Finesse Voelgoed blog -Die Honger

My stryd met die skaal kom nie van vandag af nie.  Ek was kleintyd grof van been en is redelik gereeld herinner aan ons genetiese geneigdheid tot ronde gesiggies en ruim heupe.

My oupa Bosman het glo met ons eerste ontmoeting gesê ‘Kyk daai sterk armpype.’

Met my derde swangerskap het ek die skaal ordentlik laat kreun en toe die bom in my lewe bars het ek binne drie maande van intense hartseer en ellende 35 kilogram verloor.

Ek moet ook noem dat ek soos ‘n verwoede dier geoefen het. So erg dat baba nommer drie ‘n bottelbaba was en ons haar nou maar met kommer dophou om te sien wat die langtermyn gevolge gaan wees.

Toe tref die liefde en geluk my weer en ons vier fees en eet koek en tert en bacon en eiers en tuisgemaakte brood en aarbeie wat in chocolate gedip is en drink wyn en romerige cappuccinos asof daar geen môre is nie.  Too merry.  Voor ek my pofferige oë uitvee is ek 8 kilogram swaarder.  Dit was erg, maar hanteerbaar, want ek was nogsteeds aan die oefen. Met minder aggressie natuurlik en sonder die opswepende klanke van Jack Parow in my ore.  Awe.

Ongelukkig val ek toe van my fiets af en beseer my reeds gekrokte knie tot so mate dat ek ‘n knievervanging benodig.  In ‘n oomblik van waansin youtube ek die prosedure en besluit summier ek sal maar voort suffer. Die volgende logiese stap is om dit wat erge pyn veroorsaak te vermy en so hou ek op met oefen.

Nou weeg ek nog swaarder, maar die groot verskil is dat ek soos ‘n geflopte kaas soufflé platgeval het. My lyf het dimpels waar ek nie geweet het mens kan dimpels kry nie. In tert terme kan ek seker sê my meringue is bietjie pap en in poeding terme kan ek vergelyk word met sago.

Sondagmiddag lê ek op die bed en doen my kegel oefeninge soos dit ‘n goeie forty somethinger betaam. My vyfjarige kom lê haar kop op my sagte boesem neer en giggel ‘Mamma lýk of mamma ‘n baba gaan kry, maar mamma gaan nie, hie hie hie.’

Inderdaad, hie hie hie, snik snik…  Ek besluit net daar en dan ek gaan nooit weer kos oor my lippe laat kom nie.  Van Maandag af natuurlik.

Banting klink na die roete om te volg.  Ek kan nie lewe van blare en wortels nie… kon nog nooit en sal ook nooit kan nie.  Ek begin die dag te pragtig met ‘n romerige omelet en bulletproof koffie.  My kind speel klaviereksamen en my senuweeagtige kake soek iets om te kou. Ek staan sterk. Sy maak klaar en ons gaan celebrate haar oorlewing.  Ek vergeet ek bant en foeter met glorie van die wa af en suip ‘n double thick BAR ONE milkshake saam met haar.

Dinsdag is ‘n nuwe dag en ek eet roereier met klapperolie en room vir ontbyt.  Die middag is dit avo en biltong.  Die aand gaan ek saam met vrinne uit en is vol moed.  Ek eet steak en  groente, nogal in botter gaargemaak, te pragtig.  Ek drink wyn vir medisinale doeleindes en die ander drink cocktails. Ek is so trots op myself dat ek nee kan sê vir die helder kleure en sambreeltjies. Ons fantastiese kelnerin hou my glas vol en toe ek tot my sinne kom het ek ‘n chocolate volcano met roomys opgevreet.  Wyn.  Dis rêrig sleg vir ‘n mens.

Woensdag is weer ‘n nuwe dag en ek klim wankelrig op die skaal.  Ek weeg ‘n kilogram swaarder as Maandag toe ek begin diet het.  Ek stap in my cottons na die ander badkamer om my room (lyfroom, né) te kry wat my tiener gesteel het en sing ‘I am who I am..’ uit volle bors.  My oog vang my weerkaatsing in die spïeel en ek staan stil om na myself te kyk.  Eish…  vandag beter bleddiewil die dag wees wat ek onthou dat ek dieet.

Die aand gaan kyk ek Susan Coetzer se eenvrouvertoning ‘Koek en Tert’ by ons kerk.  Dis asof dit vir my geskryf is.  Ek kom so vrolik by die huis aan dat Liefie agterdogtig my asem beruik en vra of hulle nagmaal bedien het. Daar lê halfvol pizzabokse op die eetkamertafel en my tienerdogter spring voor my in, gryp my aan die skouers en sê ‘Be strong Mother, be strong.’

Ek kan nou met trots sê dat ek strong was.  Hierdie einste dogter moes my weer teen die arm klap toe ek gisteraand by die skoolkonsert ingedagte ‘n sweet in my mond wou druk.  Aandagafleibaarheid is nog ‘n probleem in die familie.

Vandag is dag drie.  Wat ek gister bereik het of nie bereik het nie tel nie werklik vandag nie.  Hoe ek vandag doen, dis wat tel.

Elke dag is mos ‘n nuwe dag en ‘n nuwe kans. Be strong people.  Be strong. Awe.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die Mis

image

Ons stappie in die mis by Kaapschehoop het my laat dink aan my lewe.

Ek het al soveel keer blindelings rondgestap in digte mis. Sonder dat ek weet waar ek is of waarheen ek gaan.

Dan verskyn daar ñ onverwagse verassing in die mis. Iets wat jou asem wegslaan en jou hart vinniger laat klop. ñ Oomblik van loutere vreugde.  ñ Simbool van hoop.

Ander kere moet jy doelbewus kies om die mooi te soek.

Dan begin jy weer die alledaagse mooi raaksien en dit vul jou hart met stille dankbaarheid vir dit wat jy het. Klein dingetjies wat jy in die helder sonskyn as vanselfsprekend aanvaar kry nuwe betekenis.

Wanneer jy dan terugkyk na daardie tyd in jou lewe vorm die mis slegs die agtergrond vir daardie mooi oomblikke.

As die mis wegtrek skyn die son altyd weer. 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share