Die gelukkiges

Eers was dit ons vurige rooikop vriendin…binne drie maande was haar vlam geblus… vir ewig.

Toe my skoenlapper vriendin. Die nuus het my met ongeloof gevul, maar dit was waar en sy het die stryd met moed en dapperheid gestry. Sy het haar borste en hare en nog ‘n paar onsigbare goed verloor. Sy het asem geskep en ons almal het geglo sy het die kanker HOER verslaan, maar haar stryd is nog nie verby nie. Sy staan weer voor ‘n Goliat met net ‘n klippie en ‘n slingervel. Niemand kan saam met haar teen hierdie Goliat baklei nie, ons kan net bid…haar Prayer Warriors wees, want wat sê mens vir iemand wat nog nie eens behoorlik haar middeljare bereik het nie, ‘n ma, dogter en vrou. Wat sê ‘n mens nou? Hoeveel kan een lyf vat?

Nou is die nuutste slagoffer my één vriendin, my één vriendin wat al deur soveel fisiese hel in haar lewe is, dat ek vir ‘n oomblik nadat ek die nuus gehoor het, opgekyk het en vir die Here met al die woede en opstand wat ek op daardie oomblik gevoel het gevra het, “Hoe durf u dit toelaat?”,maar ek weet die Here ken my hart en het my verstaan op daardie oomblik.

My giver vriendin, wat haarself opoffer vir haar medemens en altyd gee al het sy niks om te gee nie. Sy sal haar laaste kilojoule energie gee om die lewe vir ander beter te maak. Sy is ‘n engel, ‘n engel. Sy is ‘n vrou, ‘n vriendin en ma van twee pragtige seuns. Ook sy dra nou die litteken op haar bors. Dit sny diep. Dit maak my so seer dat ek nie eens durf wonder hoe sy moet voel nie. Eintlik weet ek… ek het ‘n kykie in haar hart gehad, en dit wat ek gesien het het my hart versplinter.

Ons wat op die kantlyn staan voel magteloos in ons onvermoë om te help. Elkeen van ons wat al ‘n geliefde die stryd sien stry het sal weet van daardie magteloosheid. Ek het eerstehands gehoor van eensaamheid in siekte, daardie gevoel dat jy alleen is. Ek het vier jaar by Hospice gewerk en weet hoe alleen dit kan wees as almal wat eens naby jou was te bang word om naby jou te kom. Nie omdat hulle nie vir jou lief is of omgee nie, omdat hulle vir jou só lief is dat hulle bang is om jou op jou swakste te sien. Hulle voel hulle moet vir jou hoop en moed gee, maar weet nie hoe nie. So hulle bly weg…Ek het die laaste paar dae besef dat meer as dit soms nodig is.

‘n Aanraking, ‘n persoonlike gebed, ‘n grappie, nonsens praat oor alledaagse goed of net eenvoudig jou stille teenwoordigheid wys nie net dat jy omgee nie, dit trek ook die persoon se aandag vir ‘n oomblik af van die stryd wat sy stry. Dit maak ‘n lang dag korter. Mense met kanker het nie altyd die moed en krag vir mense nie, maar ons moet húlle altyd die keuse gee of hulle kans sien of nie.

En vir ons wat sover die gelukkiges is… Ons durf nie een liggaamsdeel of orgaan as vanselfsprekend sien nie. Middeljarige borste wat nie meer die potloodtoets deurkom nie is ‘n seën, want ons het dit nog. Hoeveel keer kraak ons ons lywe af en sien net die selluliet en dimpels en duike raak. Ons praat met minagting van ons dik bobene en rekmerke. Ons lywe werk…dalk nie elke dag perfek nie, maar ons is gesond en dis iets om oor te juig.

As mens bietjie gaan sit en nadink oor dinge lyk gister se hartseer en pyn, net na gíster se hartseer en pyn. As jy opkyk en die mense raaksien vir wie jy lief is, dan besef jy dat dit hulle is wat jou ‘n rede gee om op te staan en te baklei al voel jy soms lus vir opgee. Ek onthou nie veel van hoërskool nie, maar ek onthou ‘n gesegde wat teen een van my onderwysers se muur was so goed; ‘Gister is verby, môre moet nog kom, vandag is die tyd om te lewe.’

Die lewe wag nie vir ons nie. Ons moet saamdraf en élke dag lewe.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

33996total visits,9visits today