Bliksems

Die man noem die vrou ‘n slet.  Hy spoeg die woord oor haar uit soos gif terwyl drie pare ogies staan en kyk.  Hy gryp haar aan die bo-arms vas en druk haar teen die muur.  Hy wil haar met geweld en intimidasie behou. 

Na dae se aanvalle met woorde en hande kry sy ‘n beskermingsbevel teen hom en moet hy onder polisie toesig trek.  Drie paar ogies staan weer en kyk hoe hulle pa die huis leeg dra.  Die vrou staan biddend soos ‘n monument…stil en sterk en kyk hoe hy 13 jaar se bymekaar maak vat. Dis ‘n klein prys om te betaal vir 13 jaar se afbreek en vernederings.  Sy weet sy gaan weer in die hof moet baklei vir onderhoud.  Sy sien kans daarvoor.  Sy sluit die deur nadat hy wegry en die skoenlapper breek uit die kokon.  Sy kan vlieg.  Sy mag praat.  Sy mag leef.  

Sy stap deur haar leë huis en gaan soek die enigste drie goeie dinge wat uit die huwelik gekom het en hou haar arms oop vir hulle.  Sy veg vir hulle en sal nooit ophou nie.

Die man vertel vir sy tienerdogter dat haar ma sy lewe vernietig het.  Die dogter weet dis nie heeltemal die waarheid nie, daar het immers klaar ‘n ander tannie by haar pa ingetrek.  Sy is oud genoeg om twee en twee bymekaar te tel.  Die man vertel met trane in sy oë dat haar ma al sy geld vat en dat hy skaars kan kos koop.  Hy vertel vir haar van die onredelike onderhoudsooreenkoms wat deur die hof goedgekeur is, en dat hy sy nuwe kar moes verkoop om dit te bekostig.  Hy lyk pateties…sy oë is bloedbelope en sy baard is twee dae oud.  Hy klou aan haar vas en vertel vir haar dat haar ma besig is om alles te vat wat vir hom kosbaar is en dat hy sal doodgaan as hy haar en haar boetie ook moet verloor.

Die dogter se hart is in twee geskeur.  Haar pa is nie perfek nie, wie is?  Was haar ma nie onredelik nie?  Hoe kan sy so baie geld by haar pa vat?  Haar arme pa.  Hy is arm en hy mag hulle net elke tweede naweek sien.   Sy is kwaad toe sy by die huis kom en skree op haar ma.  Al haar opgekropte woede kom uit.

Die vrou staan stil en luister na haar dogter se uitbarsting.  Daar gaan ‘n miljoen dinge deur haar brein.  Die verhoudings en vernederings.  Die dobbelskuld wat sy deur die jare afbetaal het.  Die verskonings wat sy vir sy afwesigheid by konserte en prysuitdelings moes maak…die duur vakansie waarop hy en Flossie in Desember gaan wat klaar betaal is met geld wat hy veronderstel was om te betaal vir sy kinders se onderhoud.  

Sy draai stil om en stap met ‘n swaar gemoed na die kluis.  Sy gaan haal die inkomste en uitgawe lyste uit wat die hof gebruik het om die onderhoud som te maak en vra haar dogter om te kom kyk terwyl sy verduidelik hoe die onderhoud uitgewerk is.

Sy sien in haar dogter se oë dat die storm in haar hart nie oor is nie, maar besluit om dit daar te laat.  Haar kind is deur genoeg. Sy het nie nodig om te weet dat haar pa haar en haar boetie elke Woensdag ook mag sien nie, maar gekies het om daardie reëling te ignoreer.

Twee stories van baie.  ‘n Klein blik op die realiteit van egskeiding.  Kinders sien dinge wat hulle nooit kan vergeet nie. Kinders word soos onbelangrike pionne genadeloos opgeoffer terwyl hulle ouers vreetskaak speel.

Ek wil eintlik maar net sê, moenie ‘n bliksem (daar is ander meer gepaste woorde) wees nie, wees lekker. 

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Glo jy aan nuwe lewe?

glo-jy-in-nuwe-lewe

 

 

 

 

 

Ek sit onder ñ  boom wat besig is om te bot.  Van naby af kan jy dit nie eens sien nie.  Onder is die stam swart van twee jaar terug se byna vernietigende brand. As jy ñ paar tree terug staan sien jy die heldergroen nuwe blaartjies  aan die bopunt van die boom.

Soms moet ons ‘n paar tree terugstaan om werklik te sien.  Het julle al agtergekom hoe die dood ons altyd laat dink aan lewe? Ons sê dan met hartseer en spyt ‘Die lewe is so kort..dit kan in ‘n oogwink weggeneem word.’  en dan wend ons weer ‘n poging aan om die lewe te koester en te benut. Dis eintlik absurd, want hoekom laat dit ons dink aan lewe as ons klaar lewe?

Dis nie net die dood wat ons met spyt vul nie, dis ons huwelike ook.  Ons kom baie keer eers agter hoeveel ‘n persoon werklik vir ons beteken wanneer ons hulle verloor het.

Ons verloor nie iemand oornag nie.  Liefde sypel soos water  in ‘n dun straaltjie by ‘n gekraakte damwal uit en die watervlak daal stadig maar seker.  Daar is partykeer ‘n welkome donderbui wat die vlak laat styg, maar dit keer nie dat die watervlak weer begin daal nie. Dit lek uit, bietjie vir bietjie.  Ons kom baie keer eers agter dat die damwal stukkend is as die krane leeg is.  Dan kan ons verbysterd nie glo dit het met ons gebeur nie.  Dan wil ons vrek van die dors.

Op hierdie punt blameer ons baie keer die ander persoon wat ook verantwoordelik was om die wal te onderhou, want dit kan mos nie ons skuld wees nie.  Kan dit?

Die gevaar is dat wanneer ons op hierdie punt is, ons so bang raak dat ons werklik sal sterf van die dors, dat ons bereid is om enige water te drink om die dors te les.  Selfs die vuil  toiletwater uit ons eie of iemand vreemds se toilet.

Ons vreet op wat die een wat ons seermaak vir ons aanbied of ons gaan soek dit op ‘n ander plek.  Ons word bereid om besoedelde, stink water te drink.  Ons gaan soek dalk momentele geluk in iemand anders se bed of arms.  Dit voel goed om waardeer te word, aangeraak te word.  Dis opwindend en dit les die dors in ‘n oogwink.  Partykeer laat ons bloot net toe dat die een wat ons liefhet ons behandel asof ons niks werd is nie, want toiletwater is beter as dors wees.

Hier is die aaklige waarheid… een glas toiletwater is nie genoeg om die dors vir ewig te stil nie. Die aanhoudende gesuip van stink toiletwater het die potensiaal om jou so siek te maak dat jy vir jouself en vir ander sterf.  Dit kan ‘n selfhaat veroorsaak wat jou verteer en jou laat glo dat jy dit nie verdien om liefgehê te word nie.

Dit is ‘n leuen!

Ek wil dit skree, want ek was daar en ek sien dit elke dag gebeur.   Ek weet wat die prys is van té lui of té arrogant wees.  Geen huwelik is veilig as dit nie deur albei partye gekoester word en opgepas word nie.  Baie min huwelike verbrokkel as gevolg van die dade van een persoon. Baie mense sê hulle sal dit nooit kan vergewe as hulle mans of vrouens hulle verneuk nie.  Hoekom is ‘n affair die grootste sonde in ‘n huwelik?  Verwaarlosing is net so ‘n groot sonde.   Ons moet ophou om ons maats op subtiele wyses af te kraak.  Dit laat liefde sterf.  Ons begin dink ons is ons maats se eienaars.  Dat ons kan sê en doen net wat ons wil en dat ons kan wegkom daarmee. Ons raak jaloers op ons maats se suksesse en herinner hulle gedurig aan hulle mislukkings.  Ons vergeet dat die Here vir ons sê die liefde hou nie boek van die kwaad nie.

Ons maak nie meer van ons maats ‘n prioriteit nie en behandel hulle asof ons hulle ‘n guns doen om by hulle te wees.  Ons hou op om tyd te maak vir ons maats.  Ons maak van ander dinge afgode, ons kinders, sport, werk, geld, skoene.  Ons kan honderde verskonings uitdink vir hoekom ons nie meer werk aan ons verhoudings nie.  Hy verstaan my nie, sy sien my nie meer raak nie, hy is vervelig, sy is vet, hy is nie meer die man met wie ek getrou het nie, sy sien net die kinders raak.

Het jy dit al vir hom gesê of is jy te trots? Het jy haar al gehoor of is jy te arrogant?  Het julle al werklik iets daaraan gedoen of is julle te lui? Ek praat nie van woorde nie.  Ek praat van dade.  Liefde is dade.  Woorde word ‘n gewoonte en beteken niks as dit nie daadwerklik bewys word nie. Is jy bereid om jou ou self af te sterf  om jou huwelik te red of heeltemal van voor af te begin?  Is julle altwee bereid om alles in die stryd te werp, want 50% ís nie genoeg nie. Is jy bereid om na jou maat toe te draai en vir hom/ haar te sê ‘Al lyk hierdie soos een massiewe boggerop en al voel dit asof en nooit weer met ‘n tang aan jou sal wil raak nie, is ons dit aan mekaar en aan ons gesin verskuldig om alles in die stryd te werp om dit te probeer uitwerk?’ Wanneer gaan mense besef dat liefde meer is as ‘n gevoel!  Dis ‘n verdomde keuse wat jy dag na dag maak te midde van PMS, bankrotskap, impotensie, middeljare krisisse, kanker, rekmerke, selluliet, moeilike kinders, droogte en woede.  Een persoon kan probeer totdat hulle blou in die gesig is, maar as dit nie altwee se hartsbegeerte is om die verhouding te red nie stel jy net die onvermydelike uit.  Jy kan nie iemand gevange hou met skuldgevoelens en manipulasie nie.

Daardie gebarste damwal kán deur fyn beplanning en harde werk sterker word as wat dit nog ooit was.  Dit vat tyd, bloedsweet en trane, maar die beloning is so bitter groot.  Dit kan selfs heeltemal oorgebou word, maar daar is ‘n voorvereiste…altwee partye moet met alles wat binne hulle is dit wíl herstel. En ja, soms moet ons opgee as ons sien dat niks wat ons doen help om die dam te herstel nie.  As ons nie ten minste probeer nie sal ons nooit weet nie.

Ons kan nie ons wêreld beheer nie en ons kan nie beheer wat ander mense aan ons doen nie, maar ons kan beheer wat ons aan ander doen.  Soms moet ons stilstaan en luister en werklik hoor.  In ander situasies moet ons ons arms om onsself slaan en onsself toelaat om elke emosie te voel en diep te beleef.  Soms moet ons na mekaar draai en mekaar weer raaksien en besef wat jy het.  En soms moet ons iemand se hand vat en styf vashou en in geloof begin bou al kan julle nie nou sien hoe dit ooit moontlik sal wees om dit reg te kry nie.

Ons moet partykeer die onvermydelike keuse maak  om om te draai en weg te stap van iets wat eens jou hele lewe was, maar wat nou al die lewe in jou binneste  doof.

Selfs dan moet jy lewe, want ñ stukkende hart laat jou nie ophou asemhaal nie.

Ons kan dit nie self regkry om iemand wat ons diep seergemaak het te vergewe nie.  Dit kom van die Here af.  Ons moet wel kies om dit te doen.  Sewentig maal sewe keer.  Soms oor en oor.  Ek is so moeg daarvoor om te hoor dat vertroue nie herstel kan word nie.  As jy dit sê ken jy werklik nie die Here se krag en mag nie.  Vertroue kán herstel word en jy kán iemand vergewe wat jou bitter seer gemaak het.  Dooie bene kán weer lewend word en in vreugde begin dans.  Dit kán.  Dit vat tyd vir die nuwe blaartjies om sigbaar te word by ‘n boom wat oënskynlik dood is.  As jy die boom summier afkap gaan jy nooit weet of die boom nog lewe nie.  Daar moet partykeer ‘n seisoen van rou en twyfel verbygaan voordat jy terugstaan en dit raaksien.

Die vraag is meer eenvoudig as wat jy dink…wil jy of wil jy nie?

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die mymerings van ‘n ervare bruid

ringe

Dis Dinsdagaand en ek kan op my vingers begin aftel hoeveel dae oor is.  Tien slapies.  Ek het tien verskillende lysies met goed wat gedoen moet word en agtien dae gelede het ek oorweeg om die ‘28 Dae Dieet’ te doen, maar daai skip het geseil en gesink.

Ek mag moontlik die enigste bruid in die geskiedenis van die heelal wees wat nie een kilogram verloor het voor haar troue nie en glo my daar is ‘n hele klomp wat ek kan verloor.

My middelkind het haar geskiedenis vraestel beskryf as maklik-moeilik.  My gevoelens is die afgelope paar dae hartseer-opgewonde.  Hartseer, want hierdie jaar moes ons ons twintigste huweliksherdenking gevier het en opgewonde, want ons storie se volume twee is amper klaar geskryf en oor tien dae begin ons skryf aan Volume drie.

Volume een het op 15 Oktober 2013, na drie jaar se trane en probeer, in die Hooggeregshof in Bloemfontein geëindig.  Ek was nie alleen daar nie.  Ek en my mede skeigenoot het saam hof toe gery en gesit en wag in die hof vir my naam om geroep te word. Ons het so misrabel gelyk dat ek later vir hom gesê het dat as ons nie nou beter lyk nie gaan die regter my een kyk gee en huis toe stuur sonder om ons te skei.  Ten spyte van die twyfel en verwoesting in my hart was daar nie meer ‘n omdraaikans nie.  Ek moes hom laat gaan, want ek het met my hele hart geglo dat dit die enigste manier is om hom terug te kry.

Die 150 skeisake wat in die hof afgehandel is daardie dag het vir genoeg entertainment gesorg.  Een vrou het in Sotho getuig en haar tolk het besluit om in detail te verduidelik presies hoekom sy vandag hier is. Dit het min of meer so gegaan:

‘I came home after work, minding my own business and heard noises in the house. I went into the bedroom and found my husband with an unknown women…en daar het hy bietjie gepause vir dramatiese effek…IN THE BEEEEED…  I asked this women what is she doing….weer ‘n pouse…IN MY BEEEEED with MY Husband.  She said nothing, but I told my husband he must leave…THE BEEEEED and take this women with him and never ever come back.’

Ek en my geliefde het na mekaar gekyk en ons skouers het stil begin ruk van die lag.  Nie dat dit enigsins snaaks is nie, maar as jy self daar sit en in min of meer dieselfde situasie is, dan klink dit baie snaaks.  Ek het my wenkbroue vir hom gelig en vir hom gefluister dat hy nie weet wat ek alles as redes gaan gee vir ons egskeiding nie.  Ja, jy moet twee of drie redes gee.  My advokaat het my gecoach om die volgende rympie te sê “Ek het respek, vertroue en liefde verloor en daarom kan ek nie langer met hom getroud wees nie’

Ek het hardnekkig geweier om te sê dat ek liefde verloor het, want ek het nie.  Ek het net besef dat liefde regtig nie genoeg is nie. Is dit nie vreemd nie?  As jy jonk en verlief is dan glo mens onwrikbaar dat liefde genoeg is om enige iets te oorkom.  As jy middeljarig en ontnugter is dan weet jy dat liefde ‘n klein deel is van dit wat nodig is om ‘n verhouding te laat floreer. Daar is ‘n ander komponent wat noodsaaklik is vir ‘n verhouding om te werk.  Altwee moet dit wíl laat werk. Daai wíl, het my met tye gek gemaak.  Ons huweliksberader het met elke sessie gevra, wil jy of wil jy nie?  Dis glo so eenvoudig.  Met elke sekonde voor my geliefde se antwoord het ‘n stukkie van my hart doodgegaan.  Ek wou nie hê dat skuldgevoelens teenoor my en ons kinders die dryfveer moet wees vir die probeer nie.  Ék wou die rede wees.  Ék.

Êrens het ek die wysheid gekry om te weet dat my grootste kans om hom terug te kry is nie deur hom te oorlaai met aandag en liefde nie.  Hoe harder ek probeer het, hoe verder het hy weggedryf.  My beste kans om hom terug te kry was om self eers te herstel en myself te vind in die proses.  Ek moes leer om ‘n bietjie kil te raak, gelukkig te wees en hom te laat wonder oor my geluk.  ‘n Bietjie onaantasbaar te raak en grense te stel.  Die koffiedrink wanneer hy die kinders kom haal het moes stop, hy moes die kinders buite die huis kry.  Ons kon nie meer saam na die kinders se goed gaan nie, al het my hart gehunker na die saamwees en my vel fisies gepyn as ek naby hom is. Ek kon nie herstel as ek nie van hom fisies skei nie. Dit was ook heeltemal te verwarrend vir die kinders.  Dit het hulle hoop gegee. Daardie hunkering, yearning in engels, het my mal gemaak.  Ek kon eers begin rou toe ons geskei is.  Voor dit was die hoop te sterk.  Ek het tot die oomblik van ons egskeiding gehoop hy sê vir my ons moet dit los, dit was ‘n fout.  Hy het nie en ek moes dit aanvaar. Ek het gebid dat die Here sý hart verander, maar mý hart moes eers verander voor ek die Here se hand in ons situasie kon sien.  Selfs toe hy terugkeer na die Here moes ek aanvaar dat hy nie noodwendig na my toe gaan terugkeer nie.  Ek moes met my hele hart glo dat die Here in beheer is en dat Hy vir ons sal sorg.

Hoekom bring ek hierdie nou op?  Die oomblik in die skeihof en dit wat dit voorafgegaan het is iets wat ek niemand toewens nie en dis ook iets wat ek nooit ooit weer wil oorhê nie.  Ons trou weer en terwyl ek hierdie troue reël onthou ek die wonder van ons eerste troue.  Sy gesig toe hy my gesien het.  Ons kon nie ophou om aan mekaar te vat en na mekaar te kyk terwyl die predikant praat nie (dalk moes ons eerder geluister het na wat hy sê!) Ek kan soms nogsteeds nie glo dat dinge so skeef kon loop nie.  Ons het so sterk konneksie gehad dat ek nooit gedink het so iets sal met ons gebeur nie.  Hy was my hele wêreld.  En dis die ding.

Liefde sterf nie in ‘n oogwink nie.  Dit sterf ‘n stil en stadige dood.  Stukkie vir stukkie.

Dit gebeur so stilweg dat die uiteindelik besef dat jou verhouding in die moeilikheid is as ‘n verskriklike  skok kom.  Dit het vir my.  Ons het dan nogsteeds tot laatnag gesels.  Ons het saam dinge gedoen.  Ons kon nogsteeds mekaar se gedagtes lees as ons pictionary speel.  Ons het elke dag vir mekaar gesê dat ons lief is vir mekaar.  Ek was swanger met ons derde kind.  Op die oppervlak was alles goed.  Daardie vanselfsprekende aanvaarding dat hierdie man vir altyd by my gaan wees het gemaak dat ek hom nie waardeer het nie.  Ek het hom nie meer werklik raakgesien nie.  Ek was eerstens ‘n ma, ‘n vriendin, ‘n bybelstudie bywoner en dan ‘n vrou vir my man.  Elke saak het twee kante.  Mens kan so maklik die skuld net op een persoon laai.  Ek was net so skuldig aan die verbrokkeling van ons huwelik as hy.  Ek het myself bitterlik verwyt dat ek kon toelaat dat hy so ‘n gewoonte raak dat ek hom nie eens meer raaksien nie.

As jy eers alles wat vir jou kosbaar is verloor het, kan jy nie anders as om die heeltyd bewustelik na maniere te soek om dit nie weer te laat gebeur nie.  Skei is geweldadig seer.  Dit bring ‘n seer in jou kinders se hart in wat aaklig is om te aanskou.  Die ergste ding van dit is, is dat jy as ouer vir hulle pyn verantwoordelik is.  Dit laai ‘n las op jou skouers wat met tye te swaar is om te dra.  Skei breek jou selfvertroue af, dit kneus die mense wat vir jou lief is en jou seer sien.

Die Here was ons verskriklik genadig en het die wonderwerk waarvoor ek gebid en gesmeek het laat gebeur in ons lewens.  Ons het drie jaar gevat om te skei en net drie maande om na ons egskeiding mekaar weer te vind.  Ons verhouding is nuut en anders, want..

  • Ek kies hierdie man elke dag bewustelik as die persoon met wie ek my lewe deel. Al voel ek nie altyd lus nie. Ek kies om hom lief te hê vir altyd.
  • Ons dien die Here saam met mekaar en saam met ons kinders. Ons weet ons het Hom nodig om te werk.
  • Ek is nie sy ma nie. Ek sal nooit weer alles vir hom doen en my afsloof tot op die punt dat hy net kan sit en niks doen nie. Hierdie mag vreemd en simpel klink, maar ek skep nie meer sy kos in nie. Ek pak nie sy tas as hy rêrens heen gaan niie. Ek bederf hom op ander maniere. Maniere wat nie net ‘n roetine raak en as vanselfsprekend aangeneem word nie.
  • Ons is nie mekaar se hele wêreld nie. Ek het ‘n lewe waarmee hy niks te doen het nie. Hy het ‘n lewe waarmee ek niks te doen het nie. Ons praat daaroor met mekaar en dit hou ons verhouding interessant. Hy gee vir my die ruimte om dinge te doen wat vir my lekker is en ek gee vir hom dieselfde ruimte. Ons lewe nie in mekaar se skaduwee nie. Ons het sonlig nodig om te groei. Ons doen soms dinge apart al is ons saam. Ons gun dit vir mekaar om drome te hê.
  • My kinders is my hart, maar hulle kom nie eerste nie. As my geliefde by die huis kom groet hy hulle en dan jaag ons hulle weg om te gaan speel. Die eerste halfuur is net ons s’n. Ons drink koffie op die stoep met ons voete op die muurtjie en praat oor ons dag. Dis ons tyd en weet jy wat? Hulle het gewoond geraak daaraan. As ons dit nie doen nie is daar partykeer net nie tyd om te praat nie en ons sien vrek baie uit na hierdie halfuur elke dag. Ons voel nie skuldig oor die kinders nie. Alles wat ons doen om ons verhouding sterk te hou bevoordeel die kinders in die lang duur.
  • Ons skeduleer tyd om saam te wees. Die lewe is ‘n dolle gejaag en as ons nie bewustelik beplan om tyd saam te spandeer nie, voel ek verskriklik gou afgeskeep. Dit kan hoe besig wees, maar as ek weet ons gaan Saterdag saam uit, het ek iets om na uit te sien en dan voel ek glad nie afgeskeep nie. (Sien vrouens is eintlik heel eenvoudig) Ons boek elke maand ‘n hele Saterdag oggend van 08:00 tot 14:00 uit om saam te wees sonder ons drie kinders en ook ‘n paar korter koffie of ontbyt afsprake. Hoekom doen ons dit? Dis heel eenvoudig. Ons hou verskriklik baie van mekaar se geselskap en ons kinders maak ons mal. Ons het nodig om te kuier en nodig om van hulle af weg te kom om ons sanity te behou.
  • Ons sluit ons kamerdeur Sondae middae vir ‘n sondag ‘middagslapie’. Terwyl die kinders dink ons slaap kan ons doen net wat ons wil sonder om gesteur te word. (Natuurlik mag hulle ons steur as iemand bloei of iets gebreek het)
  • Ek sal nooit weer dit as vanselfsprekend aanneem om saam met my geliefde wakker te word nie. Alleen slaap in die winter is verskriklik sleg. Alleen slaap en alleen wakker word was vir my verskriklik eensaam. Ek het kussings agter my rug ingedruk, maar dis om een of ander rede net nie dieselfde nie. Ek waardeer sy nabyheid meer as ooit vantevore.
  • Ons gaan sien ‘n berader as ons voel ons het hulp nodig. Daar is op die aarde niks daarmee verkeerd om te erken jy het hulp nodig nie. Net soos jy jou kar diens moet jy ook jou verhouding diens. Ek gaan sit eerder ure by ‘n berader voordat ek weer op die punt kom waar alles ‘n gemors is. (Ek ken ‘n vreeslike goeie een as julle dalk iemand soek)
  • Ek stres nie meer oor die klein dingetjies nie. Elke keer wanneer ek ‘n vrou hoor kla oor ‘n man wat vergeet om die vullissakke uit te sit wil ek ‘n vullissak vol gastro doeke oor haar kop uitgooi. ‘n Mens is so geneig om fout te soek wanneer daar nie fout is nie, want dis mos abnormaal om ‘n gewone, goeie man met ‘n foutjie hier en daar te hê. Soms moet ons maar ons twee hande gebruik en self die vullissakke uitvat. Niemand van ons is perfek nie.
  • Ek wys vir my geliefde dat ek trots is op hom. Ek probeer luister na dit wat hy vir my vertel. Hy hou nie altyd daarvan dat ek vir hom probeer raad gee nie. Soms wil hy hê dat ek net ‘n klankbord moet wees. Ons het al in die verlede baie hieroor vasgesit. Ek moes leer om partykeer net my mond te hou en luister. Dit kom ongelukkig vir die meeste vrouens (myself inkluis) nie natuurlik nie.
  • Ons lag saam. Ons vat mekaar nie altyd so ernstig op nie. Ons staan saam en ons raak baie minder kwaad vir mekaar as voorheen. Die lewe is te kort!
  • Ek is lief vir hom, elke aspek van hom. Altyd. Selfs wanneer hy grumpy is en vir almal grom. Selfs wanneer hy nie die vullissakke uitvat nie. Kan jy dit glo!
  • Ek vertrou hom om die beste vir ons gesin en ons verhouding te doen. Ek vertrou hom met my lewe en ek glo hom as hy sê hy is lief vir my. Wanneer jy deur ‘n egskeiding is is vertroue broos. Dit het ons lank gevat om op ‘n punt te kom waar die verlede in die verlede bly. Vandag is wat tel en die toekoms is waarna ons uitsien.

Ek kan vir ewig aangaan.  Die punt is, ek is dankbaar vir ons gekraakte en gelapte verhouding.  Ek is verskriklik dankbaar vir ons tweede kans.  Ek is selfs dankbaar dat ek die voorreg het om met hom op ‘n normale manier te kan baklei oor alledaagse snert..  Ons verhouding is ver van perfek, maar ek kies dit elke dag, want ek weet hoe dit was om sonder hierdie man te wees.  Dit was hel.  Ek wil dit nooit weer ervaar nie.

Nou moet ek ophou skryf.  Ek trou oor tien dae en ek moet slaap.  Ek is immers middeljarig en het my slaap nodig.  Maak asseblief  ‘n date met jou man of vrou. Hou op om te sê jy is te besig.  Laai jou kinders by ‘n vriendin af. Gee mekaar vandag iets om na uit te sien en jaag daai kinders weg sodat julle kan praat.

‘Frasier has left the building, goodnight’

 

 

 

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Oorlog op Heilige grond

Die dood sonder ‘n graf
Jy bou ‘n monument in jou hart
‘n geheime plek waar jy kan kniel
‘n Veilige plek waar jy kan ween en dankie sê
‘n Plek waar jy ‘n blom kan neersit
Herinnerings kan herleef
Waar jy in die lig kan bid
Vir ‘n lewe wat verby is
En lewe wat begin
Dooie bene wat lewend word
In jou hart en in jou gees
‘n beeld van ‘n nuwe mens,
want dit het die Here geweet
was jou grootste wens

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Wonde

Liefste

Ek sukkel. Ek wat altyd planne het, het nie nou ñ plan nie.
Ek weet dat God ñ plan het, ek weet dat ek geduld moet hê.
Ek weet nou hoe jy destyds gevoel het. Toe jy gesukkel het met wil en plig.
Ek dink ek is nou daar. Ek wil, maar is dit meer uit plig?
Ek sukkel in hierdie huis waar daar nooit stilte is nie. Terwyl ek hier skryf gil iemand. ñ Ander een roep Mamma.
Ek wens ek kan ñ paar dae stilte koop. Waar ek hierdie ding in my kop kan rondmaal en kan verwerk op ñ manier.
Waar ek my eie stem kan stilmaak en kan luister, voel wat my siele stem vir my sê.
Ek reken dis die werklike lewe, nê?

Ek noem jou Liefste, want dit is wat jy is. Jy is my Liefste. Liefde het in my hart niks hiermee te doen nie. My lyf het jou lief, my hart..maar my siel? My siel is stukkend. Gebreek deur jou patrone. Gebreek deur jou argelose benadering tot ons verbintenis.
So seergemaak en gekneus deur jou verwerping.
Ek weet jy sê jy het my nie verwerp nie, jy het my gekies, maar ek voel dit nie.
Waar ek hier sit weet ek dit nie.

Dit voel asof ek altyd die merk gaan dra. Altyd na myself in die spïeel sal staar en wonder. Wonder wat dit ín my is wat maak dat ek nie genoeg is nie? Wonder of jy altyd hierdie worsteling binne jou sal hê. Wonder of dit wat ons het, nou vir eens genoeg sal wees en sal maak dat jy wegdraai?
Wonder en wens.

Is dit die moeite werd? Sal ek wegkwyn as ek kies om te bly en altyd wonder?
Sal ek eendag ophou wonder?
Liefste, ek brand. Ek het seer. Ek wens. Ek wonder.
Here, ek HOOP.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Brief aan Geskeides

Dit het net gebeur.
Rerig? Jy het gestruikel en in haar arms geval en haar mond was per ongeluk oop en jou tong het toevallig daarbinne beland.
Hoe gebeur enige iets net? Ek is ‘n mens. Ek het beheer oor die keuses wat ek uitvoer. Niks gebeur vanself nie. Is jy ‘n mens?
Hoe maklik is dit om as eerste verweer te sê: “dit.het.net.gebeur”?
Hoe kan dit net gebeur dat jy van jou vrou en kinders vergeet? Hoe kan dit net gebeur dat jy doelbewus iemand anders se geselskap opsoek?
Daar is niks wat jou, mnr Egbreker, die reg gegee het om haar te verneuk nie.
Al is jy hoe ongelukkig. Al het jou vrou gewig opgetel na jou kinders se geboorte. Al het sy rekmerke oor haar maag wat padkaarte vorm van julle geskiedenis. Al verstaan sy jou klaarblyklik nie meer nie. Niks het jou die reg gegee om haar, jou vrou, so seer te maak nie.
Ek weet jy wil nou opspring en skree ‘Sy het ook nie haar deel gedoen nie. Hierdie is nie wat ek gedink het dit gaan wees nie. Sy is ook skuldig!’
En ja, dit is dalk so, maar jy is die een wat hierdie keuse gemaak het. Jy het gekies om die situasie so te hanteer. Jy is die een wat skuldig is aan egbreek.
Weet jy wat is egbreek? Nee, kom ek vra eers weet jy wat is ‘n huwelik?
Die huwelik is ‘n verbond tussen Man en Vrou. Heilig. Kosbaar.
Weet jy hoe voel dit as jou man vir jou sê hy is nie meer lief vir jou nie? Weet jy hoe vernietigend die nuus is? Hoe geweldadig die effek van daardie woorde is?

Jy wil sterf. Ophou bestaan. Verdwyn.
Dìt is hoe dit voel.
Ek was daar.

Die beste is dat elke egbreker dink sy situasie is uniek. Ek het gesprekke gehad met baie slagoffers van egbreek. Elke man dink sy gevoel vir die ander vrou is uniek. Dit het so reg gevoel. Rerig? As dit so reg gevoel het hoekom het jy nie al lankal jou vrou daarvan vertel nie? Hoekom het jy dit weggesteek? Weet jy dat Suid Afrika die land is met die hoogste egbreek syfer? (gaan google dit maar!) Hoe uniek kan jou situasie dan wees?
Die effekte van jou keuses is nie so uniek nie. As mense meer navorsing doen oor iets voor hulle dit doen sal die wêreld ‘n baie beter plek wees. Soos ek dit tik lag ek effens vir myself. Navorsing oor egbreek voor jy dit doen.. Miskien moet iemand so boek skryf!
Daar is baie effekte en navorsing wat deur baie geleerde mense gedoen is, maar die beste navorsing resultate is nie op papier en in joernale gepubliseer nie. Jy kan dit nie google nie. Dis gepubliseer in die lyne op mense se gesigte. Die geboë skouers van oorwonne mense. Die trane van kinders, die bed natmaak, die nagmerries, die agressie en die eindelose wense en gebede van mense wat nie meer die pyn van hule omstandighede kan aanvaar nie. Dis in die verlange sigbaar wat mense laat kwyn. Dis in die hulpeloosheid sigbaar van familie en vriende.

My broer het my oor baie bulte gesleep en uit baie riviere uit opgediep en hy het altyd gesê..’Life is tough’. As ek huil oor my kinders..’Life is tough’. As ek ween oor my verlies ‘Life is tough’. As ek skree oor die onregverdigheid..’Life is tough’
Life is inderdaad tough.
Is dit nie aaklig nie? Is dit nie om van te braak nie? Die lewe opsigself is moeilik genoeg. Dis ‘n reis met opdraendes, droogtes, sterftes, maar ook afdraendes, pragtige sonsondergange en beeldskone landskappe. Hoekom moet dit nog moeiliker gemaak word deur iemand anders se keuses?
En as dit gebeur, wanneer die bom ontplof, wanneer ons seerkry ontbloot word en ons pyn ons verlam, wat moet ons doen?
Hoe moet ons weer regop kom? Waar sal ons hulp vandaan kom? Wie gaan ons red?

Ons lewe in ñ gebroke wêreld. Dit word so baie gesê dat dit al soos ñ cliche klink.
Dit is duidelik sigbaar orals om ons. Gesins geweld, verkragting, moord, egskeiding.
Ons veg ons oorloë op heilige grond. Ons veg met die doel om te vernietig.

As ons maar net mekaar vernietig het.. Maar, in die middel van hierdie oorlogsfront is die onskuldiges. Ons kinders..dan wonder ons wat gaan aan met ons wêreld. Ons selfsug en swak keuses vernietig hierdie onskuldige slagoffers se drome. Dit steel hulle sekuriteit. Egskeiding is erg genoeg, maar as jy mooi om jou kyk sal jy sien dat siek mense genot daaruit put om mekaar seer te maak en hulle dodelikste wapen is hulle kinders. Dit maak my siek, want besef jy nie dat JY hulle toekoms in jou hande jou nie?

In ons gebroke wêreld is egskeiding ñ hartseer realiteit. Dikwels is dit ñ keuse wat uit jou hande geneem word. Hoe jy na die tyd optree is wel iets waaroor jy beheer het. Kies om jou kop hoog te hou. Kies om onvoorwaardelik jou kinders te beskerm ongeag van hoe moeilik dit is. Kinders het liefde, aanvaarding en koestering nodig. Kinders wat deur egskeiding gaan het dit 10 keer meer nodig. Hulle het nodig om te voel dat hulle nie hoef te kies nie. Hulle het nodig om te sien dat al het hulle ouers hulle verhouding vernietig hulle nogsteeds logies en regverdig kan optree. Dat hulle hulle kinders se geluk bo hulle ellende en haat kies. Dat hulle saam nogsteeds hulle ouers is en dat hulle saam vir hulle kinders se geluk sal baklei.

As ons dit kan regkry sal ons wêreld al klaar ñ beter plek wees. Hel, egskeiding is geweldadig seer, maar om ons kinders se seer erger te maak, dít is soos om jou kinders vir die wolwe te gooi. Dít is wat maak dat hulle liefde en aanvaarding op ander plekke soek. Dit is wat maak dat hulle verwerping ervaar. Dít is wat maak dat hulle nie vir jou vertel as daar iets by hulle ander ouer gebeur wat hulle seermaak nie.

Ek weet. Ek was daar. My pyn was my dogters se pyn. Hulle pyn was my hel. Dankie Here dat ek en hulle Pappa gekies het om hulle veiligheid en geluk eerste te stel. Dit was soms moeilik, (BAIE moeilik..)maar ons liefde vir hulle en ons respek vir mekaar as hulle ouers het oorwin. Met genade en bonatuurlike krag van die Here af. Soos ons middelste dogtertjie gesê het.. ‘Pappa het geskuif, maar julle is nog lief vir mekaar’ Dis hoe hulle dit ervaar het.

Ek haal my hoed af vir elke ouer wat dit so doen. Soms kry net een ouer dit reg.. Die res, kies dit my magtag! Dis hoe maklik dit is. Kies dit.

© 2015 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Rou en ñ awkward verhouding met pool noodles en Jack Parow

Daar was ñ tyd toe ek pool noodles, wyn en Jack Parow nodig gehad het om deur die dag te kom…en urbanol..en slaap pille

Net soos goeie herinnerings kom die donker ook maklik terug. ñ Song op die radio, ñ reuk..die sien van ñ sekere flossie in Spar.
Ek lees wat ek geskryf het in daardie tyd en dit help my onthou. Dit help my herstel.
Ja ek luister nogsteeds Jack. Ek is ñ closet fan. Kan dit nou nie juis in my kar speel terwyl ek carpool nie. Ek drink nogsteeds wyn, maar net omdat dit lekker is en nie omdat ek dit nodig het nie. Ek het die aand van my egskeiding ñ bottel uitgedrink. Uit die bottel. Terwyl ek op my knieë langs die swembad sit en skree. Ek het die swembad gehaat.
Ek het die pille gelos. Die slaap pille was moeilik, ek kon vir drie jaar nie slaap sonder dit nie.
Pool noodles is nou veilig in my geselskap. Ek het nie meer die drang om die wit waks uit dit uit te slaan teen ñ boom nie.
Ek het my vrese in ñ bonfire verbrand..ek is vry..

#Ek oorleef in ñ waas met kaffïene en bezodiazepiene.
My kop voel nooit meer werklik helder nie, my hart klop altyd te vinnig op ñ ritme van angs en moegheid.

My oë voel dik, my ooglede spring. My kop ñ maalkolk van wat ek moet doen, my ore moeg geluister na ander mense se probleme. Ek wil my vel afstroop ek wil my pyn ontbloot, maar vannaand moet ek glimlag, sterk lyk, in beheer wees vir my kinders. As nog iemand vir my sê ek moet sterk wees..weet julle nie dat om op te staan in die oggend terwyl jy lus is om te sterf ñ daad van ongelooflike bonatuurlike krag en moed vat nie?!!

Dom mense verwag dat as die formalitieite verby is jy net moet kan aangaan. Jy is mos immers van die man ontslae. Hulle verstaan niks van die pyn van jou verlies nie. Die finaliteit van die daad. Die bewustheid in jou hart dat jy nie meer deel is van iemand anders nie. Die hartseer wat aan jou kleef. Die gevoel van mislukking wat jy diep probeer weg bêre. Dis soos ñ amputasie, die ledemaat is weg, maar jy bly bewus van dit wat daar was.

Ek mis my man. Dit is soos wanneer iemand dood is. Die hartseer laat jou net die goeie onthou. Skielik kan ek nie meer onthou hoekom ek so ongelukkig was nie. Ek onthou net dit wat goed was.

Wie sal dit ooit verstaan. Ek is te moeg om eers te probeer. Hoe hou mens op liefhê? Hoe hou mens op mis? Hoe hou mens op hoop? Ek wens alles wil net ophou. Ek wens alles kan net normaal wees. Hoe hou mens op wens?#

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

DIE BOM

Soms het ek nodig om hierdie te lees om te onthou hoe ware pyn voel.
Hoe rou ek was.
Dan vergelyk ek dit met nou en dán ervaar ek dankbaarheid in die suiwerste vorm.
Voorheen sou my lewe nou normaal gevoel het. Nou beskryf ek hierdie vervelige gewone bestaan van my as hemels.
Mens weet nie hoe lekker boring is voordat jou lewe ñ rollercoaster van op en af, drama en intrige word nie. nuclear-explosion

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Oujaar aan die einde van die nuwe jaar

100_7169

2013 Was ‘n hartseer jaar, maar selfs in hartseer en pyn is daar altyd mooi en vreugde in oorvloed.
My grootste ontdekkings was:
Ek is deur die Here se genade en met die Here se krag sterker as wat ek in my wildste drome kon besef. Leef in die oomblik, want dit is waar jou vreugde lê..al lyk more donker is daar in die oomblik altyd iets wonderliks om jou of by jou. Waardeer dit wat jy het en koester dit. Selfs in buitengewone omstandighede kan ‘n gesin floreer, want liefde en sekuriteit begin by die wete dat God in beheer is en kinders is nooit te jonk om dit te leer nie.
Wonderwerke gebeur elke dag orals om ons. Daar het groot wonderwerke gebeur, maar ook daaglikse klein wonderwerke. Ek lewe met my oë oop en ek sien.
Vriende en Familie gee jou vlerke in swaar tye, lag saam met jou wanneer dit al is wat oorbly om te doen en raas soms wanneer dit nodig is..ek het hierdie jaar ongelooflike liefde ontvang.
Liefde moet verniet weggegee word, aan almal, want dis wat ons by Jesus leer.
Ek het ook geleer dat ek mag foute maak en mag verkeerd optree, ek is ‘n mens, maar ek weet ook dat daar nie oordeel is nie, want ek staan onder die bloed van Jesus. Hy het gekom vir gebrokenes. Dit is Vryheid!
Ek het ontdek dat ek ongelooflik mal is oor bergfiets ry..dit laat my soos ‘n kind voel.
Ek het ontdek dat ek oomblikke van absolute vreugde moet skep
Ek het geleer dat ek moet opstaan in die oggend..want selfs wanneer dit voel asof jy jou kop onder die kussing wil hou is daar ALTYD ‘n rede om op te staan
Ek het geleer dat die LEWE GELEWE moet word, met passie en dankbaarheid.
Ek is dankbaar vir soveel dingetjies, my kinders se gesondheid en lewenslus, my kinders se drukkies en soentjies in oorvloed, my huis, want dit is waar my hart is, mense wat oor my pad gestuur word, mense wat elke dag deel is van my lewe, voorregte, familie, asemhaal!
Die Here het vir my ‘n pad in die woestyn gemaak en ek stap dit in geloof en met opgewondenheid. 2014 gaan GREAT wees!

Ek kyk vandag terug na my woorde van 31 Desember 2013 en dank die Here vir my LEWE.
Elke belofte het waar geword. Hy is en was getrou.
Is die pad wat ons nou stap maanskyn en rose?
I wish.. dis wel ‘n pad van genade, want net soos die Here genadig was so het ek geleer om genade te leef.
Hy kan werklik ‘n pad in die woestyn maak.

 

© 2014 – 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Geestyd

IMG_0750

Ek was vir amper ‘n jaar stil..
Na my laaste skrywe die 23ste Desember 2013 het daar soveel gebeur.
Kom ek begin by die 24ste

Ek was bang vir Kersfees. Daar was geen afwagting nie. Geen opgewondenheid nie. Dit was ‘n dag wat my met angs gevul het.
Die logistiek daaraan verbonde. Hoe laat gaan die kinders na Pappa toe? Wanneer moet ons geskenke uitdeel? Hoe gaan ek alleen dit regkry om hulle aandag af te trek en dan skelm die geskenke onder die boom laat verskyn? Wat maak ek om te eet? Doen ek baie moeite met kos of koop ons KFC?

Hoe kry ek dit reg om nie te huil nie? Dit was immers my eerste kersfees sonder my man. Al wat ek wou doen is huil as ek daaraan dink. Ek wou ween vir my verlies aan normaal. Ek wou ween en skree en ‘n poolnoodle teen ‘n boom stukkend slaan vir die onregverdigheid van die lewe!

Wat doen my eksman vir Kersfees? Gaan hy dit alleen spandeer of saam met haar? Wat gaan hy vir haar koop? (simpel, maar ek is immers ‘n vrou!). As hy dit alleen spandeer gaan hy hartseer wees? Ek kon dit nie verduur om aan hom te dink alleen en hartseer nie, maar ek wou ook nie hê dat hy saam met haar moet wees nie.

En dan, die grootste vrees van alles, my kinders. Hoe gaan hulle voel die Kersfees? Die verantwoordelikheid het so groot gevoel, want soos alles met die egskeiding, hang hulle reaksie af van my reaksie. Hulle hou my dop. Lees goed in my gedrag en gesigsuitdrukking.

So ek was bang vir Kersfees.

Ek het baie scenarios oorweeg. Prentjies en moontlike uitkomste in my kop laat draai. Ek het besluit om Kersfees oor ander mense te maak. My gedagtes weg te dwing van my swak en ellendige omstandighede na ander mense se ellendige omstandighede.
Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om Oukersdag na ons Kerk se ‘Miracles in the Park’ te gaan.
Dis ‘n pragtige projek waarvoor daar maande lank kos, klere en speelgoed ingesamel word.
Op die dag bedien hulle amper 2000 mense met kos vir ‘n week, klere vir die gesin en speelgoed vir die kinders.
Ek wou beleef dat ek baie rede het vir dankbaarheid. Ek wou my kinders hierby betrek en het hulle saam gevat.

Ek was skaars daar toe my foon lui. Dit was my eksman. Ek het onmiddelik aan sy stem gehoor dat hy kwaad is vir my. Ek het dadelik vir hom gesê dat hierdie dag, hierdie oomblik, moeilik genoeg is vir my en dat ek nie met hom wil praat nie. Hy het egter aangehou. Hy het my aangespreek omdat ek ‘n bybelvers op sy facebook blad gepost het. Dit het Flossie glo ontstel en dit bemoeilik sy verhouding met haar, want dit laat haar onseker voel.
WAT!!!!!!???
Selfs ‘n jaar later laat die herinnering my nekhare orent kom.
Ek het dit verloor. By die kerk se geleentheid, omring met my gemeentelede.
Ek het ‘n paar meter weggestap en op hom begin gil.
‘Hoor jy jouself?’ ‘n oktaaf hoër ‘Hoor jy die Flerrie?’ (ek is seker ek het ‘n minder vleiende woord gebruik)
ek het herhaaldelik vir hom geskree ‘JY IS BLIND!’
‘BLIND!!!!!’ Hy was vol berou en het oor die foon begin bid ‘Here help my om te sien’
Ek het die foon doodgedruk en bewend myself probeer kalmeer.
Ek het dit vir presies twee sekondes reggekry.
Ek het ‘n boodskap aan hom en Flossie gestuur. Venynig en vol haat.
Ek wou hulle seermaak.

Het dit my beter laat voel? Nee..
Ek het soos ‘n robot pakkies begin aangee vir die strome mense. Soos die dag aangaan het die woede my verlaat en het hartseer het van my besit geneem. Ek het dolleeg gevoel.
Die dankbaarheid van die mense om my en die armoede en swaarkry het my skuldig laat besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees. Die Here het ‘n pleister op my seerkry geplak en ek het dit reggekry om nie inmekaar te sak en in die bondel te bly lê nie. Ek het my kop weereens opgelig en ‘n tree vorentoe gegee.
Die aand het ek opgewonde saam met die kinders na tekens van Kersvader begin soek. Ons het geskenke oopgemaak, oorskiet pizza van die middag geëet en ek het popwaentjies aanmekaar probeer sit en rekenaarspeletjies probeer installeer. Daar was ‘n leemte en ek het myself toegelaat om my kussing nat te huil.

© 2014 – 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share