Die seerste seer

Ek bly in die Vaaldriehoek en die Driehoek tragedie het my hart diep geraak. Ek het vriendinne met kinders daar op skool. My sestienjarige dogter het vriende en kennisse in die skool.

Ons dorp is verslae, bedroef. Ek hoor eerstehands van kinders se vrese en hartseer en ek lewe met ‘n innige dankbaarheid vir my lewendige, gesonde kinders.

My dogter het die middag van die tragedie vir my met trane in haar oë gesê ‘Sê nou net daardie kinders is die oggend weg by die huis sonder om vir ‘n laaste keer te sê ek is lief vir Mamma. Sê nou net hulle ouers was kwaad vir hulle of het baklei met hulle… hoe gaan hulle nou voel?’

Sy het my laat dink, want oggende is partykeer so ‘n dolle gejaag in ons huis. Ek eindig meestal met hartkloppings verlig op die bank as hulle by die huis uit is. My middel kind se ADHD maak oggende chaoties en ‘n geskree van een of ander aard is redelik die norm in die oggende by ons. Die ding van ADHD is, dit sluk jou as ma heeltemal in en die ander twee kinders in die huis moet meestal vir daardie uur in die oggend op hulle eie aangaan. Ek soen en druk hulle, maar meer uit gewoonte as ‘n werklike bewuste en innige groet. Ek wil nooit weer op daardie bank in die oggend neersak en wonder of ek hulle gegroet het of nie..

Die ding wat my totally onderkry van die tragedie is die nuuskierigheid van die publiek. Ek lees vanoggend op ‘n gebedsgroep hoe iemand die volgende oor die ouers van een van die oorledenes sê:

Die boodskap is goed bedoel, maar klankbord in die media?

Ek kan my nie indink hoe dit moet voel om ‘n kind te verloor nie. Die Here weet, dit moet die seerste seerste seerste pyn wees. Wat verwag sy moet die ouers doen? Op facebook vertel hoe seer hulle harte is? Sal dit hulle laat beter voel om die media as ‘n klankbord te gebruik?

Daar is nog vele sulke boodskappe op hierdie groep. Mense wat kwaad raak as daar gebed gevra word, maar geen details gegee word nie. Hierdie ouers en kinders het publieke besit geword.

Mense wil die presiese detail hê, want hulle wil vir hulle bid. Weet julle wat? Die Here weet klaar wat fout is met hulle. Jy het nie nodig om vir die Here in detail te vertel wat fout is terwyl jy bid nie.

Vandag is ‘n grys, reënerige dag en die Driehoek kinders en onderwysers is vir die eerste keer terug skool toe. My hart gaan uit na hulle en hulle ouers. Toe my oudste in graad 3 deur ‘n moeilike tyd met maatjies gegaan het, het ek een pouse my kar onder ‘n boom naby die speelgrond parkeer om te kyk of ek haar kan sien. My hart was swaar en seer vir my kind en ek het onder daardie boom gesit en bid dat sy asseblief nie alleen is pouse nie.

Ek dink daar is vandag honderde ouers met swaar en seer harte wat naby die skoolgrond wil bly om naby hulle kinders te wees. En dan is daar die ander gesinne wat vir altyd ñ gat in hulle harte gaan hê..

Mag ons elke oggend en elke aand ons kinders en ons geliefdes met bewustheid groet. Druk hulle net vir daardie oomblik ‘n bietjie langer vas as wat nodig is. Kyk vir hulle in die oë en sê ‘Ek is lief vir jou.’

Hulle sê altyd die lewe kan in ‘n oogwink verander, maar nou glo ek dit.

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Velhonger

Hierdie blog is in my hart gebore nadat ek gesien het hoe my drie-en-tagtigjarige skoonpa sy oë toemaak en glimlag terwyl my dertienjarige dogter sy bene met room masseer.

Die beeld van haar jong, sterk hande op sy perkament dun vel het my hart met deernis gevul. Die vreugde wat hy uit haar aanraking geput het het my hartseer gemaak, want die wrede waarheid is, hoe ouer jy is hoe minder word daar aan jou geraak.  

Kort na my egskeiding het ek vir ‘n massering gegaan.  Die terapeut het met doelgerigte hande die olie oor my rug gesmeer en niks kon my voorberei op my lyf en gees se reaksie nie. Intense, séér emosie het in my opgewel.  My borskas het saamgetrek in ‘n bittersoet spasma. Elke haartjie op my lyf het orent gespring en ek het in hoendervleis uitgeslaan.  ‘n Broosheid het van my besit geneem wat my emosioneel naak gelaat het. Met haar warm hande het sy die weemoed en verlange uit my lyf geknie. 

Die liewe vrou het aangegaan asof sy heel gewoond is daaraan dat amper middeljarige vrouens in trane uitbars as sy aan hulle raak.  Haar aanraking het meer as net my vel bereik. Dit het ‘n plek in my binneste bereik wat ek weggesteek het vir myself.  Ek was uitgehonger vir positiewe aanraking.  Velhonger.

Soveel mense om ons is velhonger. Ja, ons weet van die weeskinders, verwerpdes en eensames, maar wat van die mense wat in huise woon saam met hulle naastes. Mense wat vriendskappe het en mense wat in verhoudings is. Mense in ons huise.

Deesdae word automatiese, battery aangedrewe wiegstoele gebruik as ‘n minderwaardige plaasvervangers vir liggaamshitte,  ‘n ma se hartklop en liefdevolle aanraking om babas te kalmeer.  ‘Sleep training’ is die in-ding en moedig mense aan om huilende babas te los om alleen aan die slaap te raak.  Tieners bly agter toe kamerdeure, skynbaar stil en rustig, maar so verwyderd van hulle gesinne dat hulle emosioneel dor is.  Geliefdes soen mekaar skrams hallo en totsiens in die verbyloop en wonder verdwaas hoekom hulle afgesny voel van mekaar.

Ons vergéét dat ons aanraking so nodig het vir ons gees soos wat ons asemhaal nodig het vir ons fisiese funksies. Ons het dit nodig vir emosionele intimiteit met ons geliefdes, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle vertroue te wen en te behou, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle te leer hoe positiewe, gesonde aanraking voel.  Ons het nodig om aan mense te raak, want óns het dit nodig.

Hoe ouer ‘n kind word, hoe minder word daar met werklike bewustheid aan hulle geraak.  Te veel tieners gaan slaap elke aand sonder dat hulle ouers hulle behoorlik nagsê of hulle sommer in die verbyloop gryp en hard vasdruk êrens deur die dag.  Hulle staan op ‘n afstand en kyk met verlange hoe hulle jonger broers en susters opgetel en getroetel word en smag na dieselfde, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ja, ek weet hulle maak hulle skouers styf. Ek weet hulle sê jy embarrass hulle as jy hulle in die openbaar totsiens sê, maar ek weet ook dat daardie drukkie of nagsoentjie ‘n warmte in hulle hart veroorsaak wat deur die dag by hulle bly en hulle herinner dat hulle saakmaak.

Kos vir velhonger kan so maklik op die verkeerde plekke gesoek word en dit maak my báng.

Met jou deernisvolle aanraking kan jy liefde en aanvaarding wys.  Jy kan hartseer beter maak en hoop gee.  Jy kan mure afbreek en iemand laat veilig voel.  Jy kan waarde gee aan iemand se bestaan.  Jy kan die gat in ‘n eensame se hart vul. Jy kan hoop gee.  Jy kan letterlik ‘n lewe red.  Dís hoe kragtig aanraking is.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Troukoors

My voorneme om elke dag te skryf het gekom en gegaan…daar is nie tyd vir nostalgiese mymerings in my lewe nie.
Ek trou. EK trou. EK TROU! (Laasgenoemde skree ek met onbevange paniek)
Ek lees trou artikels oor perfekte dae met wedding planners, caterers en ek skree vir Liefie ‘As ons ooit weer trou, doen ek niks! Hoor jy my? Niks!’

Ons dominee wat ook ons huweliksberader was, het grappenderwys gesê hy het ñ doodsertifikaat nodig voor hy ons trou, want die kanse is goed dat een van ons die ander sal wil vermoor.  Ons het gelag en diep in mekaar se oë gekyk en natuurlik gesê dit sal nooit met ons gebeur nie, maar nou weet ek nie meer nie.

Ek is so befoeterd dat Liefie gisteraand gesê het hy verwag enige oomblik dat ek die affêre kanselleer.

Hý sê ek moet fokus op Sondag wanneer ons saam in Duitsland arriveer sonder die kinders.

Die kinders…hoe gaan ek twee weke sonder hulle oorleef?

My bloedjies…daar tjank ek alweer!

Ek tjank so oor hulle dat Liefie gister mooi gevra het dat ek asseblief tog myself in die vliegtuig moet uithuil, hy sal glo maar ñ movie kyk met oorfone in sy ore. Die onsimpatieke buffel.

Ek het gister my oudste kind beetgekry in ñ knelgreep. Ek het dramaties tussen my trane deur vir haar gesê dat ek haar nie kan laat gaan nie. Sy aard obviously na haar pa, want haar enigste reaksie was;

‘Mamma het ñ serious probleem. Eers sê Mamma dat mamma nie kan wag om alleen te wees saam met Pappa nie, en noudat mamma die kans het huil mamma. Dalk moet Mamma iemand gaan sien?’

My ma help ook nie…sy bel my om te hoor of ons testament reg is. Ek bly sommer net hier. Net hier!

Ons moet glo ook vir ons vlug incheck 17:15 Vrydagaand om seker maak ons sit nie in die toilet nie. So almal wat die van den Heever troue bywoon moet verskoon as Liefie op sy selfoon besig is as ons ons ‘I do’s’ gesê het.

Daar is ñ miljoen dinge wat moet gebeur voor vrydagaand 17:00. Sover het ons ñ dominee, vleis, ñ koek en baie wyn . (Daar was meer, maar ek moes proe of dit reg is) O ja, ek het ook ñ man wat sover nog gewillig is om deel te neem.

‘n Liewe, dierbare man en ek kan nie wag om die res van ons storie saam met hom te skryf nie,

Laat hy val waar hy wil.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Jesus liefde

Kersfees het my altyd met heimwee en hunkering gevul. Ek het te vroeg ontdek daar is nie ñ Kersvader nie en dit het my kinderhart ontnugter. Ek was seker nie verondersteld gewees om so verraai te voel nie, ek het nooit gekry wat my kinderhart begeer het nie.

Dit het by my as ñ volwasse ma ñ probleem geskep. Oorkompensasie was die siekte se naam en ek het heeltemal té oordadig te kere gegaan. 

Ek is nou in my veertigs en ek het die begeerte verloor om te oorkompenseer. Ek wil álles vereenvoudig.  Ek het nou ñ ander siekte, skaamte…ek skaam my letterlik vir die hoeveelheid geskenke wat gekoop word vir kinders wat grootgemaak word met alles wat hulle harte begeer. Kinders wat verleer het hoe om dankbaar te wees vir die eenvoudige dinge van die lewe en wat nie weet hoe om besittings te koester en op te pas nie.

Ek het een Kersfees ñ teddiebeer gekry. Ek was 11 en het gevoel dis ñ onvanpaste geskenk, maar daar was niks anders nie so ek moes leer om bly te wees oor die beer. Dit het my slaapteddie geword en vir my sekuriteit in die donker gegee. Ek het nou as ma deernis met my ma wat die beer gekoop het, want sy het die beste gedoen met dit wat sy gehad het. Ons het as kinders altyd by die ouetehuis saam met my Ma gaan sing. Dis my kosbaarste herinnering aan Kersfees.  

Drie jaar terug, toe ek as enkelma Kersdag sonder my geliefde aanpak, was my hart in skerwe op die vloer. Ek het gesukkel om deur die motions te gaan, maar het ter wille van die kinders. Ons het oukersdag saam met ons kerk spandeer en minderbevoorregdes bedien met kos en klere. Daar het ek dankbaarheid in al sy suiwer glorie beleef. Dankbaarheid vir tweedehandse klere en kospakkies. Dit het my seer beter gemaak.

Daardie Kersfees het ek gehunker na die eenvoud van ñ gelukkige, heel gesin om ñ etenstafel.

Ek het verlang na my geliefde en getreur omdat ek my kinders na ñ ander huis toe moet stuur vir ñ gedeelte van Kersfees.

Daardie tyd het ek geleer dat God gebore is en gesterf het sodat ek verlos kan word..nie net van my sonde nie, maar ook van my smart.

Daardie tyd het ek geleer dat niks wat vir my belangrik is gekoop kan word nie en dat familie, bloed of nie bloed, die grootste gawe is wat ons het. Liefde ís die belangrikste.

Nou is ons alweer twee Kersfeeste heel en ons koop nie meer oordadig geskenke nie. Ons ís geskenke en ons papier is liefde. Kersvader het dit nie vir ons gebring nie. God het.

Mag ons elkeen die volheid van Jesus se liefde ervaar.  Mag ons almal onthou om ons gesinne as onvervangbaar en kosbaar te beskou. Mag ons ons familie en vriende koester en tyd vir elkeen in ons lewe as ñ geskenk gee. Mag ons almal onthou om iemand wat alleen en hartseer is vandag lief te hê en in te sluit met Jesus se liefde. 

Geseënde Kersfees.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Ons grootste geskenk

God het gesien niemand wil hoor!

Ek moet my seun stuur, anders gaan almal net moor

God sê: Gabriel gaan vertel vir Maria sy moenie skrik

Oor nege maande gaan sy lyk asof sy ñ waatlemoen insluk.

Dis die baba Jesus wat sy in haar maag ronddra.

Hy gaan die liewe mense van die wêreld red sonder dat hulle daarvoor vra

In ñ stal in Bethlehem gaan sy geboorte gee

Aan die verlosser, die Here, My enigste seun

Herders gaan by hom kniel en wyse manne gaan hom aanbid

Hy is die enigste Here, die bron van alle geluk

Op die aarde gaan hy loop nes ñ gewone mens

Siekes gaan hy genees, wonders gaan hy doen, want dis my grootste wens

Dat mense Hom volg en almal mekaar sal liefhê en dien

Dis die doel van sy geboorte, dat alle mense eendag die Hemel sal sien

Hy gee vir ons die bybel, die lewende woord

Dis God se handboek en leer ons aan wie alles behoort

Dankie God vir die grootste geskenk

Dat my naam geskryf was van die begin af in U hand

Help ons om elke dag te lewe met liefde en dank

Want u is Ons Vader, ons Koning en God.

© 2016 – 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die Mis

image

Ons stappie in die mis by Kaapschehoop het my laat dink aan my lewe.

Ek het al soveel keer blindelings rondgestap in digte mis. Sonder dat ek weet waar ek is of waarheen ek gaan.

Dan verskyn daar ñ onverwagse verassing in die mis. Iets wat jou asem wegslaan en jou hart vinniger laat klop. ñ Oomblik van loutere vreugde.  ñ Simbool van hoop.

Ander kere moet jy doelbewus kies om die mooi te soek.

Dan begin jy weer die alledaagse mooi raaksien en dit vul jou hart met stille dankbaarheid vir dit wat jy het. Klein dingetjies wat jy in die helder sonskyn as vanselfsprekend aanvaar kry nuwe betekenis.

Wanneer jy dan terugkyk na daardie tyd in jou lewe vorm die mis slegs die agtergrond vir daardie mooi oomblikke.

As die mis wegtrek skyn die son altyd weer. 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Please release me

Please release me

Gisteraand glip ek uit om brood te gaan koop en terwyl ek kar toe stap begin Engelbert Humperdinck in my kop sing
‘Please release me let me go..’
(Moenie worry nie, ek wil nie release word nie)

Die klank in my kop laat my hart met nostalgiese hunkering vinniger klop.

Ek soek die liedjie op my foon en my trippie na Spar raak ñ trip down memory lane.

Skielik is ek agterin my Pa se Colt, met die vinyl sitplekke, oppad terug van oom Jan en Tannie Lena se plaas in Jacobsdal. Dis Sondagaand en ek lê met my kop teen die kardeur en kyk na die helder sterrehemel. Daardie uur was verbeel tyd, dink tyd en droom tyd. In daardie uur was ek verlief op ñ prins wat net in my verbeelding bestaan het. Ek was ñ perderuiter wat wild op ñ palomino oor die vlaktes gejaag het. Ek was ñ beroemde sangeres en ñ olimpiese swemmer.

Ek ruik my pa se Life sigarette en ek hoor my Ma se helder sopraan stem.

Soms het ek gewens dat daardie uur wat ons terugry Kimberley toe vir ewig aanhou sodat ek in my droomwêreld kon bly.

Vanoggend in daglig luister ek weer na oom Engelbert.  Sonder die sentiment van die herinnering om my te beïnvloed, besluit ek hy het ñ probleem. Hy smeek die heeltyd mense om te wag vir hom of om terug te kom na hom toe. Shame man.

Ek google hom summier en sien sy regte naam is Arnold George Dorsey. (Ek het gedink Humperdinck is te dik vir ñ daalder.)

Oom Engelbert is die laaste 50 jaar getroud met dieselfde vrou. Nou dít was vir my ñ moewiese verassing.

Skepties soos ek is oor ewige liefde, tik ek in, ‘Engelbert Humperdinck affairs’ en die eerste ding wat google uitspoeg is..’I had more paternity suits than dress suits’

Ha!

Tweede op google se lysie is ‘So that’s why he is called the Hump’

Arme mevrou Humperdinck. ‘Please release me’ is sekerlik vir haar geskryf.  Soos ñ goeie katolieke vrou het sy geweier om hom te release en toe gaan hy maar aan om die werk te doen wat nodig is om op die lysie te kom van ’12 Famous men with most sexual partners’.

Hy sê darem nou op die rype ouderdom van 80 dat hy nooit gedroom het om van haar te skei nie. Yeah right..

Daar besoedel ek my mooi herinnering met google.

Dis wat volwassenheid doen. Ons sukkel om ons gedagtes net te laat gaan en te droom.  Ons soek mos feite.

Laat dit vir my ñ les wees.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Die Verhouding Dief

family-on-cellphones-shutterstock-510px

Laptops, selfone, tablets.

Ironiese goed.

Dit bring familie en vriende wat ver is naby aan ons en dryf die familie en vriende wat naby ons is weg van ons.

Mislike goed.

Ek hoor nou die dag ñ advertensie vir WiFi wat die volgende beweer ‘We are technology’. Voordat ek ñ minagtende snork kan gee sê my tiener dogter opgewonde ‘Hoor Mamma! We are technology! Ek loooove WiFi!’

Die selfoon netwerke ken hulle teikenmark.  Tieners se geluk hang deesdae werklik af van netwerk konneksies en databondels.  Jy kan hulle manipuleer en beheer deur te dreig om die WiFi af te sit, hulle selfone te konfiskeer of hulle selfoon chargers weg te steek.

Hulle menswees word beïnvloed deur die hoeveelheid likes wat hulle fotos op instagram en facebook kry.

Dis werklik die waarheid. My tiener het my met bejammerende oë aangekyk toe sy sien hoe min mense my op Instagram volg. Sy het my ñ drukkie gegee en ek kon sweer ek het die woord ‘Shame’ gehoor terwyl sy my rug saggies vryf. Daardie drukkie was so lekker dat ek oorweeg het om driekwart van my Facebook friends te unfriend sodat ek dit weer kan ervaar.

Wat vir my na snert klink, is lewensbelangrik vir tieners. Hulle meet hulle gewildheid aan die hoeveelheid likes wat hulle fotos en posts op social media kry. So maak asseblief ñ tiener in jou social media vriendekring se dag en like die volgende duckface selfie wat jy sien (maar moet asseblief net nie comment nie. Dis glo embarrasing en word gedelete sonder om hulle Ma se gevoelens in ag te neem.)

Laptops, selfone en tablets.

Sielvernielende goed.

Dit help ons om ander mense se lewens te beleef terwyl ons eie lewe verby ons glip. Ons kyk na fotos van sonsondergange terwyl die son elke dag buite ons eie huis ondergaan. Ons lees en share soetsappige boodskappies terwyl ons verleer om ons eie woorde te gebruik om vir ons geliefdes te sê hoe lief ons hulle het. Ons kommunikeer in whatsapp groepe, maar weet nooit werklik hoe gaan dit met die mense wat saam met ons in die groep is nie.

So sit hierdie selfoon/ tablet/ rekenaar neer waarmee jy hierdie boodskap lees en gaan kyk jou kind in die oë. Gaan gesels met jou man oor sy dag.

Mans gaan was die skottelgoed en bad die kinders. Gaan tap sommer vir Mammie ñ bad in en skink vir haar ñ knertsie.

Tieners gaan irriteer jou boeties en sussies en gaan maak vir ñ slag jou kamer skoon. My tiener..gaan speel met jou hond!

Lewe die lewe!

P.S. Gaan follow my asseblief op Instagram sodat my kind nie dink ek is ñ loser nie.

 

 

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share