Die bekentenis van ‘n (net-net) goed genoeg Ma.

img_7759Vandag het ek ‘n halfuur te laat by die skool opgedaag om na my kind se boeke te kyk. Die storie van my lewe.  Ek is altyd te laat, te gejaagd, te vergeetagtig, te deurmekaar, te álles wat te doen het met ongeorganiseerd wees.

Ek het redelik onlangs ‘n verklaring vir dit gekry wat ek met liefde as ‘n verskoning gebruik.  Ek het ‘n ‘Motiveerder’ funksionering styl.  Goed om planne te maak.  Swak om dit uit te voer.  Passievol en deurmekaar.

In elk geval, so dwarrel ek die klas binne op die laaste nippertjie en oorrompel die Juffrou heeltemal met my onsamehangende gebrabbel oor Afrikaanse punte, ADHD (sy het verseker vandag agtergekom waar my kind die toestand geërf het), late bloomers, middelkind-sindroom en die res kan ek nie onthou nie..

Ek vra haar of alles wel is op die dissipline front en sy vertel my dat my dogtertjie soms te veel in die klas praat.

Hierdie wonderlike juffrou vertel hoe sy Hettie Britz se boom profiele gebruik om die kinders in haar klas te hanteer. Terwyl my brein oortyd werk om te onthou watse boom my middelkind is, wonder ek verdwaas waar en hoe ek gefaal het?  Ek het lankal moed opgegee met die sielkundige benadering van kinders grootmaak. Dit het ‘n kopskoot gekry in my enkelouer dae waar oorlewing my grootste motiveerder was.

Ek is so deurmekaar dat my oudste dogter van dertien, haar wekker tien minute voor myne stel om seker te maak ek staan betyds op om hulle almal wakker te maak.

Ek het twee weke terug my oudste twee kinders vergil wat baklei het oor ‘n KORRELTJIE pienk rice krispies en in die proses die hele bak omgegooi het. As hulle pa hulle nie gered het nie sou ek hulle gedwing het om dit van die vloer af te eet.

Ja, ek lees tans ‘n boek genaamd ‘The Confessions of a Bad Mother’.

‘The Middle’ is my gunsteling TV program, want dit laat my effens normaal voel.  Ek voer my kinders gereeld bokspap in die aand as hulle kla oor die groente op hulle borde..

Ek het Sondag in die kerk met ‘n vrou gepraat wat ‘n klein, pienk, vyf maande oue babatjie het.  Haar oë blink terwyl sy praat oor min slaap, haar kind wat skree as sy vir haar skoene aantrek en hoe moeilik dit is om kerk toe te gaan met die pragtige dingetjie.  Sy maak my skoon tranerig terwyl sy praat oor haar babatjie se perfeksie, slaap roetines en die vreugde van Ma wees.

Oppad huis toe dink ek, my jongste se slaap roetine is om voor die TV aan die slaap te raak terwyl ek haar rug kielie en hierdie nuwe Mamma sal my nooit glo as ek vir haar vertel dat sy eendag heel moontlik met ‘n histeriese ondertoon in haar stem ‘SHARRAAAAAAP!’ vir die pienk dingetjie sal wil skree nie. Of dat sy haarself in die badkamer sal wil toesluit, want sy het die behoefte om ‘n glas pienk melk oor haar vierjarige se kop uit te gooi nadat sy ‘n tantrum gooi omdat jy gewaag het om  eerste die melk, en toe die poeier in te gooi. DIT MOET GLO ANDERSOM WEES.

Ja, Ma wees.

Niemand berei jou voor op die reis nie.  Daar is geen boek vir dit nie, want selfs die mees gefokusde, agtermekaarste, georganiseerde Ma doen dit soms verkeerd.

Ons skree soms wanneer ons moet sag praat en ons ignoreer goed wat ons moet straf.

Ons gee vir gluten intolerante kinders pizza met ‘n koring basis en vir hiperaktiewes MSG en rooi koeldrank.

Ons drink soms twee glase wyn vir die behoud van die vrede en om ons oorblywende sinne te preserveer.

Ons het soms net nie krag om te wonder oor die effek van ons woorde en aksies op ons bloedjies nie. Ons probeer ons uiterste bes in die sirkus waarin ons ons bevind.

Ons het ook ‘n stowwerige boek, ‘Seven habbits of a highly effective family’, van Stephen Covey op ons boekrak. Daar is ñ vergeelde boekmerk in tussen bladdy sewentig en een en sewentig.

Vir ons is daar comfort in die chaos.  Vir my in elk geval.  Daar is mos ‘n sê ding ‘Happy wife, Happy life’  Dieselfde kan seker gesê word van die Ma?

Gooi weg die boeke en leef elke dag soos dit kom.  (Ek is nie ñ kenner nie, so jy doen die op eie risiko)

Bid hardop vir jou kinders en laat hulle hoor wanneer jy vir die Here dankie sê dat hy jou geseën het met super spesiale, pragtige kinders. Laat hulle ook hoor as jy jammer sê vir dit wat jy verkeerd gedoen het.

Druk jou kinders styf teen jou vas, sê meer ja as nee.  Laat hulle bak en brou en verf en plak en plak hulle skepsels teen die yskas en kamermure. Sê vir hulle jy is lief vir hulle.

Lag vir die chaos, laat hulle foute maak, leer hulle naasteliefde deur self jou naaste lief te hê.  Sê en wys vir hulle dat hulle goed genoeg is.  Maak ‘n fuss van hulle  uniekheid.

Gebruik bergamot essence vir al die hare wat jy uit jou kop getrek het.

Straf hulle wanneer hulle verkeerd is, gil as die situasie dit vereis. Sê opreg jammer vir die kere wanneer jy wel onnodig baklei het.  Budget vir goeie koffie en goeie wyn.

Kry ‘n sleutel vir jou kamerdeur.   Leer hulle van PMS en dat jy soms soos ‘n leeu voel wat skapies vir brekfis wil opvreet. Onthou ook om te beklemtoon dat hulle dan ékstra soet moet wees.

Leer hulle dat jy nie perfek is nie sodat hulle nie eendag perfeksie van die lewe verwag nie.

Wys vir hulle jou hartseer.

Ons doen nie ons kinders ‘n guns deur hulle die heeltyd te beskerm teen die moeilike goed nie.  Ons kan hulle nie vir altyd beskerm nie.  Rus hulle toe vir hulle sirkus eendag.

Jy is goed genoeg.  Foute en al.  Goed genoeg.  So skink ‘n glas van daardie goeie wyn en ontspan.

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

864total visits,1visits today