Brief aan Geskeides

Dit het net gebeur.
Rerig? Jy het gestruikel en in haar arms geval en haar mond was per ongeluk oop en jou tong het toevallig daarbinne beland.
Hoe gebeur enige iets net? Ek is ‘n mens. Ek het beheer oor die keuses wat ek uitvoer. Niks gebeur vanself nie. Is jy ‘n mens?
Hoe maklik is dit om as eerste verweer te sê: “dit.het.net.gebeur”?
Hoe kan dit net gebeur dat jy van jou vrou en kinders vergeet? Hoe kan dit net gebeur dat jy doelbewus iemand anders se geselskap opsoek?
Daar is niks wat jou, mnr Egbreker, die reg gegee het om haar te verneuk nie.
Al is jy hoe ongelukkig. Al het jou vrou gewig opgetel na jou kinders se geboorte. Al het sy rekmerke oor haar maag wat padkaarte vorm van julle geskiedenis. Al verstaan sy jou klaarblyklik nie meer nie. Niks het jou die reg gegee om haar, jou vrou, so seer te maak nie.
Ek weet jy wil nou opspring en skree ‘Sy het ook nie haar deel gedoen nie. Hierdie is nie wat ek gedink het dit gaan wees nie. Sy is ook skuldig!’
En ja, dit is dalk so, maar jy is die een wat hierdie keuse gemaak het. Jy het gekies om die situasie so te hanteer. Jy is die een wat skuldig is aan egbreek.
Weet jy wat is egbreek? Nee, kom ek vra eers weet jy wat is ‘n huwelik?
Die huwelik is ‘n verbond tussen Man en Vrou. Heilig. Kosbaar.
Weet jy hoe voel dit as jou man vir jou sê hy is nie meer lief vir jou nie? Weet jy hoe vernietigend die nuus is? Hoe geweldadig die effek van daardie woorde is?

Jy wil sterf. Ophou bestaan. Verdwyn.
Dìt is hoe dit voel.
Ek was daar.

Die beste is dat elke egbreker dink sy situasie is uniek. Ek het gesprekke gehad met baie slagoffers van egbreek. Elke man dink sy gevoel vir die ander vrou is uniek. Dit het so reg gevoel. Rerig? As dit so reg gevoel het hoekom het jy nie al lankal jou vrou daarvan vertel nie? Hoekom het jy dit weggesteek? Weet jy dat Suid Afrika die land is met die hoogste egbreek syfer? (gaan google dit maar!) Hoe uniek kan jou situasie dan wees?
Die effekte van jou keuses is nie so uniek nie. As mense meer navorsing doen oor iets voor hulle dit doen sal die wêreld ‘n baie beter plek wees. Soos ek dit tik lag ek effens vir myself. Navorsing oor egbreek voor jy dit doen.. Miskien moet iemand so boek skryf!
Daar is baie effekte en navorsing wat deur baie geleerde mense gedoen is, maar die beste navorsing resultate is nie op papier en in joernale gepubliseer nie. Jy kan dit nie google nie. Dis gepubliseer in die lyne op mense se gesigte. Die geboë skouers van oorwonne mense. Die trane van kinders, die bed natmaak, die nagmerries, die agressie en die eindelose wense en gebede van mense wat nie meer die pyn van hule omstandighede kan aanvaar nie. Dis in die verlange sigbaar wat mense laat kwyn. Dis in die hulpeloosheid sigbaar van familie en vriende.

My broer het my oor baie bulte gesleep en uit baie riviere uit opgediep en hy het altyd gesê..’Life is tough’. As ek huil oor my kinders..’Life is tough’. As ek ween oor my verlies ‘Life is tough’. As ek skree oor die onregverdigheid..’Life is tough’
Life is inderdaad tough.
Is dit nie aaklig nie? Is dit nie om van te braak nie? Die lewe opsigself is moeilik genoeg. Dis ‘n reis met opdraendes, droogtes, sterftes, maar ook afdraendes, pragtige sonsondergange en beeldskone landskappe. Hoekom moet dit nog moeiliker gemaak word deur iemand anders se keuses?
En as dit gebeur, wanneer die bom ontplof, wanneer ons seerkry ontbloot word en ons pyn ons verlam, wat moet ons doen?
Hoe moet ons weer regop kom? Waar sal ons hulp vandaan kom? Wie gaan ons red?

Ons lewe in ñ gebroke wêreld. Dit word so baie gesê dat dit al soos ñ cliche klink.
Dit is duidelik sigbaar orals om ons. Gesins geweld, verkragting, moord, egskeiding.
Ons veg ons oorloë op heilige grond. Ons veg met die doel om te vernietig.

As ons maar net mekaar vernietig het.. Maar, in die middel van hierdie oorlogsfront is die onskuldiges. Ons kinders..dan wonder ons wat gaan aan met ons wêreld. Ons selfsug en swak keuses vernietig hierdie onskuldige slagoffers se drome. Dit steel hulle sekuriteit. Egskeiding is erg genoeg, maar as jy mooi om jou kyk sal jy sien dat siek mense genot daaruit put om mekaar seer te maak en hulle dodelikste wapen is hulle kinders. Dit maak my siek, want besef jy nie dat JY hulle toekoms in jou hande jou nie?

In ons gebroke wêreld is egskeiding ñ hartseer realiteit. Dikwels is dit ñ keuse wat uit jou hande geneem word. Hoe jy na die tyd optree is wel iets waaroor jy beheer het. Kies om jou kop hoog te hou. Kies om onvoorwaardelik jou kinders te beskerm ongeag van hoe moeilik dit is. Kinders het liefde, aanvaarding en koestering nodig. Kinders wat deur egskeiding gaan het dit 10 keer meer nodig. Hulle het nodig om te voel dat hulle nie hoef te kies nie. Hulle het nodig om te sien dat al het hulle ouers hulle verhouding vernietig hulle nogsteeds logies en regverdig kan optree. Dat hulle hulle kinders se geluk bo hulle ellende en haat kies. Dat hulle saam nogsteeds hulle ouers is en dat hulle saam vir hulle kinders se geluk sal baklei.

As ons dit kan regkry sal ons wêreld al klaar ñ beter plek wees. Hel, egskeiding is geweldadig seer, maar om ons kinders se seer erger te maak, dít is soos om jou kinders vir die wolwe te gooi. Dít is wat maak dat hulle liefde en aanvaarding op ander plekke soek. Dit is wat maak dat hulle verwerping ervaar. Dít is wat maak dat hulle nie vir jou vertel as daar iets by hulle ander ouer gebeur wat hulle seermaak nie.

Ek weet. Ek was daar. My pyn was my dogters se pyn. Hulle pyn was my hel. Dankie Here dat ek en hulle Pappa gekies het om hulle veiligheid en geluk eerste te stel. Dit was soms moeilik, (BAIE moeilik..)maar ons liefde vir hulle en ons respek vir mekaar as hulle ouers het oorwin. Met genade en bonatuurlike krag van die Here af. Soos ons middelste dogtertjie gesê het.. ‘Pappa het geskuif, maar julle is nog lief vir mekaar’ Dis hoe hulle dit ervaar het.

Ek haal my hoed af vir elke ouer wat dit so doen. Soms kry net een ouer dit reg.. Die res, kies dit my magtag! Dis hoe maklik dit is. Kies dit.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share