Vat tog net ñ break!

In my kop het ek so baie dinge wat aangaan. Daar bruis ‘n onstuimige rebelsheid binne my wat wag om uit te kom.
Ek is werklik so bietjie moeg vir mamma snobisme en hoogmoedigheid.

Ons almal ken hulle.. Daardie mammas wat skynbaar met die minste moontlike effort alles heeltemal onder beheer het. Kinders is perfek. Huwelik is perfek. Finansies is perfek. Hulle volunteer en presteer op elke gebied. Hakke is heeltyd glad. Flip, alles blink.

Al hulle prestasies en hulle kinders se prestasies word op ñ perfek geoefende ‘understated’ manier oorgedra aan wie ook al naby is. Hulle het gewoonlik ook heelwat oor die res van die mensdom te sê op so bejammerende manier.

Hulle laat die res van ons wat werklik net ons heel beste gee, lyk asof ons die kursus gepluk het. (Dit is nou as jy nog glo dat daar iets soos ‘n perfekte ma bestaan)

Sewentien jaar terug het ek ook my moederskap droom met hierdie illusie afgeskop. My kinders gaan perfekte bloedjies wees wat presteer op akademiese gebied (hulle pa is immers ‘n genius) en sport gebied (hulle pa het immers die victor ludorum gewen).

As ek nie gegroei het tydens hierdie reis as ‘n ma nie, sou my drome teen nou al verpletter gewees het. My gemiddelde gene het blykbaar gewen. Toe skei ek en hierdie briljante pa ook nog (darem weer getrou) en crap kom ek sê dit nou sommer prontuit, ek sukkel met my hakke.

Ek is ‘n ma van drie dogters. Ek moet dit dalk oor sê. Ek is ‘n ma van drie wonderlike, talentvolle, partykeer horrible, meestal hardwerkende, soms katterige, sagmoedige, bakleigatterige, pragtige, moody, soms emosioneel totaal onstabiele, goedhartige, liefdevolle dogters.

Hulle dryf my teen die mure uit op ‘n goeie dag, want raai wat.. net soos hulle ma is hulle nie naastenby perfek nie.
Hulle weet genadiglik (dank die Here) hoe om hulle by die skool (ek hou duimvas vir die weerbarstige jongste) en by ander mense te gedra, maar hier in hulle veilige plek gaan hulle soms ‘n bietjie bos. En ek gaan soms meer as ‘n bietjie bos. (Ek is bevrees my bure kan hiervan getuig)

Ek kry nie die sielkundige aanslag aldag reg nie en soms rig ek beslis skade aan met my onsensitiewe ‘Life is tough, deal with it’ uitkyk.

Ek is oneindig lief vir my kinders, maar heng ek ken ook hulle tekortkominge. Ek kan beslis hulle warning labels skryf,

Fragile. Handle with care.

Sharp around the edges. Use at own risk.

Risk of suffocation and death. (true story)

Hulle kan myne ook skryf,
DANGER. Proceed with caution.

Lekker giggel ek nou..
Ek het hierdie onperfekte dogters met my hele hart lief en hulle meestal vir my ook.

My persepsie van suksesvolle moederskap het ietwat verander deur die jare.
Dit vat nie meer veel om my soos ‘n goeie ma te laat voel nie.

Om die waarheid te sê, as ek onthou om al my kinders betyds by hulle verskillende aktiwiteite op te laai voel ek soos ma van die jaar.

As my tiener uit haar kamer kom en met my praat sonder om daai ‘wat weet jy tog jy dateer uit die sewentigs‘ kyk op haar gesig te kry, voel dit asof ek ‘n boek oor suksesvolle ouerskap kan skryf.

As hulle almal ‘n appel saam met hulle two minute noodles of airfryer chips (vir die gluten intollerante) geëet het koop ek sommer self die trofee.

As hulle hard werk, onthou van toetse (met ADHD is dit nie ñ given nie), deurkom en die punte kry wat hulle verdien, voel dit asof ek ten minste ñ ere Doktorsgraad in opvoedkunde moet kry.

En dan die kersie op die koek.. As hulle almal hare gewas het en skoon, kort naels het (net vir ingeval die tiener so ver lees, ek praat nie van jou nie!) wil ek ñ cape koop, want ek is Super-Ma! (ek werk nog aan die jongste se skurwe elmbogies en knie-knoppe)

Vat dit nou van my, jy is genoeg en perfek as jy dáár is vir jou kinders. Of hulle nou strooi aanjaag, engeltjies is, suksesvol is of misluk.

Jy ís super-ma as jy dit meestal reg kry om hulle te laat voel dat wie hulle is, heeltemal genoeg is vir jou, al is hulle nie in die top 10 of die eerste sportspan nie. Wanneer jy deur stoutgattigheid en soeter as soet tye vir hulle die een is op wie hulle kan staat maak.

Ag, gee sommer vir daardie perfekte ma ‘n drukkie en ñ Kit Kat as jy haar sien, sê vir haar ons almal verdien soms ñ break.

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

0total visits,176visits today