Geestyd

IMG_0750

Ek was vir amper ‘n jaar stil..
Na my laaste skrywe die 23ste Desember 2013 het daar soveel gebeur.
Kom ek begin by die 24ste

Ek was bang vir Kersfees. Daar was geen afwagting nie. Geen opgewondenheid nie. Dit was ‘n dag wat my met angs gevul het.
Die logistiek daaraan verbonde. Hoe laat gaan die kinders na Pappa toe? Wanneer moet ons geskenke uitdeel? Hoe gaan ek alleen dit regkry om hulle aandag af te trek en dan skelm die geskenke onder die boom laat verskyn? Wat maak ek om te eet? Doen ek baie moeite met kos of koop ons KFC?

Hoe kry ek dit reg om nie te huil nie? Dit was immers my eerste kersfees sonder my man. Al wat ek wou doen is huil as ek daaraan dink. Ek wou ween vir my verlies aan normaal. Ek wou ween en skree en ‘n poolnoodle teen ‘n boom stukkend slaan vir die onregverdigheid van die lewe!

Wat doen my eksman vir Kersfees? Gaan hy dit alleen spandeer of saam met haar? Wat gaan hy vir haar koop? (simpel, maar ek is immers ‘n vrou!). As hy dit alleen spandeer gaan hy hartseer wees? Ek kon dit nie verduur om aan hom te dink alleen en hartseer nie, maar ek wou ook nie hê dat hy saam met haar moet wees nie.

En dan, die grootste vrees van alles, my kinders. Hoe gaan hulle voel die Kersfees? Die verantwoordelikheid het so groot gevoel, want soos alles met die egskeiding, hang hulle reaksie af van my reaksie. Hulle hou my dop. Lees goed in my gedrag en gesigsuitdrukking.

So ek was bang vir Kersfees.

Ek het baie scenarios oorweeg. Prentjies en moontlike uitkomste in my kop laat draai. Ek het besluit om Kersfees oor ander mense te maak. My gedagtes weg te dwing van my swak en ellendige omstandighede na ander mense se ellendige omstandighede.
Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om Oukersdag na ons Kerk se ‘Miracles in the Park’ te gaan.
Dis ‘n pragtige projek waarvoor daar maande lank kos, klere en speelgoed ingesamel word.
Op die dag bedien hulle amper 2000 mense met kos vir ‘n week, klere vir die gesin en speelgoed vir die kinders.
Ek wou beleef dat ek baie rede het vir dankbaarheid. Ek wou my kinders hierby betrek en het hulle saam gevat.

Ek was skaars daar toe my foon lui. Dit was my eksman. Ek het onmiddelik aan sy stem gehoor dat hy kwaad is vir my. Ek het dadelik vir hom gesê dat hierdie dag, hierdie oomblik, moeilik genoeg is vir my en dat ek nie met hom wil praat nie. Hy het egter aangehou. Hy het my aangespreek omdat ek ‘n bybelvers op sy facebook blad gepost het. Dit het Flossie glo ontstel en dit bemoeilik sy verhouding met haar, want dit laat haar onseker voel.
WAT!!!!!!???
Selfs ‘n jaar later laat die herinnering my nekhare orent kom.
Ek het dit verloor. By die kerk se geleentheid, omring met my gemeentelede.
Ek het ‘n paar meter weggestap en op hom begin gil.
‘Hoor jy jouself?’ ‘n oktaaf hoër ‘Hoor jy die Flerrie?’ (ek is seker ek het ‘n minder vleiende woord gebruik)
ek het herhaaldelik vir hom geskree ‘JY IS BLIND!’
‘BLIND!!!!!’ Hy was vol berou en het oor die foon begin bid ‘Here help my om te sien’
Ek het die foon doodgedruk en bewend myself probeer kalmeer.
Ek het dit vir presies twee sekondes reggekry.
Ek het ‘n boodskap aan hom en Flossie gestuur. Venynig en vol haat.
Ek wou hulle seermaak.

Het dit my beter laat voel? Nee..
Ek het soos ‘n robot pakkies begin aangee vir die strome mense. Soos die dag aangaan het die woede my verlaat en het hartseer het van my besit geneem. Ek het dolleeg gevoel.
Die dankbaarheid van die mense om my en die armoede en swaarkry het my skuldig laat besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees. Die Here het ‘n pleister op my seerkry geplak en ek het dit reggekry om nie inmekaar te sak en in die bondel te bly lê nie. Ek het my kop weereens opgelig en ‘n tree vorentoe gegee.
Die aand het ek opgewonde saam met die kinders na tekens van Kersvader begin soek. Ons het geskenke oopgemaak, oorskiet pizza van die middag geëet en ek het popwaentjies aanmekaar probeer sit en rekenaarspeletjies probeer installeer. Daar was ‘n leemte en ek het myself toegelaat om my kussing nat te huil.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share