Die dag toe ek ‘n Mampara genoem is.

 

Ek onthou dit asof dit gister was.  Dit was 1985 en ek was in standerd twee. Die woord Mampara het in bloedrooi ink op my wiskunde vraestel gestaan. Ek het presies geweet wat dit beteken, ek het immers al Kringe in ‘n Bos in daardie einste jaar gelees en ek onthou hoe ek instinktief my hand bo-oor die rooi merk gesit het.  Ek het ‘n paar agterlosige foute gemaak en my juffrou het dit goed gedink om my vraestel te brandmerk met ‘n woord wat in die Verklarende Woordeboek verduidelik word as onnosele vent, bog en aap. Ek was 9 jaar oud en ek het simpel, dom en vernederd gevoel.

Die jaar voor dit het ons vanaf die Kaap na Kimberley getrek en ek het aan die einde van die derde kwartaal by my nuwe standerd een klas ingestap.  Ek was bang en vreemd en het my beste maatjie Anina gemis.  In die eerste halfuur van die dag het my splinternuwe Juffrou, nadat sy deur my boeke gekyk het, my vorentoe geroep en gevra om die woord ‘hardloop’ op die bord te skryf.  Ek het entoesiasties opgestaan en na die bord gestap en ‘hartloop’ geskryf. Sy het daarna gewys en voor al die kinders, met wie ek nog moet maats maak, gesê: ‘In Kimberley spel ons hardloop met ‘n d.’  Sy het begin lag en almal in die klas het saamgelag.  Ek het op my tande gekners om die huil te keer en uiteindelik gevra om kamer te verlaat sodat ek in die badkamer kon gaan snik. Ek was 8 jaar oud en ek het simpel, dom en vernederd gevoel.

Daar is nog baie sulke dinge wat ek onthou.  Ek kan verduidelikings gee oor hoekom ek vandag nog glo ek kan nie wiskunde of naaldwerk doen nie.

Onderwysers het ongelooflike mag met hulle woorde.  My arme man moet sy eie knope aanwerk…alles ‘n onderwyseres se skuld.

Hierdie herinnerings uit my kinderjare is getrigger deur ‘n  inskrywing op ‘n ADHD ondersteuningsgroep op Facebook. ‘n Mamma het fotos gewys van aanmerkings en kommentaar wat ‘n juffrou in haar kind se boeke geskryf het.  Lelike en afbrekende woorde.  Sy is op hierdie blaaie, wat in haar werkboeke is en waarnatoe sy  kan terugblaai net wanneer sy wil, beskryf as moedswillig omdat sy foute in wiskunde gemaak het.  Sy kan glo die somme doen.  Ek ken min 8-jarige kinders wat somme aspris verkeerd sal doen.  Elke keer as sy daardie blaai sien gaan sy onthou hoe sy gevoel het toe sy die eerste keer daardie woorde lees.  As ek na die werk op die blaai kyk is sy moontlik in graad 2 of 3.  Sy het bertien in plaas van dertien geskryf en ook daar is ‘n plakker geplak met die woorde ‘Ag nee!’ op.  (Die persoon wat daardie plakkers ontwerp het moet heuning gesmeer word en vir balbyter miere gegee word.)  Daar was tot ‘n swart sterretjie op die blaai.  Ek vind dit nogal ietwat donker en wil nie te veel daaroor dink nie.

Die ma het in haar inskrywing gesê hoe hartseer haar kind by die huis was.  My nekhare het gerys. Die moedertier binne my se naels het uitgekom. Hierdie onderwyseres is ‘n boelie.  Sy het geen aanvoeling vir kinders se harte nie en sy het beslis geen kennis en aanvoeling vir kinders wat ADHD het se harte nie.  (sy is glo bewus daarvan dat die betrokke kind ADHD het en op medikasie is)  Die kommentaar van die ander ouers op hierdie groep het my laat besef dat hierdie baie meer gebeur as wat ek dink.

Ek het my graad 4 dogtertjie se boeke summier uit haar tas gaan haal om te kyk wat haar onderwysers alles skryf.  Kyk, mense wat nie ADHD ken nie sal nie verstaan watse uitdagings daar alles is nie.  Netheid is beslis een van die vele uitdagings.   Ek het deur al haar werkboeke geblaai en daar was baie foute.  Baie rooi ink, maar nie een enkele een van haar onderwysers het afbrekende kommentaar gelewer nie.  Elke kriesel kommentaar wat daar was was konstruktief en opbouend.

 

Nou my vraag is, ‘As my kind se onderwysers dit kan regkry, hoekom kan alle onderwysers dit nie regkry nie?’  Daar is geen verskoning daarvoor nie, want alles in die lewe het te doen met keuses.

Woorde het die krag om te vernietig of genesing te bring.  Dit kan seer maak of heel maak.  Dit kan opbou of afbreek.

Lelike en afbrekende woorde wat in rooi pen in jong kinders se boeke geskryf word help nie die kind om beter op skool te doen of netjieser te werk nie.  Dit breek hulle harte, dit verneder hulle en laat hulle voel asof hulle ‘n MISLUKKING is.  Daardie woorde bly by hulle vir altyd en ewig.  Dit vernietig hulle selfvertroue.  Dit squash hulle man.  Jy kan netsowel op hulle trap. Ek kry ‘n prentjie in my kop van pragtige blomme wat by die stingel geknak is.

Wat gaan ‘n kind help om harder te probeer en harder te werk?  Ek het ‘marknavorsing’ gaan doen en my kinders gaan vra hoekom hulle harder werk in een juffrou of meneer se klas as ‘n ander.  Hulle antwoord was deur die bank dat hulle beter wil doen in die onderwysers waarvan hulle hou se klasse.  Hulle wil hulle glo nie terleurstel nie.  Wie sou dit nou kon raai?

Dankie vir elke onderwyser wat die moeite doen om kinderharte te verstaan.  Dankie vir elke onderwyser wat emosioneel intelligent is en weet dat woorde wys gebruik moet word.  Dankie vir elke onderwyser wat die moeite doen om konstruktiewe kommentaar te lewer en nie net lelike plakkers plak met lelike woorde op nie.  Dankie vir my kinders se onderwysers wat opbou en nie afbreek nie.

As daardie onderwyseres iets gesê het soos ‘Ek glo in jou.  Ek weet jy kan beter doen. Kom dat ek weer vir jou wys.’  Watse verskil sou dit nie in hierdie dogtertjie se dag gemaak het.

Moeder Teresa het gesê:  ‘Kind words can be short and easy to speak, but their echoes are truly endless.’ Dieselfde is ongelukkig waar vir ongenaakbare en harde woorde.

 

 

© 2017 – 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Finesse Voelgoed blog: Die alien in my huis

Elkeen van ons dra wonde saam en elke liewe mens kry êrens seer in hulle lewe.  

Die tiener wat nou die dag in Vredekloof in die Weskaap weggeloop het, het heel moontlik al baie seergekry.  Die kommentaar van mense wat haar en haar omstandighede nie eens ken nie het my stomgeslaan.  Sy kort ‘n ordentlike pakslae was die gewildste.  Sy is verskriklike name genoem en veroordeel deur sogenaamde christelike volwassenes.  

Huh?  Sal ‘n pakslae by ‘n kind wat waarskynlik al baie seerder as houe op haar boude gekry het, werklik ‘n verskil maak?   Weet jy hoe ‘klein’ en kwesbaar ‘n dertienjarige nog eintlik is?    

Ek weet, want my dogter is veertien.  ‘n Vriendin het een keer die volgende gesê oor haar tienerdogter; ‘Dis asof sy as háár kind gaan slaap het, maar as ‘n alien wakker geword het.’  Ek het natuurlik gedink dit sal nooit met my dogter gebeur nie, maar die alien is hier. Dis ‘n nuwe fase in my kind se lewe en ek moes alien taal aanleer.  Soms raak sy weg in my huis.  Sy is so baie op haar eie dat ons maklik kan vergeet sy is daar.  

Weet jy wat in jou kind se lewe aangaan?  Ken ons werklik nog ons tieners of los ons hulle agter hulle toe kamerdeure en dink dit is aanvaarbaar dat hulle nie meer saam met ons in die openbaar wil verskyn nie.

 ‘Toemaar Sussie, ek weet die grootmense is boring.  Bly maar by die huis en doen jou huiswerk.’  

Wat maak hulle agter die toe kamerdeure?  Waarna kyk hulle?  Met wie gesels hulle? Lag hulle nog en speel hulle nog?  Is hulle gelukkig en lief vir hulleself?  

Die hartseer feit is dat baie kinders nie meer hulle eie lewens leef nie. Hulle kan op sosiale media enige iemand wees wat hulle wil wees.  Dis soos ‘n dwelm.  Die goedkeuring van wildvreemdes gee vir hulle die fix wat hulle nodig het.  Om gewoon te wees trek nie aandag nie.  Dis dan wanneer ‘n dertienjarige meisietjie ‘n foto op Facebook post van haar bene wat ontbloot is.  Skielik kry sy aandag.  Baie siek aandag, maar vir haar die aandag wat sy nodig het om goed te voel oor haar lewe.  Sy het meer en meer van hierdie dwelm nodig en sy glo later al die leuens wat sy vir haarself vertel.

Die Heuwels Fantasties sing ‘Dinge wat jy miskyk sal in opstand kom.  Die kleinste ding wat jy miskyk sal in opstand kom.’

Kyk ons ons kinders mis?  Ons is saam in een huis, maar alleen.  Selfone isoleer mense.  Elkeen is op ‘n aparte plek in dieselfde huis besig met aparte dinge.  Niemand leef meer hulle eie lewe nie.  Ons bemoei ons met mense wat ons nie eens ken nie terwyl ons mans, vrouens, ouers en kinders stom skree vir aandag, aanvaarding en begrip.  

Net jý sal weet wat in jou huis aangaan.  Net soos ék weet wat in my huis aangaan.  

Die wegloop van daardie onbekende graad 7 dogtertjie van die Wes-Kaap het my geruk.  Sy moes lankal verlore gevoel het voordat sy gekies het om in ‘n vreemde kar te klim om na ‘n vreemde plek te gaan na vreemde mense toe.  

Ek weet ook baie goed dat jy nie fisies hoef weg te loop om verlore te wees nie.  

Sien jou Alien raak al verstaan jy nie wat de heng in daai koppie aangaan nie. Meng in in hulle lewens, want dit wys dat jy belangstel.  Jy irriteer hulle anyway op jou beste dag, so gee hulle nou maar ‘n rede om geïrriteerd met jou te voel.  Bly hulle ouer.  Hulle het genoeg tjommies.

Ons moet die voorbeeld wees wat hulle volg.  Ons moet leiding gee en beheer vat.  All Star tekkies en iphones vervang nie drukkies en aandag nie, al maak dit hulle harte momenteel bly.  Gee jou tyd en aandag vir hulle.  Dis die dinge wat hulle laat voel dat hulle lewens die moeite werd is om te lewe.  

Kyk na hulle en sien hulle raak.

#closeddoorsmustfall 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Velhonger

Hierdie blog is in my hart gebore nadat ek gesien het hoe my drie-en-tagtigjarige skoonpa sy oë toemaak en glimlag terwyl my dertienjarige dogter sy bene met room masseer.

Die beeld van haar jong, sterk hande op sy perkament dun vel het my hart met deernis gevul. Die vreugde wat hy uit haar aanraking geput het het my hartseer gemaak, want die wrede waarheid is, hoe ouer jy is hoe minder word daar aan jou geraak.  

Kort na my egskeiding het ek vir ‘n massering gegaan.  Die terapeut het met doelgerigte hande die olie oor my rug gesmeer en niks kon my voorberei op my lyf en gees se reaksie nie. Intense, séér emosie het in my opgewel.  My borskas het saamgetrek in ‘n bittersoet spasma. Elke haartjie op my lyf het orent gespring en ek het in hoendervleis uitgeslaan.  ‘n Broosheid het van my besit geneem wat my emosioneel naak gelaat het. Met haar warm hande het sy die weemoed en verlange uit my lyf geknie. 

Die liewe vrou het aangegaan asof sy heel gewoond is daaraan dat amper middeljarige vrouens in trane uitbars as sy aan hulle raak.  Haar aanraking het meer as net my vel bereik. Dit het ‘n plek in my binneste bereik wat ek weggesteek het vir myself.  Ek was uitgehonger vir positiewe aanraking.  Velhonger.

Soveel mense om ons is velhonger. Ja, ons weet van die weeskinders, verwerpdes en eensames, maar wat van die mense wat in huise woon saam met hulle naastes. Mense wat vriendskappe het en mense wat in verhoudings is. Mense in ons huise.

Deesdae word automatiese, battery aangedrewe wiegstoele gebruik as ‘n minderwaardige plaasvervangers vir liggaamshitte,  ‘n ma se hartklop en liefdevolle aanraking om babas te kalmeer.  ‘Sleep training’ is die in-ding en moedig mense aan om huilende babas te los om alleen aan die slaap te raak.  Tieners bly agter toe kamerdeure, skynbaar stil en rustig, maar so verwyderd van hulle gesinne dat hulle emosioneel dor is.  Geliefdes soen mekaar skrams hallo en totsiens in die verbyloop en wonder verdwaas hoekom hulle afgesny voel van mekaar.

Ons vergéét dat ons aanraking so nodig het vir ons gees soos wat ons asemhaal nodig het vir ons fisiese funksies. Ons het dit nodig vir emosionele intimiteit met ons geliefdes, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle vertroue te wen en te behou, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle te leer hoe positiewe, gesonde aanraking voel.  Ons het nodig om aan mense te raak, want óns het dit nodig.

Hoe ouer ‘n kind word, hoe minder word daar met werklike bewustheid aan hulle geraak.  Te veel tieners gaan slaap elke aand sonder dat hulle ouers hulle behoorlik nagsê of hulle sommer in die verbyloop gryp en hard vasdruk êrens deur die dag.  Hulle staan op ‘n afstand en kyk met verlange hoe hulle jonger broers en susters opgetel en getroetel word en smag na dieselfde, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ja, ek weet hulle maak hulle skouers styf. Ek weet hulle sê jy embarrass hulle as jy hulle in die openbaar totsiens sê, maar ek weet ook dat daardie drukkie of nagsoentjie ‘n warmte in hulle hart veroorsaak wat deur die dag by hulle bly en hulle herinner dat hulle saakmaak.

Kos vir velhonger kan so maklik op die verkeerde plekke gesoek word en dit maak my báng.

Met jou deernisvolle aanraking kan jy liefde en aanvaarding wys.  Jy kan hartseer beter maak en hoop gee.  Jy kan mure afbreek en iemand laat veilig voel.  Jy kan waarde gee aan iemand se bestaan.  Jy kan die gat in ‘n eensame se hart vul. Jy kan hoop gee.  Jy kan letterlik ‘n lewe red.  Dís hoe kragtig aanraking is.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Skryf oor skryf

Ek het so lanklaas geskryf dat ek amper my skryfstem verloor het.  Ek praat soveel stories in my kop wat verlore gaan, want ek skryf dit nie neer nie.  Soms maak ek ‘n afgerammelde nota op my foon, maar dit bly net ‘n nota. Ek het soveel voornemens wat net nooit ‘n realiteit word nie.

Ek kan baie verskonings hiervoor gee, maar die feit bly staan, skryf is harde werk en vat dedication. Dis iets wat geoefen moet word en as mens elke keer moet wag vir inspirasie sal daar baie min geskrewe woorde in die wêreld wees.

Ek het vanoggend die volgende foto op facebook raakgeloop en dit het my vreeslik laat dink aan my lewe.

Ek droom so baie keer oor goed, veral skryf, maar when push comes to shove dink ek die een verskoning na die ander uit hoekom ek dit nie kan doen nie. Moegheid, kinders, vrouwees, werk… ag sommer net lewe om te oorleef sluk my lewe en my drome in en laat my met ‘n terleurstelling in myself wat my ‘inner voice’ so negatief maak dat ek dit nie durf neerskryf nie. Een ding wat ek weet is dat wanneer jy jou woorde begin meet en begin dink aan wat mense wil hoor dan kan jy dit maar los. Ek blog want dit gee my ‘n druppel van die bevrediging wat ek nodig het in die lewe.  Soos enige passievolle mens het ek ‘n kreatiewe uitlaat nodig, want anders haal ek al my opgekropte frustrasies op die mense naaste aan my uit.  Skryf moet vloei soos bloed uit ‘n oopgesnyde wond.  As ek verder aan die vergelyking dink klink dit nie so goed nie.

Êrens moet jy seker die bloeding stop voordat jy leegbloei en doodgaan.

Ek skryf op my beste of eerder lekkerste wanneer ek dit laat uitstort.  Soos hierdie. Ek weet nie eens of ek sin maak nie, maar ek weier om te stop en te lees wat ek skryf.  My uitdaging vir die dag.  Ek gaan hierdie op my blog sit sonder om dit te edit, of te dink aan ‘n gepasde afrikaanse woord vir ‘n engelse een en sonder om te kyk of ek mal klink.

Soms moet ons bietjie ophou edit aan ons lewe terwyl ons lewe.  Dit klink ook nie heeltemal reg nie, want ons kan verseker nie edit aan ons lewe as ons opgehou lewe het nie.  Dis dalk die hele punt van die blog.  Hou op met edit en lewe, want eendag gaan die lewe verby wees en ek vir een weier om die stoep te sit met net regrets en wat asse.  Hopelik verstaan iemand my.  Dis tyd dat ek ophou om so baie te dink aan doen en hoe om dit te doen en dit net doen.

Nou maar toe, soos my tante altyd sê, nou maar toe.

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Wat maak dit saak?

Ek sal die dag nooit vergeet nie.  Ek het haar van ver af sien aankom. Haar lang, maer lyfie krom en haar kop afwaarts gewend.  Sy het haar sportklere aangehad en was oppad netbal toe. Toe sy my sien het sy in trane uitgebars. 


Facebook
TwitterShak sal die dag nooit vergeet nie.  Ek het haar van ver af sien aankom. Haar lang, maer lyfie krom en haar kop afwaarts gewend.  Sy het haar sportklere aangehad en was oppad netbal toe. Toe sy my sien het sy in trane uitgebars. 

“Ek wil nie gaan oefen nie. Ek sit net langs die baan en kry nie ‘n beurt nie. Wat help dit Mamma, ek is nie goed genoeg nie! Hoekom is ek nooit in ‘n span nie?’

Ek het haar tas gevat en ons het gegaan. Dit was die einde van spansport vir sussie nommer een.

Sy was op die kortlys toe prefekte gekies is en die dag toe hulle moes hoor kom sy vrolik aangehardloop.  ‘Mamma! Raai wat! Ek is nie gekies nie! Yes!!”

Ek het met oordrewe verligting gesê: “Dankie tog! Nou hoef ek nie met die fondsinsameling vir die prysuitdeling te help nie!” en haar ʼn ekstra stywe drukkie gegee.

Hierdie liefste kind van my, wil bitter graag op die top 20 akademiese toer gaan die jaar. Sy het laas kwartaal ‘n 81% gemiddeld gehad (selfverdiend, sonder enige hulp van ons) en raai wat hoor ons nou die dag?  Sy was laas kwartaal nommer 21 in haar graad. Haar jaargroep is klaarblyklik freakishly slim. 

Sy het wél nog ‘n kans om haar plek op die toer te verseker, maar ons het uncapped WiFi drie dae voor die Junie eksamen gekry en need I say more?

Wat gaan ek vir haar sê as sy nie op die toer kan gaan nie?  Een woord…WiFi!  Sy sal verstaan en lag.

Voel sy minderwaardig omdat sy nie in ‘n sportspan is nie?  Gaan sy inmekaar stort as sy nie op die top 20 toer gaan nie?  Gaan sy voel sy is waardeloos?  Ek hoop nie so nie, want die dag toe ek haar van spansport gered het, het ek haar hand gevat en vir haar gesê: “Ag dis sommer crap Sussie, het ek jou al vertel van die dag toe ek my nat gepiepie het toe die skoot klap by my graad twee atletiek? Ek was ook nooit in ‘n span in die laerskool nie. Almal was bang ek kry ‘n glipsie as die fluitjie blaas.”

Ek het haar die aand voor slaaptyd styf vasgehou en vir haar gesing: “Weet jy dat Jesus jou liefhet, weet jy dat Hy baie van jou hou.  Sommer net soos jy is, want jy’s kosbaar en spesiaal vir Hom”.  Ek het haar gesoen en vir haar vertel dat sy soveel meer werd is as ‘n netbalspan. Sy is my Lallie en God se prinses.

Ek het dieselfde liedjie al baie vir haar gesing…

Hoekom maak kinders se prestasies vir ouers soveel saak? Dis nie asof daar ‘n prysuitdeling vir ouers is nie?  Kan jy jou dit voorstel? “Mev Hogenboesem wen die ‘WATOPAARDEMAAKDITSAAK’ wisseltrofee vir Ma van die jaar vir Sussie Hogenboesem se uitmuntende prestasies!”

Hoe durf ons ons kinders minderwaardig laat voel as hulle nie volgens die wêreld se standaarde presteer nie? 

Party kinders dartel en droom besonders goed. Party kinders deel liefde en drukkies uit waar hulle gaan. Party kinders het die gawe om mense te laat lag.  Party kinders is vry geeste met uitstekende redenasie vermoëns en abstrakte denke.  Daar is nie prysuitdelings vir hierdie talente nie. Waar gaan hierdie kinders erkenning kry as hulle dit nie in hulle huise kry nie?

Wees jou kind se veilige plek.  As jy nou ‘n groot storie maak van swak punte, gaan hulle in die hoërskool probeer om hulle rapporte te onderskep en hulle punte probeer verander.  Vra my Ma.. sy was vreeslik kwaai en ek was BANG orraait!


Facebook
Twik sal die dag nooit vergeet nie.  Ek het haar van ver af sien aankom. Haar lang, maer lyfie krom en haar kop afwaarts gewend.  Sy het haar sportklere aangehad en was oppad netbal toe. Toe sy my sien het sy in trane uitgebars. 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

My sonneblomkind met die ADHD

Daar groei ‘n blom in ons huis. Sy is klein, tingerig en lyk op die oog af broos. Sy is so mooi dat ek partykeer in verwondering na haar staar. Baie mense sal haar verwar met ‘n geel madeliefie, maar ons wat haar ken weet sy is ‘n jong sonneblom.


Facebook
Twiaar groei ‘n blom in ons huis. Sy is klein, tingerig en lyk op die oog af broos. Sy is so mooi dat ek partykeer in verwondering na haar staar. Baie mense sal haar verwar met ‘n geel madeliefie, maar ons wat haar ken weet sy is ‘n jong sonneblom.

Woorde is haar son en ons aanraking haar water. Ons liefde is haar grond.

‘n Klein blougrys pilletjie is die stutpaal wat haar tenger stingel beskerm teen onweer en wind. Ons sonneblom het ADHD.

In perfekte weersomstandighede bly haar kop na die son gedraai, maar soos die lewe gaan, bly die weer nie perfek nie. Sonder Concerta knak haar stingeltjie maklik as die wind waai.

Wanneer jy openlik praat oor ADHD is daar baie opinies en raad. Meeste mense minimaliseer dit en maak dit af as net bésig en verstrooid, swak dissipline of gebrek aan roetine. Hulle laat jou as ‘n ouer onbewustelik bietjie soos ‘n mislukking voel… Wanneer jy die woord medikasie noem, dan is baie vinnig om met geligte wenkbroue te vertel van die newe-effekte en raad te gee oor alternatiewe terapieë en aanvullings.

Bitter min mense verstaan werklik wat ADHD is en watse effek dit op jou kind en jou huisgesin het. Hulle weet nie dat hierdie klein pilletjie my kind se wêreld verander het nie, want sien… ‘n kind met ADHD se lewe is nie so eenvoudig nie.

Hulle weet nie hoe dit voel as mense die heeltyd aanmerkings maak oor hoe lewendig en besig jy is nie. Meeste mense vergeet dat jy nie doof is nie en dat jy hulle kommentaar kan hoor. Hulle plak daardie etiket regoor jou voorkop vir almal om te sien.

Hulle weet nie hoe dit voel as jy per ongeluk by die skool ‘n maatjie deur die gesig slaan omdat jy met jou arms uitgestrek in die rondte tol omdat jou sensoriese sisteem oorlaai is nie. Hulle weet nie hoe bang jy raak vir die gevolge van sulke gebeurtenisse nie en dat geen woorde, drukkies en gerusstelling die vrees wegvat nie.

Hulle weet nie hoe magteloos jy voel as jou kind in ‘n impulsiewe woede oomblik ‘n skêr vat en die helfte van haar pragtige hare afsny nie. Hulle weet nie hoe dit voel as jou agtjarige dogtertjie met haar blonde hare in haar hande voor jou staan en huilend vir jou sê, ‘Hoekom doen ek dit Mamma? Hoekom het ek nie gedink nie?’

Hulle weet nie hoe breek jou hart as jou kind vir jou sê ‘Ek wens ek kan doodgaan Mamma. Almal raas net altyd met my.’

Hulle weet nie hoe dit voel as jou kind op ‘n rondomtalie by ‘n speelparkie is en dit so vinnig in die rondte draai dat al die ander kinders haar smeek om op te hou en sy lag en lag nie… want vir haar is daar nie perke aan vinniger nie.

Impulsiwiteit maak vriendskappe moeilik, want sy speel rof en sê goed sonder om te dink aan die gevolge van haar woorde. Sy is soos kwik wat jy probeer vasvat, maar dit gly tussen jou vingers deur. Ek het al baie keer gesien hoe maatjies haar probeer bymekaar hou en dit nie regkry nie en uiteindelik omdraai en wegstap.

Hulle weet nie hoe dit voel om jou kind se wiskunde vraestel terug te kry en te sien hoe sy antwoorde agterstevoor en deurmekaar geskryf het nie, want so besig soos haar lyfie is, net so besig is haar brein.

Dan gee jy in en gee vir haar die pilletjie wat na toetse en aanvullings en terapieë voorgeskryf is, want jy is raadop en desperaat. Jy weeg twee slegte situasies teen mekaar op en kies die beste sleg.

Jy sien binne ‘n paar dae ‘n verskil. Sy bou ‘n legkaart klaar. Sy lê in die sonnetjie op die bank en lees ‘n boek. Sy sit so stil by haar ousus se klavier kunswedstryd dat ‘n goeie vriendin wat dieselfde pad met haar seun geloop het saam met my ‘n traan wegpink van dankbaarheid. Sy wieg saam met die musiek en jy moet jouself keer om nie die heeltyd na haar te staar nie.

Haar wiskunde punte verbeter met 23%. Sy kry meer positiewe terugvoer van die wêreld as negatiewe woorde en sy gedy in die son.

Jý mis haar soos sy was. Sy is getem en haar passie is gedemp. Dít is die ander sleg. In die aand wag jy vir dit, want dit kom elke aand as die medikasie uitgewerk het terug. Ons nar, ons wawielmakende, katjagende, sussietergende, warrelwind, grapjas liefste Sonneblom.

Sy doen niks op ‘n gewone manier nie. Sy bak koek met haar eie resep, want om resepte te volg is soooo boring… Sy maak vir haar sagte speelgoed rokke en mantels en kopbande met klere (wat sy nog dra!) wat sy opknip in haar impulsiewe oomblikke. Sy bou kunswerke met al die skatte wat sy opgaar. Sy gaar álles op. Haar kamer is chaoties. Haar kleredrag is uniek en flambojant.

Naweke gee jy vir haar ‘n breuk sodat sy kan eet en vrolik wees. Teen Saterdagmiddag sit jy met jou hande in jou hare, jy raas en keer en ignoreer haar tienersussie se verwytende kyke. Jy lag en gryp haar vir ‘n stywe drukkie as sy verby jou spoed.

ADHD is ‘n werklikheid in baie mense se lewens. As jy dalk ‘n kind ken wat soos myne klink, wees genadig. Sien hulle uniekheid raak. Pluk die labels af. Kyk met deernis na hulle. Hulle kan nie help nie.

© 2017 – 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die bekentenis van ñ (net-net) goed genoeg Ma.

FacebookTwitterSk het Sondag in die kerk met ‘n vrou gepraat wat ‘n klein, pienk vyf maande oue babatjie het. Ek het Sondag in die kerk met Haar oë blink terwyl sy praat oor min slaap, haar kind wat skree as sy vir haar skoene aantrek en hoe moeilik dit is om kerk toe te gaan met die pragtige dingetjie.  Sy maak my skoon tranerig terwyl sy praat oor haar babatjie se perfeksie, slaap roetines en die vreugde van Ma wees. 

by Blogger –  / Oct 31, 2016 / 4 Kommentaar / Gelees deur 81799 mense.

Ek het Sondag in die kerk met ‘n vrou gepraat wat ‘n klein, pienk vyf maande oue babatjie het.

Haar oë blink terwyl sy praat oor min slaap, haar kind wat skree as sy vir haar skoene aantrek en hoe moeilik dit is om kerk toe te gaan met die pragtige dingetjie.  Sy maak my skoon tranerig terwyl sy praat oor haar babatjie se perfeksie, slaap roetines en die vreugde van Ma wees.

Op pad huis toe dink ek, my jongste se slaap roetine is om voor die TV aan die slaap te raak terwyl ek haar rug kielie en hierdie nuwe Mamma sal my nooit glo as ek vir haar vertel dat sy eendag heel moontlik met ʼn histeriese ondertoon in haar stem SHARRAAAAAAP vir die pienk dingetjie sal skree nie. Of dat sy haarself in die badkamer sal wil toesluit, want sy het die behoefte om ʼn glas pienk melk oor haar vierjarige se kop uit te smyt nadat sy ʼn tantrum gooi omdat jy gewaag het om eerste die melk, en toe die poeier in te gooi. DIT MOET GLO ANDERSOM WEES.

Ek is soms so deurmekaar dat my oudste dogter van dertien haar wekker tien minute voor myne stel om seker te maak ek staan betyds op om hulle almal wakker te maak.

‘The Middle’ is my gunsteling TV program, want dit laat my effens normaal voel.  Ek voer my kinders gereeld bokspap in die aand as hulle kla oor die groente op hulle borde..

Ja, Ma wees.

Niks berei jou voor op hierdie reis nie. Selfs die mees gefokusde, georganiseerde Ma doen dit soms verkeerd.  Ons skree soms wanneer ons moet sag praat en ons ignoreer goed wat ons moet straf.  Ons gee vir gluten intolerante kinders pizza met ʼn koring basis en vir hiperaktiewes MSG en rooi koeldrank. Ons drink soms twee glase wyn om ons oorblywende sinne te preserveer. Ons het soms net nie krag om te wonder oor die effek van ons woorde en aksies op ons bloedjies nie. Ons probeer ons uiterste bes in die sirkus waarin ons ons bevind.

Die grootste guns wat ek nog ooit vir myself gedoen het, was die dag toe ek besluit het om elke dag te leef soos dit kom.  Eg en opreg.

Bid hardop vir jou kinders en laat hulle hoor wanneer jy vir die Here dankie sê dat hy jou geseën het met super spesiale, pragtige kinders. Laat hulle ook hoor dat jy jammer sê vir dit wat jy verkeerd gedoen het.  Druk jou kinders styf teen jou vas, sê meer ja as nee.  Laat hulle bak en brou en verf en plak en plak hulle skepsels teen die yskas en kamermure. Sê vir hulle jy is lief vir hulle.  Lag vir die chaos, laat hulle foute maak, leer hulle naaste liefde deur self jou naaste lief te hê.  Sê en wys vir hulle dat hulle goed genoeg is.  Maak ʼn fuss van hulle  uniekheid.

Straf hulle wanneer hulle verkeerd is, gil as die situasie dit vereis. Sê opreg jammer vir die kere wanneer jy wel onnodig baklei het.  Budget vir goeie koffie en goeie wyn. Gebruik Bergamot Essence vir al die hare wat jy uit jou kop getrek het.   Kry ʼn sleutel vir jou kamerdeur.   Leer hulle van die simptome van PMS en dat jy soms soos ʼn leeu voel wat skapies vir brekfis wil opvreet.

Wys hulle dat jy nie perfek is nie sodat hulle nie eendag perfeksie van die lewe verwag nie.  Wys vir hulle jou hartseer.  Ons doen nie ons kinders ʼn guns deur hulle die heeltyd te beskerm teen die moeilike goed nie.  Ons kan hulle nie vir altyd beskerm nie.  Rus hulle toe vir hulle eie sirkus eendag.

Jy is goed genoeg.  Foute en al.  Goed genoeg.  So steek ʼn  vuur aan en skink ʼn glas van daardie goeie wyn, en ontspan.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Glo jy aan nuwe lewe?

glo-jy-in-nuwe-lewe

 

 

 

 

 

Ek sit onder ñ  boom wat besig is om te bot.  Van naby af kan jy dit nie eens sien nie.  Onder is die stam swart van twee jaar terug se byna vernietigende brand. As jy ñ paar tree terug staan sien jy die heldergroen nuwe blaartjies  aan die bopunt van die boom.

Soms moet ons ‘n paar tree terugstaan om werklik te sien.  Het julle al agtergekom hoe die dood ons altyd laat dink aan lewe? Ons sê dan met hartseer en spyt ‘Die lewe is so kort..dit kan in ‘n oogwink weggeneem word.’  en dan wend ons weer ‘n poging aan om die lewe te koester en te benut. Dis eintlik absurd, want hoekom laat dit ons dink aan lewe as ons klaar lewe?

Dis nie net die dood wat ons met spyt vul nie, dis ons huwelike ook.  Ons kom baie keer eers agter hoeveel ‘n persoon werklik vir ons beteken wanneer ons hulle verloor het.

Ons verloor nie iemand oornag nie.  Liefde sypel soos water  in ‘n dun straaltjie by ‘n gekraakte damwal uit en die watervlak daal stadig maar seker.  Daar is partykeer ‘n welkome donderbui wat die vlak laat styg, maar dit keer nie dat die watervlak weer begin daal nie. Dit lek uit, bietjie vir bietjie.  Ons kom baie keer eers agter dat die damwal stukkend is as die krane leeg is.  Dan kan ons verbysterd nie glo dit het met ons gebeur nie.  Dan wil ons vrek van die dors.

Op hierdie punt blameer ons baie keer die ander persoon wat ook verantwoordelik was om die wal te onderhou, want dit kan mos nie ons skuld wees nie.  Kan dit?

Die gevaar is dat wanneer ons op hierdie punt is, ons so bang raak dat ons werklik sal sterf van die dors, dat ons bereid is om enige water te drink om die dors te les.  Selfs die vuil  toiletwater uit ons eie of iemand vreemds se toilet.

Ons vreet op wat die een wat ons seermaak vir ons aanbied of ons gaan soek dit op ‘n ander plek.  Ons word bereid om besoedelde, stink water te drink.  Ons gaan soek dalk momentele geluk in iemand anders se bed of arms.  Dit voel goed om waardeer te word, aangeraak te word.  Dis opwindend en dit les die dors in ‘n oogwink.  Partykeer laat ons bloot net toe dat die een wat ons liefhet ons behandel asof ons niks werd is nie, want toiletwater is beter as dors wees.

Hier is die aaklige waarheid… een glas toiletwater is nie genoeg om die dors vir ewig te stil nie. Die aanhoudende gesuip van stink toiletwater het die potensiaal om jou so siek te maak dat jy vir jouself en vir ander sterf.  Dit kan ‘n selfhaat veroorsaak wat jou verteer en jou laat glo dat jy dit nie verdien om liefgehê te word nie.

Dit is ‘n leuen!

Ek wil dit skree, want ek was daar en ek sien dit elke dag gebeur.   Ek weet wat die prys is van té lui of té arrogant wees.  Geen huwelik is veilig as dit nie deur albei partye gekoester word en opgepas word nie.  Baie min huwelike verbrokkel as gevolg van die dade van een persoon. Baie mense sê hulle sal dit nooit kan vergewe as hulle mans of vrouens hulle verneuk nie.  Hoekom is ‘n affair die grootste sonde in ‘n huwelik?  Verwaarlosing is net so ‘n groot sonde.   Ons moet ophou om ons maats op subtiele wyses af te kraak.  Dit laat liefde sterf.  Ons begin dink ons is ons maats se eienaars.  Dat ons kan sê en doen net wat ons wil en dat ons kan wegkom daarmee. Ons raak jaloers op ons maats se suksesse en herinner hulle gedurig aan hulle mislukkings.  Ons vergeet dat die Here vir ons sê die liefde hou nie boek van die kwaad nie.

Ons maak nie meer van ons maats ‘n prioriteit nie en behandel hulle asof ons hulle ‘n guns doen om by hulle te wees.  Ons hou op om tyd te maak vir ons maats.  Ons maak van ander dinge afgode, ons kinders, sport, werk, geld, skoene.  Ons kan honderde verskonings uitdink vir hoekom ons nie meer werk aan ons verhoudings nie.  Hy verstaan my nie, sy sien my nie meer raak nie, hy is vervelig, sy is vet, hy is nie meer die man met wie ek getrou het nie, sy sien net die kinders raak.

Het jy dit al vir hom gesê of is jy te trots? Het jy haar al gehoor of is jy te arrogant?  Het julle al werklik iets daaraan gedoen of is julle te lui? Ek praat nie van woorde nie.  Ek praat van dade.  Liefde is dade.  Woorde word ‘n gewoonte en beteken niks as dit nie daadwerklik bewys word nie. Is jy bereid om jou ou self af te sterf  om jou huwelik te red of heeltemal van voor af te begin?  Is julle altwee bereid om alles in die stryd te werp, want 50% ís nie genoeg nie. Is jy bereid om na jou maat toe te draai en vir hom/ haar te sê ‘Al lyk hierdie soos een massiewe boggerop en al voel dit asof en nooit weer met ‘n tang aan jou sal wil raak nie, is ons dit aan mekaar en aan ons gesin verskuldig om alles in die stryd te werp om dit te probeer uitwerk?’ Wanneer gaan mense besef dat liefde meer is as ‘n gevoel!  Dis ‘n verdomde keuse wat jy dag na dag maak te midde van PMS, bankrotskap, impotensie, middeljare krisisse, kanker, rekmerke, selluliet, moeilike kinders, droogte en woede.  Een persoon kan probeer totdat hulle blou in die gesig is, maar as dit nie altwee se hartsbegeerte is om die verhouding te red nie stel jy net die onvermydelike uit.  Jy kan nie iemand gevange hou met skuldgevoelens en manipulasie nie.

Daardie gebarste damwal kán deur fyn beplanning en harde werk sterker word as wat dit nog ooit was.  Dit vat tyd, bloedsweet en trane, maar die beloning is so bitter groot.  Dit kan selfs heeltemal oorgebou word, maar daar is ‘n voorvereiste…altwee partye moet met alles wat binne hulle is dit wíl herstel. En ja, soms moet ons opgee as ons sien dat niks wat ons doen help om die dam te herstel nie.  As ons nie ten minste probeer nie sal ons nooit weet nie.

Ons kan nie ons wêreld beheer nie en ons kan nie beheer wat ander mense aan ons doen nie, maar ons kan beheer wat ons aan ander doen.  Soms moet ons stilstaan en luister en werklik hoor.  In ander situasies moet ons ons arms om onsself slaan en onsself toelaat om elke emosie te voel en diep te beleef.  Soms moet ons na mekaar draai en mekaar weer raaksien en besef wat jy het.  En soms moet ons iemand se hand vat en styf vashou en in geloof begin bou al kan julle nie nou sien hoe dit ooit moontlik sal wees om dit reg te kry nie.

Ons moet partykeer die onvermydelike keuse maak  om om te draai en weg te stap van iets wat eens jou hele lewe was, maar wat nou al die lewe in jou binneste  doof.

Selfs dan moet jy lewe, want ñ stukkende hart laat jou nie ophou asemhaal nie.

Ons kan dit nie self regkry om iemand wat ons diep seergemaak het te vergewe nie.  Dit kom van die Here af.  Ons moet wel kies om dit te doen.  Sewentig maal sewe keer.  Soms oor en oor.  Ek is so moeg daarvoor om te hoor dat vertroue nie herstel kan word nie.  As jy dit sê ken jy werklik nie die Here se krag en mag nie.  Vertroue kán herstel word en jy kán iemand vergewe wat jou bitter seer gemaak het.  Dooie bene kán weer lewend word en in vreugde begin dans.  Dit kán.  Dit vat tyd vir die nuwe blaartjies om sigbaar te word by ‘n boom wat oënskynlik dood is.  As jy die boom summier afkap gaan jy nooit weet of die boom nog lewe nie.  Daar moet partykeer ‘n seisoen van rou en twyfel verbygaan voordat jy terugstaan en dit raaksien.

Die vraag is meer eenvoudig as wat jy dink…wil jy of wil jy nie?

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Troukoors

My voorneme om elke dag te skryf het gekom en gegaan…daar is nie tyd vir nostalgiese mymerings in my lewe nie.
Ek trou. EK trou. EK TROU! (Laasgenoemde skree ek met onbevange paniek)
Ek lees trou artikels oor perfekte dae met wedding planners, caterers en ek skree vir Liefie ‘As ons ooit weer trou, doen ek niks! Hoor jy my? Niks!’

Ons dominee wat ook ons huweliksberader was, het grappenderwys gesê hy het ñ doodsertifikaat nodig voor hy ons trou, want die kanse is goed dat een van ons die ander sal wil vermoor.  Ons het gelag en diep in mekaar se oë gekyk en natuurlik gesê dit sal nooit met ons gebeur nie, maar nou weet ek nie meer nie.

Ek is so befoeterd dat Liefie gisteraand gesê het hy verwag enige oomblik dat ek die affêre kanselleer.

Hý sê ek moet fokus op Sondag wanneer ons saam in Duitsland arriveer sonder die kinders.

Die kinders…hoe gaan ek twee weke sonder hulle oorleef?

My bloedjies…daar tjank ek alweer!

Ek tjank so oor hulle dat Liefie gister mooi gevra het dat ek asseblief tog myself in die vliegtuig moet uithuil, hy sal glo maar ñ movie kyk met oorfone in sy ore. Die onsimpatieke buffel.

Ek het gister my oudste kind beetgekry in ñ knelgreep. Ek het dramaties tussen my trane deur vir haar gesê dat ek haar nie kan laat gaan nie. Sy aard obviously na haar pa, want haar enigste reaksie was;

‘Mamma het ñ serious probleem. Eers sê Mamma dat mamma nie kan wag om alleen te wees saam met Pappa nie, en noudat mamma die kans het huil mamma. Dalk moet Mamma iemand gaan sien?’

My ma help ook nie…sy bel my om te hoor of ons testament reg is. Ek bly sommer net hier. Net hier!

Ons moet glo ook vir ons vlug incheck 17:15 Vrydagaand om seker maak ons sit nie in die toilet nie. So almal wat die van den Heever troue bywoon moet verskoon as Liefie op sy selfoon besig is as ons ons ‘I do’s’ gesê het.

Daar is ñ miljoen dinge wat moet gebeur voor vrydagaand 17:00. Sover het ons ñ dominee, vleis, ñ koek en baie wyn . (Daar was meer, maar ek moes proe of dit reg is) O ja, ek het ook ñ man wat sover nog gewillig is om deel te neem.

‘n Liewe, dierbare man en ek kan nie wag om die res van ons storie saam met hom te skryf nie,

Laat hy val waar hy wil.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share