Die dood sonder ‘n graf
Jy bou ‘n monument in jou hart
‘n geheime plek waar jy kan kniel
‘n Veilige plek waar jy kan ween en dankie sê
‘n Plek waar jy ‘n blom kan neersit
Herinnerings kan herleef
Waar jy in die lig kan bid
Vir ‘n lewe wat verby is
En lewe wat begin
Dooie bene wat lewend word
In jou hart en in jou gees
‘n beeld van ‘n nuwe mens,
want dit het die Here geweet
was jou grootste wens
Wat doen jy aan my?
Jy blaas my op in die lug
Nes ñ vuurwerk
Laat my ontplof bo die wolke
My lig sigbaar in die hemelruim
My val tot op die aarde
Beroof van fanfare
Wat doen jy my Lief?
Jy skil my af soos ñ lemoen
Breek my oop met jou hande
Die reuk talm in die lug
My vlees stil jou honger
Die sap les jou dors
Ek verdwyn skyf vir skyf
In die holtes van jou lyf
Die koffiemasjien lees my gedagtes. Elke keer wanneer ek dink “Ek is lus vir koffie” skakel die blerrie ding outomaties af. Ek dink aan die ding in ‘n manlike vorm. Hy is aspris en hy weet waste houvas hy oor my het met sy verleidelike aromas en verslawende bestanddele. Hy weet ek sal hom nooit weg gooi nie. Baie soos die werklike man in my lewe.
Hy jaag aan. Soms big time. Hy weet hy kan maar. My gedrag in die verlede het dit aan hom bewys. Vergewe en vergeet. Vergewe en bietjie langer gevat om te vergeet. Vergewe en nou sal ek nooit weer kan vergeet nie. Weet hy dit? Ek dink so, maar soos alle mans kies hy om dit te vergeet.
Dis die effek van ‘n affêre. In ons geval affêres. Dit verhard jou. En ontnugter jou tot op ‘n punt waar jy dink, Jou Bliksem! Dis genoeg. Dan kyk jy na sy bone. Asem hom in en proe hom en dan vergeet jy momenteel van sy ontydige afskakel.
Jy kry jou fix en gaan maar aan tot volgende keer.