Land

geploegde land

Vandag moet ek my land voorberei

Sodat jy jou saad kan plant

In die omgeploegte sooie van my land

Vannaand moet jy my tuin nat lei

Sodat die blomme kan oopkelk

en die  onkruid kan verwelk

 

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vuurwerk

Liefste

Wat doen jy aan my?
Jy blaas my op in die lug
Nes ñ vuurwerk
Laat my ontplof bo die wolke
My lig sigbaar in die hemelruim
My val tot op die aarde
Beroof van fanfare

Wat doen jy my Lief?
Jy skil my af soos ñ lemoen
Breek my oop met jou hande
Die reuk talm in die lug
My vlees stil jou honger
Die sap les jou dors
Ek verdwyn skyf vir skyf
In die holtes van jou lyf

Ek raak weg
En in die koel oggend
Voel ek sleg

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vir Anli

image

Sonneblom

My sonneblom
Vry en mooi
Groei jy in God se son
Tenger en broos
Dans jy in die wind
My liefste kind

My gypsey kind
Jy draai en tol
Soos ñ warrelwind
Jou lippies rooi
Soos  ryp granaat
Jou hare goud 
Nes koring aar

My feë prinses
Jou gunsteling ding
Is om op te dress
Jy laat ons lag en
na ons hare gryp
Want jy is ongetem
ñ Ferrari kar
Met ñ bicycle rem

Vir jou sal ons liefhê
Vir jou sal ons sorg
Wanneer die wêreld te seer raak
Sal ons jou vashou
Want jy’s ons hart se punt
Ons gypsey kind

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vrou van Staal

Agter die wasem voor die spïeel
Staan sy naak grotesk
Haar lyf simbool van leef en gee
haar siel beseer kompleks

Haar naam is Anna vrou van Staal
haar wêreld koud en grys
min mens verstaan en praat haar taal
haar oë is oud en wys

Sy ken ñ pad wat kronkel draai
deur donker woud oor klip
sy is veel keer vermink verraai
verloën met daad en lip

Haar stilte is ñ koue muur
ñ skans wat seer uithou
In haar woed die hel se vuur
geen tyd vir spyt berou

Onder al die pantser staal
skuil daar ñ vrou van vlees
Haar lyne vertel ñ stil verhaal
van haar verweerde gees

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Lief

Toe ons jonk was
Het die vraag
Hoe lief het ek jou?
Woorde laat tuimel
Uit my mond laat val
Sonder om te dink
Het ek jou lof besing
Met my alles, my hart
Uit die dieptes van my siel

Nou na dekades saam
Is die vraag
Hoe lief het ek jou nou?
Een wat my laat blaai
Deur die argiewe van my hart
En dan dwing om te stop
By beelde en momente
Van soete vreugde en passie
Die hel van pyn en berou

Dan my Lief,
Kyk ek op in jou dierbare oë
En antwoord jou
Met brose eerlikheid
Ek het jou lief
Net soos jy is.
Perfek onvolmaak
Net soos ons is.
Gelap en gekraak

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vry

; ;
Aan die voetend van die majestieuse berg
Met die son sagkens agter geelhout verberg
tussen bergvaring en sagte mos
Speel my kind.

Dartel haar voete oor klipplaat en rots
Gryp haar vingers na veldblom en bas
Trap haar vrywees
spore in my hart

In die skadu van hierdie majestieuse berg
Met die wêreld agter wit wolke geberg
Tussen bergwind en ysige strome
Lééf my kind.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Waansin

Die vervelige eentonigheid.
Die grysheid van my lewe.
Daar moet meer wees as hierdie?
Buite is ek besadigd en binne ñ orkaan. Die druk bou op en op, en my vel wil ontplof.
Is hierdie hoe waansin voel? Is ek besig om gek te word?
Woorde spoel deur my kop. Dit swem in my gedagtes. Woorde beelde, beelde woorde.
Dit moet uit.
Dit moet uit.
Helaas, spoel dit af in hierdie drein van eentonigheid en versmoring.
Dit gaan net verlore..
My stem word hees, rou geskuur teen die verset wat daarin vas steek.

Soms, is die drang om te vlug so erg dat my asem wegraak. Dat my handpalms sweet.
Dan verplaas ek myself na ñ plek waar daar stilte is. ñ Plek waar daar ñ berg is. En ñ boom.
Waar daar vrede is.
ñ Bietjie stilte en genade.
In hierdie plek, my plek, is daar net plek vir my. My en my woorde.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Lewe

100_6811Toe beland ek in ñ maalkolk
ñ toestand van dronk word
ñ seesiek gemors
ñ toestand van stom word

In hierdie sinnelose gedraai
Verloor ek my kop
Oorverdowende lawaai
Dwing my om te stop

Terug te draai na my
Die spieelbeeld te ontleed
Tyd te vat om my te bevry
Van dit wat my lewend opvreet

Ek het vandag ñ dag vir myself gegryp. Nie gevat nie..GEGRYP.

Wanneer die stemme in ons kop harder praat as die stiltes, moet jy besef dat jy nader aan ingee is as wat jy glo.

Die punt is ons haal asem. So wat is die punt van asemhaal as jy dit nie eens meer agterkom en waardeer nie? Ons lewens bestaan uit soveel meer as werk, die mense wat ons liefhet, geld, prestasies. Ons lewens bestaan uit ONS. Hoeveel tyd spandeer ons aan ons?
Aan die dinge wat die dam waaruit ons omgee en liefde vloei, volmaak?

Ek is ñ werkende ma van drie jong dogters. Ek is ñ vrou wat moet werk om haar verhouding te laat blom. My werk bestaan uit gee. Vriendskappe vat moeite om in stand te hou as jy werk. My kinders het my nodig. Hulle het tyd nodig, moeite nodig om hulle te laat floreer. Die alledaagse sluk my in.

My dae bestaan uit jaag. Jaag na wat?

Ek weet nie, want soos ek hier skryf kan ek amper nie eens onthou uit watse goed gister bestaan het nie. Al wat ek onthou is dat dit soos alle dae voor dit ñ gejaagde dag was.

So gisteroggend het ek besef, ek kán nie meer nie. Ek moet herlaai. Ek moet ontlaai.
Vakansie tyd is ver. Die jaar is jonk en ek voel asof ek óp geleef is.
Die lewe is kort genoeg. Ek wil die oomblikke kan onthou. Ek wil kan agterkom as daar ñ oomblik is!

Ek wil lewe. Nie net bestaan nie.

So vanoggend het ek broos gaan lê dat ñ tingerige vroutjie met die naam Thandiwe my knoppe uitvryf.
Soos haar benerige hande meedoënloos oor my rug gegly het, het daar meer as net die knope in my rugspiere losgekom. Terwyl my kop en my lyf gestoei het, het my onderbewuste gewen.
Terwyl ek stoei om te ontspan het my lyf my gered en vanself begin ontspan. Soos die geur van aromaterapie olies my omgewe het ñ vreedsame hartseer my binnegedring. My lyf wat ek ñ paar minute vroeer krities in die onsimpatieke spïeel beloer het, het begin ontspan onder die aanraking van ñ wildvreemde. Die pyn wat ek gevoel het terwyl sy fokus op een van die talle spasmas, het my laat wonder hoeveel ñ lyf kan vat? Hierdie lyf wat die skuiling is van my kinders. Wat my siel en my hart huisves, my denke en my drome. Hoeveel tyd spandeer ek om my sintuie te gebruik vir my plesier? Wanneer ek in die oggend en aand stort of bad, let ek op na die sensasie van die seep op my vel? Wanneer ek my met room smeer, voel ek hoe glad dit op my vel voel? Wanneer ek afdroog, érvaar ek die growwe koestering van my vel? Wanneer my geliefde aan my hand vat, beleef ek sy nabyheid? Wanneer sy baard teen my wang raak, word my binneste stil en beleef ek die oomblik? Wanneer my kinders op my skoot kruip, voel ek hulle gewig? Beleef ek dit as ñ las of beleef ek dit as ñ tasbare bewys van hulle bestaan?

Voel ek die kielie van die wind deur my hare? Neem ek die warmte van die sonstrale op my vel in?

Mag die Here gee dat elkeen wat hierdie lees en ek wat dit skryf elke oomblik koester as ñ bewys dat ons asemhaal. Mag ek oomblikke van bewustheid hê selfs in die maalkolk oomblikke. Mag ek elke dag tyd maak vir dit wat my met vrede en krag vul sodat ek elke oomblik van my menswees lewe. Mag ek die wonder van die skepping inneem. Mag ek opnuut na mense kyk en hulle raaksien.
Moenie wag dat iemand vir jou toestemming gee om te lewe nie. Moenie wag totdat iemand raaksien dat jy besig is om te verdrink nie. Gryp oomblikke. Steel tyd. Nee EIEN tyd vir jouself. Vir jou. Nét vir jou.
Vat dit en geniet dit.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Verbrand

Hoe lank kan ons brand?
Hoeveel keer kan jy ons in die vuur gooi
Voordat ons uitbrand
Doodbrand?

Hierdie keer was een keer te veel
Hierdie keer het daar iets gesterf
Hierdie keer het jou vir my bederf
Hierdie keer het jy jou hand oorspeel

Hoe lank voor ek sterf?
Hoe lank voor ek groet?
Wat bly dan nou oor
tussen hierdie as en roet?

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Dood sonder ‘n graf

image

Die dood sonder ‘n graf
Jy bou ‘n monument in jou hart
‘n geheime plek waar jy kan kniel
‘n Veilige plek waar jy kan ween en dankie sê
‘n Plek waar jy ‘n blom kan neersit
Herinnerings kan herleef
Waar jy in die lig kan bid
Vir ‘n lewe wat verby is
En lewe wat begin
Dooie bene wat lewend word
In jou hart en in jou gees
‘n beeld van ‘n nuwe mens,
want dit het die Here geweet
was jou grootste wens

© 2013 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share