Die dag toe ek ‘n Mampara genoem is.

 

Ek onthou dit asof dit gister was.  Dit was 1985 en ek was in standerd twee. Die woord Mampara het in bloedrooi ink op my wiskunde vraestel gestaan. Ek het presies geweet wat dit beteken, ek het immers al Kringe in ‘n Bos in daardie einste jaar gelees en ek onthou hoe ek instinktief my hand bo-oor die rooi merk gesit het.  Ek het ‘n paar agterlosige foute gemaak en my juffrou het dit goed gedink om my vraestel te brandmerk met ‘n woord wat in die Verklarende Woordeboek verduidelik word as onnosele vent, bog en aap. Ek was 9 jaar oud en ek het simpel, dom en vernederd gevoel.

Die jaar voor dit het ons vanaf die Kaap na Kimberley getrek en ek het aan die einde van die derde kwartaal by my nuwe standerd een klas ingestap.  Ek was bang en vreemd en het my beste maatjie Anina gemis.  In die eerste halfuur van die dag het my splinternuwe Juffrou, nadat sy deur my boeke gekyk het, my vorentoe geroep en gevra om die woord ‘hardloop’ op die bord te skryf.  Ek het entoesiasties opgestaan en na die bord gestap en ‘hartloop’ geskryf. Sy het daarna gewys en voor al die kinders, met wie ek nog moet maats maak, gesê: ‘In Kimberley spel ons hardloop met ‘n d.’  Sy het begin lag en almal in die klas het saamgelag.  Ek het op my tande gekners om die huil te keer en uiteindelik gevra om kamer te verlaat sodat ek in die badkamer kon gaan snik. Ek was 8 jaar oud en ek het simpel, dom en vernederd gevoel.

Daar is nog baie sulke dinge wat ek onthou.  Ek kan verduidelikings gee oor hoekom ek vandag nog glo ek kan nie wiskunde of naaldwerk doen nie.

Onderwysers het ongelooflike mag met hulle woorde.  My arme man moet sy eie knope aanwerk…alles ‘n onderwyseres se skuld.

Hierdie herinnerings uit my kinderjare is getrigger deur ‘n  inskrywing op ‘n ADHD ondersteuningsgroep op Facebook. ‘n Mamma het fotos gewys van aanmerkings en kommentaar wat ‘n juffrou in haar kind se boeke geskryf het.  Lelike en afbrekende woorde.  Sy is op hierdie blaaie, wat in haar werkboeke is en waarnatoe sy  kan terugblaai net wanneer sy wil, beskryf as moedswillig omdat sy foute in wiskunde gemaak het.  Sy kan glo die somme doen.  Ek ken min 8-jarige kinders wat somme aspris verkeerd sal doen.  Elke keer as sy daardie blaai sien gaan sy onthou hoe sy gevoel het toe sy die eerste keer daardie woorde lees.  As ek na die werk op die blaai kyk is sy moontlik in graad 2 of 3.  Sy het bertien in plaas van dertien geskryf en ook daar is ‘n plakker geplak met die woorde ‘Ag nee!’ op.  (Die persoon wat daardie plakkers ontwerp het moet heuning gesmeer word en vir balbyter miere gegee word.)  Daar was tot ‘n swart sterretjie op die blaai.  Ek vind dit nogal ietwat donker en wil nie te veel daaroor dink nie.

Die ma het in haar inskrywing gesê hoe hartseer haar kind by die huis was.  My nekhare het gerys. Die moedertier binne my se naels het uitgekom. Hierdie onderwyseres is ‘n boelie.  Sy het geen aanvoeling vir kinders se harte nie en sy het beslis geen kennis en aanvoeling vir kinders wat ADHD het se harte nie.  (sy is glo bewus daarvan dat die betrokke kind ADHD het en op medikasie is)  Die kommentaar van die ander ouers op hierdie groep het my laat besef dat hierdie baie meer gebeur as wat ek dink.

Ek het my graad 4 dogtertjie se boeke summier uit haar tas gaan haal om te kyk wat haar onderwysers alles skryf.  Kyk, mense wat nie ADHD ken nie sal nie verstaan watse uitdagings daar alles is nie.  Netheid is beslis een van die vele uitdagings.   Ek het deur al haar werkboeke geblaai en daar was baie foute.  Baie rooi ink, maar nie een enkele een van haar onderwysers het afbrekende kommentaar gelewer nie.  Elke kriesel kommentaar wat daar was was konstruktief en opbouend.

 

Nou my vraag is, ‘As my kind se onderwysers dit kan regkry, hoekom kan alle onderwysers dit nie regkry nie?’  Daar is geen verskoning daarvoor nie, want alles in die lewe het te doen met keuses.

Woorde het die krag om te vernietig of genesing te bring.  Dit kan seer maak of heel maak.  Dit kan opbou of afbreek.

Lelike en afbrekende woorde wat in rooi pen in jong kinders se boeke geskryf word help nie die kind om beter op skool te doen of netjieser te werk nie.  Dit breek hulle harte, dit verneder hulle en laat hulle voel asof hulle ‘n MISLUKKING is.  Daardie woorde bly by hulle vir altyd en ewig.  Dit vernietig hulle selfvertroue.  Dit squash hulle man.  Jy kan netsowel op hulle trap. Ek kry ‘n prentjie in my kop van pragtige blomme wat by die stingel geknak is.

Wat gaan ‘n kind help om harder te probeer en harder te werk?  Ek het ‘marknavorsing’ gaan doen en my kinders gaan vra hoekom hulle harder werk in een juffrou of meneer se klas as ‘n ander.  Hulle antwoord was deur die bank dat hulle beter wil doen in die onderwysers waarvan hulle hou se klasse.  Hulle wil hulle glo nie terleurstel nie.  Wie sou dit nou kon raai?

Dankie vir elke onderwyser wat die moeite doen om kinderharte te verstaan.  Dankie vir elke onderwyser wat emosioneel intelligent is en weet dat woorde wys gebruik moet word.  Dankie vir elke onderwyser wat die moeite doen om konstruktiewe kommentaar te lewer en nie net lelike plakkers plak met lelike woorde op nie.  Dankie vir my kinders se onderwysers wat opbou en nie afbreek nie.

As daardie onderwyseres iets gesê het soos ‘Ek glo in jou.  Ek weet jy kan beter doen. Kom dat ek weer vir jou wys.’  Watse verskil sou dit nie in hierdie dogtertjie se dag gemaak het.

Moeder Teresa het gesê:  ‘Kind words can be short and easy to speak, but their echoes are truly endless.’ Dieselfde is ongelukkig waar vir ongenaakbare en harde woorde.

 

 

© 2017 – 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Finesse Voelgoed blog: Die alien in my huis

Elkeen van ons dra wonde saam en elke liewe mens kry êrens seer in hulle lewe.  

Die tiener wat nou die dag in Vredekloof in die Weskaap weggeloop het, het heel moontlik al baie seergekry.  Die kommentaar van mense wat haar en haar omstandighede nie eens ken nie het my stomgeslaan.  Sy kort ‘n ordentlike pakslae was die gewildste.  Sy is verskriklike name genoem en veroordeel deur sogenaamde christelike volwassenes.  

Huh?  Sal ‘n pakslae by ‘n kind wat waarskynlik al baie seerder as houe op haar boude gekry het, werklik ‘n verskil maak?   Weet jy hoe ‘klein’ en kwesbaar ‘n dertienjarige nog eintlik is?    

Ek weet, want my dogter is veertien.  ‘n Vriendin het een keer die volgende gesê oor haar tienerdogter; ‘Dis asof sy as háár kind gaan slaap het, maar as ‘n alien wakker geword het.’  Ek het natuurlik gedink dit sal nooit met my dogter gebeur nie, maar die alien is hier. Dis ‘n nuwe fase in my kind se lewe en ek moes alien taal aanleer.  Soms raak sy weg in my huis.  Sy is so baie op haar eie dat ons maklik kan vergeet sy is daar.  

Weet jy wat in jou kind se lewe aangaan?  Ken ons werklik nog ons tieners of los ons hulle agter hulle toe kamerdeure en dink dit is aanvaarbaar dat hulle nie meer saam met ons in die openbaar wil verskyn nie.

 ‘Toemaar Sussie, ek weet die grootmense is boring.  Bly maar by die huis en doen jou huiswerk.’  

Wat maak hulle agter die toe kamerdeure?  Waarna kyk hulle?  Met wie gesels hulle? Lag hulle nog en speel hulle nog?  Is hulle gelukkig en lief vir hulleself?  

Die hartseer feit is dat baie kinders nie meer hulle eie lewens leef nie. Hulle kan op sosiale media enige iemand wees wat hulle wil wees.  Dis soos ‘n dwelm.  Die goedkeuring van wildvreemdes gee vir hulle die fix wat hulle nodig het.  Om gewoon te wees trek nie aandag nie.  Dis dan wanneer ‘n dertienjarige meisietjie ‘n foto op Facebook post van haar bene wat ontbloot is.  Skielik kry sy aandag.  Baie siek aandag, maar vir haar die aandag wat sy nodig het om goed te voel oor haar lewe.  Sy het meer en meer van hierdie dwelm nodig en sy glo later al die leuens wat sy vir haarself vertel.

Die Heuwels Fantasties sing ‘Dinge wat jy miskyk sal in opstand kom.  Die kleinste ding wat jy miskyk sal in opstand kom.’

Kyk ons ons kinders mis?  Ons is saam in een huis, maar alleen.  Selfone isoleer mense.  Elkeen is op ‘n aparte plek in dieselfde huis besig met aparte dinge.  Niemand leef meer hulle eie lewe nie.  Ons bemoei ons met mense wat ons nie eens ken nie terwyl ons mans, vrouens, ouers en kinders stom skree vir aandag, aanvaarding en begrip.  

Net jý sal weet wat in jou huis aangaan.  Net soos ék weet wat in my huis aangaan.  

Die wegloop van daardie onbekende graad 7 dogtertjie van die Wes-Kaap het my geruk.  Sy moes lankal verlore gevoel het voordat sy gekies het om in ‘n vreemde kar te klim om na ‘n vreemde plek te gaan na vreemde mense toe.  

Ek weet ook baie goed dat jy nie fisies hoef weg te loop om verlore te wees nie.  

Sien jou Alien raak al verstaan jy nie wat de heng in daai koppie aangaan nie. Meng in in hulle lewens, want dit wys dat jy belangstel.  Jy irriteer hulle anyway op jou beste dag, so gee hulle nou maar ‘n rede om geïrriteerd met jou te voel.  Bly hulle ouer.  Hulle het genoeg tjommies.

Ons moet die voorbeeld wees wat hulle volg.  Ons moet leiding gee en beheer vat.  All Star tekkies en iphones vervang nie drukkies en aandag nie, al maak dit hulle harte momenteel bly.  Gee jou tyd en aandag vir hulle.  Dis die dinge wat hulle laat voel dat hulle lewens die moeite werd is om te lewe.  

Kyk na hulle en sien hulle raak.

#closeddoorsmustfall 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share