Naaste aan my hart

Die dinge hier om my lê die naaste aan my hart.

Die lawaaierige deurmekaarheid van hierdie aardse woning is my rus.

Die onperfekte mure omsluit en beskerm my hart se skat.

In die halfklaar kombuis ontmoet ons aan die einde van ñ dag.

Ja, hierdie onvoltooide, middelklas huis, ís my paleis.

Hier maak ons vuur en vier ons fees.

Hier word klavier gespeel, rockstar repertoires uitgevoer, koek gebak, graffiti geteken op wit kamermure.

Hier hardloop kaalvoet, pienk prinsesse met tiaras en vere boas.

Hier lag en baklei vry geeste en sensitiewe divas.

Hier word liefgehê en gelag. Soms, word hier geskree en gehuil.

In die ruim erf, blaf honde histeries vir trampolien toertjies.

Hier blaas vet katte as jy jou voete beweeg in die nag.

Hier in my paleis, word besoekers verwelkom deur die geur van varsgemaalde donker koffiebone.

Die verwelktes word gered deur my nood bottle koue Chardonnay.

Hier baklei ons om erkenning, oorlewing, geluk en bestaan.

Hierdie gewone tuiste is my veilige hawe.

Al grendel ek sóms my fort teen die einste lieftallige pienk prinsesse.

Net sodat ek kan lus bly om hulle te voer.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Wolf

Daar is iets wat my onder kry in die lewe. 

Mense wat soek vir bybedoelings en versteekte motiewe in opregte gebare.

Die skinderbekke, swartsmeerders, redders van ‘situasies’ wat net in hulle koppe bestaan, opstokers, kwaadstokers. 

Wolf in skaapklere wat regstaan om die kudde te verskeur.

Het ek regtig tyd vir sulke mense?

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Drome

image

Ons almal het drome.

Vergete drome. Flambojante drome. Onrealistiese drome. Onwaarskynlike drome. En dan..daai verpestelike onvervulde drome.
Daai wat ñ ewige holte in jou borskas los…wat ñ hongerte in jou binneste veroorsaak.

Ek kyk vannaand ‘ñ Man soos my Pa’ en ek is so geraak dat ek vanaf die eerste minuut moet trane wegsluk. Later gee ek op en huil met oorgawe en passie.

My pa was ñ alkoholis.

As kind was dit verskriklik. Jy is die heeltyd verskeur tussen liefde en haat. Jy haat nie die mens nie. Jy haat drank. Jy haat die bruin bierbottels wat jy in die garage kry. Jy haat die horlosie wat jy dophou as jou pa ñ entjie gaan ry. Jy haat die harde woorde agter toe kamerdeure. Jy haat feestye en naweke.

Jy haat wie die mens word as hy drink.
Jy haat die mens wat jou Ma word wanneer hy drink.
Jy haat die mens wat jy word as hy drink.
Jy is skaam en jy is kwaad.
Jy is lief en jy haat.
Jy veroordeel en word geoordeel.
Jy voel skuldig en is skuldig.
Jy verdedig en jy baklei.

Jy is ñ opgeneukte warboel.

Jy verstaan nie. En die Here weet jy probeer hard.

Ten spyte van dit alles was my Pa ñ liewe mens. Hy het ons liefgehad met alles wat hy is. Hy het ñ goeie, sagte hart gehad.

Hy is dertien en ñ half jaar gelede dood. En ek onthou meestal net die goeie. Dis asof die dood die slegte laat verdof het. Tot so mate dat dit meestal onwerklik voel.

Vannaand het hierdie fliek my weer laat dink aan dinge wat ek lankal vergeet het.
Dit het my gevoelens laat herleef.
Dit het my laat dink aan my Pa se drome.
Ek weet hy het drome gehad. Wat het hom so gejaag dat hy moes drink om te ontsnap?
Wat het so aan hom gevreet dat hy moes drink om die gat te vul?
Dit het deernis in my hart wakker gemaak.
Ek weet dat hy soos ñ groot mislukking moes voel in die oggend as hy wakker word.
Hy het die heeltyd teen onsigbare spoke en monsters baklei.
My arme Pa..

Halfpad deur die fliek stuur ek ñ whatsapp op ons broer en suster groepie.
‘Kyk die fliek. Dis mooi en hartseer.’

Toe ek weer kyk is daar 10 boodskappe. My sussie is by ñ partytjie en effens vrolik. My broer spot met haar daaroor en met my wat skielik verdwyn het. Iets van my ouderdom..

‘Ek sê ek kyk en huil nogsteeds. Dis oor alkoholisme.’

My broer vra of ek iets probeer sê?

My sussie stuur ñ foto van haarself.
Sy hou ñ glas wyn vas.
Ons begin te spot oor wyn, whiskey en brannas. Oor oud word. Sy speel vir ons deeltjies van die liedjies op die agtergrond. Abba en John Lennon. Ons sê ñ paar keer hallo en koebaai. Ons sê ñ paar keer ons is lief vir mekaar.

Ek weet hulle verstaan.

Sal ek my kinderjare beskryf as ongelukkig?

Glad nie.

Ek het lankal gekies om die goeie te behou.

Die goeie van my kinderjare is my Ma, wat so swaar moes kry en ñ ware ystervrou was. Sy het later ñ paar keer opgecrack, maar wie sou nie?
My Ma het ñ hart vir mense wat swaar kry. Sy is uniek. Passievol, impulsief en het ñ vermoë om te sê wat sy dink. Sy laat ons soms met ons hande in ons hare, maar sy hou ons lewe interessant en opwindend. Sy het ons geleer van liefde wat oorwin. Dit het my laat baklei vir dit wat vir my belangrik is.

My broer en my suster. My bestes. Die twee mense wat my laat voel dat ek behoort. Die mense by wie ek waarlik myself kan wees. Soos daai van Coke en Zoid liedjie. Geen pretensie, geen beheer. Ons kan reminisce, lag, dans, sing, filosofeer, stry, kla, kerm, eet, wyn drink en saam staan soos niemand wat ek ken nie.
Ons kan kuier tot die son op kom. Ons deel ñ liefde vir avontuur, vuur, wyn en Spoegwolf.
Ons hou ook van swem in die see…om middernag…

As ons saam is praat ons baie oor ons kinderjare. Ons familie motto is ‘Life is tough, deal with it’. Ons gebruik nie ons kinderjare as ñ verskoning nie. Ons vat die lewe soos dit kom.

En my drome? Ek het baie. Sommige effens onrealisties, sommige bereikbaar en ja sommige nog sover onvervuld. Dit gaan my nie laat ophou droom nie.

Nog belangriker as dit is dat ek na mense kyk en wonder wat hulle drome is, waarna hulle smag?

En jy? Droom jy nog of het jy opgegee?

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vuur

image

Ons het vanoggend met sonop die nuus gekry.

Jy is weg..

Sommer so is jou vuur geblus, jou vlam gedoof, jou uurglas leeg..het jy klaar geleef.

Jy, my vriendin met die vuur in jou hare, die vuur in jou hart.  Jy was vuur, wind, grond en water. Passievol, rustig, sterk, diep.  En op die ou einde so oneindig broos.

Sommer so het jy gegaan.  Pynlik finaal, met geen basuin of fanfare.

Ek sien jou in die vuur, ek hoor jou in die wind, ek voel jou in die grond en ek proe jou in die water.

Ek dank die Here, wat jy lief gehad het, vir jou lewe, jou vriendskap en vir jou.

Steek ‘n vuur aan, skink ‘n glas wyn.  My vriendin, Marianne, het verdwyn.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share