Velhonger

Hierdie blog is in my hart gebore nadat ek gesien het hoe my drie-en-tagtigjarige skoonpa sy oë toemaak en glimlag terwyl my dertienjarige dogter sy bene met room masseer.

Die beeld van haar jong, sterk hande op sy perkament dun vel het my hart met deernis gevul. Die vreugde wat hy uit haar aanraking geput het het my hartseer gemaak, want die wrede waarheid is, hoe ouer jy is hoe minder word daar aan jou geraak.  

Kort na my egskeiding het ek vir ‘n massering gegaan.  Die terapeut het met doelgerigte hande die olie oor my rug gesmeer en niks kon my voorberei op my lyf en gees se reaksie nie. Intense, séér emosie het in my opgewel.  My borskas het saamgetrek in ‘n bittersoet spasma. Elke haartjie op my lyf het orent gespring en ek het in hoendervleis uitgeslaan.  ‘n Broosheid het van my besit geneem wat my emosioneel naak gelaat het. Met haar warm hande het sy die weemoed en verlange uit my lyf geknie. 

Die liewe vrou het aangegaan asof sy heel gewoond is daaraan dat amper middeljarige vrouens in trane uitbars as sy aan hulle raak.  Haar aanraking het meer as net my vel bereik. Dit het ‘n plek in my binneste bereik wat ek weggesteek het vir myself.  Ek was uitgehonger vir positiewe aanraking.  Velhonger.

Soveel mense om ons is velhonger. Ja, ons weet van die weeskinders, verwerpdes en eensames, maar wat van die mense wat in huise woon saam met hulle naastes. Mense wat vriendskappe het en mense wat in verhoudings is. Mense in ons huise.

Deesdae word automatiese, battery aangedrewe wiegstoele gebruik as ‘n minderwaardige plaasvervangers vir liggaamshitte,  ‘n ma se hartklop en liefdevolle aanraking om babas te kalmeer.  ‘Sleep training’ is die in-ding en moedig mense aan om huilende babas te los om alleen aan die slaap te raak.  Tieners bly agter toe kamerdeure, skynbaar stil en rustig, maar so verwyderd van hulle gesinne dat hulle emosioneel dor is.  Geliefdes soen mekaar skrams hallo en totsiens in die verbyloop en wonder verdwaas hoekom hulle afgesny voel van mekaar.

Ons vergéét dat ons aanraking so nodig het vir ons gees soos wat ons asemhaal nodig het vir ons fisiese funksies. Ons het dit nodig vir emosionele intimiteit met ons geliefdes, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle vertroue te wen en te behou, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle te leer hoe positiewe, gesonde aanraking voel.  Ons het nodig om aan mense te raak, want óns het dit nodig.

Hoe ouer ‘n kind word, hoe minder word daar met werklike bewustheid aan hulle geraak.  Te veel tieners gaan slaap elke aand sonder dat hulle ouers hulle behoorlik nagsê of hulle sommer in die verbyloop gryp en hard vasdruk êrens deur die dag.  Hulle staan op ‘n afstand en kyk met verlange hoe hulle jonger broers en susters opgetel en getroetel word en smag na dieselfde, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ja, ek weet hulle maak hulle skouers styf. Ek weet hulle sê jy embarrass hulle as jy hulle in die openbaar totsiens sê, maar ek weet ook dat daardie drukkie of nagsoentjie ‘n warmte in hulle hart veroorsaak wat deur die dag by hulle bly en hulle herinner dat hulle saakmaak.

Kos vir velhonger kan so maklik op die verkeerde plekke gesoek word en dit maak my báng.

Met jou deernisvolle aanraking kan jy liefde en aanvaarding wys.  Jy kan hartseer beter maak en hoop gee.  Jy kan mure afbreek en iemand laat veilig voel.  Jy kan waarde gee aan iemand se bestaan.  Jy kan die gat in ‘n eensame se hart vul. Jy kan hoop gee.  Jy kan letterlik ‘n lewe red.  Dís hoe kragtig aanraking is.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Skryf oor skryf

Ek het so lanklaas geskryf dat ek amper my skryfstem verloor het.  Ek praat soveel stories in my kop wat verlore gaan, want ek skryf dit nie neer nie.  Soms maak ek ‘n afgerammelde nota op my foon, maar dit bly net ‘n nota. Ek het soveel voornemens wat net nooit ‘n realiteit word nie.

Ek kan baie verskonings hiervoor gee, maar die feit bly staan, skryf is harde werk en vat dedication. Dis iets wat geoefen moet word en as mens elke keer moet wag vir inspirasie sal daar baie min geskrewe woorde in die wêreld wees.

Ek het vanoggend die volgende foto op facebook raakgeloop en dit het my vreeslik laat dink aan my lewe.

Ek droom so baie keer oor goed, veral skryf, maar when push comes to shove dink ek die een verskoning na die ander uit hoekom ek dit nie kan doen nie. Moegheid, kinders, vrouwees, werk… ag sommer net lewe om te oorleef sluk my lewe en my drome in en laat my met ‘n terleurstelling in myself wat my ‘inner voice’ so negatief maak dat ek dit nie durf neerskryf nie. Een ding wat ek weet is dat wanneer jy jou woorde begin meet en begin dink aan wat mense wil hoor dan kan jy dit maar los. Ek blog want dit gee my ‘n druppel van die bevrediging wat ek nodig het in die lewe.  Soos enige passievolle mens het ek ‘n kreatiewe uitlaat nodig, want anders haal ek al my opgekropte frustrasies op die mense naaste aan my uit.  Skryf moet vloei soos bloed uit ‘n oopgesnyde wond.  As ek verder aan die vergelyking dink klink dit nie so goed nie.

Êrens moet jy seker die bloeding stop voordat jy leegbloei en doodgaan.

Ek skryf op my beste of eerder lekkerste wanneer ek dit laat uitstort.  Soos hierdie. Ek weet nie eens of ek sin maak nie, maar ek weier om te stop en te lees wat ek skryf.  My uitdaging vir die dag.  Ek gaan hierdie op my blog sit sonder om dit te edit, of te dink aan ‘n gepasde afrikaanse woord vir ‘n engelse een en sonder om te kyk of ek mal klink.

Soms moet ons bietjie ophou edit aan ons lewe terwyl ons lewe.  Dit klink ook nie heeltemal reg nie, want ons kan verseker nie edit aan ons lewe as ons opgehou lewe het nie.  Dis dalk die hele punt van die blog.  Hou op met edit en lewe, want eendag gaan die lewe verby wees en ek vir een weier om die stoep te sit met net regrets en wat asse.  Hopelik verstaan iemand my.  Dis tyd dat ek ophou om so baie te dink aan doen en hoe om dit te doen en dit net doen.

Nou maar toe, soos my tante altyd sê, nou maar toe.

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share