Donker

image
Ek lees vir jou Ingrid Jonker op die strand.

Jy vra vir my hoekom klink sy so donker?
Ek kyk verbaas na jou, onverhoeds betrap deur jou insig, en staar vir ñ oomblik oor die see.

Voor ek die regte woorde het praat jy weer.

Hoe oud is sy nou?
Ek kyk na jou en sê sy is al 50 jaar gelede dood.
Sy was jonk toe sy sterf, net een en dertig.
Jy vra my of sy siek was en ek wonder vir ñ oomblik hoe om vir jou te verduidelik hoe Ingrid Jonker gesterf het.

Jy kyk afwagtend na my. Ek sê vir jou sy wou nie meer lewe nie. Sy het selfmoord gepleeg deur op ñ donker aand die koue see in te stap en haarself te verdrink.

Jy vra nie verder uit nie. Sê net sjoe, dis erg…

Ons sit skouer aan skouer en kyk na die golwe. Ek weet jy probeer verstaan hoe iemand so iets kan doen.

Jy is dertien jaar oud, jonk en onskuldig.

Ek sit my arm om jou en sê dat dit soms voel asof die lewe té moeilik is. Soms lewe mens te veel in jou kop.
Party mense kan probleme makliker hanteer, ander kan nie.
Die geheim is om te praat oor dit wat in jou kop is.. Nie net in private rym of dagboeke nie. Rerig te praat met iemand wat luister en omgee.
Hulp te soek en te vra.  Daar is altyd ñ ander uitweg.

Jy lê jou kop op my skouer. Ons sit en kyk weer na die golwe en ek bid dat jy my woorde sal onthou op die dae wanneer jy voel asof die lewe vir jou te veel is.

Jy sit regop en vra my of jy die boek kan leen. Jy sê opgewonde ‘dalk vertel haar gedigte haar storie’. Ek sê ja, maar weet dat jy as ons by die huis is daarvan sal vergeet. En dis reg so, want as jy dertien jaar oud is is daar nog baie tyd om te leef en te probeer verstaan.

Van lewe in jou kop verstaan ek..

Die Here was my genadig.
Ek kon altyd in die donkerste tye, my oë op die lig hou.
En daarvoor is ek dankbaar.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Road trip!

Ek en my meisies is alleen by die see. Soos elkeen van ons vorige avonture was hierdie een ook nie juis uneventfull nie. Ons moes DRIE keer terug draai vir goed wat ons vergeet het.  

Warden se kerktoring het ons nog altyd laat wonder en ons besluit om te gaan kyk. Die dorp en strate is vervalle, maar die kerk is waardig en grotesk. Pragtig gebou met sandsteen en klip.

.Ons eet lank en stadig ontbyt in Harrismith (Spur natuurlik, ek het immers ñ 4 jarige!) Ek geniet die oomblik. Kyk na my twee jongstes wat baldadig op die trampolien spring en lag hardop vir hulle lewenslus. Ek en my pragtige oudste dogter cheers ons trip met Mugg & Bean serious cappucinos. (my koffie verslawing het na die volgende geslag oorgespoel). Ek voel lewendig.

Van Reenen pas is toe en ons moet Oliviershoek pas om ry. Pragtig! ñ Nostalgiese roete verby Bergville en Winterton, maar ver en stadig!!  Ek wys vir hulle die plekkies waar ek en hulle Pa al  geeët het en vertel van ons pieknieks en staptogte in die berge in ons ‘jongdae’

 

Ek wou vir hulle Howick waterval wys, maar het my misgis met die skool uitkom verkeer en moes omdraai. Die natuur roep, maar Zandri raak kort voor Pietermaritzburg aan die slaap en ek besluit om te knyp.    Die son skyn saggies oor haar gesig en sy lyk soos ñ engel..

 
Toe moes ek knyp en knyp en KNYP! As iemand ooit gewonder het oor ñ besigheidsgeleentheid! Toilette tussen PMB en Amanzimtoti!

Na 9 ure kom ons by ons bestemming

iphone 2015 2016 783
Die kinders se vreugde was aansteeklik. Ek vier die lewe met Chardonnay en vuur.. Rustig en vreedsaam saam met my drie bestes.

Het wel my Liefste gemis..

Hoe beskryf ñ mens vyf dae by die see alleen saam met jou dogters? ñ Groot bederf. ñ Hemelse seën. ñ Beproewing met tye. 😃 Onbeskryflik kosbaar. Herinnerings wat ñ leeftyd gaan duur.

Iets wat ek vir altyd sal koester. Iets wat ek vir  almal sal aanbeveel. Man of vrou. Waag dit. Beleef dit. Leef dit!

Geniet die lewe! Gryp die oomblikke. Bou verhoudings, herinnerings. Ja ons doen dit wanneer ons as gesinne saam is, maar die dinamika is anders wanneer jy alleen is. Die fokus is anders.  Mag hierdie road trips en avonture my dogters inspireer om eendag die waagmoed te hê om dieselfde te doen met hulle kinders.

Mag dit deel vorm van my legacy aan hulle..

Cheers op die lewe!

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

‘n Anderste Alleen

Ek het al so baie geskryf hoe ek nie weet hoekom ek voortgaan met my verhouding met Q nie.  Hoe  ek stoei en spartel met sy verraad, die seer en die gebrek aan vertroue.

Drie naweke terug was ek by ‘n vrouekamp.  

  
Ek was al twee keer vantevore by dieselfde kamp.  In 2013 en 2014.  In 2013 was ek oortuig dat die Here my en Q se huwelik sal red.  Ek was blind vir al die gevaartekens.Ek het die Here gedien in dankbaarheid vir die wonderwerk wat gaan gebeur.  In  2014 was ek oortuig dat ons verhouding verby is.  Ek het nog net nie die moed gehad om die stap te neem wat nodig is om dit te eindig nie. Ek het die Two Oceans se Half marathon wat twee weke na die kamp was, as maatsnoer gebruik om te kyk of ek sterk genoeg is om op my eie aan te gaan.  Ek was fisies sterk, maar wou weet of ek psigies sterk genoeg was.  En ek was..

Hierdie jaar was ek daar in ‘n total ander fase van my lewe.  Ek hèt my Man gedagvaar vir ‘n egskeiding.  Ek hèt van hom geskei.  Ons was drie maande na ons egskeiding weer in ‘n verhouding.  Verlief, verlore, eufories.  ‘n Jaar later was ons weer op die bodem en was ek weereens ontnugter en so bitter seer.  Vir ‘n hele jaar het ek gewroeg met my besluit om hom weer ‘n kans te gee.  ‘n  Hele jaar was ek halfpad verbind tot hom en halfpad los van hom.  Ek het hom getart en uitgelok om te sien hoe ver ek hom kan dryf totdat hy nie meer kan nie en my los. Dit het nooit gebeur nie.  Ek het my hart verhard sodat ek reg is vir ingeval ek weer seerkry.  Ek wou nie voel nie.  Ek kon nie liefde gee nie en ek wou dit nie ontvang nie.  Ek het deur die motions gegaan, maar ek was leeg..

Ek het emosieloos op die kamp gevoel.  Ek kon nie met die Here of met myself connect nie.  Nie eens die berge kon my inspireer nie.  Ek kon my lewensstorie deel, maar dit was asof dit ‘n ingeoefende teaterstuk was wat ek net resiteer, opsê.  Ek het redelik hard gevoel.  Ek het geluister na die ander vrouens se verhale en dit het my geraak, maar nie met my gepraat nie.  Ek. wou.VOEL.

Ek was kwaad. Kwaad omdat ek wat so passievol is, so passieloos  voel. Ek het so ‘n muur om my hart gebou dat ek nie meer suiwer emosie kon voel nie.  Ek het in my brein geweet ek is hartseer, maar kon dit nie beleef nie. Daar was twee vrouens wat my wel geraak het.  Die een, ‘n vriendin  wat ook deur ‘n egskeiding gaan.  Sy het my verlede gesimboliseer.  Die hartseer, kwaad, vernedering waardeur sy gaan het my terug gevat na 2013.  Die lig in haar wat al hoe helderder geskyn het soos die naweek aangaan het my herinner aan die vuur binne my op my eerste kamp.  Die Here het haar aangeraak en met Sy vrede en hoop gevul. Ek het dieselfde ervaring in 2013 gehad.

Die tweede was ‘n vrou wat al deur baie in haar lewe is.  Aan die begin kon ek nie agterkom of sy werklik alles verwerk het in haar lewe nie, en of dit net ‘n masker is waaragter sy skuil nie.  Haar man het haar verneuk, twee keer, maar sy hanteer dit nou asof dit net ‘n klein gebeurtenis was.  Ek kon aflei dat dit toe dit gebeur het, nie so klein gebeurtenis was nie, maar nou is dit in die verlede.  Net een van die vele dinge wat deel uitmaak van die legkaart van haar lewe.

Dit het my laat dink.  Ek wil nie weer wees waar die eerste vrou is nie.  Ek sien nie kans vir nog ‘n einde nie.  Ek wil nie weer daardie pyn oor my en my kinders bring nie.  Ek wil leef, voel, ervaar en waag in my verhouding met Quentin..

Ek weet nie of ek ooit sal wees waar die tweede vrou is nie.  Ek ervaar nog te veel woede teenoor die Flossies. Sy het my wel gewys dat tyd kan genees.  Dat aanvaarding, vergifnis en ware vreugde in ons verhouding wel weer moontlik is.

Hierdie waarnemings het my nogsteeds nie gehelp om te voel nie.  Dit het my wel laat dink.  Terug by die huis moes ons gereed maak vir ‘n ‘couples retreat’ vir die volgende naweek .  Ek het amper kop uitgetrek, maar Quentin het my gesmeek om dit saam met hom te doen.

Ons huiswerk voor die kamp was om terug te gaan in tyd en te dink aan dinge wat ons saam gedoen het voor ons troue.  Dit het my ‘n tydjie gevat, maar toe ons eers  begin praat was dit maklik om te onthou hoekom ons verlief was en hoe verskriklik verlief ons was. Herinnerings aan  kerse, wierook en Cranberries.  Herinnerings aan pieknieks in die botaniese tuine en yoghurt body paint.  Herinnerings aan toegewasemde bakkie vensters op Naval hill.  Ure se gesels, musiek luister.  Ons het die wêreld totaal en al  afgesny vir drie jaar.  Ons beste herinnerings was in die Drakensberge en nou was ons weer oppad daarheen.

Ons moes dink aan ons troudag.  Dit het my hartseer gemaak, want ons was so jonk en onskuldig en verlief en verlore.  Ons het nooit gedink dat ons ooit sou skei nie.  Ons het nooit eens baklei nie.  Ons wou trou vandat on 19 jaar oud was.  En toe het ons in ‘n grys hof geskei…

Hoeveel tyd spandeer mens ooit om terug te dink, saam terug te dink, aan die tyd toe ons op ons verliefste was? Van die tyd voor die lewe met ons gebeur het?  Voor werk stres, kinders, finansies?  Dit het my hart klaar ‘n bietjie oopgebreek sodat daar ‘n klein straaltjie lig kan deur skyn.

Ons moes collages maak van ons ‘ONS’ oomblikke.  Myne was somber, Quentin s’n was vol blommetjies en helder kleure.  My ‘ONS’ oomblikke en syne het obviously verskil.

Op die kamp moes ons praat oor voorgeskrewe onderwerpe en ‘n kursus handleiding volg.  Dit het rustig begin, maar ons gesprek het uitgerafel die eerste middag en ons het oor dinge gepraat waaroor ons nie moes nie.  Dit het emosies oopgekrap by my.  Ek het gevoel asof ek ‘n klip in my bors het. Ek kon net seer en hopeloos voel op daardie oomblik.  Die aand moes ons deel en ek kon nie ‘n woord praat nie.  Trane het wel gestroom.  Ek het geen beheer gehad nie.  Ek het skaam gevoel om soveel emosie te wys, maar tog verlig.  EK HET GEVOEL! Ek het Quentin seergemaak die middag met my harde woorde en hy het net in die verte gestaar.

Die aand moes hy vir my ‘n liefdeslied speel.  Hy het my voete onder my uitgeslaan met sy lied.  

You’ll be in my heart

Wat my nog meer geraak het was dat hy gehuil het terwyl ons saam na die lied luister. Ek het ook gehuil. Ons het mekaar vasgehou.  Dit was asof ek oopgebreek en uitgedop was.  My voel het terug gekom.  Die eerste keer in ‘n jaar was ons rou eerlik met mekaar.  Broos en weerloos.

Ek het soveel teerheid vir hom gevoel.  Ek het weer soos sy maat gevoel.  Ek het vir die eerste keer in ‘n jaar op gelyk op ñ emosionele vlak met hom gevoel.  Die res van die van naweek het my verder oopgebreek.  Dit het ‘n vlam in my aan die brand gesteek. Ek het anders na myself begin kyk.  Ek het hom anders begin sien. Ons moes beloftes aan mekaar maak op die laaste dag van die naweek.  Dit was skielik vir my maklik.  Ek kon aan hom belowe dat ek hom altyd sal kies.  oor en oor.  Elke dag vir die res van ons lewens. Sy beloftes het in my hart gaan sit.  Ek haal dit nou kort kort uit en kyk daarna.  Ek luister sy liefdeslied en dit vat my terug na daardie oomblik.. Ek voel weer verlief.  Ek VOEL lief.  Ek voel lewendig.

  
Die week na die kamp was ongelooflik.  Ons het as ‘n span begin funksioneer.  Ek en Quentin teen die res van die wêreld.  Dit was so eg en opreg.  Dit was glashelder vir my.  Ons twee kan en gaan uitwerk.

Ek het hierdie week my drie dogters op ‘n road trip gevat.  Dis een ding wat alleen wees my geleer het.  Ek kan dinge alleen doen. Dit was ‘n reuse avontuur.  Die oomblikke saam met my dogters is kosbaar.  Dinge wat hulle sal onthou  en dalk eendag die moed sal gee om hulle kinders op ‘n trippie te vat.   Dis herinnerings wat ‘n leeftyd sal hou.

Waar ek ‘n maand terug verligting sou ervaar om bietjie weg te breek is ek nou vreugdevol alleen.  Ek mis my Lief, ek mis sy teenwoordigheid en sy gesels.  Ek mis sy rustigheid.  Die verlange is anders, want daar is ‘n vooruitsig op ‘n weersiens.  Soos ek skryf is daardie weersiens more, na vyf dae sonder hom.

En gaan dit ‘n blye weersiens wees!  Ek moes al baie dinge sonder hom doen.  Nie omdat ek wou nie, maar omdat hy nie daar was nie.  Hierdie alleen is anders.  Twee en ‘n half jaar terug het ek ook ons dogters alleen op vakansie gevat  en ek het my aande omgesmag na Quentin.  Ek was toe alleen omdat alleen al opsie was.  Hierdie keer het die alleen my goed gedoen, want ek het Quentin gemis. Opreg en met afwagting.

Ek voel weer, ek beleef weer. En daarvoor is ek dankbaar.

 

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Ontmoetings

Ek is by die haarsalon. Ek was bang om hierheen te kom vanoggend. Bang en hartseer. Ek het hier my laaste face to face gesprek gehad met my vriendin Marianne. Drie weke daarna is sy gediagnoseer met breinkanker. Aggressiewe terminale breinkanker. 

Die laaste keer toe ek haar gesien het het sy rooi kleursel op haar pragtige bos krulhare gehad. Nou het sy geen hare nie. 

Ek het nie toe geweet dat sy gaan siek word nie. Dat sy alreeds siek is nie. Sy het ook nie. Ek het nie toe geweet dat ons nooit weer oor onbenullighede gaan gesels nie. Ek het nie toe geweet dat ons gesprek kosbaar en allesbehalwe onbenullig was nie. Ek wens ek kon weet. Ek sou elke woord en gebaar gememoriseer het. Ek sou meer opgelet het. Meer teenwoordig gewees het.

Dis die lewe.. Ons weet nóóit. Koester elke toevallige ontmoeting. Bel as iemand in jou gedagtes opkom. Kyk in die mense vir wie jy omgee se oë. Voel as hulle aan jou raak. Maak tyd vir liefhê en omgee. Maak tyd vir jou vriende, jou familie, want jy weet nooit.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share