Voelgoed blog : ‘Jy en pappa was soos monkeys’

image

My middelkind sê nou die dag vir my uit die bloute in die kar dat sy nooit gaan trou nie.

My eerste woorde aan haar is dat sy nog heeltemal te jonk is om nou al daaraan te dink.

‘Nee rêrig,  ek gaan nie trou nie, want as jy trou skei jy en dis baie hartseer.’

Daar is nog iemand in haar klas wie se ouers skei..

Haar volgende woorde laat my amper my kougom insluk,

‘Jy en Pappa was soos monkeys. Dan skei julle, dan trou julle, dan skei julle, dan trou julle. Nes monkeys!’

Toe kom haar stemmetjie effens sagter ‘Ek is partykeer bang dat julle weer gaan skei’

Ons was in ñ periode van drie jaar, drie keer uitmekaar en drie keer terug bymekaar.  Ons het die vierde keer werklik geskei. Ons is nou weer vir twee jaar bymekaar en is geseënd en gelukkig.

Ek sluk aan die knop in my keel en sê ‘ As Jesus iets heelgemaak het wat stukkend was dan pas mens dit beter op. Ons is baie lief vir mekaar én vir julle en ons het mekaar en ons gesin weer vir altyd gekies. Ons gaan dit vir altyd en altyd oppas.’

‘Ja, maar ek gaan nogsteeds nie trou nie’

Sy gaan glo eerder saam met haar beste maatjie bly en ñ kind by die weeshuis koop. Dan gaan sy ‘n manager wees en veertig katte hê.

Sy begin te sing en ek weet die oomblik is verby.

Egskeiding.  Aaklig.

Dit breek onskuldige hartjies se vertroue in die liefde en in die mense wat hulle sekuriteit is.  Ek het nooit gedink dit kan met ons gebeur nie, maar tog het dit.

Dis reeds die ding, dit kan met enige iemand gebeur.

Ons wêreld is gebreek.  Ons veg ons oorloë op heilige grond. Ons veg soms met die doel om te vernietig.

As ons maar nét mekaar vernietig het, maar in die middel van hierdie oorlogsfront is die onskuldiges. Ons kinders.  Ons selfsug vernietig hulle drome en steel hulle sekuriteit. Egskeiding is erg genoeg, maar as jy mooi om jou kyk sal jy sien dat mense hulle bes probeer om mekaar seer te maak en hulle dodelikste wapen is hulle kinders.

Egskeiding is ñ hartseer realiteit.

Dikwels is dit ñ keuse wat uit jou hande geneem word. Hoe jy na die tyd optree is wel iets waaroor jy beheer het.

Kies om jou kop hoog te hou.

Kies om onvoorwaardelik jou kinders te beskerm ongeag van hoe moeilik dit is. Kinders het liefde, aanvaarding en koestering nodig. Kinders wat deur ñ egskeiding gaan het dit tien keer meer nodig.

Kies om jou kinders nooit te laat voel dat hulle moet kies tussen jou en hulle ander ouer nie.  Kies om grootmens gevegte, grootmens gevegte te hou.

Egskeiding is geweldadig seer, maar om ons kinders se seer erger te maak, dít is soos om jou kinders vir die wolwe te gooi. Hierdie einste middelste dogtertjie het net na ons egskeiding gesê;

‘Al het Pappa geskuif, is julle nóg maatjies’

Dis hoe sy dit ervaar het.  Haar grootste rede was omdat ek nogsteeds elke aand vir Liewe Jesus dankie gesê het vir haar Pappa.  Ietsie so eenvoudig.

Eendag sal hierdie dogtertjie van my besef dat ek en haar Pappa nie soos monkeys was nie, maar wel soos die held en heldin in die Mills and Boon verhale wat haar tagtigjarige ouma so graag lees. (ek skryf nou natuurllik net op hoorsê) Jy weet, ontmoet mekaar, is verlief en verlore, misverstand gebeur, gaan uitmekaar en kom passievol terug bymekaar en lewe vir altyd en altyd gelukkig saam.

Al verskil is dat ons elke dag lewe in verwóndering vir die Here se genade.  Ons lewe elke dag dankbaar.

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Maskara

image

Ek maak vir jou ñ eenvoudige ontbyt van bruin toast en cheddar. Jy het te laat geslaap en die eiers het rubber geword.

Ek roer suiker in jou tee en verlang na die dae toe ek meer geweet het as jy. Die dae toe jy mý in plaas van life hacks geglo het.
Ek verlang toe sommer ook na die dae toe jy gemaklik op my skoot gepas het en in my arms kon inhardloop om hoog deur die lug geswaai te word.

Ek roep jou om te kom eet en jy kom staan voor my. Daar is ñ glinster in jou oë. Jy lyk vir my mooi.

Jy vra my  ‘Lyk iets anders?’

Ek sien die ligte tekens van maskara aan jou wimpers. Jou oë lyk skielik net so oud soos jou lyf.

Ek trek jou nader en sê, ‘Maskara, dit lyk pragtig’

Jy lyk verlig en ek weet jy het verwag dat ek sê ‘Gaan was dit af, jy is te jonk’

Hoe kan ek? Jy is ñ roosknop. Pragtig, fyn en broos.

Ek plant ñ sagte soentjie teen jou kop en sê;
‘Gaan haal vir my ñ tissue. Jy weet mooi laat my huil.’

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Droom

grass

Ek soek jou op jong lower en gras
Met die reuk van gekneusde blom
in ons neus
Ons asem ñ gewyde hittebron
Ek soek jou in ñ tydgleuf
Waar net nou bestaan
Onder ñ boom wat ons bedek
Met takke en blaar
Ons ledemate verstrengeld
en ons gedagtes baar

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed blog: Ma’s met dogters sal verstaan

Liewe Kinders

Blog dogters

Ek hoop nie dit is te laat wanneer julle hierdie lees nie, maar ek wil vir julle ‘n paar tips gee oor die manlike geslag. (Hou op om julle oë te rol! Ek weet meer as wat julle dink).

Eerstens moet ek sê dat géén man goed genoeg is vir julle nie.

Ek weet uit ondervinding dat julle nie baie goed vir my luister nie, so sou julle dalk verlief wil raak is daar wel ‘n paar mans wat julle soos die pes moet vermy.

• Laaities wat donkerbrille dra wat soos ‘n spïeel lyk. My goedige vy, jy wil mos nie jouself in sy bril aanskou wanneer jy hom in die oë probeer kyk nie. Dié laaitie dra ook gewoonlik boxer shorts en vergeet om ‘n belt aan te sit. Die vent sal ons heel moontlik groet met ‘n Whassup Homey, terwyl hy onder ‘n skewe pet uitloer.

• Laaities wat praat van gaskets en tune en wat ou golf GTI’s ry met massiewe spoilers met mags met liggies…oe my bloeddruk verhoog sommer as ek daaraan dink. Hierdie misbaksel sál te vinnig met jou jaag om af te show. Hy sal van jou praat as sy Chick, Cherry of Goose en julle Pa sal die ventjie wil tune totdat hy soos ‘n GTI klink. (Ek noem bogenoemde seuns/mans laaities, want dis hoe hulle Pa’s na hulle verwys.)

• Mans wat donkerbrille op hulle agterkoppe dra. Dis gewoonlik een of ander duur maak en hulle speel baie keer golf. (ek het niks teen golfspelers nie, julle Pa probeer immers self. Dis die windtie manier waarop die bril sit waarteen ek iets het)

• Gamers. Ons is baie lief vir julle en sal nie omgee om julle te help sou julle swaarkry nie, maar ek gaan nie jou man wat ‘n loopbaan maak van games speel onderhou nie. (Ek is sommer al klaar kwaad vir die vent. Game Over Boetie!)

• Mans wat dit duidelik maak dat ‘n vrou se plek in die kombuis is. Swanger, kaalvoet met ses kinders om ‘n tafel terwyl sy met haar geswelde vingers ‘n houtlepel vasklem om aandete te roer… hardloop Sussie, hardloop!

• Mans wat stink. Rerig? Daar is baie goed beskikbaar om stank te voorkom en as hy nie eens die inisiatief kan neem om iets aan sy sweet te doen nie, hoe gaan hy ‘n krisis situasie hanteer?

• Mans wat gereeld te veel drink. Daai tipe wat dubbel brandewyn en Coke drink en die brandewyn in die tuinslang wegsteek. Wat gereeld nodig het om jammer te sê dat hy te veel gedrink het. Gewoonlik klink dit so:

‘Shorrie Shkattie, ek ish nie dronk nie, ek kan beshtuur’. Hy kan nie bestuur nie! Die Blik…skottel! Bel vir my of Über, unfriend die vent op social media en block hom in die werklike lewe!

Hierdie brief ontstel my en maak dat ek alle seuns van min of meer julle ouderdom in die see wil jaag.

Die maklikste is, vergeet van mans. Hulle is bad news. Punt.

Baie liefde

Mamma

P.S. Julle Pa het nou net ‘n foto onder my neus gedruk van hoe hy gelyk het toe ek hom vir die eerste keer na Ouma-hulle toe gevat het… Metallica T-shirt, lang hare. Ek weet werklik nie hoe hy dit oor die drumpel gemaak het nie.

Ek dink hy probeer vir my sê, die uiterlike is nie so belangrik nie…sluk…solank die vent jou net soos die Prinses wat jy is behandel…sluk…

© 2016 – 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Honger

image

Honger

Vul my maag met woorde
Voed my hart met kos
Satureer my bloed met asem
Help my om die sonde te los

Vul my kop met beelde
Voed my siel met jou oë
Versadig in my die honger
Laat my vergeet wat ek kan verloor

Breek my brood met jou hande
Skink soet wyn in my kelk
Sit aan by my ronde tafel
Bly tot die laaste blom verwelk

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed Blog: Ma waar is die tjoklits?

Liewe Kinders,

Tye is swaar.  Nie so swaar dat julle dit sal agterkom nie, maar swaar genoeg dat ek ’n opgaarder geword het.

Ek het altyd gedink dat mense wat blikkieskos koop vir ingeval die einde van die wêreld aanbreek, ’n effense klap van die windmeul weg het, maar helaas beoefen ek nou daardie vlak van beplanning.  Ek vat die konsep net nog ʼn stappie verder. Ek steek die proviand weg.

Die rede hoekom ek ’n opgaarder/wegsteker is, is julle.  Júlle is vrate.  Julle vreet en vreet totdat die land kaal is.  Baie soos die sprinkaan plaag toe ek klein was. Mens sal sweer julle het wurms.  En julle het nie.  Ek het al gekyk en julle ontwurm.  Dit werk nie.

Toe moes ek aan ’n plan dink, want elke keer as ek julle alleen los vir ’n middag is die maand se proviand opgeëet.  So al die kere wat julle gekerm het ‘Daar is NOOIT iets lekkers in ons huis nie!’ en gedreig het om my in te ruil vir ’n ma wat koekies en chips en sjokolade koop, wás daar al die bogenoemde.

Dit was net gestoor, in die spens.  In die ou, blou koelerboks, onder ’n hoop koerante.

Soms het julle van die lekkernye daarbinne gekry en soms nie.  Soms het ek en Pappa dit opgeëet.

Ons het vandag weer begin dieet so dalk sal julle nou meer daarvan kry (ons is vasbeslote dat die dieet hierdie keer langer as drie dae gaan hou).  Ons dieet is natuurlik direk eweredig aan hoe julle julle gedra.  Mamma is ’n emosionele eter.  As julle baklei en kerm, dan soek ek kos.  So as julle na die wydte van my heupe kyk, behoort julle af te lei dat julle baie baklei en kerm.

Ek voel nou baie skuldig, maar moenie bekommerd wees nie,  Pappa het die sjokolade wat oor is weggesteek sodat ek dit nie kan kry nie.

Liefde

Mamma

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed Blog: Hoese, Proese en Dankbaarheid

Hierdie laaste twee weke was nie rustig of goed nie.  Griep het vier uit die vyf platgetrek en raai wie staan regop?

Ek is ’n versorger in my hart en gewoonlik meer empaties as meeste, maar ek is net ‘n mens en ek kán net nie meer nie. Ek slaap te min, mense. Heeltemal te min.

My gebrekkige geduld het vir die kinders nóg ’n rede gegee om eendag op ’n rusbank in ’n  spreekkamer te lê en sinne te begin met: “my Ma..” .

Ek het ’n paar dae terug met my hande in my hare vir die span geskree: “Ek voel soos die enigste nugter mens tussen ’n spul dronkes!” (drie swangerskappe en maande se borsvoeding het veroorsaak dat ek met outoriteit oor die onderwerp kan praat).

Al reaksie wat ek gekry het was ’n histeriese hoesbui wat oorgegaan het in asemnood, twee huilbuie wat oorgegaan het in histeriese hoesbuie en een hoesbui wat oorgegaan het in iets wat ek nie in detail hier kan beskryf nie.  Ek kan wel sê dit het ’n emmer betrek.

Gisteraand klim ek in die bed en ek weet nie of ek uitsien na die slaap of opsien teen die wakker word nie.  Ek maak Facebook oop en lees van ’n Ma met ’n tweejarige seuntjie wat baklei teen kanker.  Hy het ’n operasie gehad en sy beskryf haar lang wag voor die toe teaterdeur.  Sy vertel van haar angs en moegheid en sy ondraaglike pyn.

As ’n ma kon ek haar seer in my binneste voel vreet..  Op die fotos sien jy pype, masjiene en pleisters en ’n klein kaalkop seuntjie op ’n groot wit bed, en my hart bloei vir hulle, want vannaand sit sy in ICU en niks wat sy doen kan sy pyn vir hom beter maak nie.

My selfbejammering het verdamp.  Ek het my kinders vir ’n tweede keer gaan nagsoen (op die wang natuurlik, ek kan nie kanse vat nie), want ons het eintlik maar net vandag, en my goorste dag klink vir iemand anders soos ’n fantastiese een.

Dankbaarheid. Ons voel dít beslis nie genoeg nie.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share