WIND

image

As daar wind was het ek weggevlieg daar na waar vlaktes so ver soos die horison strek. Ek sou op die gras langs jou gaan lê en my kop op jou skouer sit. Net soos in die dae toe ons mekaar nodig gehad het soos asem.

As daar wind was sou ek my vlerke sprei en jou saamvat na ‘n plek waar ons mekaar se rus was en ek en jy kon verdwyn tussen goudgeel sonneblomme.

As daar wind was sou ek jou wou abba op my rug en vir jou al die mooi langs die pad wys. Vir jou,  my Lief, sal ek al die seer en kommer wil dra en begrawe in ‘n ongemerkte graf. Ek wil vreugde en geluk om jou drapeer soos ‘n bloedrooi mantel.

As daar wind was sou ek saam met jou wou vlieg na ‘n toekoms waar daar stilte is sodat ons weer mekaar se hart sal hoor sonder onnodige woorde.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Stilte

Die oomblik wanneer alles onnatuurlik stadig verby jou vloei.

Wanneer die werklikheid so onwerklik voel dat jy wag voor jy asem haal. Wanneer die werklikheid so seer is dat jy te bang is om asem te haal, te bang is om te lewe.

Koue garage vloere raak jou ontvlugting. Die plek waar jy kan skree totdat jou asem wel opraak. Die een plek waar jy kan huil totdat jou keel en neus rou is.

Verder lewe jy in stilte. Sit jou glimlag op vir die res van die wêreld, want jy is skaam en bang. Versorg jou kinders. Vryf oor jou uitbultende maag met die kosbare lewe binne in. Hoop dat die skade nie permanent is nie. Hoop dat jy kan regop bly met al hierdie pyn in jou binneste, want

Wie het geweet dat ‘n

hart wat breek

voel soos kanker

‘n pyn wat aan jou binneste vreet

wat jou beroof van asem

Wie het geweet dat dit

voel soos ‘n dolk wat steek

met elke verraad seerder

met elke leuen dieper

Die lem word stywer gedraai

Wie het geweet dat hartseer

jou platslaan, al jou verweer

wegskil sodat jy met jou bebloede

geraamte alleen staan?

Wie het geweet dat vrees jou

mal maak

dat jy stemme in jou kop hoor

koggel en smaal

Wie het geweet dat jy

my so sou seermaak?

Nie ek nie, my Lief.

Nie ek nie.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Winter

Winter in die Vrystaat is koud en bar. Tog vind ek bekoring in die rustigheid, die natuur se stilstaan. Ek ry elke oggend werk toe in my ou skedonk en vrek letterlik van die koue. Termostaat is al jare terug gebreek en elke winter dreig ek om dit reg te maak en kom nooit daarby uit nie.

Tog herinner dit my ook om dankbaar te wees. Ek trotseer die koue vir ñ halfuur elke oggend, daar is mense wat elke nag in die buitelug slaap. Op kartonne, koerante, onder dun komberse. Daar is geen bekoring in die winter vir hulle nie, net ñ stryd om oorlewing en bestaan. Hulle bekoring vind hulle in bottels drank wat die koue tydelik verdryf en dan uiteindelik vir hulle die rus en slaap bring waarna hulle smag. Dêmmit, as ek in die winter buite moes slaap sou ek myself permanent in vergetelheid in gedrink het. Hulle staan saam om dromme vuur, ruil stories uit oor hoe hulle dag van bedel gegaan het. Watse upstêrs mense hulle teegekom het, watse vuil kyke hulle gekry het, wat hulle gescore het.

Ek lees nou die dag iets wat nie nuut is vir my nie, maar dit het my weer bietjie laat dink oor die lewe. ‘Practice random acts of kindness and senseless acts of beauty’. Dit vat nie veel om iemand se hart bly te maak nie. Die mooi ding van onselfsugtig lewe is dat vreugde jou soos ñ soet geur agtervolg. Daar is altyd iemand wie se storie meer tragies is as jou eie. Mág ék dit raaksien.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vroeg

Vroeg vroeg oggend. Die stilte om ons is heilig. Geen goed wat ons aandag verg nie. Geen tegnologie om mee mee te ding nie. Net ek en jy. Jy trek my nader en ons lê soos ñ koeksister inmekaar gestrengel. My liefde vir jou soos ñ taai stroop. My gedagtes ñ gebed. Jy, my Lief, is my swak punt, my groot begeerte.

Vroeg, vroeg oggend. My brooste deel van die dag. Die deel van die dag wat my siel ontbloot is, my begeertes naak is en my hart op my mou is.

Ek wens ek kon oomblikke in tyd vries en jou só hier by my hou.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Wie het geweet?

Wie het geweet dat ‘n

hart wat breek

voel soos kanker

‘n pyn wat aan jou binneste vreet

wat jou beroof van asem

Wie het geweet dat dit

voel soos ‘n dolk wat steek

met elke verraad seerder

met elke leuen dieper

Die lem word stywer gedraai

Wie het geweet dat hartseer

jou platslaan, al jou verweer

wegskil sodat jy met jou bebloede

geraamte alleen staan?

Wie het geweet dat vrees jou

mal maak

dat jy stemme in jou kop hoor

koggel en smaal

Wie het geweet dat jy

my so sou seermaak?

Nie ek nie, my Lief.

Nie ek nie.

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Myne

Die bittersoet van liefde en haat
Van goed en kwaad
Oorweldig my brein
weerklink soos ‘n refrein
hou my vas in die nag
gee my vlerke in die dag
oorleef oorleef oorleef
laat leef laat leef laat leef

die lewe ‘n dans tussen hoop en berou
vol reenboogkleure en grou
vol klanke en geure
oop en toe klappende deure
niksseggende woorde
belowende akkoorde
doen doen doen
voel voel voel

Praat jou Praat
Stap jou stap
Kyk noord
Neuk voort
Voeter aan
Gaan jou gaan
Díe lewe is myne

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Onwerklike werklikheid

Toe my wêreld verander het was ek 6 maande swanger met ons derde kind.  ‘n Swangerskap vol bekommernis oor genetiese siektes en slapelose nagte oor ‘n verhouding wat net nie reg voel nie.  Vra wat nie beantwoord word nie, onuitgesproke vrese en daardie knaende vermoede in my agterkop.

Ek het een aand in die bed gelê en die klip in my bors het die proporsies van ‘n Everest aangeneem, maar vrees is ‘n snaakse ding.  Dit verlam jou, dit laat jou soms jok vir jouself.  Iets wat nie in woorde uitgespreek is nie is mos nie die werklikheid nie?  Dis dan net ‘n vermoede.  En daarmee kon ek saamleef.

 

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

LEEGHEID

Die mense wat ek liefhet

kleef aan my soos alge

hulle verswelg my

bedek my met klewende vingers

hang aan my klerenate

Steel my menswees

vertrap my

tot al wat oorbly net

die uitgedroogde dop is

van ‘n leeg getapde hart

© 2012 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share