Vlug na die swembad

   

 Soms kry my bloedjies my onder. Punt.
So vanoggend moes ek vlug. Om my te red én natuurlik om hulle te red.
Ons is by die see en vanoggend toe ek opkyk in die stort, toe lyk die swart alge vlekke op die ceiling vir my net soos my binnekant voel.
Pappie het skaars die slaap uit sy oë gevee toe trek ek by die deur uit. Natuurlik nie sonder die nodige drama en tirades nie..
‘Waarheen gaan Mamma?’ My sewe jarige met ñ temerige stemmetjie ‘Ek wil my Mammie heeeeeê!!!!!!’ My dramatiese driejarige..
Die tiener het gelukkig nie agtergekom ek verlaat die huis nie.

Nou lê ek hier langs die hotel swembad in die lieflike oggend sonnetjie. Hemels. Salig. Na twee weke alleen met die dierbare goedjies voel ek opgebruik.
Dit laat my wonder hoe ek dit as ñ enkelma reggekry het? Ek dink die antwoord is eenvoudig. As jy nie ñ ander opsie het nie dan doen jy dit wat nodig is om te oorleef. As ñ geskeide enkelma het ek ook darem elke woensdag aand en elke tweede naweek gehad om te herlaai. Om die hare wat ek uit my kop uitgetrek het terug te plak, wyn te drink, te huil en net te wees..
Hoeveel mense kry tyd om net te wees? Maak jy tyd om net te wees? Alleen wees is vir my lewens noodsaaklik. Die stemme in my kop word net stil as ek alleen is en stil is.

Hoeveel mense het pret op hulle eie? Bederf hulle self? Sonder skuld gevoelens en met oorgawe. Ons moet na onsself kyk. Niemand anders gaan nie!
Van my gunsteling bederwe is wonderlike cappucino’ by my gunsteling koffie plek, At my table,terwyl sagte romantiese Franse musiek speel.
Vuurmaak en wyn drink, daar is iets magies aan vuur. Stap in my geliefde ekopark. Uurlange baddens met laventel aromaterapie olie en wyn met ys wat wasem op die glas maak.
Fliek met popcorn en astros. Fietsry in die natuur. Soms skree ek yeehaa! soos ñ cowgirl van pure lekkerte. Daar is niks wat my so vry laat voel nie. Escape to the country kyk op my bed in die middel van die dag.
ñ Roadtrip op my eie..
Ek hou van my eie geselskap. Soms ñ bietjie te veel..
In ons wêreld, met ons lewens pas, met die eise van ons mense en werk, met die druk wat daar op verhoudings is, het ons soms vlugtyd nodig. Die doel is om waarlik met passie en vreugde te leef. Die waarheid is dat ons meestal net net oorleef..
So kies vandag om te speel, te lag, te leef en te laat leef.
Amen

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share