Troukoors

My voorneme om elke dag te skryf het gekom en gegaan…daar is nie tyd vir nostalgiese mymerings in my lewe nie.
Ek trou. EK trou. EK TROU! (Laasgenoemde skree ek met onbevange paniek)
Ek lees trou artikels oor perfekte dae met wedding planners, caterers en ek skree vir Liefie ‘As ons ooit weer trou, doen ek niks! Hoor jy my? Niks!’

Ons dominee wat ook ons huweliksberader was, het grappenderwys gesê hy het ñ doodsertifikaat nodig voor hy ons trou, want die kanse is goed dat een van ons die ander sal wil vermoor.  Ons het gelag en diep in mekaar se oë gekyk en natuurlik gesê dit sal nooit met ons gebeur nie, maar nou weet ek nie meer nie.

Ek is so befoeterd dat Liefie gisteraand gesê het hy verwag enige oomblik dat ek die affêre kanselleer.

Hý sê ek moet fokus op Sondag wanneer ons saam in Duitsland arriveer sonder die kinders.

Die kinders…hoe gaan ek twee weke sonder hulle oorleef?

My bloedjies…daar tjank ek alweer!

Ek tjank so oor hulle dat Liefie gister mooi gevra het dat ek asseblief tog myself in die vliegtuig moet uithuil, hy sal glo maar ñ movie kyk met oorfone in sy ore. Die onsimpatieke buffel.

Ek het gister my oudste kind beetgekry in ñ knelgreep. Ek het dramaties tussen my trane deur vir haar gesê dat ek haar nie kan laat gaan nie. Sy aard obviously na haar pa, want haar enigste reaksie was;

‘Mamma het ñ serious probleem. Eers sê Mamma dat mamma nie kan wag om alleen te wees saam met Pappa nie, en noudat mamma die kans het huil mamma. Dalk moet Mamma iemand gaan sien?’

My ma help ook nie…sy bel my om te hoor of ons testament reg is. Ek bly sommer net hier. Net hier!

Ons moet glo ook vir ons vlug incheck 17:15 Vrydagaand om seker maak ons sit nie in die toilet nie. So almal wat die van den Heever troue bywoon moet verskoon as Liefie op sy selfoon besig is as ons ons ‘I do’s’ gesê het.

Daar is ñ miljoen dinge wat moet gebeur voor vrydagaand 17:00. Sover het ons ñ dominee, vleis, ñ koek en baie wyn . (Daar was meer, maar ek moes proe of dit reg is) O ja, ek het ook ñ man wat sover nog gewillig is om deel te neem.

‘n Liewe, dierbare man en ek kan nie wag om die res van ons storie saam met hom te skryf nie,

Laat hy val waar hy wil.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die mymerings van ‘n ervare bruid

ringe

Dis Dinsdagaand en ek kan op my vingers begin aftel hoeveel dae oor is.  Tien slapies.  Ek het tien verskillende lysies met goed wat gedoen moet word en agtien dae gelede het ek oorweeg om die ‘28 Dae Dieet’ te doen, maar daai skip het geseil en gesink.

Ek mag moontlik die enigste bruid in die geskiedenis van die heelal wees wat nie een kilogram verloor het voor haar troue nie en glo my daar is ‘n hele klomp wat ek kan verloor.

My middelkind het haar geskiedenis vraestel beskryf as maklik-moeilik.  My gevoelens is die afgelope paar dae hartseer-opgewonde.  Hartseer, want hierdie jaar moes ons ons twintigste huweliksherdenking gevier het en opgewonde, want ons storie se volume twee is amper klaar geskryf en oor tien dae begin ons skryf aan Volume drie.

Volume een het op 15 Oktober 2013, na drie jaar se trane en probeer, in die Hooggeregshof in Bloemfontein geëindig.  Ek was nie alleen daar nie.  Ek en my mede skeigenoot het saam hof toe gery en gesit en wag in die hof vir my naam om geroep te word. Ons het so misrabel gelyk dat ek later vir hom gesê het dat as ons nie nou beter lyk nie gaan die regter my een kyk gee en huis toe stuur sonder om ons te skei.  Ten spyte van die twyfel en verwoesting in my hart was daar nie meer ‘n omdraaikans nie.  Ek moes hom laat gaan, want ek het met my hele hart geglo dat dit die enigste manier is om hom terug te kry.

Die 150 skeisake wat in die hof afgehandel is daardie dag het vir genoeg entertainment gesorg.  Een vrou het in Sotho getuig en haar tolk het besluit om in detail te verduidelik presies hoekom sy vandag hier is. Dit het min of meer so gegaan:

‘I came home after work, minding my own business and heard noises in the house. I went into the bedroom and found my husband with an unknown women…en daar het hy bietjie gepause vir dramatiese effek…IN THE BEEEEED…  I asked this women what is she doing….weer ‘n pouse…IN MY BEEEEED with MY Husband.  She said nothing, but I told my husband he must leave…THE BEEEEED and take this women with him and never ever come back.’

Ek en my geliefde het na mekaar gekyk en ons skouers het stil begin ruk van die lag.  Nie dat dit enigsins snaaks is nie, maar as jy self daar sit en in min of meer dieselfde situasie is, dan klink dit baie snaaks.  Ek het my wenkbroue vir hom gelig en vir hom gefluister dat hy nie weet wat ek alles as redes gaan gee vir ons egskeiding nie.  Ja, jy moet twee of drie redes gee.  My advokaat het my gecoach om die volgende rympie te sê “Ek het respek, vertroue en liefde verloor en daarom kan ek nie langer met hom getroud wees nie’

Ek het hardnekkig geweier om te sê dat ek liefde verloor het, want ek het nie.  Ek het net besef dat liefde regtig nie genoeg is nie. Is dit nie vreemd nie?  As jy jonk en verlief is dan glo mens onwrikbaar dat liefde genoeg is om enige iets te oorkom.  As jy middeljarig en ontnugter is dan weet jy dat liefde ‘n klein deel is van dit wat nodig is om ‘n verhouding te laat floreer. Daar is ‘n ander komponent wat noodsaaklik is vir ‘n verhouding om te werk.  Altwee moet dit wíl laat werk. Daai wíl, het my met tye gek gemaak.  Ons huweliksberader het met elke sessie gevra, wil jy of wil jy nie?  Dis glo so eenvoudig.  Met elke sekonde voor my geliefde se antwoord het ‘n stukkie van my hart doodgegaan.  Ek wou nie hê dat skuldgevoelens teenoor my en ons kinders die dryfveer moet wees vir die probeer nie.  Ék wou die rede wees.  Ék.

Êrens het ek die wysheid gekry om te weet dat my grootste kans om hom terug te kry is nie deur hom te oorlaai met aandag en liefde nie.  Hoe harder ek probeer het, hoe verder het hy weggedryf.  My beste kans om hom terug te kry was om self eers te herstel en myself te vind in die proses.  Ek moes leer om ‘n bietjie kil te raak, gelukkig te wees en hom te laat wonder oor my geluk.  ‘n Bietjie onaantasbaar te raak en grense te stel.  Die koffiedrink wanneer hy die kinders kom haal het moes stop, hy moes die kinders buite die huis kry.  Ons kon nie meer saam na die kinders se goed gaan nie, al het my hart gehunker na die saamwees en my vel fisies gepyn as ek naby hom is. Ek kon nie herstel as ek nie van hom fisies skei nie. Dit was ook heeltemal te verwarrend vir die kinders.  Dit het hulle hoop gegee. Daardie hunkering, yearning in engels, het my mal gemaak.  Ek kon eers begin rou toe ons geskei is.  Voor dit was die hoop te sterk.  Ek het tot die oomblik van ons egskeiding gehoop hy sê vir my ons moet dit los, dit was ‘n fout.  Hy het nie en ek moes dit aanvaar. Ek het gebid dat die Here sý hart verander, maar mý hart moes eers verander voor ek die Here se hand in ons situasie kon sien.  Selfs toe hy terugkeer na die Here moes ek aanvaar dat hy nie noodwendig na my toe gaan terugkeer nie.  Ek moes met my hele hart glo dat die Here in beheer is en dat Hy vir ons sal sorg.

Hoekom bring ek hierdie nou op?  Die oomblik in die skeihof en dit wat dit voorafgegaan het is iets wat ek niemand toewens nie en dis ook iets wat ek nooit ooit weer wil oorhê nie.  Ons trou weer en terwyl ek hierdie troue reël onthou ek die wonder van ons eerste troue.  Sy gesig toe hy my gesien het.  Ons kon nie ophou om aan mekaar te vat en na mekaar te kyk terwyl die predikant praat nie (dalk moes ons eerder geluister het na wat hy sê!) Ek kan soms nogsteeds nie glo dat dinge so skeef kon loop nie.  Ons het so sterk konneksie gehad dat ek nooit gedink het so iets sal met ons gebeur nie.  Hy was my hele wêreld.  En dis die ding.

Liefde sterf nie in ‘n oogwink nie.  Dit sterf ‘n stil en stadige dood.  Stukkie vir stukkie.

Dit gebeur so stilweg dat die uiteindelik besef dat jou verhouding in die moeilikheid is as ‘n verskriklike  skok kom.  Dit het vir my.  Ons het dan nogsteeds tot laatnag gesels.  Ons het saam dinge gedoen.  Ons kon nogsteeds mekaar se gedagtes lees as ons pictionary speel.  Ons het elke dag vir mekaar gesê dat ons lief is vir mekaar.  Ek was swanger met ons derde kind.  Op die oppervlak was alles goed.  Daardie vanselfsprekende aanvaarding dat hierdie man vir altyd by my gaan wees het gemaak dat ek hom nie waardeer het nie.  Ek het hom nie meer werklik raakgesien nie.  Ek was eerstens ‘n ma, ‘n vriendin, ‘n bybelstudie bywoner en dan ‘n vrou vir my man.  Elke saak het twee kante.  Mens kan so maklik die skuld net op een persoon laai.  Ek was net so skuldig aan die verbrokkeling van ons huwelik as hy.  Ek het myself bitterlik verwyt dat ek kon toelaat dat hy so ‘n gewoonte raak dat ek hom nie eens meer raaksien nie.

As jy eers alles wat vir jou kosbaar is verloor het, kan jy nie anders as om die heeltyd bewustelik na maniere te soek om dit nie weer te laat gebeur nie.  Skei is geweldadig seer.  Dit bring ‘n seer in jou kinders se hart in wat aaklig is om te aanskou.  Die ergste ding van dit is, is dat jy as ouer vir hulle pyn verantwoordelik is.  Dit laai ‘n las op jou skouers wat met tye te swaar is om te dra.  Skei breek jou selfvertroue af, dit kneus die mense wat vir jou lief is en jou seer sien.

Die Here was ons verskriklik genadig en het die wonderwerk waarvoor ek gebid en gesmeek het laat gebeur in ons lewens.  Ons het drie jaar gevat om te skei en net drie maande om na ons egskeiding mekaar weer te vind.  Ons verhouding is nuut en anders, want..

  • Ek kies hierdie man elke dag bewustelik as die persoon met wie ek my lewe deel. Al voel ek nie altyd lus nie. Ek kies om hom lief te hê vir altyd.
  • Ons dien die Here saam met mekaar en saam met ons kinders. Ons weet ons het Hom nodig om te werk.
  • Ek is nie sy ma nie. Ek sal nooit weer alles vir hom doen en my afsloof tot op die punt dat hy net kan sit en niks doen nie. Hierdie mag vreemd en simpel klink, maar ek skep nie meer sy kos in nie. Ek pak nie sy tas as hy rêrens heen gaan niie. Ek bederf hom op ander maniere. Maniere wat nie net ‘n roetine raak en as vanselfsprekend aangeneem word nie.
  • Ons is nie mekaar se hele wêreld nie. Ek het ‘n lewe waarmee hy niks te doen het nie. Hy het ‘n lewe waarmee ek niks te doen het nie. Ons praat daaroor met mekaar en dit hou ons verhouding interessant. Hy gee vir my die ruimte om dinge te doen wat vir my lekker is en ek gee vir hom dieselfde ruimte. Ons lewe nie in mekaar se skaduwee nie. Ons het sonlig nodig om te groei. Ons doen soms dinge apart al is ons saam. Ons gun dit vir mekaar om drome te hê.
  • My kinders is my hart, maar hulle kom nie eerste nie. As my geliefde by die huis kom groet hy hulle en dan jaag ons hulle weg om te gaan speel. Die eerste halfuur is net ons s’n. Ons drink koffie op die stoep met ons voete op die muurtjie en praat oor ons dag. Dis ons tyd en weet jy wat? Hulle het gewoond geraak daaraan. As ons dit nie doen nie is daar partykeer net nie tyd om te praat nie en ons sien vrek baie uit na hierdie halfuur elke dag. Ons voel nie skuldig oor die kinders nie. Alles wat ons doen om ons verhouding sterk te hou bevoordeel die kinders in die lang duur.
  • Ons skeduleer tyd om saam te wees. Die lewe is ‘n dolle gejaag en as ons nie bewustelik beplan om tyd saam te spandeer nie, voel ek verskriklik gou afgeskeep. Dit kan hoe besig wees, maar as ek weet ons gaan Saterdag saam uit, het ek iets om na uit te sien en dan voel ek glad nie afgeskeep nie. (Sien vrouens is eintlik heel eenvoudig) Ons boek elke maand ‘n hele Saterdag oggend van 08:00 tot 14:00 uit om saam te wees sonder ons drie kinders en ook ‘n paar korter koffie of ontbyt afsprake. Hoekom doen ons dit? Dis heel eenvoudig. Ons hou verskriklik baie van mekaar se geselskap en ons kinders maak ons mal. Ons het nodig om te kuier en nodig om van hulle af weg te kom om ons sanity te behou.
  • Ons sluit ons kamerdeur Sondae middae vir ‘n sondag ‘middagslapie’. Terwyl die kinders dink ons slaap kan ons doen net wat ons wil sonder om gesteur te word. (Natuurlik mag hulle ons steur as iemand bloei of iets gebreek het)
  • Ek sal nooit weer dit as vanselfsprekend aanneem om saam met my geliefde wakker te word nie. Alleen slaap in die winter is verskriklik sleg. Alleen slaap en alleen wakker word was vir my verskriklik eensaam. Ek het kussings agter my rug ingedruk, maar dis om een of ander rede net nie dieselfde nie. Ek waardeer sy nabyheid meer as ooit vantevore.
  • Ons gaan sien ‘n berader as ons voel ons het hulp nodig. Daar is op die aarde niks daarmee verkeerd om te erken jy het hulp nodig nie. Net soos jy jou kar diens moet jy ook jou verhouding diens. Ek gaan sit eerder ure by ‘n berader voordat ek weer op die punt kom waar alles ‘n gemors is. (Ek ken ‘n vreeslike goeie een as julle dalk iemand soek)
  • Ek stres nie meer oor die klein dingetjies nie. Elke keer wanneer ek ‘n vrou hoor kla oor ‘n man wat vergeet om die vullissakke uit te sit wil ek ‘n vullissak vol gastro doeke oor haar kop uitgooi. ‘n Mens is so geneig om fout te soek wanneer daar nie fout is nie, want dis mos abnormaal om ‘n gewone, goeie man met ‘n foutjie hier en daar te hê. Soms moet ons maar ons twee hande gebruik en self die vullissakke uitvat. Niemand van ons is perfek nie.
  • Ek wys vir my geliefde dat ek trots is op hom. Ek probeer luister na dit wat hy vir my vertel. Hy hou nie altyd daarvan dat ek vir hom probeer raad gee nie. Soms wil hy hê dat ek net ‘n klankbord moet wees. Ons het al in die verlede baie hieroor vasgesit. Ek moes leer om partykeer net my mond te hou en luister. Dit kom ongelukkig vir die meeste vrouens (myself inkluis) nie natuurlik nie.
  • Ons lag saam. Ons vat mekaar nie altyd so ernstig op nie. Ons staan saam en ons raak baie minder kwaad vir mekaar as voorheen. Die lewe is te kort!
  • Ek is lief vir hom, elke aspek van hom. Altyd. Selfs wanneer hy grumpy is en vir almal grom. Selfs wanneer hy nie die vullissakke uitvat nie. Kan jy dit glo!
  • Ek vertrou hom om die beste vir ons gesin en ons verhouding te doen. Ek vertrou hom met my lewe en ek glo hom as hy sê hy is lief vir my. Wanneer jy deur ‘n egskeiding is is vertroue broos. Dit het ons lank gevat om op ‘n punt te kom waar die verlede in die verlede bly. Vandag is wat tel en die toekoms is waarna ons uitsien.

Ek kan vir ewig aangaan.  Die punt is, ek is dankbaar vir ons gekraakte en gelapte verhouding.  Ek is verskriklik dankbaar vir ons tweede kans.  Ek is selfs dankbaar dat ek die voorreg het om met hom op ‘n normale manier te kan baklei oor alledaagse snert..  Ons verhouding is ver van perfek, maar ek kies dit elke dag, want ek weet hoe dit was om sonder hierdie man te wees.  Dit was hel.  Ek wil dit nooit weer ervaar nie.

Nou moet ek ophou skryf.  Ek trou oor tien dae en ek moet slaap.  Ek is immers middeljarig en het my slaap nodig.  Maak asseblief  ‘n date met jou man of vrou. Hou op om te sê jy is te besig.  Laai jou kinders by ‘n vriendin af. Gee mekaar vandag iets om na uit te sien en jaag daai kinders weg sodat julle kan praat.

‘Frasier has left the building, goodnight’

 

 

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share