Donker

image
Ek lees vir jou Ingrid Jonker op die strand.

Jy vra vir my hoekom klink sy so donker?
Ek kyk verbaas na jou, onverhoeds betrap deur jou insig, en staar vir ñ oomblik oor die see.

Voor ek die regte woorde het praat jy weer.

Hoe oud is sy nou?
Ek kyk na jou en sê sy is al 50 jaar gelede dood.
Sy was jonk toe sy sterf, net een en dertig.
Jy vra my of sy siek was en ek wonder vir ñ oomblik hoe om vir jou te verduidelik hoe Ingrid Jonker gesterf het.

Jy kyk afwagtend na my. Ek sê vir jou sy wou nie meer lewe nie. Sy het selfmoord gepleeg deur op ñ donker aand die koue see in te stap en haarself te verdrink.

Jy vra nie verder uit nie. Sê net sjoe, dis erg…

Ons sit skouer aan skouer en kyk na die golwe. Ek weet jy probeer verstaan hoe iemand so iets kan doen.

Jy is dertien jaar oud, jonk en onskuldig.

Ek sit my arm om jou en sê dat dit soms voel asof die lewe té moeilik is. Soms lewe mens te veel in jou kop.
Party mense kan probleme makliker hanteer, ander kan nie.
Die geheim is om te praat oor dit wat in jou kop is.. Nie net in private rym of dagboeke nie. Rerig te praat met iemand wat luister en omgee.
Hulp te soek en te vra.  Daar is altyd ñ ander uitweg.

Jy lê jou kop op my skouer. Ons sit en kyk weer na die golwe en ek bid dat jy my woorde sal onthou op die dae wanneer jy voel asof die lewe vir jou te veel is.

Jy sit regop en vra my of jy die boek kan leen. Jy sê opgewonde ‘dalk vertel haar gedigte haar storie’. Ek sê ja, maar weet dat jy as ons by die huis is daarvan sal vergeet. En dis reg so, want as jy dertien jaar oud is is daar nog baie tyd om te leef en te probeer verstaan.

Van lewe in jou kop verstaan ek..

Die Here was my genadig.
Ek kon altyd in die donkerste tye, my oë op die lig hou.
En daarvoor is ek dankbaar.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

2627total visits,0visits today