Doen dit net.

Hallo. Ek is Annalize en ek twyfel in myself.

Ek wou eintlik net die woorde in swart en wit sien. Ek moet begin met my skryfkursus, maar ek kom nie verby die eerste bladsy van die kursus materiaal nie. My brein haak vas by die woord roman.

Dit is ‘n droom, maar ek kan net op een manier skryf en dit is uit my hart uit sonder om the dink aan dialoog en leestekens.

O hel.. my man het duisende rande (in November 2018) aan hierdie kursus spandeer en nou het ek performance anxiety. Wilde angst.

Hulle sê mos om iets te erken is die eerste stap.

Ek reken daar is baie mense wat nie werk maak van hulle drome nie omdat hulle te bang is vir mislukking. Ons voel te klein vir die droom.

Ons het wel baie legit verskonings. Ons is immers besig, ons damme is leeg, want almal tap ons. Ons kinders het ons nou nodig, ons mans het ons volgehoue, lojale ondersteuning nodig

Ek is ‘n vrou so ek weet dat dit net ‘n halwe waarheid is.

Ons bak eerder ñ duisend koekies vir die koekverkoping voordat ons daardie drafskoene aantrek of weer begin swôt. Ons sê nee vir ons droomwerk, want ons voel skuldig teenoor ons mense. Ons sê ja vir die werk wat ons nêrens heen vat nie, want die ure pas die gesin. Daar is altyd nog ‘n Maandag, nog ‘n week, nog ‘n maand. Totdat daar nie meer is nie..

Ek is die koningin van regverdiging. Ek moedig eerder vreemdelinge in Australïe aan om hulle drome te vervul voordat ek dit self waag om te spring.

Maar vrek weet, met elke selftwyfelende ding wat ons vir onsself sê raak ons drome dowwer. Ons glo later hierdie nonsens wat ons vir onsself vertel. Ons raak valer, bleker en gaan bietjie vir bietjie dood in die binnekant, want ons onderdruk elke bietjie passie en begeerte wat ons het. En ons doen dit aan onsself!

Kyk nou vir my, ek skryf eerder ‘n blog oor my vrees om te skryf voordat ek verby bladsy een, paragraaf drie van my kursus vorder.

Ek het darem nóg ‘n verskoning. My rekenaar battery is op agt persent..heeltemal te laag om myself nou te verdiep in die kursus. Dit help mos nie jy kom net lekker in die zone en dan kan jy nie verder gaan nie. Die kat lê op my skoot en slaap en ek wil haar nie wakker maak om die kabel te gaan haal nie.

Dêmmit julle, kom ons help mekaar om die bul by die horings te pak. Ons as vrouens wat dieselfde stryd stry moet daar wees vir mekaar. Ons moet mekaar se cheerleaders wees.

As iemand wat hier lees my later vandag sien, sê vir my ek kan dit doen. (Behalwe jy Liefie, bly eerder stil..of nee sê iets. Anders gaan ek dink jy het nie my blog gelees nie en dit is ook nie goed vir jou nie.)

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

7770total visits,7visits today