Oujaar aan die einde van die nuwe jaar

100_7169

2013 Was ‘n hartseer jaar, maar selfs in hartseer en pyn is daar altyd mooi en vreugde in oorvloed.
My grootste ontdekkings was:
Ek is deur die Here se genade en met die Here se krag sterker as wat ek in my wildste drome kon besef. Leef in die oomblik, want dit is waar jou vreugde lê..al lyk more donker is daar in die oomblik altyd iets wonderliks om jou of by jou. Waardeer dit wat jy het en koester dit. Selfs in buitengewone omstandighede kan ‘n gesin floreer, want liefde en sekuriteit begin by die wete dat God in beheer is en kinders is nooit te jonk om dit te leer nie.
Wonderwerke gebeur elke dag orals om ons. Daar het groot wonderwerke gebeur, maar ook daaglikse klein wonderwerke. Ek lewe met my oë oop en ek sien.
Vriende en Familie gee jou vlerke in swaar tye, lag saam met jou wanneer dit al is wat oorbly om te doen en raas soms wanneer dit nodig is..ek het hierdie jaar ongelooflike liefde ontvang.
Liefde moet verniet weggegee word, aan almal, want dis wat ons by Jesus leer.
Ek het ook geleer dat ek mag foute maak en mag verkeerd optree, ek is ‘n mens, maar ek weet ook dat daar nie oordeel is nie, want ek staan onder die bloed van Jesus. Hy het gekom vir gebrokenes. Dit is Vryheid!
Ek het ontdek dat ek ongelooflik mal is oor bergfiets ry..dit laat my soos ‘n kind voel.
Ek het ontdek dat ek oomblikke van absolute vreugde moet skep
Ek het geleer dat ek moet opstaan in die oggend..want selfs wanneer dit voel asof jy jou kop onder die kussing wil hou is daar ALTYD ‘n rede om op te staan
Ek het geleer dat die LEWE GELEWE moet word, met passie en dankbaarheid.
Ek is dankbaar vir soveel dingetjies, my kinders se gesondheid en lewenslus, my kinders se drukkies en soentjies in oorvloed, my huis, want dit is waar my hart is, mense wat oor my pad gestuur word, mense wat elke dag deel is van my lewe, voorregte, familie, asemhaal!
Die Here het vir my ‘n pad in die woestyn gemaak en ek stap dit in geloof en met opgewondenheid. 2014 gaan GREAT wees!

Ek kyk vandag terug na my woorde van 31 Desember 2013 en dank die Here vir my LEWE.
Elke belofte het waar geword. Hy is en was getrou.
Is die pad wat ons nou stap maanskyn en rose?
I wish.. dis wel ‘n pad van genade, want net soos die Here genadig was so het ek geleer om genade te leef.
Hy kan werklik ‘n pad in die woestyn maak.

 

© 2014 – 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Mure

Vandag was een van daardie dae.
Ek het verkeerd opgestaan. My kop dof. My oë onwillig om in die spieël te kyk.
Ek weet nie of dit hormonaal is, of net die tyd van die jaar is nie? Alles is verkeerd. Die skerpte van die lig buite, die reuk van die grond. Vanoggend selfs die geluid van reën. Dit bring verkeerde emosies na vore, verkeerde herinnerings.
Sulke oggende soos vanoggend wil ek myself oorgee aan die seer. Die seer van dit wat verkeerd gegaan het. Dit is asof my wonde stywe litteken weefsel gevorm het, stywe tendons, kontrakture. Die bom wat my vel afgestroop het het aaklige opgehewe littekens veroorsaak. Wanneer ek dit verwaarloos dan voel ek dit.
‘n Jaar later, ek het alles waarvoor ek gebid het, maar ek voel vandag asof ek gal kan braak. Hierdie seisoen waarin ons laas jaar geskei is sal altyd ‘n bitter smaak in my mond laat.

Ek haal dit uit op jou. Sê dinge wat my skaam maak. Ek vermy oogkontak en vlug selfsugtig weg van jou af. Ek weet ek is verkeerd, maar kan dit nie help nie. Ek is terug in die verlede. Ek voel weer die seer. Jy is vanoggend die vyand. Ek wil jou slaan, ek wil jou blameer, maar ek het nie die moed om eerlik te wees nie.
Nou hardloop ek weg. Werk myself nog meer op. Gee oor aan die irrasionele en kies doelbewus om die stem van rede te ignoreer. Jy maak ‘n fout. Ek verlustig my daarin, want nou het ek ‘n rede om kwaad te wees.

Nou, ‘n hele paar uur later, voel ek die gevolge van my optrede. Ek sit hier en jy is in ons kamer. Die MUUR is opgerig en ek voel ver van jou af.

En dan terwyl ek hierdie skryf gebeur daar iets.
Ons dogter praat in haar slaap. Ons stap saam na haar kamer toe. Ons oë ontmoet en ons lag saam vir haar gebrabbel. En skielik voel ek weer na aan jou. Die muur was ‘n prefab een. Maklik om om te blaas.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share