durf dit nie versterk nie.

Ek lees ‘n artikel op Facebook `Reg of weg met prefekte in laerskool’ (https://find-it.co.za/2019/10/31/reg-of-weg-met-prefekte-in-laerskool/) en ek raak bekommerd vir die skrywer se kinders se part. Teleurstelling en onregverdigheid is deel van die lewe. Nie almal kan wenners wees op skool nie en nie almal kan base wees by die werk nie.

Van die kinders wat die jaar by ons skool prefek geword het staan kop en skouers uit bo hulle klasmaats. Hierdie jaar se hoofmeisie toon al uitstekende leierseienskappe vandat sy twee jaar oud is. Ek ken nie almal nie, maar net soos ons as ouers voel ons kinders verdien dit meer as ander, sou hulle ouers mos dieselfde gevoel het as ons kinders prefek geword het en hulle kinders nie. Daar word immers net veertien meisies en veertien seuns gekies uit ‘n groep van ‘n honderd plus.

Die skrywer sê,

‘Ek weet mens moet leer hoe om teleurstellings te verwerk, maar hoe verduidelik jy vir jou kind met trane in sy oë dat die Here nie sy gebed verhoor het nie?’

My agt-jarige dogtertjie het een Maandag bitterlik gehuil oor ‘n tennis wedstryd wat sy verloor het. Deur haar trane het sy gesê ‘Ek het gebid dat Jesus my help om te wen en hy het my nie eens gehoor nie. Hy hoor my nie!’

My antwoord aan haar was dat Jesus dalk geweet het sy het nodig om te leer hoe om ‘n beter verloorder te wees..

Ai, ons kindertjies. Ons liefde vir hulle maak ons broos en dit plaas werklik ons hart buite ons lyf. Ons het so klein tydjie om hulle op die grootmens lewe voor te berei. Ons het drome en ideale vir en saam met hulle, maar ons kan nie dit vir hulle laat waar word nie. En ja, ek weet wat in jou gedagters aangaan..daar ís mammas wat hulle bes probeer om hulle kinders se paaie met goud te pave. Ek ken hulle ook en dit lyk soos flippen harde werk.

Daar lê wel mag in ons hande.. ons kan ons kinders leer dat hulle kan kies of teleurtelling hulle sterker of swakker maak. Ons moet daardie voorbeeld vir hulle stel. Selfs wanneer ons binneste wil ontplof en ons self ten hemele wil skree oor die onregverdigheid van die lewe en die wêreld.

Vat dit van my, die prefek teleurstelling raak onbenullig klein vir ons kinders hoe ouer hulle word. Daar lê nog vrek baie teleurstellings voor en regtig, niemand worry eendag of jy ‘n prefek was of nie. En as jý dalk embarrassed daaroor voel vir een of ander rede..lieg. Dis nie asof daar al internet was toe ons jonk was nie.

Daar is geen bewyse nie.

(As my kinders dalk hierdie blog lees, nee…jý mag nie lieg nie)

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

0total visits,320visits today