Velhonger

Hierdie blog is in my hart gebore nadat ek gesien het hoe my drie-en-tagtigjarige skoonpa sy oë toemaak en glimlag terwyl my dertienjarige dogter sy bene met room masseer.

Die beeld van haar jong, sterk hande op sy perkament dun vel het my hart met deernis gevul. Die vreugde wat hy uit haar aanraking geput het het my hartseer gemaak, want die wrede waarheid is, hoe ouer jy is hoe minder word daar aan jou geraak.  

Kort na my egskeiding het ek vir ‘n massering gegaan.  Die terapeut het met doelgerigte hande die olie oor my rug gesmeer en niks kon my voorberei op my lyf en gees se reaksie nie. Intense, séér emosie het in my opgewel.  My borskas het saamgetrek in ‘n bittersoet spasma. Elke haartjie op my lyf het orent gespring en ek het in hoendervleis uitgeslaan.  ‘n Broosheid het van my besit geneem wat my emosioneel naak gelaat het. Met haar warm hande het sy die weemoed en verlange uit my lyf geknie. 

Die liewe vrou het aangegaan asof sy heel gewoond is daaraan dat amper middeljarige vrouens in trane uitbars as sy aan hulle raak.  Haar aanraking het meer as net my vel bereik. Dit het ‘n plek in my binneste bereik wat ek weggesteek het vir myself.  Ek was uitgehonger vir positiewe aanraking.  Velhonger.

Soveel mense om ons is velhonger. Ja, ons weet van die weeskinders, verwerpdes en eensames, maar wat van die mense wat in huise woon saam met hulle naastes. Mense wat vriendskappe het en mense wat in verhoudings is. Mense in ons huise.

Deesdae word automatiese, battery aangedrewe wiegstoele gebruik as ‘n minderwaardige plaasvervangers vir liggaamshitte,  ‘n ma se hartklop en liefdevolle aanraking om babas te kalmeer.  ‘Sleep training’ is die in-ding en moedig mense aan om huilende babas te los om alleen aan die slaap te raak.  Tieners bly agter toe kamerdeure, skynbaar stil en rustig, maar so verwyderd van hulle gesinne dat hulle emosioneel dor is.  Geliefdes soen mekaar skrams hallo en totsiens in die verbyloop en wonder verdwaas hoekom hulle afgesny voel van mekaar.

Ons vergéét dat ons aanraking so nodig het vir ons gees soos wat ons asemhaal nodig het vir ons fisiese funksies. Ons het dit nodig vir emosionele intimiteit met ons geliefdes, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle vertroue te wen en te behou, ons het nodig om aan ons kinders te raak om hulle te leer hoe positiewe, gesonde aanraking voel.  Ons het nodig om aan mense te raak, want óns het dit nodig.

Hoe ouer ‘n kind word, hoe minder word daar met werklike bewustheid aan hulle geraak.  Te veel tieners gaan slaap elke aand sonder dat hulle ouers hulle behoorlik nagsê of hulle sommer in die verbyloop gryp en hard vasdruk êrens deur die dag.  Hulle staan op ‘n afstand en kyk met verlange hoe hulle jonger broers en susters opgetel en getroetel word en smag na dieselfde, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ja, ek weet hulle maak hulle skouers styf. Ek weet hulle sê jy embarrass hulle as jy hulle in die openbaar totsiens sê, maar ek weet ook dat daardie drukkie of nagsoentjie ‘n warmte in hulle hart veroorsaak wat deur die dag by hulle bly en hulle herinner dat hulle saakmaak.

Kos vir velhonger kan so maklik op die verkeerde plekke gesoek word en dit maak my báng.

Met jou deernisvolle aanraking kan jy liefde en aanvaarding wys.  Jy kan hartseer beter maak en hoop gee.  Jy kan mure afbreek en iemand laat veilig voel.  Jy kan waarde gee aan iemand se bestaan.  Jy kan die gat in ‘n eensame se hart vul. Jy kan hoop gee.  Jy kan letterlik ‘n lewe red.  Dís hoe kragtig aanraking is.

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed blog : ‘Jy en pappa was soos monkeys’

image

My middelkind sê nou die dag vir my uit die bloute in die kar dat sy nooit gaan trou nie.

My eerste woorde aan haar is dat sy nog heeltemal te jonk is om nou al daaraan te dink.

‘Nee rêrig,  ek gaan nie trou nie, want as jy trou skei jy en dis baie hartseer.’

Daar is nog iemand in haar klas wie se ouers skei..

Haar volgende woorde laat my amper my kougom insluk,

‘Jy en Pappa was soos monkeys. Dan skei julle, dan trou julle, dan skei julle, dan trou julle. Nes monkeys!’

Toe kom haar stemmetjie effens sagter ‘Ek is partykeer bang dat julle weer gaan skei’

Ons was in ñ periode van drie jaar, drie keer uitmekaar en drie keer terug bymekaar.  Ons het die vierde keer werklik geskei. Ons is nou weer vir twee jaar bymekaar en is geseënd en gelukkig.

Ek sluk aan die knop in my keel en sê ‘ As Jesus iets heelgemaak het wat stukkend was dan pas mens dit beter op. Ons is baie lief vir mekaar én vir julle en ons het mekaar en ons gesin weer vir altyd gekies. Ons gaan dit vir altyd en altyd oppas.’

‘Ja, maar ek gaan nogsteeds nie trou nie’

Sy gaan glo eerder saam met haar beste maatjie bly en ñ kind by die weeshuis koop. Dan gaan sy ‘n manager wees en veertig katte hê.

Sy begin te sing en ek weet die oomblik is verby.

Egskeiding.  Aaklig.

Dit breek onskuldige hartjies se vertroue in die liefde en in die mense wat hulle sekuriteit is.  Ek het nooit gedink dit kan met ons gebeur nie, maar tog het dit.

Dis reeds die ding, dit kan met enige iemand gebeur.

Ons wêreld is gebreek.  Ons veg ons oorloë op heilige grond. Ons veg soms met die doel om te vernietig.

As ons maar nét mekaar vernietig het, maar in die middel van hierdie oorlogsfront is die onskuldiges. Ons kinders.  Ons selfsug vernietig hulle drome en steel hulle sekuriteit. Egskeiding is erg genoeg, maar as jy mooi om jou kyk sal jy sien dat mense hulle bes probeer om mekaar seer te maak en hulle dodelikste wapen is hulle kinders.

Egskeiding is ñ hartseer realiteit.

Dikwels is dit ñ keuse wat uit jou hande geneem word. Hoe jy na die tyd optree is wel iets waaroor jy beheer het.

Kies om jou kop hoog te hou.

Kies om onvoorwaardelik jou kinders te beskerm ongeag van hoe moeilik dit is. Kinders het liefde, aanvaarding en koestering nodig. Kinders wat deur ñ egskeiding gaan het dit tien keer meer nodig.

Kies om jou kinders nooit te laat voel dat hulle moet kies tussen jou en hulle ander ouer nie.  Kies om grootmens gevegte, grootmens gevegte te hou.

Egskeiding is geweldadig seer, maar om ons kinders se seer erger te maak, dít is soos om jou kinders vir die wolwe te gooi. Hierdie einste middelste dogtertjie het net na ons egskeiding gesê;

‘Al het Pappa geskuif, is julle nóg maatjies’

Dis hoe sy dit ervaar het.  Haar grootste rede was omdat ek nogsteeds elke aand vir Liewe Jesus dankie gesê het vir haar Pappa.  Ietsie so eenvoudig.

Eendag sal hierdie dogtertjie van my besef dat ek en haar Pappa nie soos monkeys was nie, maar wel soos die held en heldin in die Mills and Boon verhale wat haar tagtigjarige ouma so graag lees. (ek skryf nou natuurllik net op hoorsê) Jy weet, ontmoet mekaar, is verlief en verlore, misverstand gebeur, gaan uitmekaar en kom passievol terug bymekaar en lewe vir altyd en altyd gelukkig saam.

Al verskil is dat ons elke dag lewe in verwóndering vir die Here se genade.  Ons lewe elke dag dankbaar.

 

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed blog: Ma’s met dogters sal verstaan

Liewe Kinders

Blog dogters

Ek hoop nie dit is te laat wanneer julle hierdie lees nie, maar ek wil vir julle ‘n paar tips gee oor die manlike geslag. (Hou op om julle oë te rol! Ek weet meer as wat julle dink).

Eerstens moet ek sê dat géén man goed genoeg is vir julle nie.

Ek weet uit ondervinding dat julle nie baie goed vir my luister nie, so sou julle dalk verlief wil raak is daar wel ‘n paar mans wat julle soos die pes moet vermy.

• Laaities wat donkerbrille dra wat soos ‘n spïeel lyk. My goedige vy, jy wil mos nie jouself in sy bril aanskou wanneer jy hom in die oë probeer kyk nie. Dié laaitie dra ook gewoonlik boxer shorts en vergeet om ‘n belt aan te sit. Die vent sal ons heel moontlik groet met ‘n Whassup Homey, terwyl hy onder ‘n skewe pet uitloer.

• Laaities wat praat van gaskets en tune en wat ou golf GTI’s ry met massiewe spoilers met mags met liggies…oe my bloeddruk verhoog sommer as ek daaraan dink. Hierdie misbaksel sál te vinnig met jou jaag om af te show. Hy sal van jou praat as sy Chick, Cherry of Goose en julle Pa sal die ventjie wil tune totdat hy soos ‘n GTI klink. (Ek noem bogenoemde seuns/mans laaities, want dis hoe hulle Pa’s na hulle verwys.)

• Mans wat donkerbrille op hulle agterkoppe dra. Dis gewoonlik een of ander duur maak en hulle speel baie keer golf. (ek het niks teen golfspelers nie, julle Pa probeer immers self. Dis die windtie manier waarop die bril sit waarteen ek iets het)

• Gamers. Ons is baie lief vir julle en sal nie omgee om julle te help sou julle swaarkry nie, maar ek gaan nie jou man wat ‘n loopbaan maak van games speel onderhou nie. (Ek is sommer al klaar kwaad vir die vent. Game Over Boetie!)

• Mans wat dit duidelik maak dat ‘n vrou se plek in die kombuis is. Swanger, kaalvoet met ses kinders om ‘n tafel terwyl sy met haar geswelde vingers ‘n houtlepel vasklem om aandete te roer… hardloop Sussie, hardloop!

• Mans wat stink. Rerig? Daar is baie goed beskikbaar om stank te voorkom en as hy nie eens die inisiatief kan neem om iets aan sy sweet te doen nie, hoe gaan hy ‘n krisis situasie hanteer?

• Mans wat gereeld te veel drink. Daai tipe wat dubbel brandewyn en Coke drink en die brandewyn in die tuinslang wegsteek. Wat gereeld nodig het om jammer te sê dat hy te veel gedrink het. Gewoonlik klink dit so:

‘Shorrie Shkattie, ek ish nie dronk nie, ek kan beshtuur’. Hy kan nie bestuur nie! Die Blik…skottel! Bel vir my of Über, unfriend die vent op social media en block hom in die werklike lewe!

Hierdie brief ontstel my en maak dat ek alle seuns van min of meer julle ouderdom in die see wil jaag.

Die maklikste is, vergeet van mans. Hulle is bad news. Punt.

Baie liefde

Mamma

P.S. Julle Pa het nou net ‘n foto onder my neus gedruk van hoe hy gelyk het toe ek hom vir die eerste keer na Ouma-hulle toe gevat het… Metallica T-shirt, lang hare. Ek weet werklik nie hoe hy dit oor die drumpel gemaak het nie.

Ek dink hy probeer vir my sê, die uiterlike is nie so belangrik nie…sluk…solank die vent jou net soos die Prinses wat jy is behandel…sluk…

© 2016 – 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed Blog: Ma waar is die tjoklits?

Liewe Kinders,

Tye is swaar.  Nie so swaar dat julle dit sal agterkom nie, maar swaar genoeg dat ek ’n opgaarder geword het.

Ek het altyd gedink dat mense wat blikkieskos koop vir ingeval die einde van die wêreld aanbreek, ’n effense klap van die windmeul weg het, maar helaas beoefen ek nou daardie vlak van beplanning.  Ek vat die konsep net nog ʼn stappie verder. Ek steek die proviand weg.

Die rede hoekom ek ’n opgaarder/wegsteker is, is julle.  Júlle is vrate.  Julle vreet en vreet totdat die land kaal is.  Baie soos die sprinkaan plaag toe ek klein was. Mens sal sweer julle het wurms.  En julle het nie.  Ek het al gekyk en julle ontwurm.  Dit werk nie.

Toe moes ek aan ’n plan dink, want elke keer as ek julle alleen los vir ’n middag is die maand se proviand opgeëet.  So al die kere wat julle gekerm het ‘Daar is NOOIT iets lekkers in ons huis nie!’ en gedreig het om my in te ruil vir ’n ma wat koekies en chips en sjokolade koop, wás daar al die bogenoemde.

Dit was net gestoor, in die spens.  In die ou, blou koelerboks, onder ’n hoop koerante.

Soms het julle van die lekkernye daarbinne gekry en soms nie.  Soms het ek en Pappa dit opgeëet.

Ons het vandag weer begin dieet so dalk sal julle nou meer daarvan kry (ons is vasbeslote dat die dieet hierdie keer langer as drie dae gaan hou).  Ons dieet is natuurlik direk eweredig aan hoe julle julle gedra.  Mamma is ’n emosionele eter.  As julle baklei en kerm, dan soek ek kos.  So as julle na die wydte van my heupe kyk, behoort julle af te lei dat julle baie baklei en kerm.

Ek voel nou baie skuldig, maar moenie bekommerd wees nie,  Pappa het die sjokolade wat oor is weggesteek sodat ek dit nie kan kry nie.

Liefde

Mamma

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed Blog: Hoese, Proese en Dankbaarheid

Hierdie laaste twee weke was nie rustig of goed nie.  Griep het vier uit die vyf platgetrek en raai wie staan regop?

Ek is ’n versorger in my hart en gewoonlik meer empaties as meeste, maar ek is net ‘n mens en ek kán net nie meer nie. Ek slaap te min, mense. Heeltemal te min.

My gebrekkige geduld het vir die kinders nóg ’n rede gegee om eendag op ’n rusbank in ’n  spreekkamer te lê en sinne te begin met: “my Ma..” .

Ek het ’n paar dae terug met my hande in my hare vir die span geskree: “Ek voel soos die enigste nugter mens tussen ’n spul dronkes!” (drie swangerskappe en maande se borsvoeding het veroorsaak dat ek met outoriteit oor die onderwerp kan praat).

Al reaksie wat ek gekry het was ’n histeriese hoesbui wat oorgegaan het in asemnood, twee huilbuie wat oorgegaan het in histeriese hoesbuie en een hoesbui wat oorgegaan het in iets wat ek nie in detail hier kan beskryf nie.  Ek kan wel sê dit het ’n emmer betrek.

Gisteraand klim ek in die bed en ek weet nie of ek uitsien na die slaap of opsien teen die wakker word nie.  Ek maak Facebook oop en lees van ’n Ma met ’n tweejarige seuntjie wat baklei teen kanker.  Hy het ’n operasie gehad en sy beskryf haar lang wag voor die toe teaterdeur.  Sy vertel van haar angs en moegheid en sy ondraaglike pyn.

As ’n ma kon ek haar seer in my binneste voel vreet..  Op die fotos sien jy pype, masjiene en pleisters en ’n klein kaalkop seuntjie op ’n groot wit bed, en my hart bloei vir hulle, want vannaand sit sy in ICU en niks wat sy doen kan sy pyn vir hom beter maak nie.

My selfbejammering het verdamp.  Ek het my kinders vir ’n tweede keer gaan nagsoen (op die wang natuurlik, ek kan nie kanse vat nie), want ons het eintlik maar net vandag, en my goorste dag klink vir iemand anders soos ’n fantastiese een.

Dankbaarheid. Ons voel dít beslis nie genoeg nie.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Voelgoed Blog: Skottelgoed… ‘n laaste uitweg vir ‘n kleuter tantrum

Vandag het my vierjarige skottelgoed gewas. Nie omdat ek haar verantwoordelikheid wou leer of omdat sy gevra het nie. Bloot omdat sy verskriklik, onmoontlik stout was.

Sy het met almal baklei en skoor gesoek. In ñ redelike vrugtelose poging om haar tot haar sinne te skok, het ek haar op die toilet sitplek laat sit om te dink oor haar sondes. Ek was ordentlik en het die deur oopgehou sodat sy nie verwerp voel nie. Sy het opgestaan, die deur toegegooi én die sleutel gedraai.

Ek het haar later hoor sing en weereens ordentlik aan die deur geklop om te hoor of sy gereed is om terug te keer na die samelewing. Sy het ingestem (moes eerder haar parool offisier gekontak het, maar hy het weggekruip in die ander badkamer), die deur oopgesluit en op die vloer gaan lê. Haar bene was moeg en lam en kon nie werk nie. Nadat ek twee keer tot by drie getel het, haar probeer regop bring het, haar probeer plant het, het ek soos ‘n goeie, moderne ma ingegee.  Ek het haar gedra tot in die kombuis.

Haar aanvanklike woede was oor die muffin resep waarmee Anli besig was. Sy wou dit lees. Sy kan al ’n woord lees (haar naam), en glo nou dat sy die geskrewe taal heeltemal onder die knie het.

Toe sy weer die resepteboek sien, gooi sy hom teen die muur. ‘Ek haaaaaaaaaat die boek!’ En onmiddelik is ons weer waar ons was.

Nou kyk mens het baie geduld êrens op ’n rëendag, maar myne was weg. (Seker omdat dit nie ’n reëndag was nie) Ek het haar opgetel en gaan neerplak voor die wasbak.  “Vir jou straf, moet jy skottelgoed was!” (Ja, my idees was op)

Die trane het oombliklik opgedroog.  Haar stywe ruggraat het verslap. Die drama was verby.

“Hoe doen mens dit?” vra sy met ‘n senuweeagtige giggel

Toe besef ek.  Hierdie is ‘n oomblik. ‘n Grote. Nou moet ek nog ’n bekentenis doen. Hierdie jongste dogter van my het my heeltemal in die sak. Ek het soos botter gesmelt op ‘n warm dag.

“Met ‘n lappie, my Liefie”, koer ek terwyl ek uit die hoek van my oog ‘n tiener sien wat haar oë rol.

© 2016, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share