Vat tog net ñ break!

In my kop het ek so baie dinge wat aangaan. Daar bruis ‘n onstuimige rebelsheid binne my wat wag om uit te kom.
Ek is werklik so bietjie moeg vir mamma snobisme en hoogmoedigheid.

Ons almal ken hulle.. Daardie mammas wat skynbaar met die minste moontlike effort alles heeltemal onder beheer het. Kinders is perfek. Huwelik is perfek. Finansies is perfek. Hulle volunteer en presteer op elke gebied. Hakke is heeltyd glad. Flip, alles blink.

Al hulle prestasies en hulle kinders se prestasies word op ñ perfek geoefende ‘understated’ manier oorgedra aan wie ook al naby is. Hulle het gewoonlik ook heelwat oor die res van die mensdom te sê op so bejammerende manier.

Hulle laat die res van ons wat werklik net ons heel beste gee, lyk asof ons die kursus gepluk het. (Dit is nou as jy nog glo dat daar iets soos ‘n perfekte ma bestaan)

Sewentien jaar terug het ek ook my moederskap droom met hierdie illusie afgeskop. My kinders gaan perfekte bloedjies wees wat presteer op akademiese gebied (hulle pa is immers ‘n genius) en sport gebied (hulle pa het immers die victor ludorum gewen).

As ek nie gegroei het tydens hierdie reis as ‘n ma nie, sou my drome teen nou al verpletter gewees het. My gemiddelde gene het blykbaar gewen. Toe skei ek en hierdie briljante pa ook nog (darem weer getrou) en crap kom ek sê dit nou sommer prontuit, ek sukkel met my hakke.

Ek is ‘n ma van drie dogters. Ek moet dit dalk oor sê. Ek is ‘n ma van drie wonderlike, talentvolle, partykeer horrible, meestal hardwerkende, soms katterige, sagmoedige, bakleigatterige, pragtige, moody, soms emosioneel totaal onstabiele, goedhartige, liefdevolle dogters.

Hulle dryf my teen die mure uit op ‘n goeie dag, want raai wat.. net soos hulle ma is hulle nie naastenby perfek nie.
Hulle weet genadiglik (dank die Here) hoe om hulle by die skool (ek hou duimvas vir die weerbarstige jongste) en by ander mense te gedra, maar hier in hulle veilige plek gaan hulle soms ‘n bietjie bos. En ek gaan soms meer as ‘n bietjie bos. (Ek is bevrees my bure kan hiervan getuig)

Ek kry nie die sielkundige aanslag aldag reg nie en soms rig ek beslis skade aan met my onsensitiewe ‘Life is tough, deal with it’ uitkyk.

Ek is oneindig lief vir my kinders, maar heng ek ken ook hulle tekortkominge. Ek kan beslis hulle warning labels skryf,

Fragile. Handle with care.

Sharp around the edges. Use at own risk.

Risk of suffocation and death. (true story)

Hulle kan myne ook skryf,
DANGER. Proceed with caution.

Lekker giggel ek nou..
Ek het hierdie onperfekte dogters met my hele hart lief en hulle meestal vir my ook.

My persepsie van suksesvolle moederskap het ietwat verander deur die jare.
Dit vat nie meer veel om my soos ‘n goeie ma te laat voel nie.

Om die waarheid te sê, as ek onthou om al my kinders betyds by hulle verskillende aktiwiteite op te laai voel ek soos ma van die jaar.

As my tiener uit haar kamer kom en met my praat sonder om daai ‘wat weet jy tog jy dateer uit die sewentigs‘ kyk op haar gesig te kry, voel dit asof ek ‘n boek oor suksesvolle ouerskap kan skryf.

As hulle almal ‘n appel saam met hulle two minute noodles of airfryer chips (vir die gluten intollerante) geëet het koop ek sommer self die trofee.

As hulle hard werk, onthou van toetse (met ADHD is dit nie ñ given nie), deurkom en die punte kry wat hulle verdien, voel dit asof ek ten minste ñ ere Doktorsgraad in opvoedkunde moet kry.

En dan die kersie op die koek.. As hulle almal hare gewas het en skoon, kort naels het (net vir ingeval die tiener so ver lees, ek praat nie van jou nie!) wil ek ñ cape koop, want ek is Super-Ma! (ek werk nog aan die jongste se skurwe elmbogies en knie-knoppe)

Vat dit nou van my, jy is genoeg en perfek as jy dáár is vir jou kinders. Of hulle nou strooi aanjaag, engeltjies is, suksesvol is of misluk.

Jy ís super-ma as jy dit meestal reg kry om hulle te laat voel dat wie hulle is, heeltemal genoeg is vir jou, al is hulle nie in die top 10 of die eerste sportspan nie. Wanneer jy deur stoutgattigheid en soeter as soet tye vir hulle die een is op wie hulle kan staat maak.

Ag, gee sommer vir daardie perfekte ma ‘n drukkie en ñ Kit Kat as jy haar sien, sê vir haar ons almal verdien soms ñ break.

© 2019, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Ek is klaar met jou 2018!

stressed mom

Dit is daardie tyd van die jaar…
Onderwysers het spesiale ‘advent’ kalenders wat die slapies tot die einde van die kwartaal aftel waarin daar skoon shots tequila weggesteek is in plaas van cheap no-name brand chocolates. Hulle wil nie meer cope met ons bloedjies nie en ek neem hulle nie kwalik nie.

Ma’s gaan sien hulle huisdokters skelm vir benzodiazepien voorskrifte of sluit hulleself in die badkamer toe. Rescue drops se verkope styg drasties. Ons is nie meer lus vir gluten-vrye kosblikkies pak wat in elk geval net so terug kom nie. (Maar behoede nou jou lot die dag as jy besluit jy is keelvol en net ‘n droë ryskoekie en ‘n appel ingooi. Dan wou sussie kwansuis vrek van die honger.) Ons is keelvol van rondjaag van een aktiwiteit na die ander. Ons is moeg om kinders te smeek om huiswerk te doen. Ons is moeg om jong mammies met perfekte lywe 14h00 in die middag in hulle freakin gym klere by die skool te aanskou. Hallo! Stort ‘n slag en trek klere aan.
Ek wil nou by die huis kom na werk en op my bed onder die waaier gaan lê en House Hunters International in vrede kyk. Ek wil nie meer Spar of Chinese winkel toe jaag vir last minute kuns projekte en strooi nie. Ek wil nie meer ‘n mondeling help skryf nie. Ek wil nie meer kos maak nie (mens kan mos droom)
Pa’s, wel pa’s gaan aan met hulle lewe.
Dis eksamentyd vir die sonneblom en ek het nou al subtiel begin uitvis wat is die minimum slaagsyfer in graad 5. My moed het die pad gevat en my lus is by ‘n retreat ingeboek.
Hierdie jaar was ‘n genadelose koei en ek is nou oor dit. Ek kan nou doen met ‘n miljoen en ‘n eiland vakansie met bottomless gin en tonics.
Wie gaan saam met my?

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Sad en lonely

Net toe ek dink dat ek oukei is
As jy weg is
As jy hier is maar ver is
Is jy weg en jou leë kwart van ons queen size bed voel sad en lonely
Die reuk van jou kas gee my ñ hol kol
Die kinders ignoreer my en ek voel leeg en kaal
Sonder jou arms en presence en die hitte van jou lyf
Die waarheid is dat jy, die siel is van my huis
So kom terug en maak my warm met jou alledaagse vuur.
Ons moet praat, want die hemel weet, sonder jou hier
praat ek met spoke wat soms as ek stil is terug praat
En dit my Lief is self vir mý so effens worrying.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Drome, koetse, wit perde en groot diamante

Net nadat ek en haar pa geskei het, het my oudste dogter een oggend vir my gesê ‘Mamma, Jesus het met my gepraat in ‘n droom en ek voel nou beter, want Jesus jok nooit nie. Ek het gedroom Mamma en Pappa trou weer. Mamma het in ‘n koets gery wat deur wit perde getrek word en pappa het vir mamma ‘n nuwe ring met ‘n baie groot diamant gekoop.’

Ek het op daardie stadium nie geweet wat om vir haar te sê nie en kon net sluk aan die knop in my keel en vir haar ‘n drukkie gee. Sy was 11 jaar oud en het werklik met die geloof van ‘n kind onwrikbaar geglo dat haar droom gaan waar word.

Dit het waar geword, net sonder die koets en perde en die groot diamant. (Egskeidings is bekend daarvoor dat dit ‘n mens finansïeel uitroei.)

Dis nou ñ bietjie meer as ñ jaar later en die werklike lewe saam met my eerste tweede man is vir mý ñ sprokie. Daar is verseker ñ draak of twee, maar ons is genadiglik ñ stiefma gespaar.

Ons saam wees is elke dag ñ happy ending. Moet nou asseblief nie hierdie te letterlik opneem nie.. Ons is immers nie meer spring chickens nie.

Die lewe is goed en ons is dankbaar.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Leef

Vandag was een van daardie dae wat ek voel ek het elke stukkie leef wat ek kon leef vandag geleef.

Ek het mooi dinge gesien, die son op my voel skyn, my asem het gejaag, my hart het te vinnig geklop en ek was sommer net sorgvry en vry.

Ek was omring deur mooi en liefde. Ek was saam met die mense van my asem. Ek het fotos met my oë geneem en dit veilig in my hart gebêre. Ek weet ek gaan dit oor en oor uithaal en weer leef.

Vandag was ñ genoeg dag.

© 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Vir altyd te kort

Sy was jonk…net so ietsie oor die veertig en haar lewe het voorgelê.  Sy het gedroom en gelag en geglo in môre.  Sy is weggeneem deur ‘n siekte wat haar vlam gedoof het, maar nie haar lig kon steel nie. Sy wou bly, maar sy het gesterf en ons rou.  Haar lewe het saakgemaak en sy was kosbaar.  Sy het mense agtergelaat wat haar altyd sal onthou.  Sy het ‘n stukkie van haarself by hierdie mense gelos en ‘n stukkie van hierdie mense het saam met haar gesterf.  Die Here het gegee en die Here het geneem.

Hy was jonk, maar hy was moeg.  Hy het liefgehad en was geliefd, maar hy kon nie meer nie.  Die donker het hom bang gemaak en hy wou nie meer nie.  Hy het liefgehad en gelag, maar hy kon nie môre sien nie.  Sy vlam is geblus deur ‘n onsigbare siekte.  ‘n Siekte wat sy siel verteer het en hom opgevreet het. Hy wou bly en hy wou sterf. Hy wou sterf en hy wou bly.  Hy het gesterf en ons rou.  Sy lewe was kosbaar en het saakgemaak.  Hy het mense agtergelaat wat hom nooit sal vergeet nie.  Hierdie mense wonder of hulle meer kon doen om hom te laat bly?   Die Here het gegee en die Here het geneem.

Sy was jonk..hy was jonk. Hulle vir ewig was net ‘n oogknip lank.

Selfmoord en kanker.  Net twee stories van die ses wat ek kan vertel van mense wie se tyd op aarde te kort was.  Onsigbare en sigbare siektes. Mense wat saakgemaak het.  Mense wat spore getrap het en gevoel het.  Mense wat liggaamshitte afgegee het.  Mense wie se dood diep gate in harte los. Mense wat ander geïnspireer en bemoedig het terwyl hulle self besig was om te sterf.  Sommige van hulle sigbaar  en ander in geheim.

Hulle stoele is leeg vir altyd, maar hulle sal vir altyd bestaan vir die mense wat hulle liefhet.

Ons weet nie wie is volgende nie. Ek kyk na die mense vir wie ek lief is en ek weet net dit….ek wil hê hulle moet weet dat ek hulle liefhet.  Wanneer iemand dood is maak gister se baklei en seerkry nie meer saak nie.  Wrokke en seer word verterende berou.

Sien die mense om jou raak en wees lief vir hulle vandag.  Nie môre as hulle dood is nie.  Dis te laat.

 

© 2017, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share

Nuwe Kans

postmaker-Jul_27_2016_13_23_53

Soms lê oorwinning bloot in die keuse om te dans ten spyte van die musiek wat in ons lewe speel.

Soms is die dans so effense skuifelstappie en heeltemal sonder grasie en koördinasie.

Dan pak die ritme jou beet en jy gee jouself oor aan die musiek.

Bevryding lê daarin wanneer jy jou oë sluit en dans met jou arms in die lug en jou heupe wat swaai sonder voorgee en inhibisie.

Vry van jou seer. Vry van mense se opinies. Vry van jou verlede. Vry van mense wat jou deur húlle swak keuses probeer onder hou. Vry om te leef.

Swaarkry en hartseer is so deel van die lewe soos asemhaal. Ons kan nie wegkom daarvan nie, maar elke dag is ñ kans om nuut te begin.

Ons kan elke dag kies om te dans op die ritme van hierdie kans óf ons kan kies om eenkant te sit terwyl ons in ons binneste wens ons kan ook dans.

© 2016 – 2018, Annalize. All rights reserved.

Deel met jou vriende!
Share